Liewe Perdebytjie en beste Jaco
Julle kommentaar op my brief oor doktor McCloud verwys.
Ek sê in daardie brief dat, hierdie idee van die Afrikaner wat nou so vry sou dink, na onsin lyk omdat, juis na hierdie vrydenkery, die land in 'n mislukte staat verander het. Ek reken toe dat die ontkenning van hierdie feit daarop dui dat die Afrikaner in een of ander staat van hipnose verkeer.
Ek mag verkeerd wees maar dit lyk nie of julle so dink nie (wat die mislukte staat betref in elk geval) want albei van julle reageer heftig oor die zombi-kwessie. Jaco, jy reken ek beledig my volksgenote. Floue Jaco, dit het niks met die argument te doen nie. Of reken jy McCloud-hulle beledig ook my (en jou) volksgenote deur te kenne te gee dat hulle voorheen nie gedink het nie? Indien wel, hoekom tik jy hom nie ook oor die vingers nie?
Jy skimp dis suur druiwe "... omrede die Afrikaner nie [my] sieninge deel nie." Watter sieninge? Ek het die opmerking gemaak dat dit baie verdag is dat, nou dat die Afrikaner kwansuis dink, die land in ellende gedompel is. Inligting om voorgaande te verduidelik is NIE 'n verklaring dat ek "my volksgenote beledig" nie. Dis 'n onsinnige en onwaar stelling.
Perdebytjie, jy sit die pos net so mis soos Jaco. Jy kan byvoorbeeld nie vra of SA moes voortgaan "...op die pad van verdrukking ten gunste van een volksgroep..." nie want dit veronderstel dat die Afrikaner, want dit is die ou want nou volgens julle dink, iemand verdruk het toe hy nog nie gedink het nie. Daar was nooi so-iets nie; die Afrikaner het nooit, veral in vergelyking met die Engelsman, Duitser, Hollander, Belg, Portugees, Spanjaard, Zoeloe of Xhosa, iemand onderdruk nie. Indien jy dit wel glo, vertel my daarvan.
Jy sê ek het gelyk dat "die skoen nou aan die ander voet is." Waar het ek dit gesê? Dit sou beteken eers het die Afrikaner onderdruk en nou onderdruk die swarte en dis onsin. Wat ek gesê het is dat McCloud verkeerd is waar hy sê die Afrikaner was eers deur die kerke voorgesê want die feit van die saak is dat die kerke hulle NOU voorsê. Ek het dan juis gesê vandat die kerke begin druk het, het almal begin voete-was en verskoning vra en verder, dat dit juis hierdie verskoningvraery is wat geweld (wraak) aanwakker.
Jy sê ons is nou " ... vry om te besluit ..." O ja? Is dit ons besluit dat Afrikaanse dorps- en plekname verander word, dat Afrikaanse skole en tersiêre onderwysinstansies verdwyn, dat 'n renoster per dag ge-oes word, dat boere op plase in hulle duidende vermoor word en dat Afrikaans nêrens meer (behalwe huishoudings) gepraat word nie? Dink weer.
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Ek vra weereens watter ander opsie was daar vir die Afrikaner?As ons die status quo behou het,sou ons vandag beter af gewees het?Met ons seuns en dogters in uniform,op die grense en in die townships om miljoene rustelose mense in bedwang te hou?Wat stel jy, wat nie gezombifiseer is nie,voor?
Niemand stry dat ons in groot moeilikheid is en dat dinge ernstig verkeerd gaan nie,maar dit het niks te doen met vrye denke nie.Vir my was dit logies en reg dat ons apartheid moes afskaf en vir almal gelyke geleenthede moes gee.Wil jy nou vir my sê dat die Afrikaner nooit iemand onderdruk het nie?Waar was jy al die jare van paswette,aandklokreëls,gedwonge verskuiwings,mense wat jare sonder verhoor in tronke gestop is,of sommer net verdwyn het?Ons praat nie nou hier van Duitsers,Engelse en wie ookal nie,ons vee nou voor ons eie deur.
Ek DINK,Jan Rap.'n Gekerm oor alles wat verkeerd is,gaan absoluut niks help nie en dis wat ek vir jou probeer sê.Vra jouself af wat jy kan doen in jou klein omgewing,iets positiefs,iets opbouends,iets wat betekenisvol is.Jy kan regtig boggerol doen aan wat die politiek aan ons almal doen,maar jy kan sekerlikpositiewer probeer wees,al is dit hoe moeilik.
Wat die verskoningvraery betref,het jy heeltemal gelyk.Ek dink nie dat dit meer help nie en die gesanik en skuldgevoel het nou sy raklewe oorskry.
Met die vry om te besluit, het ek bedoel dat ons vry is om te glo wat ons wil,met wie ons wil assosieer,waarna ons wil kyk,wat ons wil lees ens.Al is ons nie vry van die daaglikse euwels nie,is ons ten minste vry in ons gedagtes. Dit maak tog nie van 'n mens 'n zombie nie.
Perdebytjie, jy erken dinge is verkeerd maar niemand mag dit uitwys nie want dan sou hulle hul skuldig maak aan 'n gekerm. Sou jy reken dit is reg so? Die ANC byvoorbeeld het in 1912 ontstaan (terloops, láááánk voor daar 'n Afrikanerregering was) om te beding vir swart erkenning en - regte. Het iemand hulle beskuldig dat hulle kerm? Sou jy die townshipmense beskuldig dat hulle kerm en kla oor die swak, of die totale gebrek aan, behuising en dienste?
Ek twyfel. Maar terselfdertyd is julle vinnig om die Afrikaner wat oor die swak regering ('n mening wat jy ook huldig, hoe anders want dit is blatant), en die negering van sy basiese regte, kla te beskuldig van 'n gekerm. Hoe verteenwoordig solidariteit met kermers van voor 94, en afkeer van sogenaamde kermers na 94, vrye denke? Net een verklaring, breinspoeling deur die koerante en kerke, gezombifiseerdheid dus.
En ja, ek wil vir jou vertel dat die Afrikaner niemand onderdruk het nie, die 'gedwonge verskuiwings en pasdra' soos jy dit noem ten spyt. Hier moet jy jou nou regtig staal en dink. Hoeveel verskuiwings was daar nou eintlik wat die 'terugskuiwings' was nie? Pasdra het nie veel verskil van paspoort of ID-dra nie, dit gebeur die hele Europa deur om te verhoed dat mense kom en net, wel, plak. Wat sou nou beter as demokrasie gewees het, met ander woorde soos Lesotho en Swaziland, nog 8 soewereine state? Die alternatief is 'n gemors soos jy ook saamstem, ons beleef dit nou elke dag.
Wat die aandklokreël betref is 'n kwessie van vraag en aanbod. Daar is geen bevrediging in die maak en afdwing van aandklokreëls nie. Dis nie 'n tydverdryf nie, dit was gemaak om misdaad hok te slaan. Net nou die dag nog is in my huis ingebreek TERWYL ONS SLAAP en dit was die derde keer vandat ek hier bly. Hierdie soort van ding was in 'n baie groot mate beperk deur die aandklokreël.
'n Laaste gedagte: Ons leef nie in 'n demokrasie nie; hierdie KAN nie 'n demokrasie wees nie want daar is verskillende volke saamgegooi in 'n kunsmatig-gedefinieerde gebied. Buitendien, deur 'n gebied 'n demokrasie te noem bring nie mee dat mense skielik vir hulself dink nie. Inteendeel, in ons geval is die feit dat mense die storie sluk dat hierdie 'n demokrasie is juis aanduidend van 'n gebrek aan logiese en vrye denke.
Jan,
Jy is heeltemal reg.Hierdie is nie 'n demokrasie nie en daar is geen verskil tussen die kermers van voor 94 en diegene daarna nie.Niemand van ons is tevrede met wat in hierdie land aangaan nie,maar daar is mense wat wel aangaan met hul lewens en die beste daarvan probeer maak en nie heeldag op 'n doring sit en kla nie.
Jy leef in 'n droomwêreld as jy dink die pasboek was soos 'n paspoort of ID.Hoeveel keer is onskuldige mense sommer vir die "kicks",vir 'n naweek in die tronk gegooi?Ek weet,want ons moes gereeld ons huishulp gaan red.Hoeveel keer is daar snags "raids" gedoen in ons woonbuurt,en onskuldige mense wat in agterkamers met hul wederhelftes gebly het,uitgeskop en behandel soos vuilgoed?Ek weet,want ek was daar..'n jong kind wat goed verstaan het en geskok was oor die onreg.Dis nou wat volgens jou, die dra van 'n pasboek presies dieselfde gemaak het as 'n ID of paspoort!
Word wakker Jan.Dit klink vir my of jy in die verlede gezombifiseerd was.Nou is jy lekker wakker,want jy is nou soort van aan die ontvangkant,nog steeds met 'n hele baksel witbrode onder jou arm!
Nog ietsie Jan,
Die aandklokreël was baie openlik net geldig vir swartmense,of het jy iewers gebly,waar almal nege-uur saans van die strate af moes wees?Ek glo nie.
Nou vra ek weereens,wat stel jy voor?Hoe sou jy wou hê dat dinge moes verloop sedert voor 1994,waar al die gezombifiseerdes gekies het vir hierdie gemors van vandag?Jy het nog steeds nie my vraag geantwoord nie.
Beste Perdebytjie
Jy mors jou goeie asem met die mens. Fanatici het hulle voorafgestelde agende wat vir hulle onwrikbaar is en alles draai daarom. Die heertjie val sy mede Afrikaners gedurig aan asof hy alleenlik weet wat vir hulle goed is. Ek kry hom eintlik jammer. Hy blyk nie meer te jonk te wees nie Van die jare wat vir hom nog beskore is, wil hy eerder sy Afrikanerskap versuur.
Jaco Fourie
Perdebytjie
Die pas was daar om, onder andere, onbeheersde en onwettige invloei te bekamp. As julle huishulp 'gereeld vir kicks' in die tronk gegooi is het jou ouers hulle plig versaak; hulle moes sorg dat die verantwoordelike polisiemanne aan die pen ry. As daardie polisiemanne onskuldige mense, bloot vir kicks, in die tronk gegooi het, het húlle die wet oortree. Dit was destyds nie geduld nie, veral nie met die Engelse pers wat gedurig die polisie (die hele regering om die waarheid te sê) onder mikroskoop-waarneming gehad het nie. Selfs al was hulle volgens jou die grootste wreedaards sou hulle sulke simpelgeit net nie kon bekostig nie.
Jou opmerking oor die aandklokreël is inkriminerend want dit is 'n feit soos 'n koei; die aandklokreël het misdaad bekamp.
Jy hou aan sê ek het nog nie jou vraag, naamlik wat ek sou voorstel, geantwoord nie alhoewel ek hom al lankal geantwoord het. Om die waarheid te sê, ek het al die stelling gemaak nog voordat enigiemand gevra het: Ek stel demokrasie voor; regering vir die volk deur die volk, al het hulle nou ook 'n monargie soos die Engelse en die Hollanders.
Maar al het ek nie geantwoord nie, verhoed dit my om beswaar aan te teken teen wat ek as onregverdig beskou? Is wat vandag aangaan byvoorbeeld, jou voorstel om, wat jy as die onregverdigheid van voor '94 beskou, te vervang? Indien wel, dink jy dit was 'n goeie voorstel? (En so tussen hakies, hierdie bedeling se aanloop is al van die 70's af, dit het maar net finaal tot volvoering in '94 gekom)
Natuurlik was dit nie jou voorstel nie; die punt wat ek wil maak is dat die nodig is om 'n alternatief voor te stel as jy 'n gemis uitwys nie. As jy jou kar byvoorbeeld vir herstelwerk neem, vir, sê, 'n vibrasie op die stuurwiel sodra die spoedmeter 100 km/h aandui, vra die werktuigkundige jou wat jý voorstel? Sal die kaptein van 'n passasiersvliegtuig nie ag slaan op 'n brandende enjin omdat die passasier wat sy aandag daarop gevestig het nie kon sê wat gedoen moes word nie? Natuurlik nie.
Kom ek som op: McCloud het gesê die Afrikaner dink nou ver homself; die kerk skryf nie meer vir hom voor nie. Ek het gesê dit lyk nie so nie, die kerke het juis die ja-stem gestoot, om die waarheid te sê, die feit dat die Afrikaner gaan lê het om vertrap te word dui daarop dat hy NIE vir homself dink nie. Net 'n gebreinspoelde kalkoen kan uitsien na Kersfees.
Beste Jan
Die Pas het mense beperk tot sekere gebiede.Jan, Perdebytjie en al ons wit vriende en familie kon die hele SA deurreis,grond koop,waar ons wil,bly waar ons wil,vakansie hou waar ons wil,enige plek instap waar ons wil en Jan dink nog steeds dit was reg!
My ouers het beswaar gemaak,maar die hele polisiemag was gebreinspoel om die mense soos minderwaardiges te behandel,dus was daar nie regtig iewers om iemand aan te kla nie..almal kop in een mus.Jan,jy weet al hierdie dinge.Erken dit aan jouself dat jy so gebreinspoel is dat jy vandag nog glo alles was moreel geregverdig.
Jy is heeltemal reg as jy sê dis nie nodig vir 'n altenatief as jy 'n gemis uitwys nie.Al wat ek hierop kan antwoord,is dat niemand werklik beheer het oor die geskiedenis nie,niemand leer werklik uit die geskiedenis nie en ek glo nie dat enige ander besluite vanaf die sewentigerjare 'n veel ander uitkoms sou hê nie.Jy stel 'n demokrasie voor,dis 'n hersenskim en ons weet dit almal.
Die kerk het die vorige stelsel geregverdig,so jy is gebreinspoel om dit te glo.Volgens jou het die kerk nou weer die mense gebreinspoel om te sien dat dit al die tyd verkeerd was.My logika,vir wat dit vir jou werd is,het vir my gesê dat dinge immoreel is,nie die kerk nie.Ek het as jong kind al bitter ongemaklik gevoel wanneer die "skepsels"(so is altyd minagtend na die mense verwys,as jy reg kan onthou) so onmenswaardig behandel is.
Kleingeld is kliphard op toonbanke neergeplak of sommer neergegooi,hulle moes ure in toue wag,dan word witmense eerste gehelp,later aparte toonbanke,net een klerk aan diens vir driehonderd mense,tien klerke vir tien witmense.Strande waar net rotse en sterk seestrome was,is as swemstrande aangebied en so kan ek aangaan en aangaan..Jan,ek het dit self beleef.Dis nie 'n zombidroom wat ek gehad het nie.
Hierdie dinge is baie meer verwikkeld as wat ons in 'n debat kan probeer oplos.Daar is eeue se geskiedenis,onregte na alle kante,verskillende kulture en godsdienste betrokke.Dis soos 'n brander wat jou vat en jy moet saamswem of verdrink.
Daarmee bedoel ek nie jy moet alles gelate aanvaar nie,maar jy moet self iets positiefs bydra.Wat verby is,is verby en om mede Afrikaners uit te skel,gaan niks verbeter nie.Ons moet mekaar respekteer en waardeer met al ons foute en geite!
Lekker om met jou te gesels.
Groetnis
Perdebytjie
Beste Jaco
Dis onmoontlik om tot fanatici deur te dring,maar ek voel dat 'n mens ook nie moet stilbly as jy geldige punte het nie.Miskien,net miskien steek daar ietsie vas,wat die persoon dalk anders laat dink.Al gebeur dit ook nie,ten minste het ek my sê gesê.Elkeen het die reg daartoe!
Sulke mense gee ook weer 'n ander perspektief en laat 'n mens besef hoeveel verskillende sienswyses oral heers.Dit help om my kop oop te hou en vir myself te dink.Ek weier om as gezombifiseerd uitgekryt te word en dan soos 'n zombi stil te bly terwyl my koppie heen en weer geklap word!
Ek waardeer jou altyd-geldige insette.
Perdebytjie
Hallo Perdebytjie
Soos jy sê, die pas het mense sekere mense beperk tot sekere dele. Enersyds het dit misdaad bekamp want mense wat vanaf een gebied in 'n ander gaan rondloop was meestal nie vir doeleindes van kuier daar nie. Andersyds, en hoofsaaklik, sou dit nie sin maak om die proses van die skep van eie outonome gebiede te kortwiek deur mense van oraloor toe te laat om te vestig waar hulle wil nie. Ek gee toe, dit kon dalk anders, meer diplomaties, bestuur gewees het, hóé sal ek nie nou weet nie maar miskien.
Een ding moet jy nie uit die oog verloor nie: In Afrika is daar 2038 tale (verwys Ethnologue of Languages) en was daar dus 2038 aparte gebiede; 'n ou praat 'n ander taal as iemand anders as hy geen kontak met hom het nie. In die koloniale tyd kom Europa en Engeland en sny die hele kontinent in sê so 60 stukke, SONDER inagneming van etniese grense en SONDER die inset van plaaslike Afrikane. Dit laat so gemiddeld van 35 tale per kolonie (ek sê gemiddeld want Nigerië het blykbaar oor die 300 tale daar).
Na die Engelse, Belge, Franse en wie weet wie nog genoeg vet uit die kolonies (met hulle onnatuurlike grense) geskep het kom die 'winde van verandering' hulle doen afstand van hulle mag daar. Hulle 'gee' die land met sy onnatuurlike grense 'terug' maar ongelukkig aan die dominante groep. Die gevolg is dat die dominante groep nou gebied 'verower' het wat hulle voorheen nooit gehad het nie en die gevolg hiervan weer is konstante oorlog. Kyk maar, sedert 'bevryding' is Afrika in die grootste ellende gedompel, ons inkluis.
Ons, wat nou al so 360 jaar hier sit (langer as party van die swart volkere hier) het 'n voorstel gehad wat kon werk. Hierdie voorstel is so verguis deur gierigaards, uitbuiters (ja daar is nog steeds Europeërs wat Afrika uitbuit met grondstowwe wat hulle 'koop', afval wat hulle hier stort en so aan), jaloerses en en dies meer dat van ons begin glo het die bogenoemdes het gelyk, ons is onderdrukkers. Die voorstel is laat vaar en vandag sit ons met die gebakte pere, die land is in 'n gemors.
Jy is reg as jy praat van die kleingeld wat op die toonbank neergegooi word, dit het wel gebeur. Daar is ongeskikte amptenare oral, sulke optrede was egter uit hoofde van 'n minderwaardigheidsgevoel of een of ander gemis in die amptenaar se karakter en/of opvoeding; dit was nie beleid nie. As ongeskikte amptenare vir jou aanduidend van 'n onderdrukkende regering is hoef jy nie verder as die Nuwe SA te kyk nie.
Laastens, as ek jou met Jaco moet vergelyk is daar ... wel ... nie 'n vergelyking nie. Jaco hol stert-tussen-die-bene weg en maar jy, heeltemal tereg, wys my waar jy reken ek verkeerd mag wees of nie genoeg inligting het nie. Dit is al manier om bymekaar uit te kom. Jaco wys dat hy geen standpunt het nie maar slegs die koerante napraat.
Groetnis en lekker aand/dag vir jou.
Beste Perdebytjie
Dankie vir jou respons asook die kompliment wat waardeer word. Bygese, jou insette is ook baie waardevol hier op SeNet. Nog 'n sterkpunt is jou geduld, wat ek ontbreek.
Jaco Fourie
Beste Jan
Ek lei af dat die "voorstel",waarvan jy praat, Aparte Ontwikkeling was.Dit was van die begin af gedoem,want in plekke soos Soweto,Mamelodi,Atteridgeville,ens was geen ekonomieë gevestig nie,want die groot stede waarbuite hierdie woongebiede gevestig is,het vraatsugtig geklou aan die goedkoop arbeidsmag..mense wat vandag nog snags moet opstaan om by werksgeleendhede uit te kom.Die prentjie het darem in die laaste jare verander en hierdie woonbuurtes het ook nou hul eie winkelsentrums,banke ens.
Soos met alles was die verskuilde motief agter hierdie beleid,om mense te beheer en tot die maksimum uit te buit vir eie gewin.Dis nie vir my lekker om so daaraan te dink nie,maar as ons eerlik moet wees,was dit so.
Dit help nie om te redekawel oor wie waar gebly het en wanneer nie,want dan moet almal hier voertsek en net die Boesmans moet oorbly.Geskiedenis het 'n manier om alles te verander en niks bly ooit staties nie.
Al wat 'n gegewe is,is dat die heersers oorheers en beheer die massas net tot hul eie voordeel.Geen of bittermin politici is werklik gepla oor die kieserskorps nie,behalwe as dit stemtyd is.Hulle kyk net na hulself.
Terloops,van die ongeskikste amptenare wat ek al teëgekom het,was staatsamptenare in die ou bedeling,veral die destydse TOD.Ek kan boeke skryf oor hul swak behandeling en onbevoegdheid,wat ek eerstehands beleef het.
Dus,wat is nuut?
Beste Perdebytjie
Soos jy sê, wat is nuut? Ongesskikte amptenare is dus nie 'n faktor in ons redenasie nie.
Ook, soos jy sê, as oorspronklike besetting gegeld het bly net die Boesmans hier oor. Die huidige regering kan dus nie oor 'grondhervorming' kweel nie; die 'her' in die woord gee aan hulle 'n status waarop net die Boesmans aansparak kan maak. Dit is dus uiters nodig om te redekawel oor 'wie' en 'waar' net om dinge in perspektief te plaas. As die reg van verowering nie geld nie geld dit ook nie vir die swartes nie. Buitendien, die Boere se verhouding van onderhandel en koop teenoor annekseer was op 'n skaal van 1 tot 10 'n breuk waar die Engelse, Zoeloes, Xhosas ens s'n 11+ was, heel van die skaal af in beide gevalle (ten goede in ons geval, ten slgte in die ander geval).
Oor die uitbuit vir eie gewin het jy ook 'n punt maar die gebruikmakers van goedkoop arbeid was die nywerheid, die myne, fabrieke en die soort van ding waarin die Afrikaner 'n minimum-aandeel gehad het. Die arbeidsmag wat die plaasboere gebruik het was 'n breukdeel van dié wat deur byvoorbeeld die myne gebruik was. Die lewensomstandighede in die mynhostels was haglik maar dit kom op ons Boere se boekie wat 'n skreiende skande is. Die ergste is dat ons hierdie onwaarheid en onregverdigheid bevestig deur verskoning te vra en dit vir iets waaraan ons nie skuld het nie. Waansinnig; dus nog 'n rede om die geskiedenis te bekyk ten spyte daarvan dat jy glo ons moet nou maar alles gelate aanvaar, wat verby is is verby.