Hallo Wouter
Kom ons kyk bietjie na jou opmerkings onderaan my brief van 17 April.
Na die aanhef "Patetiese Jan Rap ontkennings:" sê jy "Waar kan dit ernstig opgeneem word dat die staatshoof in 'n vreemde taal praat en daarom nie 'n demokrasie is." Alhoewel daar 'n vraagteken kort (asook die dubbele negatief) neem ek aan jy vra die vraag, met ander woorde, ten spyte van jou aanhef, is dit nie 'n plasing van een van my "patetiese" ontkennings nie.
Wel, die antwoord is: Nêrens op aarde nie. Laat ek maar weer vir die hoeveelste maal die rede byvoeg vir hierdie stelling: 'Demokrasie' is per definisie 'regering vir die volk deur die volk'. As 'n heerser of 'n koning of 'n keiser of 'n president in 'n ander taal praat as dié van die mense dan is hy nie van daardie mense nie. Is dit so moeilik om te verstaan?
Ten spyte van jou opskrif lyk jou tweede sin ook nie vir my na een van my "patetiese" ontkennings nie; dit lyk na 'n stelling van jou, naamlik " Die land het 'n verskeidenheid van tale en dan Engels waarin die meeste kommunikasie plaasvind." Waar kom jy daaraan? Engels is so 5de of 6de op die lys van sprekers so dit is godsonmoontlik dat die meeste kommunikasie in Engels plaasvind (of dink jy die Zoeloes, byvoorbeeld, praat Engels in die aande om die etenstafel?).
As jy bedoel met "meeste kommunikasie [in Engels]" die staatsdiens en plaaslike owerhede bedoel bewys dit my punt: Hierdie is nie 'n demokrasie nie want 'n vreemde taal word op die landsburgers afgedwing. Of, as jy daarmee bedoel dat meeste saketransaksies in Engels is stem ek met jou saam, dit is so maar weer eens is dit nie aanduidend van 'n demokrasie nie maar die laksheid van nie-Engels moedertaalsprekers. As jy die geld het is jy nie die verleë party nie maar ons is te slapgat om met ons geld te praat.
Jou derde sin, weer eens ten spyte van jou aanhef, is ook nie een van my 'patetiese' ontkennings nie; dit is 'n vraag, die gebrek aan 'n vraagteken ten spyt, van jou, naamlik "Watter ander 'groep' is ongelukkig oor bogenoemde kwessie." Die antwoord is natuurlik al die groepe maar hulle is óf te onkundig om te weet hulle is in kettings óf te slapgat om iets daaraan te doen.
Jou volgende sin, steeds ten spyte van jou aanhef, is weer 'n vraag van jou kant af, naamlik " Hoe sal dit werk?" Hoe sal WAT werk? Laat weet asseblief wat jou probleem hier is dat ek jou kan help.
Jou volgende sin, steeds nog nie een van my 'patetiese ontkennings' nie, begin met "Net soos Jan Rap niks verkeerd met die verlede sien nie .... " en die sin word voltooi sonder dat daar die vergelyking kom. Waarop dui hierdie "net soos" van jou? Laat weet tog.
Die sin daarna is ook nie van my 'ontkennings' nie; dit is 'n totaal sinnelose stelling van jou wat eindig met ".... en 'n totale alternatiewe werklikheid word daar gestel op gronde van Jan Rap se uitspraak." Wat sê jy hier? Is dit goed of sleg? Hoe skep my uitspraak 'n alternatiewe werklikheid?
Jou volgende sin, STEEDS nie een van my 'ontkennings' nie, val weer in die "net-so"-klas. Net soos wat? Ek kom darem agter jy het dit teen die analoog van een Europese land wat nie in 'n ander mag stem nie maar jy sê nie hoekom nie, jy noem dit net "pateties". Jy mag wel reg wees maar gee die redes; jy kan nie omdat jy nie saamstem met iets dit 'pateties' noem en dink dat jy daarmee 'n punt bewys het nie. Dit is die is-issie soort van argumente waarmee graad-eentjies hulle besig hou.
Jou voorlaaste sin, naamlik "Hoe jammerlik is dit nie dat die tuisland-idee Jan Rap net nie kan laat gaan nie en daar nog steeds gedroom word oor tuislande wat dan kwansuis nasiestate is" is steeds geen ontkenning van my nie tensy jy nou bedoel ek ontken die sukses van die 'demokrasie' en beweer die nasiestate sou beter werk. Wel, dan is jy reg want hierdie sogenaamde demokrasie spoed die afgrond in en die nasiestate, gemeet teen die huidige gemors, was 'n sukses selfs in sy onvoltooide staat.
Jy sluit af met weer eens 'n stelling van jou kant af, naamlik " Bogenoemde is 'n hersenskim van die eerste water en is Jan Rap in ernstige ontkenning." Jy mag reg wees maar nêrens staaf jy wat jy sê nie. Wie weet, miskien bekeer jy my tot jou 'verligte' siening maar met sulke sinnelose redenasies versterk jy net die idee dat ek die ou is wat reg is.
Ek stel voor jy besin voor jy weer skryf. Jy het nou in jou hele brief GEEN argument geopper nie.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Hello Jan,