Vir Jan Rap weer eens oor Afrikaans

  • 0

Beste Jan,

Ek was so ’n paar dae weg berge toe, en dis met groot verbasing dat ek moes uitvind dat ek, volgens jou skrywe,  nogal heel deurmekaar was, agv jou “breinlopie” met die X en die Y. Ek stem saam met jou: alle taalverskynsels wat vir Afrikaans geld, geld ook vir ander tale. Net soos Afrikaans groei dmv ontlening, so groei alle ander tale op aarde ook.

Of jy dit wil verstaan of nie, indien ’n woord ontleen is aan ’n ander taal, dan word dit deel van die nuwe taal. Neem maar die Engelse woord contamination wat jy so lief is om linguisties verkeerd te gebruik. (Twee woorde kontamineer mekaar, bv verkleineer, verkul, verassureer.) Met die interaksie tussen tale, gebruik ons die woord ontlening.

Met ontlening kan ons praat van verengelsing of verafrikaansing. ’n Engelse woord binne Afrikaanse konteks verafrikaans, eerstens wat vorm betref. Afrikaanse voor- en agtervoegsels word met die stamwoord gebruik. (Confidence word konfidensie, met verdere afleidinge  konfidensieel, konfidensiële).  Die uitspraak verafrikaans. Die vokale neig na die neutrale [?]-klank. (Al die vokale word minder gespanne uitgespreek as in die Engels.) Daar vind ook beklemtoningsverskuiwing plaas. (Con-fi-dence word Kon-fi-den-sie en verder kon-fi-den-si-eel). Dan verafrikaans die spelling ook sommer wanneer daar geskryf word, waar nodig.

Alle woorde wat aan ander tale ontleen word, staan bekend as leenwoorde, nie kontaminasie nie. Die woord kontaminasie is ’n leenwoord en bestaan naas besmetting omdat dié twee woorde, alhoewel sinonieme, nie dieselfde gevoelwaarde het nie.

Jou Steve-Gert-storie is irrelevant. Dit ís so dat as iemand nie Engels ken nie, sal hy nie Engelse woorde verstaan nie. As iemand nie Duits verstaan nie, help dit nie om met hom Duits te praat, of selfs Duitse woorde te gebruik in jou taal nie.

As jy met jou Steve-Gert-storie  wil te kenne gee dat Afrikaans ewe skielik slegter kommunikeer omdat Engelse woorde gebruik word, slaan jy die bal ver mis. Engelse woorde word juis in Afrikaans opgeneem omdat dit dan beter kommunikeer. As Gert glad nie Engelse woorde ken nie, dan sal Steve seer sekerlik met hom  “suiwerAfrikaans besig” nie waar nie? Maar ek betwyfel dit of Gert nie Engels verstaan nie. Selfs die Rus daar in agterlike Siberië verstaan en praat dit selfs so geradbraak. Toe ek die afgelope week in die berge was, het ek met almal Engels gepraat, want ek ken nie Zulu so goed nie. Ons het mekaar so amper goed verstaan. Waar het jy Gert toegesluit dat hy ewe skielik niks Engels ken nie?

Jou Wiskundebreinlopie is, om ook een van jou leenwoorde te gebruik, irrelevant. (O, ek verstaan! – jy dink jy gaan my nou eens en vir altyd op my plek sit met “kwantifiseer” en “ingewikkeldheidskwosiënt”.)  Dit is so dat die ingebore taalvermoë van die mens ’n taalstruktuur (grammatika) skep wat Afrikaans, of enige ander taal beheer. Dit is so dat die logika en grammatika boetie en sussie is. Dit is so dat jy deur taal iets logies kan stel. Dit is so dat jy die logika deur Wiskunde kan saamvat,  maar wonder bo wonder, taal self is onlogies. Nog ’n groter wonder is dat hierdie onlogiese nogal sin maak. (Kyk maar hoe sinvol is Opperman se “Uit holtes van ‘n boom, het kuddes vee gekom.)

Kom ek probeer die taalsiklus nog ’n keer aan jou verduidelik. Dit is so dat die primitiewe mens ’n primitiewe taal gepraat het. (Lees my brief oor die Neanderdalmens). Soos die mens geëvolueer het, het sy taal ook geëvolueer om aan te pas by nuwe omstandighede. (Dis ’n beginsel wat jy nie verstaan nie, daarom wil jy aanhoudend weet waarom styg dit van 90 na 180, as 90 die doel gedien het. Feit van die saak is, 90 het net voorlopig die doel gedien, daarom styg dit daarna na 180.) Deur die ingebore taalvermoë het die taal georganiseerd geraak deur ’n taalstruktuur te verkry. Ou tale het daardie ou taalstruktuur of grammatika behou, maar nuwe tale wat ontstaan het uit ou tale, het nie onnodige strukture behou nie. (Ek kan dit sê deur na Afrikaans te verwys.)

Jy kan nie sommer net beweer dat my model nie water hou nie. Taal- en ander wetenskaplikes bewys die egtheid daarvan daagliks deur navorsing en eksperimentering. Bewerings moet  bewyse hê.

Hou jou model dalk water? Kom ons bekyk dit kortliks.

God het Adam volwasse geskape uit ’n hopie grond, en vir Eva, sy vrou, ook volwasse,  uit Adam se ribbebeen. Omdat hulle in ’n kits volwasse is, kon hulle ook in ’n kits deur middel van taal kommunikeer, en nie alleenlik met mekaar nie, maar ook met God en die slang, wat ook wonderbaarlik spraakorgane soos ’n mens moes gehad het. Verder in die Bybel het bome ook spraakorgane.

Nêrens op deeske aardbol het iemand kitsvinnig ’n taal kon praat nie. Taalverwerwing is ’n langsame proses. Ek is natuurlik bewus daarvan dat Kreasioniste deesdae video’s maak van pasgebore babas wat sommer dadelik kan praat, maar met computer graphics is dit nou ’n maklike takie. Kyk net hoe maklik praat die Staffie op TV en adverteer Toyota-motors, met menstande en al.

Terloops, die Bybelverhaal is net so ’n verbeeldingsvlug as jou ruimteskipstorie. Jy sal moet klinkklare bewyse lewer van sulke ruimtemannetjies.  

Ek kan sien waarom jy Occam se lem verkies ipv evolusie. Evolusie vereis diepgaande studie, terwyl Occam se lem sommer kortpad, die weg van die minste weerstand, sny. 

Groete,

Angus

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top