Dagsê Wouter
Net eers ’n ding of twee regstel:
Ek het geen navorser spesifiek afgemaak nie; ek het byvoorbeeld nog nooit van Charles P Pollak gehoor nie. Die ander ding is, ek het nooit die bestaan van die multiversum betwis nie; wat ek wel glad nie aanvaar nie is die bewering dat daar ’n parallelle univers is waar alles daar presies dieselfde as hier is.
Nou, wat betref jou brief:
Nou hoe sal ek in elk geval dr Pollak "afmaak"? Die man sê dan presies wat ek sê as mens na jou aanhaling kyk, naamlik dat dit "... is a well-based inference that babies are dreaming in REM sleep". As hulle dan droom, hetsy in REM-slaap of nie, droom hulle nie in ’n taal nie want die doktor is tog vir seker daarvan bewus dat ’n baba nog nie ’n taal het nie.
Net soos die baba, droom jy en "koos sas" ook nie in ’n taal nie. Hoe kan julle; sien julle dan skrif voor julle as julle droom? Of vertel jy jouself wat jy gedroom het voordat jy die droom onthou of oorvertel aan iemand anders?
Gestel jy was ’n ooggetuie en jy moet ’n ongelukkie, wat op ’n reënerige dag in spitsverkeer in die middestad plaasgevind het, beskryf. Die ongeluk het in ’n sekonde of wat plaasgevind, jy weet presies wat gebeur het oombliklik na die ongeluk plaasgevind het en tog vat dit jou twee na drie minute om aan iemand anders te vertel. Op enige tydstip daarna kan jy die presiese gebeure oombliklik herroep en daar is geen woorde (taal) by betrokke nie tensy jy dit weer wil oordra aan iemand anders.
Ek erken, hier en daar skiet ’n woord jou gedagtes te binne maar dis vlietend; jy's nie besig om te verhaal wat in jou kop aangaan nie. Baie keer het die woorde wat jy prewel of selfs hardop sê ook maar min met die konsep in jou gedagte te doen. Jy sal byvoorbeeld uitroep "genugtig!" terwyl die ongeluk aan die gang is, of "matesis, trig en astrofisika!!" as jy jou duim raakslaan met ’n hamer maar dis blote refleks, jy kommunikeer met niemand nie.
Ek reken daardie hele toneel is een of ander patroon van elektriese (ladings?) aan- en afskakels iewers in jou brein en, al wat jy met woorde doen, is om dieselfde patroon in die brein van die persoon met wie jy kommunikeer, te bewerkstellig.
So is dit met enige gedagte (of begrip) wat jy het. Indien jy die kuns van telepatie bemeester het doen jy die verstelling in die ander ou se brein sonder woorde; ’n baie effektiewer manier om jou gedagtes oor te dra want woorde, op hulle beste, is gewoonlik nie heeltemal opgewasse vir die taak nie. Of eintlik, vir nie almal van ons het ’n woord dieselfde waarde nie, die dat mens oor en oor dinge moet verduidelik voor die ander ou dieselfde patroon in sy kop het.
Nog ’n voorbeeld: As jy erg koors het en jy yl het jy gedagtes en drome wat jy doodeenvoudig nie in woorde kan omskakel nie want die woorde bestaan nie daarvoor nie. Of dink aan wiskunde; daar werk jy met begrippe wat duisende woorde in beslag sal neem maar ’n formule stel dit bondig – ’n ander wiskundige weet onmiddelikwat in jou kop aangaan sonder dat taal betrokke is. Dink ook aan Helen Keller; hoe sou sy ooit ’n taal kon aanleer as sy nie kon dink nie?
Ek is oortuig mens dink, of droom, nie in ’n taal nie. Ek mag verkeerd wees want my vrou en my een broer stem saam met julle. My een dogter stem weer saam met my en ek weet nie van die ander kinders nie, nog nie met hulle daaroor gepraat nie.
Hoe dit ookal sy, vir wie gaan julle glo; ’n spul verstokte navorsers met wit jasse of vir my, Jan Rap?
Groetnis
Jan Rap

