Ons is op die sewende dag van die voetslaanroete deur Namibië se Naukluftpark. Dis ’n plek van ruwe skoonheid—’n rots-enklave van die Namib woestyn. Danksy die kranse, klowe en rivierlope wat soms in die somer water het, bied die Naukluft skuiling aan ’n groter verskeidenheid plante, diere en voëls as wat ’n mens in dié harde omgewing sou verwag. Net gister het ons ’n wildevy van ver gesien wat hoog teen ’n gladde rots groei en sy wortels het eers nagenoeg ’n honderd meter verder in ’n rotskraak geanker in ’n poging om voeding en water te kry. Lewe is hier nie maklik nie.
Vandag volg ons die roete in ’n droë rivierbedding wat met jong soetdorings en groter kameeldorings omsoom is. Ons sien groterige spore in die sand wat gewis aan ’n lid van die katfamilie behoort. ’n Luiperd? Ons redekawel onder mekaar daaroor—dit wil darem te eksoties klink om waar te wees. Wat is die kans dat juis óns in hierdie woestynwêreld ’n luiperd sal raakloop?
Ons is nog besig om hieroor te gis toe ons by ons groot struikelblok van die dag aankom. Ons bevind ons aan die voet van ’n loodregte waterval van ongeveer 15 meter hoog. Daar is ’n kettingleer wat jy moet uitklouter om bo te kom. Kettingleer? Eintlik is dit net ’n stewige ketting wat in die rots onder en bo die waterval ingebed is. Jy moet jou aan jou arms ophys om bo uit te kom, waarvandaan die roete verder na die laaste oornaghut op die Kapokvlakte volg.
Die rots van die waterval is deur millennia se waterwerking seepglad geskuur. Hier en daar is ’n effense nis waarin jy ’n stewel vir ’n oomblik kan laat rus. Bo aangekom, is jy verbaas hoe die landskap in so ’n ommesientjie heeltemal kan verander. Hier is geen enkele boom of struik in sig nie, net polle korterige gras wat hier en daar versprei is.
Ondervoets is daar ook ’n verandering: die spoor wat ons volg, loop teen ’n helling uit wat nie juis steil is nie, maar ook nie lyk of dit ooit einde sal kry nie, en dis bedek met vuis-grootte en kleiner klippe. Al die klippe is min of meer rond of ovaal en vertoon ’n galery van gedempte kleure wat wissel van room en oker tot roesbruin, swart en grys en ontelbare skakerings daarvan tussenin.
Ná ’n uur of twee van spoor vat al langs die helling uit bereik ons die kruin, maar kan ons nie indink waarheen die voetpad lei nie want daar is niks te sien behalwe die soort terrein waardeur ons nou al die hele tyd stap nie. Tog, mettertyd kan ons op ’n afstand uitmaak dat dáár ver voor op die horison iets is wat lyk of dit ’n lae bossie kan wees, ploenks! reg in die middel van wat ons nou duidelik as ’n plato kan identifiseer. Wanneer ons dit nader, blyk dit ’n geharde karee te wees wat weens die heersende woestynwind sydelings groei. Bereik jy die boom, vind jy die aangename verrassing dat die oornagskuiling onder die lae kroon van die boom is. Ons skrop nes, steek gasstofies aan, maak drinkgoed en diep happies uit die rugsakke op.
Wanneer jy geëet en gerus het, begin jy die plato verken en ontdek dat jy ’n onbelemmerde uitsig van 360 grade op die gesigseinder het. Die grootsheid van die toneel is oorstelpend. Jy stap in alle moontlike rigtings van die kompas en kan nie help om oorweldig te voel nie. Hier is ’n mens alleen in ’n reuse-ruimte en daar is niks groter as die enkele boom iewers te sien nie, maar jy voel ongelooflik klein. As iemand vooraf vir my sou gesê het dat ek in ekstase sou voel oor ’n klipperige vlakte waar jy niks anders te sien kry nie, sou ek dit as pure bog afgemaak het.
Jy gaan sit op jou hurke en kan die versoeking nie weerstaan om klippe uit te soek om saam te neem as ’n herinnering aan dié buitengewone plek en belewenis nie. Kyk net na dié mooie! En daai een! Dis asof in die oggendskemering van die skepping van die aarde as planeet ’n reuse-kunstenaar hier geloop en sy palet van kleure argeloos uitgegiet het. In vroeër tye moes hierdie klippers ’n soliede rotskors op dié plato gevorm het. Watter natuurkragte moes hier gewerk het om soveel verandering op so ’n massiewe skaal teweeg te bring?
Daar kom op dié dag ’n tydstip dat die namiddagson ’n deurskynende goue kleur verkry en dan stadig in skemer en dan weer in donker oorgaan. Miljarde sterre wink en skitter vir jou. In die droë, helder woestynlug lyk dit of die sterre net ’n klipgooi van ons op die plato verwyder is. Hulle lig is só helder dat jy vir ’n redelike afstand om jou kan sien. Jy verwag byna om te hoor dat die sterre soos klokkies musiek sal rinkel só volmaak is die sprokiestoneel.
Veraf hoor jy ’n jakkals tjank, maar dan sak ’n volkome stilte weer oor die tablo toe soos dit al vir eeue der eeue die geval is.
Net wanneer jy jou reg skud in jou slaapsak word die stilte deur die gedreun van hoewe versteur. Dit klink nogal naby. Jy kan net raai watter diere dit is: Hartmann se sku bergsebras? Koedoes? Is hulle bloot baldadig? Het ’n asempie van jou vreemde reuk hulle op die vlug laat slaan? Of is daar iewers op die plato ’n roofdier doenig?
Voor jy indommel, tref die gedagte: hier het die heelal vandag aan my ’n koepel gebied waardeur ek letterlik die ewigheid kan inkyk, terug in tyd. Die dag se staproete was eintlik kortpad na die heelal — tyd wat weldeeglik die moeite werd was om hier deur te bring.
Die volgende oggend, ongeveer ’n kilometer van die skuiling af, kom ons op die karkas van ’n jong sebra af wat in die nag prooi geword het.
Die werk van ’n luiperd, sonder twyfel.

