Hallo Thomas
Ek reageer op jou brief van gister, 30 Oktober, waarin jy my beskuldig dat, ten spyte van die metode wat ek voorstel (vra of die persoon 'n Afrikaner is) dan tog voortgaan en "begin met [my] definisie van die Afrikaner – een wat logieserwys alles doen wat [ek] doen."
Nou, Thomas, daar maak jy toe weer die denksprong wat nie toelaatbaar in debat is nie. Ek kom byvoorbeeld hoofsaaklik in die kerk met dope, troues en begrafnisse (ek is nie trots daarop of beveel dit aan nie maar jy ken my gevoel oor die verskoningvraery en die sing van Engelse liedjies in 'n Afrikaanse kerk).
Verder, 'n fout wat jy maak is om definisie en tipiese handeling te verwar. As jy lys wat 'n mier, of 'n sprinkaan, tipies aanvang is jy nie besig om die definisie van die mier of die sprinkaan te gee nie. Tipiese gedrag mag deel wees van 'n definisie maar op sigself is dit geensins 'n definisie nie.
Buitendien, aangesien ek met jou praat, het ek hoofsaaklik jou beskrywing gebruik van 'n " ... volbloed Afrikaner – blank, NG-kerk lidmaat, Volkskas-kliënt, NP-takbestuur, verskeie kere voorsitter van die plaaslike Rapportryerskorps en ja lid van die Ruiterwag en later die Broederbond." Hierdie aanhaling is net so geplak uit jou brief van 10 Oktober. Buitendien, nêrens het ek gesê wat ék doen soos jy beweer nie, ek het gesê die típiese Afrikaner of, om jou woorde te gebruik, die "volbloed" Afrikaner.
Jy sê jy " ... maak bloot ’n voorstel dat ons as Afrikaners rondom die taal wat ons praat moet saamtrek." Dit is nie heeltemal wat jy in die begin gesê het nie want hierdie stelling kan jy maak ongeag of die bruines ingesluit is of nie; jy maak nie hier duidelik wie of wat volgens jou 'n Afrikaner is nie maar dit nou daar gelaat.
Wat ek wil weet is waarop berus jou stelling van my " ... heftige teenkanting daarteen ..."? Op 14 Oktober skryf ek vir jou, "Sou die pous, of een of ander groot wêreldleier, nou 'n dekreet uitvaardig wat bepaal dat, van nou af, is almal wat Afrikaans praat, per definisie Afrikaners gaan dit my nie in die minste pla nie." Let op die kursief wat ek nou bygesit het.
Dit noem jy 'heftige' teenkanting? Op 'n ander geleentheid het jy gepraat van my "skuim-om-die-mond" reaksie (indien ek so reageer het, wys wat daarop dui sodat ek verskoning kan vra). Sulke ad-hominem-tipe byvoeglike naamwoorde behoort nie deel van nugtere debatvoering te wees nie.
Jy sê my "... sentimente (wat ek logieserwys uit jou skrywes aflei) dui op ’n totale afkeur van die post-1994-bedeling ..." Hier het jy heeltemal gelyk en dit is 'sentimente' wat jy met my deel want jy sê op 18 Oktober, "... Die moorde op 3 000 boere het niks te make met ’n prys wat nou betaal word in ruil vir ’n nuwe grondwet wat sekere vryhede waarborg nie. Dit het egter alles te make met ’n onbevoegde regering wat in sy rasbeheptheid nie daarin kan slaag om die burgers van sy land te beveilig nie..." My kursief om jou 'sentimente' uit te lig.
Voorafgaande stelling van jou was na aanleiding van my bewering dat die verbanning van Kennis van die Aand en teenkanting met betrekking tot 'n verbintenis met die WRK onbeduidend vergelyk met plaasmoorde en die jag op Afrikaans en Afrikaners.
Na aanleiding van die feit dat ek 'n totale afkeer van die post-'94 bedeling het gaan jy beweer jy voorts dat ek 'n " ... totale onwilligheid om die voordele en uitdagings van Suid-Afrikaanse burgerskap op te neem..." Onsinnige stelling want wie sal nou nie van voordele gebruik wil maak nie? Wat die opneem van uitdagings betref weet ek nie mooi wat jy bedoel nie, omskryf dit 'n bietjie.
Om die debat tot dusver op te som:
Ek sê jou definisie van dat almal wat Afrikaans praat 'n Afrikaner is hou nie water nie en ek het jou die redes gegee. Ek wil niemand uitsluit of wegwys nie, vandaar my, noem dit 'n verklaring, dat enige persoon op aarde self weet of hy 'n Afrikaner (of Switser of Armeniër of Skot) is of nie.
As, per een of ander dekreet bepaal word dat almal wat Afrikaans praat Afrikaner genoem word pla dit my nie maar daar is twee dinge van belang hier: Nommer een die bruines kan ek jou waarborg gaan dit nie aanvaar nie en twee, daar sal nog steeds 'n onderskeid wees want die blote feit dat iets of iemand nou ingesluit word deur jou dui op die feit dat jy besef daar is 'n ander entiteit, anders was daar nie sprake van amalgamasie of insluiting nie. Verder het ek vir jou aangedui dat tot die regering weet wat Afrikaners is naamlik daardie deel van die Afrikaanssprekende bevolking wat nie die 'voordeel kan opneem' van regstellende aksie nie.
Hierdie nuwe aksie om Afrikaners te herdefinieer deur die sogenaamde verligtes sien ek as niks anders nie as 'n poging om Browniepunte te verdien en, na my mening, is dit nog arrogant ook.
En terloops, waarteen sou ek nou protesteer, " ... doth protest too much ..." soos jy aanhaal?
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Lekker lag ek vir myself Jan. Ek lees jou brief en sien "Ek kom byvoorbeeld hoofsaaklik in die kerk met dope, troues en begrafnisse ..." en daar lees ek (van te veel Engels op die net) die woord dope as "DOPE" soos in verdowingsmiddel en ek dink, wraggies dis wat dit seker party mense sal neem om in ’n kerk te kom.
Maar ek moes geweet het jy sou geskryf het "pille".