Vir Hans Richter oor fossiele en evolusie

  • 11

Beste Hans

Toe Darwin sy evolusieteorie in sy boek Origin of Species uiteengesit het, was daar nog nie fossiele ontdek wat die mens en die aap met mekaar kon verbind nie. Hy het maar net lewendige ape gehad om na te kyk: gorillas, sjimpansees en bonobos was toe ook nog nie as aparte spesies beskou nie. Almal was afkomstig van Afrika, en Darwin het voorspel dat, indien enige fossiele gevind sou word wat mens en aap met mekaar sou skakel, dit in Afrika sou wees.

Soos alle feite, hipoteses, wette en teorieë, is die evolusieteorie ook onderhewig aan toetsing, falsifikasie, regstelling en verandering. Die ontdekking van sulke fossiele was dus net ter versterking van hierdie teorie. Later het die Genetika nog ʼn verdere bydrae gelewer ter versterking van die teorie en is dit ʼn groot hulp met die studie van fossiele.

Paleontologie is ʼn interessante wetenskap, maar die rol daarvan moet reg verstaan word. Paleontoloë is nie towenaars nie. Hulle kan nie sommer fossiele optower en voldoen aan vereistes dat hulle “ intermediêre spesies fossiele” moet oplewer nie. Sodra hulle uiters gelukkig is om ʼn fossiel raak te loop, word onmiddellik van hulle deur kreasioniste vereis: “Ja, maar waar is die intermediêre fossiele?” Darwin haal juis sy mentor en wêreldbekende geoloog, Lyell, in dié verband aan: “in all the vertebrate classes the discovery of fossil remains has been an extremely slow and fortuitous process” en verder: “Nor should it be forgotten that those regions which are the most likely to afford remains connecting man with some extinct ape-like creature, have not as yet been searched by geologists.”

ʼn Mens kan dus nie evolusioniste en paleontoloë aan hulle strotte gaan gryp en eis dat hulle fossiele moet produseer nie. Hulle is maar net mense wat hulle werk doen, en hier moet ek byvoeg, dekselse goeie werk! Die paleontoloog wat sy sout werd is, is ʼn uiters bekwame speurder. Hy sien dinge in ʼn fossiel raak wat ons gewone mense maklik sou miskyk, en buitendien is daar alreeds so baie fossiele tot sy beskikking dat voorstellings deur kunstenaars en spekulasie nie meer nodig is nie. ʼn Kundige raaiskoot  kan soms ook groot wondere verrig.

Kom ons keer terug na jou vraag waar jy argeoloë aan hulle strotte gryp en eis: “waar is argeologiese opgrawings van intermediêre spesies fossiele.”

Sê nou, ons kon elke uur ʼn foto neem van ʼn mens vanaf ʼn eensellige organisme in die baarmoeder tot waar hy honderd jaar oud is. As al die foto’s in ʼn ry geplaas word, vanaf die eensellige organisme tot by die honderdjarige, sal elke foto lyk soos die een voor hom en die een na hom. Tog, as jy nr 1 vergelyk met nr 870 000, sal die verskil so groot wees dat dit moeilik sal wees om te glo dat dit dieselfde organisme is. Raak al die foto’s weg en jy ontdek so met die tyd een hier en een daar, sal dit moeilike speurwerk kos om die lewe van die man uit te beeld. Soos wat jy foto’s herontdek, sal die beeld vollediger word. Jy sal dan ook ʼn goeie speurder moet wees om die ontdekte foto in te pas in die 100jarige tydlyn.

Dit is min of meer hoe dit met fossiele gesteld is. Soos wat hulle ontdek word, word die prentjie al duideliker. Dis egter ʼn moeilike en tydsame proses, want fossilisasie gebeur nie maklik nie. Dit gebeur telkens ook dat as ʼn nuwe fossiel ontdek word, kreasioniste gou by is  om te sê hulle is nie beïndruk nie, want waar is daardie intermediêre fossiele dan? Die ontdekking van een fossiel veroorsaak sommer dat die twee aan weerskante nou weer vir hulle die “missing links” is.

 Met die Homo-afkoms is ons nogal gelukkig. Hulle het in grotte begin bly, waar verstening makliker kon plaasvind as in die oop veld, of onder bome, waar die sjimpansees gebly het. Daar is al redelik genoeg fossiele om die evolusie van Homo sapiens na te speur. Ek sou eerder sê dis die sjimpansees wat moet kla oor “waar is die vermiste skakel,” of “haai, julle bleddie geoloë, waar is daardie intermediêre spesies fossiele?”

Naledi? Oorspronklik is gedink dat Homo naledi die voorouer van die moderne mens is, maar nou is bewys dat dit onmoontlik is. Homo naledi is deel van die Homo-genus, net soos Homo erectus, Hom ergaster, Homo floresiensis, Homo habilis, Homo heidelbergensis, Homo neanderthalthalensis en Homo sapiens. Almal is uitgestorwe behalwe Homo sapiens. Dit los natuurlik die geheim van Naledi nie op nie, maar ek vertou dat ons speurdervriende, die paleontoloë, dit eendag sal oplos. Waar pas Homo naledi in by die Homo-genis? As hulle gelyktydig, saam met die moderne mens geleef het, leef hulle nasate dalk nog, of het hulle werklik heeltemal uitgesterf? Soos een van die krieketkommentators altyd sê: “Tyd sal tel.”

Angus

 

  • 11

Kommentaar

  • Beste Angus,
    Ek het groot bewondering vir jou. Jy steek wragtig wéér jou kop in die bynes! Oppas vir die "kreoniste", veral diesulkes wat diarree so fensie spel.
    Jy moet maar jou (metaforiese) bybelse skild in jou hand hou, jou lendene omgord en jou skoene aan jou voete trek, want jy gaan gelóói word.
    Groete
    Dirk

  • Hans Richardt

    Angus, ek is enigste lewende Richardt oor in SA en Namibia. Sover my kennis strek op Afrika-kontinent. So, ek gaan nie reageer op jou stuk nie, want net verlede week was jy baie seker Naledi was oorsprong van moderne mens. Veni, Vidi, Ivi.

  • Beste Dirk,
    Jy het my nou behoorlik die skrik op die lyf gejaag met die "kreoniste". Dirk, man, wat van so bietjie hulp en bystand verleen? Al is dit net om my oorskot as hulle met my klaar is, te begrawe met so 'n veldblommetjie daarop.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    En nog steeds tas jy in die duisternis rond.Kom 'n bietjie by man.Besoek gerus 'n webblad soos Fact and faith en leer hoe dinge werklik inmekaar steek en leer dat die wetenskap in die verband en die Bybel twee kante van dieselfde muntstuk is.

    Die Bybel oor die Wie en die wetenskap oor die Hoe. Jy moet beide verstaan om te weet hoe die vurk in die hef steek.

    Groete

  • Beste Hans,
    Wat het jou alleenheid hier aan die suidpunt van Afrika te make met hoe en wanneer en wat jy hier op SêNet skryf?
    Gee vir my die aanhaling waar ek sou gesê het dat ek seker is Naledi is die oorsprong van die moderne mens, dat ek dit kan regstel. As jy nie kan nie, weet ons almal wat dit beteken.
    Jy het gekom, jy het gekyk en toe jy moes vici, toe ivi jy.
    Groete,
    Angus

  • Beste FC Boot,
    Ek wonder wie krap meer in die duisternis rond wat die evolusieteorie betref? Ek wat dit al dertig jaar lank bestudeer, of jy wat staatmaak op 'n kreasionistiese webblad op die internet?

    Dan is jy ook nog in die duisternis wat in die Bybel staan. In Gen 1 staan daar tog duidelik geskryf oor HOE God dan al die dingetjies aanmekaargeslaan het. Gen 1:3 Toe het God gesê: "Laat daar lig wees!" Lees weer tot jy mooi verstaan dat deur te Sê dat daar lig moet wees, is mos hoe. God het al die dinge op aarde GESKEP. Dis mos ook hoe. In die Bybel is daar ook 'n beskrywing HOE hy die Adam en Eva geskep het. God het die mens uit stof GEVORM en lewensasem in sy neus GEBLAAS. Dis mos hoe. Kyk net hoe het hy Eva gemaak: hy het 'n ribbebeen uit die mens GENEEM, Hy BOU dit om tot 'n vrou. Dis mos hoe.

    Fynlees, ou bees!
    Groete,
    Angus

  • Beste FC Boot,
    Ek is nog nie klaar met jou nie. Gaan lees weer wat ek geskryf het vir Hans, en wys my waar ek in die duisternis rondtas, soos jy beweer. Terselfdertyd kan jy sommer die lig vir my laat skyn dat ek kan sien waar ek moet vat.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    'n Mens kan iets vir 30 jaar en langer bestudeer en nog nie verstaan waarmee jy besig is nie.Net soos jy die evolusieteorie teen 'n sekere vlak van wetenskaplike
    kennis bestudeer en verstaan is die Bybel teen 'n sekere vlak van wetenskaplike kennis geskryf.

    Jou probleem is dat jy dit wat deur die Jode in ballinskap 538 vC geskryf is,as 'n feitlike weergawe van die 'skepping' waaroor daar talle teorieë is beskou.

    Nou waarom sou die Skepper vir wie tyd nie bestaan nie nou alles binne ses dae wil afhandel omdat dit binne die raamwerk van die kennis van die tyd ingepas het?

    Terwyl ons nou besig is, gee my 'n definisie van tyd?

  • Beste F C Boot,
    Verskoon dat ek my bek hier rek waar jy vir Angus vra om vir jou ’n definisie van tyd te gee. Ek weet die vraag is nie aan my gestel nie en Angus sal vir seker beter kan antwoord. Dit is nietemin ’n interessante vraag en hier is my ongevraagde mening:
    Die “International System of Units” (SI) definieer sewe verskillende meeteenhede onder meer die eenheid vir die meet van ‘time’ (tyd), te wete die sekonde. Die sekonde was aanvanklik gedefinieer as een 86 400ste van ’n tropiese dag (24 uur = 86 400 sekondes en ‘n tropiese dag is presies gelyk aan 1 rotasie van die aarde). Maar dié definisie het ’n ingeboude swakheid gehad want die tempo van die aarde se rotasie neem af met die gevolg dat die sekonde al langer geword het. Die SI het derhalwe dié definisie in 1967 as volg aangepas: “The second is the duration of 9 192 631 770 periods of the radiation corresponding to the transition between the two hyperfine levels of the ground state of the cesium 133 atom”
    Nou — as tyd dan net ’n illusie is en nie bestaan nie, soos jy al beweer het en baie ander slim mense ook, waarom is daar dan hoegenaamd ’n eenheid gedefinieer om dit te meet? Hoekom en hoe wil jy iets wat net ’n illusie is meet?
    Tyd, soos deur Einstein aangedui in sy teorie van Algemene Relatiwiteit, kan nie vasgepen word nie want die toekoms word die huidige en voorts onmiddellik die verlede en die gevolg is dat tyd — dws die skeidslyn tussen die toekoms, die hede en die verlede — ’n illusie is, en dat tyd in daardie sin gesien, nie bestaan nie. Wetenskaplikes beskryf tyd as ’n nie-ruimtelike kontinuum waar gebeure in onomkeerbare en nie-stuitbare volgorde van die verlede deur die hede na die toekoms plaasvind.
    Myns insiens lê die geheim daarin dat die sekonde nie ’n eenheid is om tyd te meet soos deur die SI aangedui word nie, maar om tydsverloop (‘elapsed time’) te meet.
    Dalk sou dit minder verwarring skep as aangedui word dat die sekonde die eenheid is om tydsverloop te meet ipv om tyd te meet. Die definisie sou dan as volg gewysig moet word: “The second is the period elapsed, equal to the duration . . . ” en wat daarop volg. Nou dan sit ons weer sonder ’n definisie van tyd.
    Ek hoor graag hoe jy die vraag sou antwoord as dit byvoorbeeld aan jou gestel was?
    Groete
    Panda

  • Beste Panda
    Veronderstel niks beweeg nie, alles staan stil, wat het dan van tyd geword? Al wat dan oorbly is 'ruimte'. Veronderstel dan nou verder dat daar niks waarneembaar is nie. Wat het dan van 'ruimte' geword?
    Tyd is dus 'n illusie omdat ons brein beweging waarneem en ruimte volgens ons brein se waarneming iets tussen voorwerpe is. Ons neem dus ook natuurverskynsels van 'dag' as 'n periode van lig 'en 'nag' as 'n periode van donker waar. Dus as planeet aarde ophou draai, sou dit eenkant van die planeet ewig 'nag' en aan die anderkant ewig 'dag' gewees het vir solank planeet aarde bestaan, want dit is die natuurverskynsels wat my brein gaan waarneem.
    Dit is dus ook duidelik dat sou ons op 'n ander planeet ons tuiste vind ons brein weereens
    aanpassings moet maak afhangende van die plek, omwenteling ens.
    Dit is om die rede dat ek reken dat as jy 'n Christen is, jy versigtig moet wees om sommer aan te neem dat die dag en nag tydens die ontstaan van ons heelal dieselfde is wat dit tans is. As tyd dan 'n illusie is, geskep deur ons brein se waarneming van beweging, en dit wat dan daaruit voortspruit, maak dit nie saak hoe lank dit geneem het en wat die pad is wat gevolg is wat gelei het tot die tot totstandkoming van planeet aarde en van die mens.
    Nogtans baie dankie vir jou inligting.

  • Beste Panda
    Daar is groot verwarring oor die skeppingsverhale soos opgeteken in Genesis en waarvan die eerste geskryf is deur die Jode in ballingskap. Die verhaal was maar 'n teenvoeter vir die baie Babiloniese skeppingsverhale met baie 'skeppers'.
    Die tweede skeppingsverhaal is aanvullend tot die eerste en kan geplaas word binne die landbougemeenskap in die koningstydperk voor die ballingskap. Die grootste probleem by talle Christene en selfs predikante lê in die verklaring van die verhale. Is hul 'n letterlike weergawe van die skepping of word die skepping op digterlike wyse deur die skrywer op skrif geplaas?
    Op die sesde dag word landdiere in drie groepe geskep, nl mak, wilde en kruipende diere. Op http://www.historyworld.net/wrldhis/PlainTextHistories.asp?historyid=ab57
    kan 'n mens 'n redelike weergawe vind oor die ontstaan van mak diere.
    Dit is baie duidelik dat die Genesisskrywer nie oor die kennis beskik het nie. Dit is 'n groepering volgens die kennis van die tyd, toe die groepe reeds bestaan het.
    Ook oor die mens as synde die beelddraer van die Skepper te wees is daar ook groot verwarring. Die Skepper is nie 'n biologiese wese nie en daarom kan die mens ook nie soos Hy lyk nie.
    'n Beter vertaling is te vinde in bv die Boodskap. Daar kan 'n mens lees in vers 27 van Genesis een. God het toe die mens gemaak. En die mens het iets van God in hom gehad. God het 'n man en 'n vrou gemaak.
    Tydens Bybelstudies het die oorlede Pous opgemerk dat daar in die oorspronklike
    skrifte in die meervoud van die skepping gepraat word, soos alles in meervoud was. Volgens hom sou 'n beter vertaling gewees het: “And God created humanity. Male and female He created them. Adam and Eve."
    Natuurlik is daar baie verwarring oor die oorsprong van die mens. Dit het die Rooms Katolieke kerk genoop om in 2004 'n verklaring daaroor uit te reik onder die opskrif: Adam, Eve and evolution. https://www.catholic.com/tract/adam-eve-and-evolution
    Lekker dag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top