Vlambare verkiesings en politieke geweld in die VSA 

  • 0

Prent: Canva

..........
Die sluipmoordpoging op Donald Trump op 15 Augustus, na ’n vorige poging op 13 Julie, geskied in ’n vlambare politieke orde. Wat is die kans dat politieke geweld in die VSA voor en na die presidentsverkiesing van 5 November 2024 sal eskaleer?
...........

Die sluipmoordpoging op Donald Trump op 15 Augustus, na ’n vorige poging op 13 Julie, geskied in ’n vlambare politieke orde. Wat is die kans dat politieke geweld in die VSA voor en na die presidentsverkiesing van 5 November 2024 sal eskaleer?

Die hoë politieke temperatuur in die VSA en Europa het my op 13 April vanjaar ’n stuk in Beeld oor politieke moorde laat plaas. Hoewel daar sedertdien fisiese aanvalle op die Slowaakse politikus Robert Fico en ander Europese politici was, en op Trump, is die VSA tans polities en ideologies veel dieper verdeeld as Europa.

Die verkiesingsproses ly reeds sedert die 2020-verkiesing aan ’n legitimiteitsgebrek en diep wantroue onder miljoene Republikeinse kiesers. Twee derdes van Republikeinse ondersteuners, en byna 3 uit 10 Amerikaners, glo dat Joe Biden nie in 2020 regmatig verkies is nie en dat Trump daardie verkiesing gewen het. Enige president wat in 2024 verkies word, sal deur groot groepe kiesers met teësin bejeën word.

Die politieke polarisasie en die geweld wat daaruit voortvloei, vind in ’n spesifieke strydperk plaas. Die Westerse kerngroep waarrondom die VSA opgebou is, het in 1970 sowat 83% van die bevolking gevorm, en sal volgens die aangepaste sensus teen 2045 ’n minderheid vorm. Hierdie ontwikkeling beteken volgens miljoene kiesers ’n sosiopolitieke omwenteling as “die onteiende meerderheid”. Hulle voel in die steek gelaat deur die dikwels Demokratiese superrykes, federale bestuurders en beroepslui weens oop grense, ’n rigiede ideologiese agenda oor ras, Amerikaanse geskiedenis en gender, en ekonomiese verwaarlosing.

Amerika se akademici en joernaliste behoort weer oorweldigend tot die faksie wat hulself as progressiewe Demokrate beskou. Hulle bevorder ’n inklusiewe kosmopolitiese toekoms vir die VSA en die wêreld, behalwe as dit die mededinger China of identiteitsbewuste Westerlinge raak. Hulle vind selde ’n tekort aan bisarre uitsprake deur Trump of voorbeelde van minder geleerde mense wat hulle soos Hillary Clinton indeel by “a basket of deplorables”.

...........
Heelwat waarnemers beskryf die groot Amerikaanse breuklyn as die stedelike-plattelandse verdeling. Die meeste Republikeinse ondersteuners is egter nie boere of kleindorpse inwoners nie.
..............

Heelwat waarnemers beskryf die groot Amerikaanse breuklyn as die stedelike-plattelandse verdeling. Die meeste Republikeinse ondersteuners is egter nie boere of kleindorpse inwoners nie. In die minder duur buitenste voorstede van vele stede is daar dikwels ’n stryd tussen Republikeinse en Demokratiese koalisies. Die buitenste voorstede se kleiner sakelui en werknemers, en die buitestedelike gebiede, waar die meeste werkersklas-Amerikaners van alle rasse woon, vorm die swaartepunt van Republikeinse kiesers.

Daar is ook toenemende verdelings in sommige minderheidsgemeenskappe oor die Demokrate se ekonomiese en kultuurpolitieke agenda. Volgens Pew Research het net sowat 5% swart mense, maar 32% Asiate en 39% Spaans-Amerikaanse kiesers, naas 51% wit kiesers in 2022 se middeltermynverkiesings vir die Republikeine gestem. Sommige Demokrate is bevrees dat die Republikeine deur ekonomiese populisme uiteindelik daarin sal slaag om baie van hierdie kiesers, op wie hulle politieke alliansies staatmaak, se steun te wen.

 

Demokrasie en federale state

Die Demokrate en Republikeine se steun is potensieel byna ewe veel, wat die temperatuur opjaag. Die teenstander se toekomsvisie word selfs as inherent ondemokraties daargestel. Trump het die 2024-verkiesing as ’n bestaanstryd uitgebeeld en genoem dat sonder ’n Republikeinse oorwinning dit die laaste vrye verkiesing mag wees. Einde Augustus 2024 het Nancy Pelosi, die Demokratiese speaker van die Huis van Afgevaardigdes, weer genoem: “Ons moet ’n persoon verslaan wat ’n bedreiging vir ons demokrasie is van ’n soort wat ons nog nie gesien het nie.”   

Die federale VSA se 50 state en die federale regering vorm die politieke slagvelde waarop die intra-elite twiste van die Amerikaanse stadsgebiede geveg word. Demokratiese kernstede in state met Republikeinse meerderhede kan dikwels die state se regerings systap deur direk ’n beroep te doen op die Kongres, federale burokrasie en regbank, asook die media en sake-elites wat aan die nasionale party gekoppel is.

Die diep verdelings en botsende toekomsvisies tussen Demokrate en Republikeine vuur uitsprake oor meer outonomie of selfs afskeiding van sommige state aan. Republikeinse Kongreslede soos Marjorie Taylor Greene het al gevra vir ’n “nasionale egskeiding” tussen blou en rooi state.

YouGov se meningsopname in Februarie 2024 het getoon dat 23% die afskeiding van hulle eie federale staat sou steun, en 28% die afskeiding van ’n ander staat. Afskeiding was die gewildste in twee Demokratiese state, Kalifornië en New York, en drie Republikeinse state, Texas, Oklahoma en Alaska. In 11 state was die steun vir afskeiding 24% of meer, en oorhoofs het 29% Republikeine afskeiding van hul state gesteun. Dit dui op groot ongemak onder baie burgers met die bestaande orde.

Groter berusting in geweld

Wanneer ‘n mens deesdae die media van die VSA oor politieke houdings en laakbaarheid volg, kan jy dikwels met ’n stok aanvoel waar die partydige blaarbedekkings lê. Jy moet die blare aanhou wegkrap totdat die grond onder die verskillende kampe se bedekkings sigbaar raak. Die Nancy Pelosi-weergawe van die politiek, dat die Republikeinse kamp die grootste bedreiging vir demokrasie is, kry dikwels die voorrang in media soos CNN en die New York Times. By ekstremiste in alle kampe bestaan daar egter ’n groter berusting in politieke geweld as deel van die politieke proses.

Nadat Trump in 2016 aan bewind gekom het, het ’n skutter in 2017 op die Republikeinse spanoefening vir ’n bofbalwedstryd tussen afgevaardigdes geskiet en etlike mense verword. Die 2020-verkiesing en sy betwiste uitslag was weer die sneller vir die protes en inval van die US Capitol-gebou deur ekstremiste. Tydens die 2022-middeltermynverkiesings was daar ’n sluipmoordaanval op Pelosi waarin haar man ernstig beseer is. In dieselfde jaar het ’n linkse ekstremis wapens na die huis van die Hooggeregshof-regter Brett Kavanaugh geneem om hom te dreig.

Die berusting in politieke geweld was nie altyd so sterk nie. Terwyl 1 uit 10 respondente in 1990 aan navorsers by die Universiteit van Maryland genoem het dat gewelddadige aksie teen die regering geregverdig kan word, was dit in Desember 2021 3 uit 10. In Junie 2024 het 10% van respondente in navorsing van die Universiteit van Chicago gemeen die gebruik van geweld is geregverdig om te keer dat Trump president word. Sowat 6,3% het gemeen geweld ten gunste van Trump is geregverdig.

Hierdie gegewens, en die twee sluipmoordpogings op Trump, beteken dat ondemokratiese gedrag en politieke geweld as middel in die ekstreme hoeke van vele kampe aanvaar word. Dit laat min FBI-amptenare beter slaap in ’n land met sowat 393 miljoen vuurwapens in privaat besit.

Baie praatjies oor burgeroorlog

Vir dekades was diegene wat waarsku oor ’n toekomstige Amerikaanse burgeroorlog, deel van eindtydgelowiges, politieke ekstremiste, anargiste of soms ’n veiligheidsontleder. Die Afro-Amerikaanse militêre veteraan Sam Greenlee se roman van 1969, The spook who sat by the door, en die wit rasnasionalis William Luther Pierce se roman in 1978, The Turner diaries, handel byvoorbeeld oor organisasies wat onderskeidelik ’n swart en ’n wit revolusie deurvoer. Hierdie boeke het beide invloed op ekstremiste uitgeoefen, maar Pierce s’n kan meer direk aan terroristedade in die 1980’s en 1990’s gekoppel word.

..........
Deesdae noem etlike figure uit die establishment hul besorgdheid oor ’n tweede Amerikaanse burgeroorlog.
............

Deesdae noem etlike figure uit die establishment hul besorgdheid oor ’n tweede Amerikaanse burgeroorlog. Die politieke wetenskaplike Barbara Walter skryf in haar boek How civil wars start (2022): “Ons is nader aan burgeroorlog as wat enigeen van ons graag sou wou glo.” Selfs films weerspieël van die vrese en visioene wat in die VSA opwel. Civil war, ‘n film van die Britse regisseur Alex Garland oor ’n burgeroorlog in die hedendaagse VSA, was in April 2024 ’n lokettreffer. Volgens ’n onderhoud met Garland wou hy veral die gevaar van polarisasie en demonisering van politieke teenstanders uitlig, en ook die belang van die media en wigte en teenwigte.

Ook in die buurland Kanada kry die saak aandag. Policy Horizons Canada, ’n dinktenk vir die Kanadese regering, het honderde kundiges en regeringsbeamptes gevra watter ontwrigtende gebeure Kanada mag tref. Hul verslag in 2024, Disruptions on the horizon, noem byna terloops een scenario: “US ideological divisions, democratic erosion, and domestic unrest escalate, plunging the country into civil war.”

Sulke oordele word wyd gedeel. Volgens meningsopnames deur The Economist en YouGov in 2022 het 60% van Amerikaners meer politieke geweld in die toekoms verwag. Twee uit vyf het geglo ’n burgeroorlog is ten minste ietwat moontlik in die volgende dekade. Rasmussen Reports het in Mei 2024 bevind dieselfde persentasie dink die VSA kan waarskynlik of baie waarskynlik ’n burgeroorlog in die volgende vyf jaar beleef.

Milisies en stedelike konflik

Die destydse president van die Amerikaanse Council on Foreign Relations, Richard Haass, opper in sy boek The ten habits of good citizens in 2023 ook kommer oor die verval van demokratiese norme in die VSA. “As daar ’n model is wat ons moet vrees, kom dit van Noord-Ierland en die Troubles, die stryd vir drie dekades vanaf die laat 1960’s wat veelvuldige paramilitêre groepe, polisie en soldate betrek het en tot bykans 3 600 sterfgevalle en ’n skerp vermindering in ekonomiese uitset gelei het.”

Daar is tans geen teken dat sulke verdelings ’n belangrike kwessie binne die Amerikaanse weermag is nie. Verskillende burgerlike milisies, waarvan sommige se lede militêre ervaring het, was wel betrokke by demonstrasies oor Covid, die polisie-optrede teen George Floyd, en ook die bestorming van die Capitol op 6 Januarie 2021. Hulle lede is meestal Westerse Amerikaners, maar ook mense met ’n Spaans-Amerikaanse en Asiatiese agtergrond is soms aktief. LBQT-aktiviste en anargiste vorm ‘n onderdeel van sowel Antifa-groepe as die antiregeringsgesinde Boogaloo-milisie met hulle Hawai-hemde wat ’n tweede Amerikaanse burgeroorlog verwag.

Sulke organisasies is egter tans nie naastenby vergelykbaar met byvoorbeeld die Ierse Republikeinse Leër nie. Sam Jackson, skrywer van ’n boek oor die Oath Keepers, een belangrike milisie, noem dat baie milisieleiers besef dat geweld hulle beeld, steun of regsposisie sou benadeel. Heelwat van hulle noem dat hulle net in selfverweer sou optree en nooit die eerste skoot sou vuur nie.

Amy Cooter van die Middlebury Instituut vir Internasionale Studies het oor jare onderhoude met milisielede gevoer vir haar boek Nostalgia, nationalism, and the US militia movement (2024). Formele milisies verskil volgens haar oor wat die grootste onmiddellike bedreiging is. Sommige is bevrees dat die federale regering hulle wapens mag konfiskeer. Ander bou kos, water en mediese voorrade op in afwagting op die sosiale inploffing wat kom, of “teotwawki – the end of the world as we know it”.

Sulke groepe is soms makliker om te infiltreer as klein ondergrondse netwerke, soos blyk uit die voorkoming van ’n beplande ontvoering van Michigan se goewerneur, Gretchen Whitmer. Adam Fox en andere se plan was om Whitmer in 2020 te ontvoer en in ’n boendoehof te verhoor, met die hoop dat dit tot soortgelyke milisie-optrede teen ander state se goewerneurs sou lei.

Volgens Michael Lind, professor by die Universiteit van Texas in Austin, toon kaarte van verkiesingsuitslae dat daar geen volledige Rooi (Republikeinse) of Blou (Demokratiese) state is nie. Daar is net Blou stedelike gebiede wat in oseane van Rooi dryf, selfs in Blou state soos Kalifornië en New York. ’n Asimmetriese toekomstige burgeroorlog sou dus tussen woonbuurte in elke stedelike gebied geveg word.

Progressief-Demokratiese Manhattan, met sy uiterstes van ryk en arm, sou volgens Lind dan te staan kom teen werkersklas- en middelklas-woonbuurte soos Staten Island en dele van Queens en Brooklyn, wat dikwels vir die Republikeine stem. Hy voeg in Tablet van 8 April 2024 by: “Natuurlik sou die burgeroorlog in New York City nie baie lank duur nie. Nie as die werkersklaspolisie, -verpleegsters, -gebou-instandhoudingspersoneel wat uit die buitebuurte pendel en neig om Republikeins te stem, Manhattan aan anargie sou oorlaat nie. Dit sou die rykes wat nie na hulle tweede huise in Hamptons kan vlug nie, in hulle wolkekrabbers laat skuil terwyl misdadigers en plunderaars die strate oorneem, brandend en plunderend …”

Terrorisme eerder as burgeroorlog

Daar word heelwat oor ’n moontlike burgeroorlog en milisies gepraat, maar die rekord van georganiseerde politieke geweld in die VSA is veel beperkter. Volgens ’n datastel van 893 terroristevoorvalle tussen Januarie 1994 en Mei 2020 het regse ekstremiste 57% van alle aanvalle gepleeg, linkse ekstremiste 25%, etnonasionaliste 3%, en godsdienstige terroriste 15%, laasgenoemde weliswaar met die grootste lewensverlies. Dit kan ’n mens vergelyk met ongeveer 25 000 moorde met vuurwapens per jaar.

Die gevaar van individue met klein ondersteuningsnetwerke al dan nie is natuurlik nie te onderskat nie. Aaron Pendley het in 2021 beplan om die Amazon Web Services Data Centre in Ashburn, Virginia op te blaas en sodoende 70% van die internet en die digitale kommunikasie van die FBI en CIA te ontwrig. Hy het gehoop die reaksie van die regerende “oligargie” sal mense oortuig dat hulle in ’n outokrasie leef. Na dese kan mens ook pogings tot ontvoerings en sluipmoorde op senior politieke figure byvoeg.

Geweld na die 2024-verkiesing sou waarskynlik deur individue of kleiner informele groepe gepleeg word. Terrorismekenners soos Bruce Hoffman en Jacob Ware skryf in Gods, guns and sedition dat ’n hedendaagse Amerikaanse burgeroorlog onwaarskynlik is, maar dat nuwe dade van polities gemotiveerde geweld nie uitgesluit kan word nie.

Indien daar politieke geweld na die verkiesing sou wees, sou dit meestal beperkte en herkenbare vorme aanneem. Kombinasies van byeenkomste met geweldsvoorvalle deur gewapendes sou heelwat met stedelike oproer in die 1960’s ooreenkom. Daar mag elemente van milisies wees wat, soos in die 1990’s, regeringsteikens aanval. Individue mag sabotasie, moorde of ander misdade om politieke redes pleeg, soos in die 2000’s.

Vir politieke geweld om die vlak van ’n burgeroorlog te bereik, met sowat 1 000 ongevalle per jaar, ontbreek die georganiseerde veggroepe tans. Dit sou nuwe ekonomiese en politieke krisisse en gebeure verg, ook oorreaksie deur die staat, voor sulke groepe sou vorm of bestaandes hulleself sou omvorm. Hulle impak sou egter uiteindelik deur die VSA se swetterjoel veiligheidsagentskappe en hulle tegnologiese en menslike monitering beteuel kon word.

Herstel gesag en legitimiteit

.........
Die sluipmoordpogings teen ’n presidentskandidaat en voormalige president in die VSA is slegte nuus vir enige demokraat. Dieselfde geld vir die groter bereidheid tot geweld onder sommige Amerikaners weens ‘n botsende ideologiese stampolitiek.
.............

Die sluipmoordpogings teen ’n presidentskandidaat en voormalige president in die VSA is slegte nuus vir enige demokraat. Dieselfde geld vir die groter bereidheid tot geweld onder sommige Amerikaners weens ‘n botsende ideologiese stampolitiek.

Om die gesag en legitimiteit van die verkiesingsproses in só ‘n diep verdeelde samelewing te herstel, sal ’n taai opdrag bly. Soveel Republikeine betwyfel die 2020-verkiesingsuitslag dat selfs ekstra veiligheid by die stembusse in 2024 skepties beskou sal word as ’n Demokratiese poging om dalk ’n verkiesingsbedrogspul te beskerm.

’n Mens moet terughoudend wees om aan ander volke se politici voor te skryf wat hulle te doen staan, hoewel min Amerikaanse politici histories daarmee ’n probleem het. Die herstel van vertroue in die VSA se demokratiese instellings sal egter waarskynlik nie gebeur sonder meer aandag aan die multikulturele werkersklas se belange nie. Die gevoel van ontmagtiging en onteiening onder dele van die Westerse kerngroep sal ook nie verdwyn sonder dat hulle bypassende kultuurinstellings met hul belastinggeld kan uitbou nie.

Die demografiese omvorming van die VSA behels volgens Robert Kaplan die ontbinding van die Westers-oorheerste middelklas se historiese oos-wes-as. Heelwat stede en rolspelers in die noordweste sal hulle meer op Asië rig, en die suidweste sal toenemend demografies en kultureel verweef raak met Meksiko, waar die staat in ’n versameling van groot baronne omvorm word. Demokrate en Republikeine sal verskillend hiermee omgaan en terselfdertyd moet verseker dat interne verskille nie ander mededingers en groot magte bevoordeel nie.

Vir nuwe Amerikaanse regeerders sal politieke geweld periodiek ’n vraagstuk wees, maar die mindere van heelwat groter politieke uitdagings in die VSA. Miskien sal sommige van hulle soms besin oor die Westerse “founding fathers”, wat tussen al hulle gebreke deur wel so wys was om ’n groot en diverse gebied met federale state en demokratiese wigte en teenwigte in te rig.

  • Heinrich Matthee is ’n buitengewone navorser by Noordwes-Universiteit en beklee die ereleerstoel vir veiligheidstudies by Akademia.

Lees ook:

Amerika se politieke alfabet het in ’n tuimeldroër beland

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top