Hallo Wouter
Jy sê ek betreur die verlede. Jy maak 'n fout; ek betreur die hede, die huidige gemors wat selfs al deur die regering betreur word want gedurig is daar planne om dit en dat te herstel. 'Herstel', soos jy weet, beteken om iets wat nou fout is te verander na soos dit was toe dit nog gewerk het.
Jy sê ek "... wil herskryf argumente aangevoer oor hoe die geskiedenis herskryf moet word." Ek weet nie wat presies jy hier wil sê nie maar as jy bedoel dat ek die geskiedenis herskryf wil hê maak jy 'n weer fout. Hoekom sou ek dit nou wou hê? Wat ek wel sal waardeer is dat julle ophou om die geskiedenis te vervals en/of skeef weer te gee.
Hier's vir jou 'n beknopte geskiedenis: Die Xhosas, met die hulp van die Engelse, het die Boere aan die oosgrens só gepla dat laasgenoemde toe genoop was om te verkas, noorde toe. In die proses het hulle niemand aangeval en hulle grond gevat à la Engelse aard nie. Hulle het hulself wel verdedig teen aanvalle (partykeer suksesvol, partykeer onsuksesvol soos bly Blaauwkrantz). Binne 'n japtrap het hulle twee republieke gevestig, volledig met verkiesings die lot sonder dat waarnemers nodig was om te keer dat hulle mekaar doodmaak.
Ongelukkig is goud en diamante in die republieke ontdek en, soos voorspel kon word, is die Engelse weer daar (met geallieerdes soos gewoonlik) met allerhande verskonings oor hoekom daar oorlog gemaak moet word teen die Boere. Die oorlog word gemaak, die Engelse speel vuil, maak meer vrouens en kinders as krygers dood (terreur naamlik konsentrasiekampe en verskroeide aarde) en wen die oorlog. Hulle smyt die verslane republieke saam met hulle kolonies in een land en het toe weer vrye toegang tot die bronne.
In die middel van die 1900's wen die Boere 'n verkiesing en so tien jaar later maak die Boere die land toe 'n onafhanklike republiek wat natuurlik, min of meer weer, die bronne buite die Engelse se bereik plaas. Soos verwag kan word kom hulle (en hulle geallieerdes soos altyd) toe weer met 'n aanslag, hierdie keer deur middel van die media, vertel die swartes hulle word onderdruk en sal gehelp word in 'n bevrydingstryd.
Dit gebeur toe en die Boere gee toe bes in die terreurveldtog wat volg. Die land is 'bevry', die Boere is die vark in die verhaal en word afgejak, vervolg en selfs doodgemaak in hul duisende op die plase. Die land is weer 'n Engelse kolonie (die amptelike taal is Engels) en die Engelse en hulle trawante het weer toegang tot die bronne, van goud tot renosterhorings. Eienaardig genoeg, hierdie keer het onder die Engelse se geallieerdes meer Boere voorgekom as voorheen; wys jou die mag van die media.
Hierdie mediadwelm was so sterk daar was mense wat werklik geglo het die hele 'bevrydingstorie' het oor menseregte gegaan. Vra jy hulle hoe hulle verklaar dat, gedurende die 'onderdrukkingsfase', die land nie leeggeloop het soos die mense vlug na die reeds bevryde lande nie kyk hulle jou snaaks aan, veral as jy hulle vertel die teenoorgestelde het gebeur, naamlik dat die mense uit die bevryde lande hierheen gestroom het. Dit is buite hulle verwysingsraamwerk, die koerante het hulle nie vertel nie. Hier was dit veral die slebs, die aartiefaarties, die bebaarde rondebrilletjies-mense wat geslaan is. Daar is nog steeds mense wat glo aan die menseregtestorie kan jy glo.
Jy beweer 11 000 000 is gewelddadig na die tuislande verskuif. Is jy ernstig? Wat my bring na 'n ander vraag: Wat van Basoetoeland (Lesotho) en Swaziland, twee soewereine state so te sê binne ons grense. Is hulle 'vasgevang'? Indien nie, hoekom pla 'n Zoeloeland, Xhosaland, Vendaland, Tswanaland, Pediland ens jou? Wat het die Swazi's en die Basoetoes dat hulle 'n eie land mag hê en die ander nie?
Dit gee aanleiding tot 'n volgende vraag: Wat laat jou dink die huidige grense definieer 'n spesifieke land? Omdat die Engelse die grense bepaal het? Dink weer swaer, die hele Afrika is vol kunsmatige grense waarin tot 200 verskillende volke saamgeboender is met gruwelike gevolge; kyk nou maar weer na die verkiesing in Kenia. In Afrika is daar oor die 2000 (ja twee duisend) tale maar so 60 of wat lande waartussen die meeste grense penreguit lyne is, kan slegs met gesofistikeerde instrumente bepaal word. Wat sê dit vir jou? Gaan dink bietjie.
Jy sê ek praat van 'n 'ewolusionêre verandering'? Jy verwar my met iemand anders.
Jy sê weerstand word as 'terrorisme afgemaak'? Terrorisme is nie 'n relatiewe begrip nie. Terrorisme is die saai van terreur, naamlik die aanval van sagte teikens, mense sonder wapens. Die gesegde van 'die een se vryheidsvegter is die ander een se terroris', 'n gesegde wat ek onder andere Max du Preez al hoor gebruik het, is dus vals.
As die opstande "soos klokslag" begin toeneem het weens onderdrukking soos jy beweer, dan sal dit mos afneem, trouens, heeltemal verdwyn, as die 'onderdrukking' weg is. Nou hoe verklaar jy dat daar in die 'bevryde' SA meer opstande is as ooit tevore?
Jy sê " ... geweld, ongelukkig, eskaleer ...". Jy praat van geweld asof dit 'n soort van 'n entiteit is. Geweld daal nie neer nie, dit word gepleeg deur mense en swartes het swartes vermoor met die halssnoermetode. Jou verskoning daarvoor (necklacing soos jy dit noem) dat dit maar net 'n eskalasie was, met die implikasie dat dit eintlik deur die vorige bedeling veroorsaak is, wel, paternalisties (en laakbaar); soort van dat hulle nie kwalik geneem kan word nie, hulle is maar net met 'n opstand teen onderdrukking besig.
Jy praat van die opstand teen onderdrukking en jou datums begin in die 70's. Weet jy dat die ANC in 1912 gestig is, lank, lááánk voor daar 'n Afrikanerregering was. Jy praat van die swak groeikoers? Wanneer? Jy moet onthou dat teen die 80's was die skrif al lankal teen die muur, teen daardie tyd was die 'liberale' regering al lankal in die stoel. Die groeikoers, toe die ware NP nog aan bewind was, was hier by die 6% rond. Die NP het hier van die laat 60's af al die PFP-beleid begin aanneem en toe was dit al duidelik (slegs vir ons dommes lyk dit my) dat ons ons eendag in die gemors waarin ons nou sit gaan bevind.
Jy sê '... demokrasie is morsig ...'. Dis nie waar nie, demokrasie is netjies. Wat morsig is, is om 'n klomp uiteenlopende kulture bymekaar te gooi en vir hulle te sê 'julle is nou 'n demokrasie'. Kyk maar na Afrika, Suid-Afrika ingesluit. 'n Eens vooruitstrewende eerstewêreldland is nou 'n korrupte derdewêreldse misdaadnes.
Groete
Jan Rap


Kommentaar
Jan
'n Powere poging! Jy maak persoonlike stellings, vanuit 'n subjektiewe oogpunt gesien sonder enige betroubare bron verwysings om jou saak te staaf? Indien jy Wouter wil aanvat, sal jy dit moet doen op sy eie terrein, nl 'n objektiewe benadering met verwysings van bronne wat beter insig as jyself het.
Jaco Fourie
Jaco, hier's die redes en bronne soos jy gevra het:
Die feit dat ek die hede betreur:
Rede: Die huidige gemors.
Bewys dat dit gemors is: Opstande, partykeer sommer drie 'n dag.
Bron: Ekself, ek het myself afgevra of ek die verlede betreur soos Wouter (sonder bron) beweer het en die antwoord was nee, die verlede was oukei, die hede is 'n gemors.
Bron dat die Boere uit die Oos-Kaap getrek het; Die geskiedenis, baie boeke.
Bron dat goud en diamante in die republieke ontdek is: Sien hierbo.
Bron dat die Engelse en hulle geallieerdes teen ons oorlog gemaak het: Sien hierbo.
Bron dat ons die oorlog verloor het: Sien hierbo.
Bron dat die NP die verkiesing in die middel van die eeu (1948) gewen het: Sien hierbo.
Bron dat die Engelse (die hele buiteland om die waarheid te sê) die swartes opgesweep en in 'n sogenaamde vryheidstryd bygestaan het: Gaan vra jou pa en ma.
Bron dat swartes die land (waarin hulle so onderdruk sou word) nie in hulle duisende verlaat het om lewensgehalte in die reeds bevryde lande te gaan soek nie: Die syfers
Bron dat swartes vanuit die 'bevryde' lande SA binnegestroom het: Die syfers en vra jou pa en jou ma en jou broer en jou vriend
Bron dat die 'vryheidstryd' toe gewen is: '94
Bron dat die nuwe regering wraaksugtig die Afrikaner vervolg: Geen Afrikaanse universiteite, veranderde straatname, geen Afrikaans in openbare lewe (staatsinstellings en so aan), Engels die amptelike taal, om en by 3000 plaasboere al wreed vermoor.
Bron dat Swaziland en Lesotho onafhanklike soewereine moondhede is: Triviaal, of vra om jou rond.
Bron dat ons nie 'n demokrasie is nie: Verskillende volke in een grondgebied saamgegooi, staatshoof praat 'n vreemde taal (Engels) met sy 'landgenote'.
Bron dat hierdie kunsmatige toestand 'n gemors is: Kyk om jou rond.
Bron dat meeste grense in Afrika reguit lyne is: Die kaart van Afrika.
Bron dat die Afrikaner 'n verslane volk is: Ons praat al hoe meer Engels, vra gedurig askies vir iets wat ons nie gedoen het nie.