Hans, soos altyd verstaan ek moeilik wat jy my probeer vertel. Hoekom, byvoorbeeld, is die volgende woorde in jou brief in aanhalingstekens: terroriste, staatsosse, uitgeboer, opgeteken, noorde en totale-aanslagera? Is daar ’n dieper betekenis wat ek behoort op te tel?
Dan die vraagtekens. Vra jy my met ander woorde die volgende vrae:
- Het die res, wat volgens jou terroriste en rebelle was, werklik krygsgevangene-beskerming wetlik verdien?
- Hoor mens net van konsentrasiekampe en bannelinge alhoewel die nie in geskiedenisboeke opgeteken is nie?
- Hoor mens nêrens dat baie arm wit Afrikaanse werkers as lede van die SAKP gedurende die Tweede Wêreldoorlog interneer was nie?
- Word slegs die manne van die noorde en Ossewabrandwagte genoem in boeke?
- Was die wit Afrikaner as ’n wit anti-kommunis voorgestel?
- Was baie van hulle se wortels tog in kommunisme?
- Is dit my Engelse wortels wat my nou so’n fundamentalistiese inslag gee?
- Het die NP ’n eiesoortige era gehad?
Laat ek maar so aanneem. Dus, hier volg die antwoorde:
Vraag een: Teen daardie tyd daar nog nie ’n oorgawe, of ’n vredesooreenkoms geteken nie. Die feit dat Bloemfontein en Pretoria deur die Britte en hulle geallieerdes oorgeneem was het nie beteken die oorlog was verby nie, nog lank nie, soos jy uit die geskiedenis kan sien.
Vir jou inligting, ’n terroris saai terreur; hy val sagte teikens aan om ’n bevolking te demoraliseer. Die Boere kon godsonmoontlik terroriste gewees het want die Britte se bevolking, sagte teikens dus, het in Engeland gesit en die Boere was nooit daar nie. Die Engelse was volgens daardie definisie terroriste want hulle het plase afgebrand (met opstal en al), vee doodgemaak en vrouens en kinders in kampe gegooi waar amper vier maal meer van hulle dood is as burgers onder wapen.
Hulle kon ook nie rebelle gewees het nie, want hulle het nie hulle eie regering probeer omverwerp nie. Dus maak dit nie sin om te vra of hulle wetlik krygsgevangenebeskerming wetlik verdien het nie want hulle was nie rebelle nie.
Vraag twee: Dit is wel in boeke opgeteken.
Vraag drie: Nee, ek het nog nooit van so iets gehoor nie.
Vraag vier: Nee, almal word genoem in boeke.
Vraag vyf: Beslis.
Vraag ses: Nie sover ek weet nie. Ek dink byvoorbeeld baie min van hulle het Karl Marx en Friedrich Engels gelees.
Vraag sewe: Jy stel hierdie vraag verkeerd want hy impliseer Engelse wortels het ’n fundamentalistiese inslag tot gevolg. Sou ek óf ja óf nee antwoord beteken dit ek gaan akkoord met hierdie absurde siening van jou en, verder, dat ek wel Engelse wortels het. Hierdie vraag val in die slaan-jy-nog-jou-vrou-kader. Vir jou inligting, ek het nie Engelse wortels nie; dis Hollands van my pa se kant en Skots van my ma se kant af. So, gaan pluis uit wat jy eintlik hier wil weet dan stel jy die vraag ordentlik.
Vraag agt: Nie meer of minder eiesoortig as die regering van die Britse goewerneur hier nie.
Jan Rap

