Hallo Thomas
Ek verwys na jou opmerking onderaan my brief aan Heiden, 1 Oktober, waar jy aangedui het dat jy graag die kwessie oor wie en wat 'n Afrikaner is wil debatteer.
Dit is baie interessant vir my dat almal presies weet wat 'n Afrikaner is maar dat daar dan gedurig met die definisie gespook word en dan dikwels word die gevolgtrekking bereik dat daar eintlik nie so 'n ding soos die Afrikaner is nie.
Piet Croukamp, so paar weke gelede, het dringend versoek dat mense hulle nie as 'Afrikaner' moet verpak nie. Wat sy redes daarvoor was is nie nou ter sprake nie maar die implikasie is tog duidelik dat die Afrikaner hom nie moet verpak as Afrikaner nie. So Piet weet darem daar is so-iets. In koerantkolomme het ek al gesien dat vooraanstaande bruinmense een en ander te sê het oor Afrikaners, so hulle weet dat daar so-iets is. Jaco in sy jongste brief, en Johannes Comestor, in sy kommentaar onderaan Jaco se brief, praat van Afrikaners. Daar is selfs 'n paar boeke met 'Afrikaner' in die titel.
Ek dink dit is 'n fout as mens die Afrikaner definieer as daardie persoon van Suid-Afrika wat Afrikaans praat. Om dit te regverdig deur dit 'inklusief' te noem is eintlik sinneloos want wie word nou eintlik benadeel as die definisie NIE inklusief is nie? Niemand nie; om die waarheid te sê, daar is bruinmense (99.999% van hulle sou ek sê) wat ernstig eksepsie gaan neem.
Die persepsie is daar dat dit soort van 'n toegewing is, al is dit in alle eerlikheid nie so bedoel nie. Ek, byvoorbeeld, sal my bloedig vererg as, sê 'n Hollander, my met 'n breë glimlag inlig dat hy besluit het om my in sy definisie van Hollander in te sluit. Buitendien, sou jy sê die 'inklusiewe' definisie van 'n Duitser sluit 'n Oostenryker in, of selfde van 'n Engelsman sluit 'n Skot in? Nooit as te nimmer nie.
Vir 'n vreemdeling wat Suid-Afrika besoek sal 'n goeie definisie van 'n Afrikaner wees daardie persoon wat Afrikaans praat maar waarop regstellende aksie nie van toepassing is nie. Die maklikste egter, soos ek al vele male tevore gesê het, om uit te vind of iemand 'n Afrikaner is, is om hom te vra. As hy sê 'nee' is hy nie 'n Afrikaner nie, as hy sê 'ja' dan is hy een, ongeag kleur, geloof, credo, politieke verbintenis, oriëntasie, domicilium (daar is byvoorbeeld baie op die oomblik in Australië) of wat ookal.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap, jy het dinge nogal raak saamgevat. Ek dink veral jou laaste sin is ’n uitstekende "definisie" van wie en wat ’n Afrikaner is.
En ek dink daar sal dan gevind word dat daar ’n aansienlike wanbalans is tussen getalle in die suide en in die noorde wat hulself as Afrikaners sien en trots is om so gesien te word. Dit is selfs besig om duidelik in die NGK uit te slaan.
Bly om ’n slag saam met jou te kan stem!
Daar bestaan ’n universele metode om vas te stel of ’n persoon deel van enige groepering is. As ’n persoon (a) Homself deel van die groep ag en (b) Ander lede van die groep daardie persoon as deel van hulle groep ag, dan is daardie persoon deel van daardie groep. Hierdie metode word wêreldwyd deur sielkundiges en statistici gebruik en is ook op toepassing van "Afrikaner".
Beste Jan,
Dankie vir jou intellektuele inspanning om op te kom vir n nuwe, en rewolusionêre, definisie van "Afrikaner" vir die derde millenium. Dit is darem wonderlik om te sien hoe definisies evolueer met die verloop van tyd. Jy onthou tog seker hoe in die verlede die definisie van "Afrikaner" aan die volgende voorvereistes moes voldoen: n wit persoon van die middel klas wat Afrikaans praat, en aan een van die drie susterkerke behoort, en een wat beslis stem vir die Nasionaliste. Ek dink dat jou groot held Dr. Verwoerd hierdie definisie sou onderskryf en seën as die grondbeginsel van die Afrikaner se geloofsbelydenis en wêreldsiening.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Pieter, as jy so taamlik snedig na Verwoerd verwys as iemand anders se "held" is hy klaarblyklik nie joune nie en is jy duidelik nie ’n Afrikaner nie. Jy het natuurlik die volste reg om nie een te wil wees nie, maar sal jy dan net jou Afrikanerhater bek van ons helde – en ons – afhou.
Beste Jan
Ek het dadelik positief op jou skrywe gereageer en is nie bewus van enigiets in my teks wat dit onpubliseerbaar kon maak nie. Jy verskaf ’n uitstekende en vindingryke definisie: ’n Afrikaner is iemand wat Afrikaans praat en nie deur regstellende aksie bevoordeel word nie. Sterker gestel: ... en deur regstellende aksie benadeel word. Hiermee word die rede vir die nie-inklusiwiteit na die ander party afgewentel.
Ek het nie toegang tot die teks van my vorige reaksie nie, maar ek onthou dat ek verfynings van jou definisie voorgestel het, bv dat die Afrikaans verkieslik Standaardafrikaans moet wees en dat daar die bereidwilligheid moet wees om Afrikaans te gebruik waar en wanneer enigsins doenlik.
’n Verdere aangewese verfyning is dat bv regte Afrikaners (in die tradisie van die Genootskap van Regte Afrikaners) en hansswartes (na aanleiding van hanskakies) onderskei kan word.
Johannes Comestor
Werner se definisie van 'n groep lyk of hy sin maak. Maar in die geval van die Afrikaner is hy intern teenstrydig, lyk dit my.
Brianvds
Kolskoot!
Jaco Fourie
Ja, Brian, daar is diegene wat wil beweer dat jy slegs ’n Afrikaner kan wees as jy ’n Christen is, maar hulle is of aan die afneem of hulle invloed in gesprekke wat op die oomblik aan die gang is, is besig om te kwyn.
En ja, daar is van daardiegene wat my nie as Afrikaner wil erken nie oor my godsdiensidees (of dan gebrek daaraaan!), maar daar is toenemend andere wat daardie mense kritiseer omdat hulle so bekrompe is.
Feit van die saak, Brian (en Jaco) is dat die meeste, verreweg die meeste Afrikaners IS godsdienstig en sterk so. Baie van hulle dink steeds evolusie en die oerknal is werkinge van die duiwel. Maar daar is vordering, al is dit soms stadig en pynlik. So het die NGK al gevorder om ’n besluit by sy 2009-sinode te neem dat die Bybel sê "God het geskep", maar dit se nie HOE God geskep het nie. Dit laat die deur oop vir teïstiese evolusie wat ekself nie kan aanvaar en steun nie, maar tog erkenning wil gee as ’n manier om die gaping oor die kwessie te vernou en uit te wis. Ek is bereid om te erken dat teïstiese evolusie net soveel ’n teorie is as Darwinisme en neo-darwinisme.
Ek probeer nie die gewone gelowige Afrikaner se geloof van hom wegneem nie – ek stel myself net op teen die ekstremiste en fundamentaliste wat die Afrikanervolk so wil verskrasal. En dit lyk of dit werk. So is ek genooi en het ek saam met mense wat nou verbonde is aan die VVK gesprek gevoer, planne probeer maak om groter eenheid onder die verskillende organisasies te kry. As jy bv gaan kyk na my antwoord gister op Jaco (dit sal seker nog vandag gelaai word, sal dit?) sal jy sien wat ek bedoel. Maar die ATKV wat homself graag as so ’n sterk Christelike organisasie voorhou was nie daar nie en Afriforum wil nie eens met ons vredemakende afvaardiging gesprek voer nie!
Beteken dit ons moet ophou om met mekaar te praat en te probeer eenstemmigheid kry dat iets gedoen sal moet word of die Afrikaner gaan totaal verdwyn – met godsdiens en skewe wetenskapsieninge en al? Natuurlik nie – en dit is die verskil tussen mense soos ek en Jan Rap (en dalk enkele ander) aan die een kant en Thomas, Jaco en so effens jy wat Brian is. Jaco wil ’n "Nuwe Afrikaner"-groepering stig en Thomas sal dit verwelkom as dit die "Afrikanerhaters" soos Jansen en ’n spul ander insluit. Maar dis nie ’n nuwe "volk" soos ek die term verstaan in die politieke wetenskap en die volkekunde nie. En hulle het nie die reg om die Afrikanervolk se naam op te eis – nee, te steel – nie.
Stig ’n nuwe groepering as julle wil – maar kry ’n ander naam.
Skei af – en skei dan uit om ons af te kraak.