In antwoord op jou skrywe van 27 deser.
Van die staanspoor sal ons moet ooreenkom oor sekere begrippe, want ek sien ons begin by mekaar verby praat.
Dit wil my voorkom of jy verkeerdelik onder die begrip “evolusie” net ’n verbetering of vooruitgang verstaan. Met evolusie word bedoel aanpassing by veranderende omstandighede met die doel om te kan voortbestaan. Dit beteken nie noodwendig ’n verbetering nie. Streng gesproke het evolusie net te make met lewende organismes, maar die analogie wat ek trek , is geregverdig omdat taal hom soos ’n lewende organisme gedra.
’n Taal is ’n lewende taal slegs as dit gebruik word, en met “gebruik” word bedoel dat “dit gepraat word”. Hierby moet ook nog gevoeg word dat taal slegs ’n lewende taal is, as dit gedurigdeur by nuwe omstandighede aanpas. As Afrikaans nie verander het nie, maar gebly het soos dit was toe dit vir die eerste keer gepraat is, sou ons dit nie vandag kon gebruik nie. Ons sou nie oor boerdery, of wetenskap of motors of die vliegkuns, of medisyne kon praat nie, want die eerste Afrikaans het nie die woordeskat gehad nie. ’n Lewende taal moet hom gedurig aanpas by omstandighede.
Hoe die aanpassing lyk en klink, het ons geen beheer oor nie. Dit vra nie of dit mooi of lelik is nie, solank dit net bruikbaar is en nuus kan oordra, kan kommunikeer. Toe Afrikaans sy ontstaan gehad het, het dit ook lelik, platvloers en ongeletterd geklink vir die Nederlandse oor. Dit is selfs as kombuistaal uitgeskel. Afrikaans se grootste vyand was toe nie Engels nie, maar Nederlands.
Vir ons is hierdie verryking van Afrikaans soms iets verskrikliks. Vir jou is dit verrotting van die taal, maar ek is seker jy sal toegee dat dit beter kommunikeer. Taalbesmetting of kontaminasie is maar slegs een van die talle taalverskynsels wat ’n taal verryk. As iemand vertel dat hy in ’n “band” speel, gebruik hy die woord in ’n Afrikaanse konteks, en dan is dit Afrikaans. Dis vir my afgryslik lelik as iemand van sy “bybie” sing, maar hy kan tog nie van sy baba of sy verloofde of selfs sy nooi sing nie. Dis heeltemal iets anders.
Die verbreking van die tradisionele grammatika is ook een van die vele maniere wat taalverandering bewerkstellig. Alle tale loop daardie pad in hulle ontwikkeling. Dit wil nie sê dat konserwatiewe sprekers dit nie lelik vind en selfs daarmee die spot dryf. Net soos ons die spot dryf met “bybie” “pô” en “oulof burgh” so het die Nederlanders gespot met ons gebruik van “ons”. “Hoeveel onse het jy op ’n pond?” is ’n bekende gesegde.
’n Faktor wat taalverandering teweeg bring, is skeiding. Nederlands in Suid-Afrika het Afrikaans geword. Dieselfde ding gebeur ook op die oomblik hier by ons. Natalse Afrikaans verskil al so effens van Gautengse Afrikaans en dit verskil weer van Kaapse Afrikaans, en Griewa-Afrikaans. Ons kan al van streekverskille praat. So ontstaan dan streektaal en streektaal word mettertyd dialek. Uiteindelik word dialek ’n nuwe taal. Engels is ’n mooi voorbeeld: in Amerika praat hulle al Amerikaans, in Skotland is dit Skots, en in Ierland is dit Iers. As my Oupa dit moet lees, sal hy woedend raak. Hy het altyd volgehou dat Skots uit Ou Engels en Anglo-Saksies ontstaan het en dat die Queen’s English ’n brousel is wat later ontstaan het.
Taal moet dus noodwendig gedurig verander om aan te pas by omstandighede, anders raak dit in onbruik en gaan dood.
Om af te sluit, hier is ’n geestige beskrywing in begin-Afrikaans deur Klaas Waarzegger oor die opening van die parlement.
“Oom! daar was zoo veel mense dat ek oom nie kan vertel nie wie hulle allemaal was. Net om twaalf ure het de Goffneur ingekom, met zijn volle mondeering en toe het die Muziek gespeul. Die hele boel mense was toegetakel met goud en zulver en rooye bande en party se kleere was gemaak van goed nets ons voor zaalkleedjes gebruik.” Verder beskryf hy die President en die “mooye, kleine dikke Jutsie met sy “groote witte bokvel mus wat hy op sy kop had.”
Onthou, Jan, as Afrikaans hom nie kan aanpas by vernuwende omstandighede nie, dan sal hy beslis verdwyn en deur Engels oorgeneem word, en glo my, Engels kan by alle omstandighede aanpas. Daarom is dit ‘n wêreldtaal. Kyk hoe Engels hom al aangepas het by Zulu- en Xhosasprekers.
Angus

