Hallo Wouter
Ek verwys na jou twee briewe van gister.
Ek het al meermale, na stellings en/of gevolgtrekkings wat ek gemaak het, dit duidelik gestel dat ek verkeerd mag wees en feite sal verwelkom wat aandui dat ek die kat aan die stert beetgehad het.
Tot dusver het niemand nog met sulke feite vorendag gekom nie, allermins jy. Trouens, jou onsamehangende kommentaar van gister versterk eintlik my betoog want daar is net mooi niks lyf aan enigiets wat jy aanvoer nie.
Jy hoef nie sleg te voel om my 'n geskiedenisles te gee nie; mens is nooit te oud om te leer nie maar jou lessie van gister is, soos hulle in wiskunde sê, disjunk wat betref die sogenaamde 'legitimisering en wettiging van taalsuperioriteit'. Dit lyk vir my of jy die vervanging van Nederlands met Afrikaans as rede beskou vir hierdie wettiging waarvan jy en Kobus praat en dus absurd; geen Afrikaner het in elk geval gedurende daardie tyd Nederlands gepraat nie. Miskien verstaan ek jou storie verkeerd, laat weet maar.
Jy sinspeel daarop dat Afrikaans na 1925 die taal van amptelike dokumente geword het. Jy is verkeerd, Afrikaans was toe bloot ook 'n amptelike taal saam met Engels. Geen Engelse 'amptelike dokumente' is uitgegooi en deur Afrikaanses vervang nie; Afrikaans is bloot bygevoeg. Om die waarheid te sê, dit was in baie gevalle nie eers verpligtend dat Afrikaans bygevoeg word nie; toe ek in die 70's by Openbare Werke gewerk het kon jy 'n tekening óf tweetalig, óf net in Engels maak, daar was nie sprake van Afrikaans alleen nie al was die oorgrote meerderheid van die kontrakteurs Afrikaanssprekend.
Die 'donkey'-bordjies is nie 'n staaltjie nie; dit het persoonlik met haar gebeur en sy was in 1920 gebore. Sy was dus van skoolgaande ouderdom van, sê, 1925 af. Dit moes dus tussen 1925 en so 1938 met haar gebeur het. Maar of dit nou met haar gebeur het of nie, die feit is dit HET gebeur in Suid-Afrika en die aanhaal daarvan was ter illustrasie dat, as daar 'n taal was wat in iemand se keel afgedruk was, was dit Engels.
So, in brief deel een, waar jy praat van Afrikaans wat 'n amptelike taal geword het en Afrikaanse skoolkinders wat later NP gestem het, is jou gevolgtrekking dat Kobus Faasen se 'legitimisering en wettiging van taalsuperioriteit' juis is. Hoe bring jy die kloutjie by die oor? Hy mag wel reg wees, hang af wat sy verduideliking gaan wees maar wat jy gesê het is 'n nul op 'n kontrak.
In deel twee praat jy van 11 nasiestate en dat dit volgens my die 'mislukking van demokrasie sou wees'. Jy verstaan verkeerd, ek sê die nasiestate is juis nader aan demokrasie, strate voor hierdie deurmekaar sirkus wat GLAD nie 'n demokrasie is nie.
Jy noem persentasies in jou geskiedenislessie en sluit af met " ... Hierdie fyn balans het 'n mate van 'n remskoen gebied om die ergste vergrype stadiger te laat geskied ... (ek sluit die aanhaling maar hier want daardie sin van jou is seker 70+ woorde)." Wat is die fyn balans? Watter vergrype? Jy mag reg wees maar sonder redes is dit bloot persoonlike mening. Jou gevolgtrekking na hierdie 'geskiedenis' is dan ook dat die 'boer' (jy bedoel seker 'Boer'?) nooit 'n kampvegter teen onderdrukking was nie. Hoe kom jy tot daardie gevolgtrekking? Wat in jou hele redenasie lei tot hierdie gevolgtrekking? Die feit dat die NP aan bewind was? Die feit dat daar 'n republiek in 1961 tot stand gekom het? Jy moet maar weer verduidelik.
Wat my statistiek betref, my bronne is die radio en die koerante; ek sal nooi so 'n hoë getal soos 22000 moorde per jaar en 16 opstande per dag uit my duim suig nie, dit sal op 'n ooglopende aandik neerkom. Maar kom ons sê dis verkeerd en gee die toestand in die land die voordeel van die twyfel en halveer die getalle – 11 000 moorde per jaar en tot 8 opstande per dag in Gauteng, Dit bly afgryslik.
Wouter, jy tree op soos iemand wat uitgevang word dat hy twak praat: Jy soek geallieerdes (verwys jou aantyging dat ek nie respek betoon nie), jy raak ad hominem en jy strooi clichés rond – Jan Rap is die kluts kwyt, Jan Rap se integriteit is verdag, Jan Rap het geen respek nie ens ens.
Jy en Kobus Faasen is die pad ewe byster. Kobus het nog 'n verskoning, hy't 'n (gewaande) appeltjie te skil maar jy praat net omdat praat praat is. Een ding kan ek EN jy by Kobus Faasen leer: Spelling en duidelike samehangende Afrikaans.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Oubaas Rap, soos Dr Michael le Cordeur seg, "Die punt is", ... Eintlik gaat my klagte oor die Taalraad se stilswye aangaande Afrikaans wat amptelik en offisieel 'n apartheidstaal is, want "Boer" (via "umBhulu") is nie die boer van die plaas of die "Boer" wat "Afrikaner" beteken nie, maar die "Boer" wat daarop aangedring het dat als "apart" moet wees en dat nie-"Boere" pasboeke moet dra en in ghetto's moet bly. "isiBhulu" is daai apartheidsliefhebbers (meervoud: "amaBhulu") se taal.
Goeie nuus: Die Wes-Kaapse Kabinet het reeds besluit dat hierdie term rassisties is en dat waar "isiBhulu" in die Wes-Kaapse Grondwet (isiXhosa-weergawe) voorkom, dit vervang sal word met "isiAfrikaans". Die ander provinsies sal Goeie Hoop se voorbeeld moet volg, want ons kontrei beskik oor 'n uitstekende Handves van Menseregte. Weer eens, die Taalraad as "taalwaghond" is die liggaam wat namens al die Afrikaanssprekendes verantwoording moet doen oor sake wat hierdie identiteitsinstrument (taal) van ons benadeel. Hulle het absoluut ultra-klaaglik in hierdie opsig gefaal.
Dit is die kjenners van Moeder Afrikaans se punt.
Jan Rap,
Hello Jacobus,
Neef Faasen, as jou punt is, soos jy sê, dat jou afkeer van die Boer is wat aangedring het dat als apart moet wees, en nie met die Boer wat ook as Afrikaner bekend staan nie (soos ek byvoorbeeld) dan is dit goed so en skil dan jou appeltjie. Maar tot dusver was jy nie inklusief genoeg nie; jy het byvoorbeeld nog nooit 'n gediggie geskryf oor die Brit wat aangedring het dat alles apart moet wees nie. Tot sover kry ek die indruk dat jy dit teen my pa- en oupa-hulle het wat nog nooit 'n vlieg seergemaak het nie, veral my oupa.
Maar laat jou oom Rap vandag vir jou 'n ding vertel (wat ek alreeds vertel het maar jy het dit waarskynlik misgelees): Die NP het 'n fout gemaak om die bruines van die kieserslys af te haal destyds hier in '52 rond. In 'n poging om swart regering te vermy was hulle TE, noem dit, pedagogies. Om 'n lang storie ernstig te verkort, die geskiedenis kon daarna sodanig verloop het dat ons so stuk of tien demokrasieë hier aan die suidpunt van Afrika gehad het - ons Afrikaans- en Engelssprekendes in een en die ander sou wees Swaziland, Venda, Basoetoeland, Zoeloeland, Xhosaland, Tswanaland, Ndebeleland en nog 'n paar ander waarmee ons teen die tyd 'n federasie sou gevorm het.
'n Skrale moontlikheid, ek weet, maar dink die voordeel van nie 'n marionetstaat van die Weste te gewees het nie.
Nou's dit 'n gemors, niks werk nie, als gaan agteruit en dan word ons grondstowwe, van ystererts tot renosters, nog gebuit ook. En die Ooste neem ons in.
Hallo Wouter
Jou hele storie was dat jy saam met Kobus stem oor die "wettiging van taalsuperioriteit". Is jou redes hiervoor nou werklik die feit dat Afrikaans as amptelike taal in 1925 gevestig is, of dat daar Suid-Afrikaanse universiteite gestig is?
Wat jou bewering van die 'verafrikaansing' van die staatsdiens betref: Afrikaans, as amptelike taal, was SAAM met Engels die taal in die staatsdiens. Jy maak 'n stelling en as ek sê dis verkeerd, en gee 'n voorbeeld, dan vra jy ek moet dit bewys. Waar is jou bewys byvorbeeld vir JOU stelling? Jy't dit bloot as 'n feit konstateer en as ek dit bevraagteken, nee, weerlê, dan vra jy of ek dit ontken. Ek het lank in die staatsdiens gewerk terwyl ek 'n beurshouer was, by Gemeenskapsbou, Openbare Werke en Landbou Tegniese Dienste se landbouingenieursafdeling en ek sê nou vir jou Afrikaans was naas Engels die amptelike taal (en nie eers altyd op gelyke voet nie soos ek jou vertel het van die tekeninge).
Jy sluit af met "Jan Rap dop die toets van eerlikheid en volledigheid en argumente van goedertrou." Mag wel wees maar op grond waarvan sê dit? Waar het ek gelieg? Jy sal hierdie Engels verstaan: Put your money where your mouth is. Sê vir my waar ek oneerlik was sodat ek of kan regstel of verskoning maak.
Terloops, jou briefie aan Kobus hierbo is ek seker irriteer vir hom meer as vir my. Daar is geen rede hoekom jy Kobus moet probeer paai nie; dis paternalisties, sou ek sê, hierdie skouerkloppoging van jou.
Wouter Ferns volstaan dan met die geskiedenis soos bedryf deur Jan Rap wat in plaas van om die geskiedenis te behandel net steun op staaltjies.