Vir Wouter en Kleinkoos

  • 6

Dag menere

Ek verwys na julle kommentaar onderaan my brief van 29 Maart.

Net eers dit sê, vir die hoeveelste keer, ek is nie 'n 'kreasionis' nie. Tensy, natuurlik, die definisie van 'kreasionis' lui dat dit 'n persoon is wat sekere aspekte van die evolusieleer bevraagteken. Terloops, hoekom is dit 'kreaSionis'? Ek sou reken die woord het iets met 'create' te doen en omdat in Engels die eienaardigheid bestaan dat die t-klank in 'n tsj-klank verander wanneer die t tussen klinkers verskyn volg ons dit slaafs na. Dit moet mos eintlik 'kreaTionis' wees, of hoe?

Eventwil en hoe dit ookal sy, Wouter, ek is net iemand wat wonder. Beskou my, vir doeleindes van hierdie bespreking, as 'n fanatiese aanhanger van die evolusieteorie wat 'n lesing daaroor gaan gee in die Kabbelstroomstadsaal en ek kom by jou raad vra oor moontlike vrae wat die Kabbelstromers my mag vra.

So, as een my nou sou vra hoe verklaar natuurlike seleksie metamorfose en ek antwoord hom " ... [dat] natuurlike seleksie die proses is wat rekenskap gee van die vorming van diversiteit wat so uitstaande kenmerk van ons bestaan is" – jou antwoord aan my – gaan hy dit moeilik sluk as 'n verklaring. Dit gaan ook nie help die antwoord is "daar was 'n nis" of "dit het oor miljoene jaar plaasgevind" nie, dit is net so goed as "sommer". Jou ander verduideliking, naamlik " ... verandering kan verduidelik word deur 'n proses van verandering aan die hand van biologie alleenlik moontlik maak" sal die laaste strooi wees; die vraesteller, saam met die hele saal, sal uitloop. Dit maak net nie sin nie.

Kleinkoos, miskien moet jy jou storie oor die Archaeopterix en Archioe vir die klomp ingenieurs in Berkeley stuur sodat hulle 'n ander eksperiment kan prakseer. Al wat ek gesê het is dat hulle tot die gevolgtrekking gekom (Popular Mechanics, Maart 2012 p18) het dat voëls HEELWAARSKYNLIK afstam van swewende boombewoners omdat die vlerkklappery nie genoeg momentum aan Archaeopterix sou gee om op te styg nie. Ek weet nie hoe jou inligting, naamlik dat Archaeopterix 'n ware voël verklaar is deur kreationiste, hulle eksperiment gaan beïnvloed nie maar dit nou daar gelaat.

Die antwoord op jou ander vraag, naamlik wat ek reken die oerknal met evolusie te doen het is – niks. Ek het nie die twee vergelyk nie, ek het 'n analoog getrek: In kosmologie het hulle sekere goed waargeneem wat nie te verklaar was met die hoeveelheid (berekende) materie in die (waarneembare?) heelal nie en hulle het tot die gevolgtrekking gekom daar moet so-iets soos skimmaterie wees. Hulle noem dit 'dark' wat niks met die gebrek aan lig te doen het nie maar omdat hulle nie weet wat dit eintlik is nie, vandaar my vertaling van 'skim'.

Ek wonder toe of, op dieselfde manier, daar nie 'skim'-dryfvere is wat dinge dalk beter kan verklaar in evolusie nie – iets wat soos skimenergie en skimmaterie (nog) nie waarneembaar is nie. Natuurlike seleksie en lukrake mutasie 'sny nie die koek nie'. Dink byvoorbeeld aan magnetisme of gravitasie; jy kan dit nie sien nie, jy sien net die effek daarvan. Netso met hierdie skimdryfveer in evolusie; evolusie is die manifestasie.

Maar, soos ek al telkemale vantevore gesê het, dalk weet ek nie mooi WAT die teorie van evolusie is nie. Kan mens hom formuleer in 'n paragraaf, soos die wet van Archimedes, of Boyle, of Parkinson of Sod? Indien wel sal ek bly wees as julle die ding plaas.

Groetnis

Jan Rap

  • 6

Kommentaar

  • Hello Jan,

    Dankie vir jou kommentaar. Gegewe die paragraaf oor evolusie, die Wilson wat ek geplaas het, som dit juis goed op en die verskillende vlakke waarop dit uitspeel. Eenvoudiger as dit kan dit nie.

    Kennis geneem dat jy nie 'n stille skepper as sodanig veronderstel nie. Die probleem is egter dat verwysings na "skimprosesse", juis die deur daarvoor oopmaak.

    Wat hierdie onderwerp betref is ek egter afgehandel en lees nou net oor die onderwerp om ekstrra detail te bevestig.

    Jy is 'n belese persoon, daar moet 'n boek op jou rak wees wat 'n goeie opsomming bied.

    Lekker dag en skilder!!!!

    Baie dankie

    Wouter.

  • Jan,

    Al my woordeboeke vertaal creation  o.a. as skepping, kreasie (nie kreatie nie). 'n Creationist is dus 'n kreasionis, of 'n skeppingsleerkundige. 
     
    Kan ek jou metamorfosevraag probeer? 'n Paddavissie is die larwe van 'n padda. 'n Larwe is die vorm van die dier soos wat hy uit die eier kom. Die paddavissie metamorfoseer vinnig tot 'n volwasse padda. Die rede: die padda het die gene wat weet hoe om 'n paddavissie te verander in 'n padda, en daardie gene dra hy oor aan die paddavissie. Daarom metamorfoseer 'n paddavissie tot 'n volwasse padda. 
     
    Moet my asseblief nie vra hoe nie, want dan sal ons laboratorium toe moet gaan met 'n klomp paddas, daardie chromosoom uitsonder waarop die geen of gene lê. Buitendien het wetenskaplikes die werk al gedoen. 'n Ene John Gurdon het in die sestigerjare eksperimente met paddas ge-eksperimenteer , en o.a. van 'n enkele sel 'n paddavissie gemaak.
     
    'n Definisie van evolusie? Wat van: dis die geskiedenis van lewe op aarde; of: dis die kumulatiewe verandering oor miljoene der miljoene jare. 
     
    Wat van: Evolusie is die gevolgtrekking waartoe mens kom deur studie en navorsing dat alle lewende organismes een gemeenskaplike voorouer gehad het. 
     
    En dan het ek nie eens lukrake mutasies, doelbewuste seleksie, en dies meer genoem nie.
     
    My swaer hou Mallard eende aan en hulle vlieg nie weg nie. Die geheim? Hy het hulle so ingehok dat hulle "aanloopbaan" net nie lank genoeg is om op te styg nie. Dis hoe hulle in die lug kom; hulle hardloop, klap met die vlerke tot hulle genoeg spoed het en styg dan op. Hulle het beslis leer vlieg van die grond af en nie van bome nie. 
     
    Groete
    Angus
  • Stephan Marcus

    Bedoel jy Archimedes se wet soos in Digtheid is die kwosiënt van Massa en Volume?

    Waar kom massa vandaan? Wat is dit? (Die Higgs boson is nog steeds nie waargeneem nie). Waar kom volume vandaan, wat veroorsaak dit en hoekom is die verhouding tussen die vloeistof verplaas en die volume van 'n voorwerp eweredig? Waarom kan twee voorwerpe nie dieselfde ruimte gelyk beset nie? Ons het teorieë in hierdie verband, maar nie volledige universele onaanvegbare verklarings nie. Persoonlik dink ek die rede hoekom evolusie uitgesonder word as onglowaarbaar, is omdat dit nie die tonne wiskunde van kwantum meganika bevat nie.

    Maar terug na evolusie. Ek het die afgelope tyd ’n hele paar boeke gelees en almal het hulle eie definisie. Die vraag is watter elemente sluit mens in en watter laat jy uit? Moet jy praat van geen drywing? Is dit geregverdig om te kwalifiseer dat mutasies oorspronklik neutraal moet wees? Is jy oortuig dat die geen die eenheid van seleksie is of is dit populasies? Moet jy kwalifiseer dat evolusie ’n waarneming, ’n proses, ’n studieveld en ’n verklarende teorie is? So dit is geensins so eenvoudig soos F = ma nie.

    Evolusie is die proses waardeur die vorm en funksie van opvolgende generasies van voortplantende populasies met tyd verander d.m.v. genetiese mutasie, horisontale geen oordrag, geen drywing, natuurlike en seksuele seleksie.

    Ek sou waarskynlik nog bietjie wou karring hieraan, maar dit is die geraamte van ’n definisie waar ek gemaklik sou voel.

     

  • Wouter,

    Ek dink jy het nie die regte idee van wat ‘n oorgangsfossiel is nie.

    ‘n Oorgangsfossiel beteken doodeenvoudig ‘n fossiel met ‘n mosaïek van eienskappe van organismes wat voor daardie fossiel geleef het en eienskappe van organisms wat na daardie fossiel geleef het. Dit beteken nie direkte verwantskappe nie.

    Soos Archaeopterix het eienskappe van beide dinosaurusse en voëls. Dit beteken nie dat Archaeopterix definitief ‘n voorgeslag van modern voëls is nie.

    Die teorie van Evolusie kan as volg gedefiniëer word:

    "In the broadest sense, evolution is merely change, and so is all-pervasive; galaxies, languages, and political systems all evolve. Biological evolution ... is change in the properties of populations of organisms that transcend the lifetime of a single individual. The ontogeny of an individual is not considered evolution; individual organisms do not evolve. The changes in populations that are considered evolutionary are those that are inheritable via the genetic material from one generation to the next. Biological evolution may be slight or substantial; it embraces everything from slight changes in the proportion of different alleles within a population (such as those determining blood types) to the successive alterations that led from the earliest protoorganism to snails, bees, giraffes, and dandelions."

    - Douglas J. Futuyma in Evolutionary Biology, Sinauer Associates 1986

    Uit http://www.talkorigins.org/faqs/evolution-definition.html
    Ek dink ook dat jy moet besef dat jy persoonlik nie kan of wil glo dat lukrake mutasies en natuurlike seleksie genoegsaam is vir evolusie nie nie, is regtig nie belangrik nie. Dis wat jy kan demonstreer, met bewyse, wat tel.

     Jy’s in elk geval reg. Daar is ander meganismes wat inwerk by evolusie, soos geenvloei en genetiese drif, wat ook belangrike rolle speel.

    Jy’s welkom om meer meganismes te demonstreer as jy weet van meer. Let wel, dit help nie jy sê jy dink daar is ander meganismes nie. Enigiemand kan enige ding sê. Jy moet die spesialiste oor die onderwerp oortuig daarvan deur dit te kan demonstreer in biologiese joernale.

    Kleinkoos

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top