Hallo Panda
Ek sien jy maak uit van astrofisika en ek wonder of jy lig kan werp op die volgende …
Daar is nou weer ’n reeks televisieprogramme oor die ontstaan van die heelal (ons heelal) en die ding verloop min of meer so: In die eerste biljoenste van ’n biljoenste van ’n sekonde na die knal gebeur dié dan in die volgende paar Plancktydseenhede gebeur dát totdat uiteindelik, na 380 000 jaar, daar een stofwolkmassa is wat dan op verskillende plekke begin koaguleer om galaktiese stelsels te vorm.
My vraag is hoekom is hierdie stelsels so te sê 2-dimensioneel; hoekom is dit ’n skyf in plaas van ’n bol?
En hoekom roteer die spul? As gravitasie begin manifesteer is dit in alle rigtings en van die kleiner partikels sal dan reguit na die groter partikels in hulle onmiddellike graviteer. Omdat partikels lukraak om ’n groter partikels gespasieer is sal die goed heen en weer en op en af (by wyse van spreke nou want daar is eintlik nie ’n op en af nie) en so gaan dit aan maar die hele proses is driedimensioneel sodat bolvorming, eerder as skyfvorming, moet plaasvind.
Indien ’n spul partikels, of teen hierdie tyd ’n liggame, op pad iewers heen is en in ’n baan gevang word deur ’n groter liggaam kan ek sien dat daar wel ’n gewentelry moet wees maar die bane behoort in vlakke te wees wat mekaar sny, nie waar nie?
Hierdie klomp liggame is dan uiteindelik klaar gekoaguleer, party is sterre en ander is planete om die sterre en jy kry so spiraal soort van galaktiese stelsel, ’n groot heliks met al die goed min of meer in een vlak. Hoekom? Behoort dit nie eintlik te lyk min of meer soos ’n ui nie (behalwe nou dat die lae inkrul na die senter toe, soos ’n heliks met ander woorde wat om die x-as [of y-as] geroteer word)?
Groetnis
Jan Rap

