Vrouedag-skryfkompetisie: Hulde aan jou, liewe Lerina

  • 0

“Hou jy daarvan?”

“Dis pragtig, waar kry jy dit?”

“Vat dit vir jou.”

Dis Lerina. Om te gee, van haarself aan ander, was haar grootste vreugde.

Lerina Erasmus is verlede jaar op 20 Augustus oorlede – op haar verjaarsdag. Ek het vergeefs gebel. Die nuus later was verpletterend. My boesemvriendin was weg.

Dis weer Vrouemaand. ’n Jaar later. In hierdie maand gedenk ek jou. Want jy was woonstelmaat, hartsvriendin, sielsgenoot. En inspirasie.

Daar was baie huldeblyke. Haar vele talente is besing: ’n besondere mens – talentvol, nederig. Maar ek onthou die magiese energie wat sy uitgestraal het, waarmee sy almal bekoor het. Ek het haar bewonder vir haar verkwiklike, onuitputlike passie vir die lewe, vir skoonheid – van die skepping, van kuns, van letterkunde. Sy het elke oomblik gelééf en béleef. En met emosionele oorgawe gereageer.

Sy het genot geput uit alles wat sy aangepak het. Boots en all het sy ingeklim – as aktrise, as skryfster, as eggenoot, as ma. As vriendin van vele bekendes. En onbekendes, soos ek. Nêrens kry jy lojaler, interessanter nie. Haar liefde was opreg, haar vreugde kinderlik en haar hart ruim. Kan ek ooit die vuurspuwende woede teen onreg, veral teen afvlerkkinders van die samelewing, vergeet?

Haar naaste se geluk was ook hare. Sy sou berge versit om te help. Sy sou ’n mooi serp van haar nek afhaal en om joune plaas as jy dit bewonder of as sy dink jy kry koud.

Op ’n bitter koue aand in die laat sestigerjare stap ons haastig terug woonstel toe, ons aandete van Fontana in Hillbrow stewig in papiersakke verpak. Skielik steek sy vas. ’n Hawelose sit op die sypaadjiehoek voor die Ingramsentrum. Langs hom lê sy kruk, voor hom ’n pet met ’n paar bruin geldjies daarin. Hy sit kromgetrek teen die koue.

“Dis koud nè? Waar slaap jy vannag?”

“Just here. I don’t like the dark.”

“Where is your blanket? Are you hungry?”

Sonder huiwering trek sy haar baadjie uit en hang dit om sy skouers. Ook een van ons bruinpapiersakke kry ’n nuwe eienaar.

Sy het vir jare welsynswerk onder die haweloses en ashoopgrawers op die mynhope van Johannesburg gedoen. Met dieselfde entoesiasme en oorgawe as waarmee sy ’n rol ingestudeer het. Dramatiese rolle het haar soos ’n handskoen gepas – wat ’n ongelooflike Elektra was sy nie! Maar sy kon ook komiese rolle vertolk, soos in Dokter, dokter.

Toe begin sy skryf. Sy doen navorsing oor ou Johannesburg – en skryf Die Mannheim Sage. Sy skep vir Kitt Maloy, Deborah von Abein en Karel von Mannheim. Mense, nie karakters nie – in die jare van die goudstormloop. Sy was oorstelp en angsbevange toe Mannheimsage TV toe is. Nou moes sy leer draaiboek skryf. En dit het sy!

Sy het lank gewerk aan Die leliemoordenaar. Nie net omdat sy, soos sy my eendag doodernstig meegedeel het, verlief geraak het op haar hoofkarakter nie, maar omdat sy siek geword het. Sy kon die opvolg nie voltooi nie.

Ek salueer jou, my maat.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top