Vir Wouter oor Kasparov en skilderye

  • 2

Dagsê Wouter

Ek het my swaer se Kasparov op vlak een gespeel en gewen en toe op vlak 2 verloor. Ek dag toe hoe erg moet vlak 5 dan nie wees nie en ek wen toe op vlak 5.  Ek speel toe weer vlak twee en verloor, gaan na vlak 3 en wen, wen ook vlak 4 tot by vlak 8, wen almal behalwe vlak 2.  Al na gelang van die vlak styg, verleng die masjien se dinktyd en die spel op vlak 8 het van middagete tot donker geduur.

Dit was toe juis die rede hoekom vlak 2 so moeilik was want die masjien skuif byna onmiddellik op daardie vlak en dan is jyself ook geneig om te haas en dit is waar die ding jou vang; jy moet jou tyd vat.  Dit het ek toe gedoen en op vlak 2 ook gewen.  Hierdie Willi-program (so-iets) kon ek egter nog nooit wen nie, maak nie saak hoe lank ek wroeg en peins nie.

Skaak is ’n snaakse storie. Die klub waaraan ek destyds behoort het (die werk se etenstydklub, beslis nie A-liga nie) was ek so in die middel rond en so nou en dan het ek gewen teen ’n ou wat aan die bopunt van die leer was.  Ek het die ou wat eerste was ’n paar keer geklop maar daar was ’n ou wat so 8ste of 10de was, daar rond, ’n prokureur, wat ek nooit kon klop nie.  Ek het al ouens gewen wat hom gewen het, en hy het al verloor teen ouens wat teen my verloor het maar hom kon ek nog nooit wen nie.

Die dames in die klub, omtrent almal Pole, Hongare en Tsjegge (Balkanmeisies, almal mooi bene, ek wonder hoekom?), was almal laer op die leer as wat ek was wat mens onwillekeurig die idee gee dat vrouens nie eintlik goed met skaak is nie.  En toe, op ’n dag, kom daar ’n gewone christelik-nasionale SA-meisie aan (sy was deur ’n IT-firma tydelik aan ons gesekondeer) en sy sit almal ore aan.  Ons klubkampioen, ’n Rus wat gespog het dat hy direk by Mikhail Tal geleer het, het sy vermorsel, die ou het dit maar moeilik verwerk.  Met blitsskaak gee sy my 10 minute op die klok en vat vir haarself 3 minute en, óf my vlaggie val, óf sy sit my mat voor haar vlaggie val.

Ek het mos ook al vertel van die laerskooloutjie teen wie ek so verloor het.  Op aandrang van sy pa het ek my maar toe uiteindelik verwerdig om teen hom te gaan speel en, met die voordeel van skuiwe wat hy "die oom" oorgegee het, het hy die vloer met my gevee.  En hy het nie eers hard probeer nie; terwyl dit my skuif was speel hy met een van sy karretjies of loer in ’n comic.  Ja-nee, soos gholf, hou skaak hou ’n mens ook nederig, baie nederig.

Wat die skilderye betref:  Kyk bietjie op southafricanartists.com, daar is heelparty ouens wat die bekende skilderye namaak en verkoop.  Party van hulle, lyk dit my, gee nie eers die nodige erkenning nie, neem seker almal weet wie se werk dit is.  Maar dis interessant, gooi bietjie ’n ogie daar.

Groetnis

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Jan Rap,
    Hierdie lekker skaakstories van jou het my gedagtes darem nou ver terug gevat. Ek het my belangstelling begin verloor toe ek aanmekaar sleg tweede gekom het teen die rekenaar. Kan nie onthou of ek ooit een kon wen nie. Was ook op 'n stadium  lid van ’n skaakklub gewees en een staaltjie kan ek nog goed onthou. Dit was op die platteland en die hotel se sitkamer was ons maandelikse bymekaarkomplek. Een aand was daar ’n besoekende handelsreisiger en op sy versoek vat ons mekaar aan.

    Dit het sleg met my gegaan man, want elke stoot van hom was net moeilikheid. Gelukkig kom ek darem betyds sy wedstrydplan agter. Hy probeer my bord skoonvee voor hy die genadeslag toedien. Regte boelie! (Jy was nie dalk 'n handelsreisiger nie?) Op daardie stadium was hy so in beheer dat hy verdediging heeltemal oorboord gegooi het. Ek vat toe ’n kans en voer my koningin vir hom. Maar dit was ’n lelike slagyster en soos ek gehoop het skep hy haar. Twee stote later moes hy vir die dop betaal. Ek was darem eerlik en het teenoor hom erken dat hy in ’n ander klas as ek is. Ek hoop hy het dié aand ’n waardevolle les geleer.

    Groete
     Panda

  • Hallo Panda 

    Nee ek was nooit 'n handelsreisiger nie.  Dit herinner my egter aan die storie van die een Russiese grootmeester wie se trein op 'n klein dorpie vasgesneeu het.  Na sy hotelete is hy verveeld en stap toe maar na die skaakklub toe (in Rusland het elke dorp ten minste een skaakklub) en hy vertel almal daar - niemand het hom blykbaar herken nie - dat jy 'n voordeel het as jy sonder 'n ruiter speel en hy demonstreer toe vir hulle.  Elke keer as hy sonder 'n ruiter speel wen hy en dan, die volgende spel, laat hy die opponent sy ruiter afhaal en dan sorg hy dat hy verloor.

    Ek dink die was Bogholjoebov wat die rakker was maar ek is nie seker nie.  Wat ek wel weet wat hy gedoen het was, gedurende 'n toernooi in Casablanca, vra hy 'n omstander om vir hom 'n glas water te bring (vir 'n Rus moes Casablanca moer warm gewees het).  Die omstander was 'n groot bewonderaar en hy reken toe hy sal sy idool met 'n glas lemoensap trakteer.  "Dankie", sê Bogholjoebov toe die ou die lemoensap langs hom neersit en, sonder om sy oë van die bord af te haal, gooi hy die lemoensap oor sy kop uit.

    'n Ander keer weer, gedurende 'n groot toernooi, is dit tyd vir die after-dinnerpraatjies en, soos gewoonlik, is daar die geskerts en gespot met mekaar. Alekhine (hy was Aljechin of iets maar het Franse burger geword) se beurt het gekom nadat Bogholjoebov hom beetgehad het en hy sê toe hy het die vorige nag gedroom hy's dood en was na die hemelpoort weggevoer.  Terwyl hy daar by die hek staan en wag vir Petrus om hom te woord te staan sien hy, doer anderkant op 'n wolkie, sit Bogholjoebov sy harp en speel.  Uiteindelik is Petrus by hom en vra hom wat dit was wat hy op aarde gedoen het. 

    "Ek was 'n skaakgrootmeester."
    "Jammer", sê Petrus, "ons laat nie grootmeesters hier toe nie."
    "Maar daar sien ek Bogholjoebov dan; is hy nie 'n grootmeester nie?"
    "Nee", sê Petrus, "hy dink net hy is."

    Die einste Bogholjoebov (ek dink dit was hy) staan eenkeer en kyk na twee dames se spel by 'n toernooi. "Wat dink jy?" vra 'n omstander wat langs hom gestaan en ook die spel dopgehou het.  "Wel", sê Bogholjoebov, "ek dink hulle is albei bietjie aan die maer kant."

    Ja-nee, karakters, die lot van hulle.

    Groetnis

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top