Vir "koos sas"

  • 0

Liewe "koos sas"

Ek moes eers "disingenuous" opsoek en my Oxfordjie sê dit is, onder andere, "with secret motives, not candid". Slu met ander woorde, of slinks, geslepe, vals, oneerlik. Allermins, "koos sas", ek konstateer dit as ’n feit dat mens nie in ’n taal dink of droom nie. Jy het dus jou wonderlike Engelse woord verkeerd gebruik.

Ek het nêrens gelees, of is deur niemand vertel, dat mens nie in ’n taal dink nie; dit is net bloot common sense (so ek mag verkeerd wees maar ek twyfel). ’n Goeie bewys is iets wat jou te binne skiet en jou vrou of iemand vra wat op aarde jou nou dááraan laat dink. Die verduideliking dat iets wat jy waargeneem het ’n hele reeks gedagtes afgesit het neem ’n minuut of twee-drie in woorde terwyl die reeks gedagtes ’n breukdeel van ’n sekonde geneem het; daar was geen woorde by betrokke nie; die tydsverloop is te kort.

As jy ’n begrip in jou kop het kan jy dit reduseer na ’n binêre reeks om nou ’n rekenaaranaloog te gebruik. Om hierdie begrip aan iemand anders oor te dra moet jy dieselfde konfigurasie van nulle en ene op daardie plek in sy brein probeer bewerkstellig en taal, met ander woorde, woorde, is een van die maniere om dit te doen.

Elke woord verteenwoordig ’n sekere begrip en jy hang as't ware hierdie begrippe aan die stel woorde wat jy na die persoon stuur aan wie jy jou idee of gedagte wil oordra. Mense wat goed twee- of drietalig is vind dikwels die gepaste hakie (woord waaraan die begrip gehang word) in sy tweede of derde taal, soos jy nou byvoorbeeld met "disingenuous". (Dié dat ek sê Afrikaans as ’n stel hakies gaan al hoe minder gebruik word as mens aldag en heeldag moet Engels praat.)

Vat nou maar ’n baba. Hy het nog geen taal nie en kan dus, volgens jou, nie dink nie. As jy nie kan dink nie, kan jy ook niks leer nie, insluitende taal. Dus, reductio ad catch 22. Ek kyk nou die dag na my hond, diep in droomland jaag hy ’n haas of ’n ding want sy pootjies maak hardloopbewegings en hy gee sulke gedempte tjankies. In watter taal dink jy droom hy?

Wat betref jou opmerking oor Latyn: Latyn is ’n dooie taal en die gebruik daarvan vir enige nomenklatuur bevoordeel niemand nie. Ook is Latyn ’n soort van ’n lingua franca onder geleerdes (tot so onlangs as 200 [dink ek] jaar gelede mog studente aan die universiteit van Uppsala slegs Latyn op kampus gepraat het) en dus was dit was ’n logiese keuse vir die soort van ding.

Vaktaal is ’n ander ding, dis deel van die taal. Die gebruik van Engelse vakterme dui nie op ’n gemis ten opsigte van Afrikaans nie maar dit is een van die manifestasies dat daar ’n heksejag op Afrikaans is en Afrikaans afgejak word. Kinders gaan in Engels skool, loop hulle vakleerlingskap in Engels, loop klas op universiteit in Engels, praat net Engels by die werk en die hakies om jou begrip aan te hang is die Engelse hakies want jy kom nooit met die Afrikaanse hakies in aanraking nie.

Terloops, net vir die interessantheid, niks met die prys van eiers te doen nie. Ons woord “venster” is van Romaanse afkoms. Die Engelse woord vir venster is “window” en dit kom van die Saksiese “windoghe” (windoog) af. Een van die min gevalle waar herkoms omgeruil is.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top