Dag here
Thomas se sikspens-tiekie-brief (26 deser) en Pieter se kommentaar daaronder verwys.
Ai Thomas, jy speel vies soos die Hollanders sal sê. Thys het nie eintlik aan die debat deelgeneem nie; meestal net kommentaar onderaan ons skrywes aan mekaar geplaas. Tog, in die betrokke brief, haal jy 'n taamlik hetige stukkie kommentaar van Thys aan en merk op dat Jan Rap einste sentimente voortdurend eggo (sic). Dit is nie waar nie; jy skep 'n valse indruk van wat my standpunt, nog heeltyd en van die begin af, was.
Op geen stadium het ek Thys aangehaal of beaam wat hy gesê het nie. Indien dit jou vertolking is dat ek saam met hom stem vra dan sodat ek daarop kan reageer. Dit is wat debat beteken.
Jy sê: "Jan Rap eggo voortdurend hierdie sentimente en weier ewe vroom om die Afrikaner te definieer maar beweer dat enige persoon wat sê dat hy ’n Afrikaner is, en hom dus by implikasie met hierdie sentimente vereenselwig, ’n Afrikaner is." My skuinsskrif.
Nou, Thomas, hoekom sou ek, en 'ewe vroom' nogal, weier om die Afrikaner te definieer as ek gesê het daar is nie 'n definisie nie? Daar is wel 'n identifiseringsmeganisme, naamlik die vraag wat ek nou al oor en oor genoem het. Wat is fout daarmee behalwe dat dit nou nie met jou 'definisie' strook nie? As daar iemand iewers in my voorgeslag 'n Khoi of 'n Zoeloe of 'n Herero of 'n Maori was, sou ek nou eers volgens jou definisie ingesluit gewees het terwyl ek nooit uitgesluit gevoel het nie! Ek sou, jou definisie ten spyt, in 1970, soos ook in 2012, 'ja' geantwoord het as iemand my sou vra of ek 'n Afrikaner is.
Sê ook vir my hoe jy die gedeelte van jou aanhaling hierbo, wat ek in kursief gedruk het, uitwerk; dit lyk vir my na 'n geweldige denksprong.
Pieter, onderaan Thomas se brief sê jy "So 'n klompie jare gelede het 'n ene Jan Rap, toe hy opdreef gekom het, my uitgeskel as 'n skande vir die Afrikaner." Ek sou nooit as te nimmer so ad hominem optree nie maar mens weet nooit wat omstandighede mens kan laat aanvang nie. Ek het gaan soek en kon niks van die aard kry nie. Ek sal bly wees as jy my na daardie brief kan verwys sodat ek verskoning kan aanteken.
Wat ek wel gevind het was die volgende en ek haal aan uit jou briewe:
Die deelneem aan hierdie debatte gaan regtig nie vir my om persoonlike gewin nie, ek dink nooit daaraan dat ek wil of kan "score" oor daardie of daardie ou nie. Ek wil ook nie my "teenstaander" verneder of sy sienspunt en menslikheid negeer nie. Vir my gaan dit bloot oor ’n soek na die waarheid en oor die wisseling van gedagtes en informasie, maar ek is bevrees dat wat ek te sê het meestal net op barre grond val of op dowe ore. …
Ek antwoord jou nou verder deur te sê dat, toe ek gemerk het dat jy aan Pierre van Niekerk se Hezbolla groep behoort saam met Dan Roodt, Jan Rap edm, toe besef ek dat ek net my asem en my tyd mors om met julle te redeneer. …
’n Mens kry die indruk dat julle per slot van sake niks eintlik van julle geskiedenis verstaan nie, of van die oorsprong en invloed van julle godsdiens, kultuur of volkstrasies op die vorming van die matrix van die gees en denkprosesse nie, niks van die sosiologie of van die sielkunde nie, en hoe alles bymekaar inpas nie (Aan Hoekstaaf 28 Julie 2006)
Maar jy sien dat vir die periode 1948 tot 1994 was juis sulke mense in beheer van die land gewees, dom, dwaas en arrogante mense aangevuur deur ’n ideologie, en nou sien jy die resultaat. Maar daar is min van hulle wat sal erken dat hulle ’n fout gemaak het. Hulle het nie die morele guts daarvoor nie. (Aan Leon Groenveld)
Eerstens moet ek sê dat ek heelwat geskok is oor die algemene vlak van die debatte wat hier op LitNet woed. Om die minste te sê: dit is devastatingly depressing. Meeste van die teenargumente is mislukte pogings van damage control, en in my eie ondervinding is daar gewoonlik geen gegronde teenargumente nie, maar slegs ’n vloed van politieke clichés, name calling en mud slinging. Hoe is dit moontlik dat die skrywers nie eers die basiese reëls van beskaafde debattering verstaan nie? Hier is daar geen gees van soek na die waarheid nie, of soek na konsensus oor ’n saak nie. Dus is die resultaat ’n ronde nul. Miskien is LitNet maar net ’n chat webwerf vir die uitruil van broodresepte …
Ek persoonlik het saturasiepunt bereik, ’n mens kan nie met "esels" redeneer nie. Trouens, die proses van skrywe het een effek op my persoonlik gehad: Dit was vir my ’n avontuur van self-discovery (Aan Erasmus 4 Augustus 2006)
Ek het maar ophou soek; ek weet nie wanneer ek volgens jou 'op dreef' gekom het nie, jy moet maar sê. Wat ek wel aan die trant waarin jy skrywe agterkom, lyk jý eerder vir my na die ou wat skel.
Groetnis, ek sien uit na julle antwoorde
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Ek merk dat ek jou baie werk besorg het om gedurende die naweek al die argiewe deur te soek vir daardie "skande vir die Afrikaner" etiket. Dit is egter onmoontlik om al die argiewe van 2004 tot 2012 na te gaan, maar ek onthou goed dat dit gevolg het op een van my skrywes oor die Bantustan beleid wat ek vergelyk het met neokolonialisme. Destyds was jy ook dikwels van die gewoonte om baie kru taal te gebruik, miskien die resultaat dat jy gedurig Francois Williams gekonfronteer het.
Vandat Melt Myburg nie langer SêNet hanteer nie, en sedert die vernuwing van SêNet, het jou taalgebruik ook baie verbeter.
Op my manier kan ek ook simpatiseer met jou. Die nuwe omstandighede in Suid-Afrika moet besonder pynlik en traumaties wees vir julle. Julle het mag verloor en is nie meer in kontrole nie. Die wêreld wat julle geken het bestaan eenvoudig nie meer nie. Dieselfde verwarring vind mens onder die Russe na die val van die Sovjet-Unie, en in Duitsland na die Tweede Wêreld Oorlog, waar mense wat vasgeglo het in n bepaalde staats- ideolgie gelaat is met n gevoel van verwarring en verraad.
Die idee van ’n homogene Afrikanernasie is ook ’n illusie. Daar het nooit so iets bestaan nie: Afrikaners wat almal op ’n bepaalde voorgeskrewe wyse dink volgens wat Nasionale politici vir hulle voorgeskryf het, en die dominee van hulle verwag het.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys