Vir Jan oor linguistiek en grammatika

  • 13

Beste Jan,

Linguistiek is maar net ʼn ander naam vir taalwetenskap, en dit is die oorkoepelende naam vir alle taalondersoek wat op ʼn wetenskaplike wyse ondersoek word. Dit sluit onder andere in grammatika, stilistiek en sosiolinguistiek. Chomsky word beskou as die vader van die linguistiek, sowel as van die moderne grammatika.

Daar was ʼn tyd toe linguiste hulle toegelê het op die studie van die geskiedenis van die taal, die herkoms daarvan en hoe dit deur die tye verander het. Dit staan bekend as die diachroniese studie van taal. ʼn Fransman by name Ferdinand Montgin de Saussure het begin om taal te bestudeer soos dit nou funksioneer en dit staan bekend as ʼn sinchroniese taalstudie. Grammatika is ʼn beskrywing van taal soos dit op die huidige oomblik funksioneer, en daarom word dit deskriptiewe grammatika genoem. Dit beskryf taal soos dit is, terwyl ʼn preskriptiewe grammatika ʼn taal sal beskryf soos dit behoort te wees. (Maar nie noodwendig soos dit nou meer is nie.)

Daar bestaan talle metodes om ʼn vreemde taal aan te leer, maar die twee wat die gewildste is, is die Grammatika-vertaalmetode en die Direkte metode. Eersgenoemde is natuurlik die bekendste, veral by diegene wat Duits en Latyn op skool geneem het. Hiervolgens word die leerder die grammatika van die taal geleer as platform vir die aanleer van die taal. Wat Duits (of ook Engels, Afrikaans, Spaans, Portugees, ens) betref is hierdie metode ʼn mislukking, en word nog net deur tweedetaalonderwysers gebruik wat nie bygehou het met die metodiek van hulle vak nie.

Die direkte metode is die suksesvolste, want dit is so na aan die aanleer van die moedertaal as dêmmit aan ʼn vloekwoord. Slegs uiters knap onderwysers kan dit toepas, want dit verg moeilike en slim voorbereiding. Onnodig natuurlik vir my om te sê, nie ʼn woord oor grammatika in so ʼn klas nie.

Jou bewering dat ʼn mens grammatika kennis moet hê om ʼn taal te kan praat, is direk in stryd met moderne taalonderrig, en heeltemal foutief.

Volgens jou moet die klein Engelsmantjie wat “I am” sê, die volgende grammatikale kennis hê: Hy moet weet dat ‘I’ ʼn persoonlike voornaamwoord is; hy moet weet dat ‘I’ die vorm van die eerstepersoonsvoornaamwoord as dit in die onderwerpsposisie staan; miskien het hy ook al Latynse grammatika onder die knie, en weet hy van die nominatiewe naamvalsposisie; hy moet weet dat ‘am’ die eerstepersoonsvorm is van die infinitief ‘to be’, dat dit ʼn koppelwerkwoord is, en dat dit oorganklik gebruik word. En nog is het einde niet. Daar is nog heelwat grammatika verbonde aan “I am” wat die outjie moet weet voordat hy, volgens jou, kan sê: “I am”, maar ek wil jou nie daarmee verveel nie.

Nee, Jan, dis nie hoe taal werk nie. Hierdie klein Engelsmantjie het ʼn taalvermoë omdat hy ʼn mens is. Hierdie taalvermoë stel hom in staat om ʼn ingewikkelde taalsisteem baas te raak deur net blootgestel te wees aan die taal van sy ouers, en ander mense wat miskien ook geen snars kennis het van grammatika nie.

Jy verwar taalvermoë met grammatikale kennis. Eersgenoemde is aangebore by die mens, terwyl laasgenoemde ʼn studie is van daardie taalvermoë. Chomsky trek ʼn verband tussen hierdie sogenaamde taalvermoë en die taal wat die mens praat met sy deep en surface structures.

 Oor jy insig van feite en teorieë kan ek maar net sê dat jy dit in hulle populêre betekenisse gebruik. Vir my is ʼn teorie die grondplan wat opgestel is nadat heelwat navorsing en studie gedoen is van een of ander natuurverskynsel of begrip. As jy beweer dat dit jou teorie is dat RSG Afrikaans ondermyn, is dit sommer net praatjies. So nie moet jy my jou studie wys in dié verband, en jy moet dit bekend stel, sodat ander deskundiges die juistheid daarvan kan bepaal. Wat feite betref: hulle raak verouderd, en verander. Feite wat vinnig verander, soos die prys van ruolie, sien die mens raak, maar feite wat uiters stadig verander, merk hy nie op nie, soos dat ʼn jaar bestaan uit 365¼ dae. Jy kan hierdie feite-inersie by die mens gaan toets. Kyk na ʼn horlosie, en jy sal die beweging van die sekondewyser maklik kan raaksien. Jy mag jou nog verbeel jy sien die minuutwyser beweeg, maar die uurwyser staan vir jou doodstil.

Geradbraakte Afrikaans is Afrikaans wat amper onverstaanbaar is. As Afrikaans se woordeskat verryk word deur Engelse woorde, word dit nie onverstaanbaar nie, inteendeel, ʼn mens verstaan dit beter. Niemand sal sê: “ you noemed that we don’t have a toekoms together” nie. Sou iemand so praat, sal sy hoorders hom deeglik verstaan, want hulle sal dan dieselfde taal praat, maar ek betwyfel dit ten sterkste. Jy moet verstaan dat Engels ʼn wêreldtaal is, en het eintlik niks nodig van Afrikaans nie. South African English het nou wel so ʼn paar honderd Afrikaanse woorde opgetel, maar dit is beperk tot Suid-Afrika. Australiese Engels gebruik dit nie en so ook nie Amerikaanse Engels nie. Afrikaans, daarenteen, is baie afhanklik van Engels. Op alle gebiede moet Afrikaans bars om by te hou met vertalings, nuutskeppinge, verafrikaansings. Neem maar enige sport (behalwe jukskei) en kyk hoe wemel dit van die Engels. Kyk maar na ons regeringstelsel, die regstelsel, die polisie, die weermag, al die dissiplines van die wetenskap, ens. Haal Engels uit Afrikaans en dan sal net ʼn geradbraakte taal oorbly, en dan sal jy verstaan wat geradbraak beteken.

Nog verstaan jy nie dat ek nie iets verdedig nie, allermins dat ek dan sou polities korrek wil wees. Ek hou self nie van Engelse woorde wat in Afrikaans gebruik word nie. Ek beskryf maar net wat werklik aan die gebeure is. Dis net ʼn blinde (of is dit ʼn dowe?) wat nie kan insien dat nuwe woordeskat by ʼn taal die taal se uitdrukkingskrag verryk nie. As jy so twee eeue gelede geleef het, sou jy darem lekker die herrie kon opskop oor jou geliefde Nederlands wat ʼn geradbraakte taal word met al die vreemde woorde en die verwoesting van die Nederlandse grammatika.

Groete,

Angus

 

  • 13

Kommentaar

  • Beste Angus
    Jou bewering dat "Geradbraakte Afrikaans is Afrikaans wat amper onverstaanbaar is. As Afrikaans se woordeskat verryk word deur Engelse woorde, word dit nie onverstaanbaar nie, inteendeel, ʼn mens verstaan dit beter," kan slegs waar wees as jy Engels verstaan.
    Omdat Engels 'n voorkeurtaal is soos reeds deur Jan uitgelig sal die invoeging van al hoe meer Engelse woorde dit nie 'n beter Afrikaans maak nie, dit sal 'n taal met die naam 'Afrikaans' so na aan Engels maak, as wat dit kan kom.
    Ek dink jy verwys na die navorsing wat dit stel dat: "Language is a 'biological instinct': Babies don't learn to develop speech - they're BORN with the ability."
    Die navorsing dui daarop dat babas 'n ingebore voorkeur het aan sekere klankvorme soos bv eerder 'bla' as ' lba', maar nie alle tale span woorde in sinsbou om dit ’n sin met betekenis te maak, in die dieselfde volgorde in nie.
    In Engels is dit 'Subject-Verb-Object. 'In Japannees 'Subject-Object-Verb' in die algemeen en "Irish sentences standardly have words in the order Verb-Subject-Object. "
    Dus as 'n mens babas van die drie tale neem en op 'n eiland in afsondering grootmaak en nooit met hulle praat nie gaan nie een hul moedertaal kan praat nie.
    Hulle gaan waarskynlik na gelang van die omgewing waarin hulle hulself bevind hul eie unieke taal ontwikkel. Ek sou graag hoor wat ander lesers te sê het want ek is nie 'n taalkundige nie en lees maar net die navorsing oor taal en vorm so my eie siening oor dit.
    Dus lyk dit my babas is eerder klanknabootsers en gebruik dus woorde sonder dat hul die ware betekenis ken wat hul later leer by die huis en op skool en dan leer om die sinne in die regte volgorde te bou, want "What does syntax mean? Syntax is the grammatical structure of sentences. The format in which words and phrases are arranged to create sentences is called syntax.) Soos reeds gesê volg nie alle tale dieselfde woordvolgorde nie.
    Wanneer jy dus 'n 'baba' deur klanknabootsing 'baba' leer sê betwyfel ek of daar by die baba die besef is dat sy die 'baba' is. Wanneer bv het jy bewus daarvan geword dat jy 'n 'mens' is soos al die 'reuse mense' om jou, wat later soos jy groter geword het tog nie sulke 'reuse' blyk te wees nie..
    Verder Angus maak jy die volgende wilde stelling:" Haal Engels uit Afrikaans en dan sal net ʼn geradbraakte taal oorbly, en dan sal jy verstaan wat geradbraak beteken."
    Dus Angus om die stelling te staaf, haal nou alle Engelse woorde uit jou lesing in Afrikaans uit en stuur die gesuiwerde lesing aan en vra Webvoet om dit te plaas in parallelle vorm, dus sin vir sin sodat ons kan sien hoe dit lyk.
    Maar voordat jy dit doen behoort jy eintlik eers Engels te suiwer van sy 'Anglo-Frisian' invloed net soos jy jou lesing in Afrikaans van Engels gaan suiwer.
    Ek hou van Minneolas, 'n heerlike vrug :"Parentage/origins: Minneola is a tangelo, a hybrid of Duncan grapefruit and Dancy mandarin, sometimes marketed under the name Honeybell. It was developed by the US Department of Agriculture and released in 1931."
    'Duncan grapefruit' oorsprong onbekend 'Dancy mandarin' waarskynlik afkomstig van Morocco. So is Afrikaans vir my ’n heerlike vrug, gevorm uit verskillende tale uit verskillende kontinente gevorm van spreek tot lees,skryf en navorsingstaal en jou gepeuter daaraan al is dit die in ding gaan dit nie 'n beter taal maak nie, net soos ’n gepeuter met die huidige Minneola dit nie ’n beter en lekkerder vrug gaan maak nie, dalk eerder suur soos jou Afri-engels.
    Dalk goed smaak verskil.
    Lekker dag.

  • Beste FC Boot,
    ʼn Mens hoef nie ʼn ander taal te verstaan om die woorde daarvan te gebruik nie. Ek ken nie Spaans nie en tog weet ek wat my buurman bedoel as hy van sy hacienda praat. Ek ken ook nie Italiaans nie en tog weet ek wat siësta beteken. Ek ken ook nie Japannees nie, maar weet wat iemand bedoel as hy sê hy wil hara kiri. Ek verstaan ook nie Zulu nie maar weet wat ʼn indoena is.
    Ek verstaan nie wat jy teen Engels het nie. Jy sê self dat, soos die Duncan Grapefruit, so is Afrikaans vir jou ʼn heerlike vrug gevorm uit verskillende tale uit verskillende kontinente (mooi gestel), maar sodra Engels bykom, noem jy dit suur Afri-Engels.
    Ek het nie gesê haal Engels uit ʼn geskrewe stuk Afrikaans nie. Ek het gesê haal Engels uit Afrikaans en daar bly min van oor. Haal Engels uit sport uit en jy kan nie meer rugby speel nie, ook nie krieket of tennis of sokker nie. Jy kan nie meer boks nie, net stoei en jukskei speel. Haal Afrikaans uit die regeringsterme, en jy het nie meer ʼn parlemente, met ministers en ʼn speaker nie. Haal Engels uit die regstelsel en jy het nie meer advokate en assessore nie; ook nie meer polisie of weermag met al die range nie. Haal Engels uit die idiomestelsel en Afrikaans is ʼn uitdrukkinglose ou taaltjie. Haal Engels uit al die wetenskapdissiplines en jy ry met ossewa en donkiekar, ag, verskoon tog, ek bedoel eselwa.
    As jy jou wil begewe op die gebied van hoe taal geleer word, moet jy Chomsky gaan bestudeer. In ʼn neutedop: die baba word aan taal blootgestel, en uit daardie karige blootstelling het hy die vermoë om ʼn uiters ingewikkelde taalsisteem baas te raak sodat hy self taal kan genereer. Dit is dus nie net nabootsing nie. Kyk maar na al die sinne wat ek en jy hier geskryf het. Elke sin is uniek en ek en jy het dit self gegenereer omdat ons die taalsisteem van Afrikaans baasgeraak het.
    Groete
    Angus

  • Beste Angus
    Dit gaan mos om praat. Al kan jy hier en daar 'n woordjie of twee verstaan beteken dit mos nie dat jy die taal kan praat nie.
    En om dit te kan praat moet jy mos weet hoe om die woorde reg agter mekaar in te span. Al leer ek al die woorde van die Japanese taal en my sin is nie in "Subject-Object-Verb' nie gaan die mense nie vir my lag nie, daarvoor is hul te beskaafd, maar sal dalk hul kop effens meewarig skud oor my pogings.
    Ek sien jy wil nie die Engels uit jou lesing verwyder nie en vir my en ander lesers wys hoe arm die Afrikaans dan is. Dit is mos nie 'n argument nie om te sê haal al die woorde wat ook sy oorsprong van Engels het uit, want jy wil nie uit Engels die 'Anglo-Frisian' verwyder nie.
    Jou argument vir Afrikaans is dan mos net so geldig vir Engels. Wat is Engels sonder die 'Anglo-Frisian' invloed? Jy praat nou twak oor babas en hul taalvermoë want dit sou beteken dat geen mens taalonderrig hoef te ontvang nie want "in ʼn neutedop: die baba word aan taal blootgestel, en uit daardie karige blootstelling het hy die vermoë om ʼn uiters ingewikkelde taalsisteem baas te raak sodat hy self taal kan genereer. Dit is dus nie net nabootsing nie."
    Nou gee jy nog 'n verdere nonsensvoorbeeld wanneer jy sê: "Kyk maar na al die sinne wat ek en jy hier geskryf het. Elke sin is uniek en ek en jy het dit self gegenereer omdat ons die taalsisteem van Afrikaans baasgeraak het."
    Wie het jou die woordvolgorde van Afrikaans geleer? Hoekom is die woordvolgorde
    anders as die van die Japanese en Iere?
    Jy het dit by jou onderwysers en dalk ouers geleer, wat dit weer by hul ouers en onderwysers geleer het. Babas leer dus deur nabootsing want die ouers en onderwysers leer die regte uitspraak en woordvolgorde. Wanneer jy dus 'n woord verkeerd uitspreek en 'n onderwyser help jou reg met die regte uitspraak dan boots jy mos die klanke wat uit sy/haar mond gekom het na, sodat jy die woord net so uitspreek.
    As jy nooit op taalfoute gewys word nie sal jy as jy alleen gelaat word nooit die regte woordvolgorde en uitspraak en weet wat is Past, present en future nie en nog minder wat de duiwel Present perfect tense, Present perfect continuous. Past perfect, Past perfect continuous is nie. Jy weet mos dat jy sommer nonsens praat dat 'n baba die ingewikkelde sisteem onder die knie sal kry. Ek het altyd gedink jy is 'n slim outjie, maar nooit geweet jy was so 'n slim baba nie.
    Jy het mos dan nie 'n argument nie, want deur die Engels en Nederlands en Hollands, 'n dialek van Suid- en Noord-Holland en ander tale het Afrikaans tot 'n eie unieke taal ontwikkel.
    Lekker dag.

  • Beste FC Boot,
    Aan jou skrywe is dit duidelik dat jy jou eie argumente nie verstaan nie.
    Ek het aan jou verduidelik dat Engelse woorde in Afrikaans die seggingskrag van Afrikaans verhoog. Jy het beweer dat dit slegs moontlik is indien die spreker Engels verstaan. Ek het toe aan jou bewys dat dit nie nodig is om ʼn taal te verstaan as jy woorde daarvan gebruik nie. Jy hoef maar net die betekenis van die betrokke woord te ken. Jou antwoord hierop is ʼn onsamehangende: “Dit gaan mos om praat. Al kan jy hier en daar 'n woordjie of twee verstaan beteken dit mos nie dat jy die taal kan praat nie.” Dit bewys dat jy nie weet waaroor jy stry nie.
    Jou storie oor die Japannese taal het ook niks met die onderwerp te make nie. (Let op die spelling van Japannees en Japannese).
    Oor woordorde het jy ook die bel hoor lui, maar weet nie waar die klepel hang nie. Dit wil voorkom of jy gelees het waar ek woordorde aan Jan verduidelik het, maar nie mooi verstaan het nie.
    Jy verstaan ook geen snars as ek praat van taal wat gegenereer word nie. Jy noem dit sommer ʼn nonsens voorbeeld, en so openbaar jy jou onkunde. Chomsky het ʼn hele nuwe taalteorie bekend gestel met sy Syntactic Structures, gebaseer op generatiewe Grammatika.
    Wat jy hierbo skryf is net ʼn hele spul gegorrel en ek mors my tyd om met jou oor taal te argumenteer.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Nee boet jy verstaan nie. Nou kom jy met 'n argument dat Engels die seggingskrag van Afrikaans verhoog. As die argument water hou dan is dit mos waar ook vir Engels, want wat is Engels sonder die 'Anglo-Frisian' invloed?
    Om 'n paar woorde van 'n taal te verstaan kan mos nooit beteken dat jy die taal kan praat, lees en skryf nie, wat tog die belangrikste funksies daarvan is. Jy gorrel broer en skryf jouself in 'n hoek in.
    Hier is die eerste paragraaf van jou lesing:
    "Linguistiek is maar net ʼn ander naam vir taalwetenskap, en dit is die oorkoepelende naam vir alle taalondersoek wat op ʼn wetenskaplike wyse ondersoek word. Dit sluit onder andere in grammatika, stilistiek en sosiolinguistiek. Chomsky word beskou as die vader van die linguistiek, sowel as van die moderne grammatika."
    Haal nou die Engels daaruit sodat ek en ander lesers kan sien hoe die paragraaf sonder dit lyk. Onthou nou Chomsky het 'n teorie ontwikkel wat baie soos Geoffrey Sampson tereg op wys dat dit net eenvoudig op waarneming van bestaande tale gebaseer is.
    Nou kom jy en sê dit is die Alfa en Omega. Nee ek mors my tyd met jou want jy weier
    halsstarrig om die lesers eers een voorbeeld te gee hoe bv een paragraaf van jou lesing sonder die Engels daarin sal lyk.
    Onthou nou ons kan praat omdat:
    "As humans evolved, our throats got longer and our mouths got smaller -- physiological changes that enabled us to effectively shape and control sound. According to fossils, the first humans who had an anatomy capable of speech patterns appeared about 50,000 years ago."
    Natuurlik verstaan ek woordvolgorde maar jy is die een want konstant weier om te erken dat woordvolgorde nie in alle tale dieselfde is nie, waaruit dit dus logies volg om 'n taal te kan praat moet jy ook die taal se woordvolgorde ken.
    Tsk en toe kom jy sommer met 'n babastorie. Hou op om agter 'n omhaal van woorde weg te kruip en haal nou die Engels uit die aangehaalde paragraaf uit sodat almal kan sien hoe arm Afrikaans sonder die Engels daarin is.
    Lekker dag.

  • Beste FC Boot,
    Dit is waar vir alle tale, nie net Afrikaans nie. As woorde aan 'n vreemde taal ontleen word, verryk dit die woordeskat van die taal wat dit ontleen. Engels word steeds verryk op al die kontinente van die wêreld deur vreemde woorde te ontleen. Hier is dit verryk deur seker meer as 'n duisend Afrikaanse woorde op te neem.
    Jy volg nie eens jou eie argument nie, hoe kan jy verstaan wat ek vir jou skryf? Jy het aanvanklik beweer dat 'n mens Engels moet verstaan om sodoende Engelse woorde in Afrikaans te kan gebruik, en ek het gesê dis nie nodig om om 'n taal te verstaan om die taal se woorde te kan gebruik nie. Ek het nog voorbeelde gegee. Ek het gesê ek verstaan nie Japannees nie en tog weet ek wat iemand bedoel as hy sê hy wil hara kiri. Ek het gesê haal Engels uit Afrikaans en dit word 'n geradbraakte taal, nie uit 'n gegewe stuk Afrikaans nie. Maar goed, ek sal probeer wat jy sê.
    "... is maar net ʼn ander naam vir taalwetenskap, en dit is die oorkoepelende naam vir alle taalondersoek wat op ʼn wetenskaplike wyse ondersoek word. Dit sluit onder andere in grammatika, ...... en ....... Chomsky word beskou as die ......, sowel as van die ............ grammatika." Tevrede?
    Dit lyk my nie jy het Geoffry Sampson se taalteorie mooi bestudeer nie. Hy en Chomsky en Steven Pinker staan reg teenoor mekaar. Sampson sien taal as geneties ingebou in die menslike sisteem. Die taal is so te sê "gehardwire" in die menslike brein. Chomsky weer, sien die mens se verstand as 'n tabula rasa en moet hy nog deur blootstelling aan taal, die taalsisteem leer. Hy sien taal nie as die produk van evolusie nie, terwyl Steven Pinker met hom daarvan verskil. Ek weet egter te min van die politiek wat op linguistiese gebied gevoer word, en sal dit maar aan jou oorlaat omte bestudeer, en dan jou bevindinge aan ons bekend te stel.
    Waar val jy met woordorde uit, ou? Ek het lank terug al aan Jan verduidelik hoe woordorde van verskillende tale van mekaar verskil. Sê my asseblief waar jy gelees het dat ek sê alle tale se woordorde is dieselfde?
    Die aanleer van taal deur die mens ('n baba) is deel van Chomsky se taalfilosfie. Die baba word blootgestel aan taal, en dit beteken dat hy mense om hom hoor praat en dat mense ook met hom praat. Deur hierdie blootstelling aan taal, leer hy 'n heel ingewikkelde taalsisteem wat hom in staat stel om sy eie taal te genereer. Met genereer word bedoel dat hy sy eie taal kan maak. Hy is in staat om sy eie sinne te maak. Aanvanklik aap hy klanke en woorde na, maar mettertyd maak hy sy eie sinne. En dit is juis die wonder van taal: die blootstelling wat die baba en kleuter kry aan taal is karig (maw, gebrekkig,) maar hy raak daardeur 'n ingewikkelde stelsel baas. Taal is dus nie nabootsing nie. Kyk maar na enige sin wat ek of jy of iemand anders hier op SêNet geskryf het. Niemand het voorheen die sinne gesê nie; dit is dus nie nabootsing nie. Daarom sê Chomsky, elke sin is uniek. Hierop het hy 'n hele nuwe taalfilsofie gebou, en daarom staan hy bekend as die vader van die moderne Linguistiek. Hierdie taalfilsofie staan bekend as Transformasionele Generatiewe Grammatika, en is uiteengesit in sy werk Syntactic Structures (1957).
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    In jou lesing van 8 Maart maak jy die volgende opmerking tov Jan oor grammatika: “Jou bewering dat ʼn mens grammatikakennis moet hê om ʼn taal te kan praat, is direk in stryd met moderne taalonderrig, en heeltemal foutief.”
    Grammatika sluit ook woordvolgorde in. In Engels word die volgende volgorde gevolg:
    Word order: Most English sentences (clauses) conform to the SVO word order. This means that the Subject comes before the Verb, which comes before the Object.”
    Encyclopedia Britannica omskryf ook ‘grammar’ as volg:
    Grammar: rules of a language governing the sounds, words, sentences, and other elements, as well as their combination and interpretation. The word grammar also denotes the study of these abstract features or a book presenting the rules.
    Contemporary linguists define grammar as the underlying structure of a language that any native speaker of that language knows intuitively. The systematic description of the features of a language is also a grammar. These features are the phonology (sound), morphology (system of word formation), syntax (patterns of word arrangement), and semantics (meaning) that all native speakers of a language control by about the age of six. Depending on the grammarian's approach, a grammar can be prescriptive (ie, provide rules for correct usage), descriptive (ie, describe how a language is actually used), or generative (ie, provide instructions for the production of an infinite number of sentences in a language).”
    Hier word verwys na ‘native speakers’ As jy dus ’n taal bestudeer is jy nie ’n ‘native speaker’ nie.
    Jy moet dus eers leer wat ’n ‘native speaker’ gewoonlik al weet by die ouderdom ses. Jy moet dus die woordvolgorde leer. Daar blyk jou opmerking teenoor Jan verkeerd te wees.
    Nou maak jy verder die volgende stelling:
    “Die aanleer van taal deur die mens ('n baba) is deel van Chomsky se taalfilosofie. Die baba word blootgestel aan taal, en dit beteken dat hy mense om hom hoor praat en dat mense ook met hom praat. Deur hierdie blootstelling aan taal, leer hy 'n heel ingewikkelde taalsisteem wat hom in staat stel om sy eie taal te genereer.”
    Maar jy bly stil oor die feit dat die mense rondom die baba verkeerde taalgebruike kan hê en dit dus netso aan die baba kan oordra. Dan sit onderwysers met yslike probleme in die klaskamers en sukkel om daarvan ontslae te raak.
    Nou kom jy verder met die volgende voorbeeld: “Ek het gesê ek verstaan nie Japannees nie en tog weet ek wat iemand bedoel as hy sê hy wil hara kiri.” Maar wat is ‘hara-kiri’ nou eintlik: “hara-kiri: ritual suicide by disembowelment practiced by the Japanese samurai or formerly decreed by a court in lieu of the death penalty.” Merriam-Webster.
    As ek nou vir Jan sê dat hy in hierdie gesprek spreekwoordelik ‘hara-kiri’ pleeg en Jan weet nie wat dit beteken nie en ek vir hom verduidelik dat dit ’n Japanese manier van selfdood is, sal hy natuurlik vra: Nou hoekom sê jy nie ‘selfdood’ nie?
    Omdat jy die uitdrukking ken beteken mos nie dat almal dit moet ken nie.
    Kom ons kyk nou na die woord wat jy uitgelaat het nl: Linguistiek. Dit is afkomstig van die Latynse Lingua – ‘tongue;lingual’ sluit dus in die klanke wat gevorm word deur die tong.
    Nou sê jy dat Afrikaans dit van Engels af kry omdat die woord vervorm is na ‘language’ in Engels. Nou net soos Engels dat van Latyn af kry kan Afrikaans dit doen.
    Presies dieselfde kommentaar kan oor jou ander weglatings gelewer word. Engels mag dus woorde uit Latyn neem en sy eie maak maar Afrikaans nie. Hoekom gee jy nie meer erkenning aan Latyn in die verband nie?
    Chomsky fouteer mi oor sinne wat uniek is. Daar is ongeveer 510 miljoen Engelssprekende persone wêreldwyd. Daar is ongeveer 2000 Engelse woorde uit 250 000 Engelse woorde, wat algemeen gebruik word. Doen nou maar self die vermenigvuldigsom en besluit dat wat die kans is dat iemand wêreldwyd presies dieselfde woorde in dieselfde konteks sou gebruik het nie.
    Tov van Engels is daar ook al opgemerk dat: “It's also difficult to decide what counts as 'English'. What about medical and scientific terms? Latin words used in law, French words used in cooking, German words used in academic writing, Japanese words used in martial arts? Do you count Scots dialect? Teenage slang? Abbreviations?”
    Origin
    In wese boots ons dus almal die na wat die woorde eerste gebruik het, want hoe sal ’n mens nou anders leer. Hy jy nooit vir ’n baba gesê: “Sê Papa”? (Late 17th century: from French, via late Latin from Greek papas.)
    Lekker dag.

  • Beste Angus
    Om te voorkom dat jy gaan sê dat jou unieke sinne in Afrikaans was en nie Engels nie, is dieselfde in 'n kleiner mate van toepassing op Afrikaans.
    Daar word beweer dat daar meer as 1miljoen Afrikaanse woorde is met meer as 7 miljoen mense wat Afrikaanssprekende mense, wat uitwerk op 7.E12.
    Die aantal woorde mag in Engels dalk baie meer wees as wat ek aangedui het, maar dit gaan nie oor die presiese aantal nie maar wel oor die moontlikheid dat jou unieke sinne in Engels of Afrikaans netso deur ander gebruik is.
    Daar was onlangs groot ophef dat Melania Trump plagiaat gepleeg het deur uit
    Michelle Obama se 2008 toespraak aan te haal. Wat die kritici egter nalaat om te sê
    dat Michelle Obama se toespraak dele bevat wat feitlik woordeliks uit Business Success in South Africa, geskryf in 1992 kom.
    Dus ook nie oorspronklik nie.

  • Beste FC Boot,
    As Chomsky sê dat elke sin uniek is, verstaan jy nie, volgens jou skrywe, 'n woord wat hy sê nie. Is die begrip vir jou so moeilik? Elke sin is uniek beteken dat die spreker of skrywer daarvan dit self gemaak het. Hy het dit nie eers by iemand gehoor en toe herhaal nie. Elke sin wat ek of jy of iemand anders hier op SêNet skryf, is self gemaak, of sê jou vrou vir jou voor wat jy moet skryf? As jou vrou alles vir jou moet voorsê, dan is jy ’n naprater, ’n nabootser, en kan jy nie sinne self maak nie. Die linguiste sê 'n spreker genereer 'n taal, maw deur middel van jou taalvermoë kan jy enige sin maak, sonder dat iemand dit vir jou voorsê. Dit is so vir alle tale, nie net vir Afrikaans of Engels nie.
    Natuurlik is plagiaat, die aanhaal van iemand se woorde, afskryf, resiteer, ens nie ter sprake nie.
    Die woord Linguistiek kry Afrikaans van Engels af. Niemand in Suid-Afrika praat Latyn dat ons dit van Latyn kon verkry het nie. Engels bevat Romaanse woorde omdat hulle in direkte kontak met die Romaanse tale was in die dae toe Engeland deel was van die Romeinse Ryk. Sover ek weet het geen Afrikaanse taalkundige gesit en gesê ons moet ons vak Linguistiek noem omdat die woord oorspronklik van Latyn af kom nie.
    Ek het nie stilgebly oor verkeerde gebruik van taal waaraan die baba blootgestel is nie. Jy het dit maar net nie raakgesien nie. Jy moet wakker loop, ou! Chomsky sê uit die karige blootstelling wat die baba het aan taal, is hy in staat om 'n uiters moeilike taalstelsel baas te raak.
    Verder gorrel jy maar soos gewoonlik, en is dit nie die moeite werd om my daaroor moeg te maak nie.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Eintlik is jy die een wat gorrel en ek is die een wat moeg behoort te word. Dit mag so wees sinne wat uit ’n mens se mond uitkom uniek mag klink, maar die woorde wat gebruik word en die volgorde wat grammatikaal gevolg word is nie uniek nie.
    Wat ek jou aan die verstand probeer bring is dat daar ’n teoretiese grens is van die aantal woorde en sinne wat gevorm kan word. As daar 1 000 000 woorde in Afrikaans is en daar is 7 000 000 Afrikaanssprekendes is daar ’n feitlik ontelbare aantal sinne wat gevorm kan word en is die kans groot dat wanneer spesifieke onderwerpe bespreek word, daar identiese sinne sal voorkom.
    Ek sê nie daarmee dat almal die 1miljoen woorde ken nie, maar as ’n mens 20 000 woorde ken wat natuurlik meervoud en verkleiningsvorme insluit en daar ’n voorkeur is persentasiegewys aan die gebruik van sekere woorde is die stelling van uniekheid nie haalbaar nie.
    Daarom het ek Michelle Obama as voorbeeld aangehaal. Haar toespraak het as ‘uniek’ voorgekom maar was feitlik woordeliks aanhalings uit die boek waarna ek verwys het. Niemand nie eers jy het dit agtergekom nie.
    Jy maak nou staat dat die woord ‘Linguistiek’ van Engels na Afrikaans toe kom omdat Engels ’n ouer taal is. In HAT jongste uitgawe word slegs na die Latynse oorsprong verwys.
    Nou kan ek vir jou ’n lang ontwikkelingsgeskiedenis gee oor die ontstaan van die woord wat jy ook as gorrel sal afmaak. Die woord het slegs in 1837 sy betekenis gekry wat jy nou in Afrikaans en Engels sal aantref.
    Ek dink jy moet die geskiedenis van die Romeine in die laagliggende lande lees voordat jy weer sulke stellings maak. Die besetting van Nederland het geduur van 57 vC tot 407 nC. Soos met Engels het Latyn dus ook sy invloed daar laat geld.
    Jy praat saam met Chomsky en kan nie jou eie opinie vorm nie. Natuurlik moet die baba blootstelling aan taal hê, maar dan moet dit aan korrekte taal en woordvolgorde wees, anders praat die baba naderhand netso skeef soos die ma en pa en sukkel onderwysers ure lank om dit reg te stel.
    Pride and Prejudice van Jane Austin was in ’n stadium ’n voorgeskrewe werk. Groot was my vrou se ontsteltenis toe een van haar kollegas uit onkunde van die werk as ‘Pride and Prejustice’ gepraat het.
    Jy sien dus as jy nie reg geleer word nie van kleins af gaan jou brein wat nog nie eers as ’n baba ten volle ontwikkel is nie, nie die woordvolgorde of tye regkry nie, as jou onderrig in dit swak was of totaal ontbreek het. Lekker leesstof kan jy kry by:
    http://www.mayoclinic.org/healthy-lifestyle/infant-and-toddler-health/in-depth/language-development/art-20045163?pg=2 en jy sal sien dat daar baie werk vanaf die ouers se kant nodig is.
    ’n Professor van die Universiteit van Gent het hom soos volg oor die invloed van Latyn op Nederlands uitgelaat:
    Beste Margo,
    Romaanse talen vloeien inderdaad voort uit het Latijn en je hebt gelijk dat het Nederlands een Germaanse taal is en bijgevolg niet afstamt van het Latijn.
    De gelijkenis van het Nederlands met het Latijn behoort zowat uitsluitend tot de woordenschat. Woordenschat wordt gemakkelijk uit andere talen ontleend, zonder dat die talen met mekaar verwant zijn, dit om culturele redenen: talen kunnen met mekaar contact hebben en woordenschat aan mekaar doorgeven.
    Het Latijn is sinds de Middeleeuwen de cultuurtaal bij uitstek in heel Europa, dus ook in de Germaanse landen. Dit heeft te maken met het Latijn als taal van de kerk, waardoor ze in de Middeleeuws abdijscholen wordt onderwezen en gebruikt, maar het is ook de taal van wetenschappelijke tractaten, wetteksten en administratie. Dat heeft zijn invloed gehad op het Nederlands.
    Lekker dag

  • Beste FC Boot,
    Dit is nogal moeilik om vir iemand die werking van taal te verduidelik, as hy nie self ook 'n studie daarvan gemaak het nie. Ek weet nie waarom ek dit probeer doen nie - ek sal bv nie eens daaraan dink om skaak te speel met my boerboel nie. Maar laat ek weer probeer, want die begrip is nie te moeilik nie.
    'n Sin word as uniek bestempel omdat dit gegenereer (gemaak) is, uit onbewustelike kennis wat verkry is deur blootstelling aan daardie taal. 'n Kind hoor hoe mense praat en hulle praat ook met hom, en so raak hy 'n uiters komplekse sisteem baas. Dit sluit oa woordorde in waarvan jy so vaagweg van gehoor het, maar nie eintlik weet waar die bel hang nie.
    Natuurlik kom daar identiese sinne voor, maar dis nie waarvan ek praat as ek sê elke sin is uniek nie. Ek bedoel daarmee dat die spreker van 'n taal die vermoë het om 'n unieke sin te konstrueer uit die kennis het van die taal. (Kyk bv na my laaste sin. Ek het dit nog nooit vantevore gemaak of gehoor nie, en tog kon ek dit nou hier neerskryf.) Dat Michelle Obama plagiaat pleeg, het ek vrede mee. Sy het die vermoë om haar eie sinne te maak, en dit is die uniekheid van taal.
    Nog verstaan jy 'blootstelling aan taal' nie. Die kind leer 'n ingewikkelde taalstelsel uit die karige blootstelling wat hy verkry, sodat hy sy eie taal kan genereer. Die woordorde, waarmee jy so behep is, leer hy ook deur blootstelling. Sou almal dan "verkeerde woordorde" gebruik, sal dit in die stelsel wat hy leer, ingebou word. Ek wil net ook daarop wys dat blootstelling aan taal en taalonderrig twee verskillende maniere is van taalvaardighede aanleer. Blootstelling is onbewuste aanleer van taal terwyl taalonderrig doelbewuste aanleer van taal is, soos op skool. (Maar as jy die kind uit jou klas jaag, is taalonderrig ook by die deur uit.)
    Ek praat nie slegs Chomsky na soos jy beweer nie. Geen mens kan sommer so op sy eie vir homself die basiese beginsels van die Linguistiek leer nie. Jy moet ook 'n studie maak van die werk wat voorheen gedoen is. As jy so belangstel in taal, stel ek voor dat jy dit ook doen, dan sal jy beter begrip hê van wat ek skryf. Moet net nie staat maak op wat jy op die internet kry nie.
    Ek hoop dat jy die professor uit Gent se betoog reg verstaan. Gaan lees weer en jy sal sien dat hy sê dit maklik is om woorde uit ander tale te ontleen. Dit is nie nodig dat tale verwant aan mekaar hoef te wees nie. (Afrikaans en Engels is juis verwant aan mekaar, wat dit nog makliker maak.)
    Ek wys jou daarop, want 'n ruk terug het jy hewig met my gestry juis hieroor. Jy het beweer dat jy alleenlik van ander tale kan ontleen as jy daardie taal ken. Ek het nog gesê ek ken nie Japannees nie en tog kan ek hara kiri in 'n sin gebruik.
    Groete
    Angus

  • Beste Angus
    En daar vang slim toe sy baas. Jy praat van 'n inherente vermoë of kapasiteit en gee dan self die antwoord, dat dit naamlik gaan oor blootstelling.
    Hoe beter die kwaliteit van die blootstelling hoe beter die taalgebruik. Jou inherente vermoë is soos 'n leë lei, daar moet eers iets op geskryf word. Deur nou uiteindelik deur te dring na die kern, nl blootstelling as 'n sleutel tot ontwikkeling, praat jy nou vir die eerste keer sin.
    Jy was blootgestel aan 'n enkel Japanese sinsnede en moes eers die betekenis daarvan leer voordat jy dit kon toepas. Weereens blootstelling aan hetsy skriftelik of gesproke.
    Nou hoekom wil jy taalonderrig skei van blootstelling, taalonderrig is dan juis blootstelling aan 'n taal! Ek hoef nie 'n taalstudie te maak nie, want my kennis verkry uit bedryfsielkunde (hoofvak) is genoeg om te weet dat jy nonsens oor babas en sulke goed en taal praat.
    Ja dit is maklik om woordeskat te verhoog deur woorde uit ander tale te neem, maar dan moet jy daarby voeg dat sulke woorde dikwels hul betekenis verloor.
    So het die woorde kombuis en neuk 'n ander betekenis in Nederlands en jy kan dalk met 'n paar blou oë rondloop, veral as jy laasgenoemde gebruik.
    Ek het nooit gesê dat jy ander tale moet ken om 'frases' daaruit te ontleen nie, wat ek sê is dat die ontlening jou nie 'n kenner van die taal maak nie.
    Jy moet die woordorde, iets wat jy blykbaar nie verstaan nie, van die taal en sy woordeskat en uitspraak ondermeer baasraak, voordat jy kan sê dat jy die taal baasgeraak het.
    Ek dink jy moet op 'n ander plek loop en speel, want jou relaas is besig om my te verveel.

  • Beste FC Boot,
    As my “relaas” (sic) jou verveel, is jy mos die een wat op ʼn ander plek moet gaan speel. Ek dink jy het al tot die besef gekom dat jou antwoorde op my skrywes net jou onkunde bewys, soos nou ook die geval. Jou ou poginkies om my te verkleineer, bewys maar net jou onvermoë. Na al die jare wat ek oor taal skryf, maak my een sinnetjie ewe skielik vir die eerste maal (nogals), sin. Wat jy nie besef nie, is dat almal hier op SêNet weet dat sulke twakpratery maar net ʼn verdoeseling is van eie tekortkominge.
    Natuurlik is daar ʼn verskil tussen blootstelling aan ʼn taal en onderrig. Gaan vra maar vir jou vrou. ʼn Baba en kleuter word blootgestel aan ʼn taal en hy leer dit onbewus. As hy hom maar kom kry, verstaan hy sy moedertaal sonder dat hy dit doelbewus geleer het. Onderrig het te make met onderwys. Die kind leer taal op skool en dit is een van sy skoolvakke. Dit kan sy moedertaal wees, en die onderwyser leer hom taalvaardigheid, of dit kan ʼn heel vreemde taal wees, soos bv Duits, of Grieks, of Russies. Engels kan ook ʼn vreemde taal wees vir ʼn kind wie se moedertaal Afrikaans is, maar in die meeste gevalle verstaan kinders dit alreeds. Hier in Natal is Afrikaans vir baie Engelssprekende kinders ʼn vreemde taal.
    Wat ek skryf oor hoe babas blootgestel word aan taal en hoe hulle daardeur taal aanleer is voor die hand liggend. Ek sal graag wil hoor hoe jy met jou kennis van bedryfsielkunde kan bewys dat dit nonsens is. Jy laat my lag. Probeer jy nou slim klink?
    Dit is bekend dat woorde hulle betekenisse verloor en ander betekenisse aanneem. Dit is nie slegs leenwoorde waarmee dit soms gebeur nie. Praat van Slim vang sy baas. Kyk net hier.
    Hierbo beweer jy: “Ek het nooit gesê dat jy ander tale moet ken om 'frases' daaruit te ontleen nie, wat ek sê is dat die ontlening jou nie 'n kenner van die taal maak nie.”
    Tog het jy op 9-03-2017 geskryf:
    Jou bewering dat "Geradbraakte Afrikaans is Afrikaans wat amper onverstaanbaar is. As Afrikaans se woordeskat verryk word deur Engelse woorde, word dit nie onverstaanbaar nie, inteendeel, ʼn mens verstaan dit beter," kan slegs waar wees as jy Engels verstaan.” Jy weerspreek jouself.
    Woordorde is ʼn belangrike deel van die hele taalsisteem wat die baba en kleuter baasraak deur aan taal onderwerp te word. Sintaksis sluit veel meer in as net woordorde. As jy Chomsky se sinsmodelle bestudeer, sal jy woordorde beter verstaan. Die stelsin in Afrikaans se woordorde is onderwerp+ww+voorwerp. Die vraagsin is ww+onderwerp+voorwerp. Die bevelsin is ww, of ww+onderwerp, of ww+onderwerp+voorwerp, of ww+voorsetselgroep, of ww+onderwerp+ voorsetselgroep. Daar is nog ander ook, maar daarmee wil ek jou nie verder mee verveel nie.
    Woordorde is inherent deel van taal. Dis heeltemal onmoontlik om eerste woordorde baas te raak voordat jy ʼn taal aanleer, soos jy beweer.
    So, terloops, ek het Jan se brief hier beantwoord, en toe kom steek jy jou neus in. Nie dat ek omgee nie, ek verwelkom dit, maar dis heel barbaars van jou om my nou te wil wegjaag, soos jou vrou arme kinders met boeksak en al uit die klas uit boender.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top