Varkspek, ek vermoed jy verwar my met iemand anders; ek is nie 'n stadsbeplanner nie en het ook nooit vir die TPA gewerk nie. Ek het wel, lyk my min of meer die tyd wat jy by die TPA was, vir 'n firma gewerk waar argitekte, ingenieurs en stadsbeplanners in medewerking was en hulle het wel van tyd tot tyd tekeninge voorgelê aan die TPA. Ek het by die ingenieurs gewerk en ons het minder as die stadsbeplanners met die TPA te doen gehad.
Wat jou droom betref: Ek kan my nie indink dat ek ooit vir iemand sal gedigte voorlees nie, allermins gedigte wat ek self geskryf het. Die naaste wat ek aan dig gekom het was die paar haikoes vir die onlangse kompetisie as mens nou 'n haikoe 'n gedig kan noem. Dis egter nie te sê dat ek nie van gedigte hou nie; ek het 'n hele paar bundels en lees self so nou en dan. Maar dis ouer, tradisionele soort van goed, hulle moet byvoorbeeld rym. 'n Groot gunsteling van my is Robbie Burns. Ook Opperman. My gunstelinggedig (op die oomblik) is Van Wyk Louw se “Beiteltjie” en een van die beste reëls (beskrywing van 'n storm) is Koos du Plessis se " ... en die wind se wolwehuil nooi die berg se stroefste bome vir die dans".
Wat jou inlywingsvoorstel betref; dit maak nie sin nie. Ek dag dis 'n grappie, dié wat ek nie daarop reageer het nie. Jy kan mos nou dink; die alternatief geld ook, naamlik dat Engels al so net lank saam met Afrikaans leef maar Engels inkorporeer nie Afrikaans soos wat jy voorstel Afrikaans moet Engels inkorporeer nie. Hoekom nie? Die rede is duidelik – die Afrikaanssprekende beskou sy eie taal as onbelangrik.
Ek hoor byvoorbeeld nou die dag 'n kok (op KykNet) in 'n onderhoud sê " ... meestal, as ek vir my goals geset het, achieve ek hulle." As jy dit beskou as Afrikaans wat "glad van die tong af vloei" is jy verkeerd want dit is gewoon nie Afrikaans nie. Dit is ook nie oulik of kreatief of mooi nie; dis slordig en vieslik. Dit is aanduidend van 'n onvermoë om Afrikaans te praat, nie eers 'n tweedetaalspreker sal hom aan sulke geradbraakte taalgebruik skuldig maak nie.
Elriena, dankie vir jou hulp, ek waardeer dit. Ek is al verskeie kere reggehelp op hierdie werf en dis 'n goeie ding; mens is nooit te oud om te leer nie. Ek verstaan egter jou verduideliking nie so mooi nie. Hoe sal jy byvoorbeeld die volgende twee sinne na die lydende vorm verander:
- Hy voer aan die rede is ...
- Hy het aangevoer die rede was ... ?
Groetnis
Jan Rap

