Vir Dirk Rigter

  • 4

Dagsê Dirk

Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 3 Junie 2015.

Jy sê die kruks van jou brief was statistiek? Die kruks van jou brief was dat ’n klein persentasie Afrikaanssprekendes (33% om presies te wees) ‘suiwer’ Afrikaans praat en dat ek (onder andere) nie die 67% ’n plekkie in die son gun nie. Dit is ’n slenter: Ek het heeltyd na die mengeltaal wat hulle in die Kaap praat verwys en ek vermy soos varkmis op toebroodjies om na ‘suiwer’ Afrikaans te verwys want wie op aarde praat nou eintlik regtig sy taal 100% suiwer.

Baie ‘slim’ groepeer jy die betrokke mengeltaal met variante van Afrikaans soos Noord-Kaaps, Namakwalands en Bolands en maak die bewering dat ek dit nie as ‘suiwer’ genoeg sou ag vir die radio en TV nie. Dis ’n leuen; ek het dit kategories gestel dat variante interessant is en blootstelling moet kry. Ek het dit teen verengelsing en het nou al male sonder tal gesê dat Afrikaans vermeng met Engels nie ’n variant van Afrikaans is nie; dis bloot Afrikaans wat swak gepraat word.

Jy sê jou “ … punt is dat dit selfmoord vir Afrikaans sou wees om byna 70% van sy sprekers te ignoreer by bv RSG en KykNet.” Dis ’n irrelevante stelling want a) wie sou so iets, ten opsigte van enige taal op aarde, ooit kon betwis en b) waar kom die 70% vandaan? Ek het so iets nooit beweer nie en die sprekers van mengeltaal is beslis nie 70% van die Afrikaanssprekende gemeenskap nie.

Jy vra hoe “ … kan jy vir 4.5 tot 5 miljoen Afrikaanssprekende mense sê ons laaik nie julle manier van Afrikaans praat nie, so weg is julle!” Mens kan nie, weer irrelevant of, indien jy beweer ek so iets sou kwytraak, ’n leuen.
Jy beweer Afrikaans “ ... se toekoms, is ek bevrees, lê nie net in die hande van die “suiwer” sprekers daarvan nie.” Moeilik om af te lei presies wat jy hier bedoel; lê die toekoms van, sê Japannees, ook nie net in die hande van die wat ‘suiwer’ Japannees praat nie?

Jou daaropvolgende sin, naamlik “Inteendeel, dis die meerderheid ‘onsuiwer’ sprekers wat gaan bepaal of Afrikaans homself gaan handhaaf en oorleef” is ongeldig, dis bloot ’n persoonlike mening en impliseer dat die volgende geld (wat wel mag wees indien jy grondige redes kan verskaf): 1) Slegs onsuiwer tale kan voortbestaan 2) Afrikaans het Engelse woorde nodig om te kan oorleef 3) Bolands, Namakwalands en Noord-Kaaps is ‘onsuiwer’ Afrikaans [vandaar die 70%] en 4) verengelsde Afrikaans is beter as ‘suiwer’ Afrikaans.

Soos jy al agtergekom het, ek byvoorbeeld glo nie een van bogenoemde vier is waar nie. Laat ek nou weer stel wat ek nog heeltyd sê: Mengeltaal is nie oulik nie, dis nie kreatief nie en doen Afrikaans skade aan vanweë die magdom Engelse woorde wat lukraak ingegooi word. Die gebruik van sulke taal toon ’n traak-my-nie-agtige houding teenoor Afrikaans wat op sigself niks goeds inhou vir die toekoms van Afrikaans nie (en dit is nie net die bruines van die Kaap wat mengeltaal gebruik nie, dit is standaardgebruik by meeste van die aartie-faarties, wit en bruin).
Die kruks van jou brief, Dirk, was nie statistiek nie; dit was die aanwend van verdraaide statistiek om verengelsde en verengelsende Afrikaans te regverdig.

Groetnis
Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • Beste Jan
    Aangesien jy jou voorhou as 'n kenner van Kaaps, moes jy sekerlik al heelwat navorsing gedoen het oor die onderwerp. Dan sal ons ander ouens maar by jou moet kom kers opsteek. Daarom vra ek jou so 'n paar vragies, net om ons ander te help om Kaaps in die regte perspektief te sien.
    Jy beweer dat Kaaps 'n mengeltaal is en 'n mengeltaal, sê jy, is nie oulik nie.
    Gee my asseblief 'n definisie en 'n voorbeeld van 'n oulike taal.
    Is die doel van 'n taal om oulik te wees, of te kommunikeer?
    Wat bedoel jy as jy sê dat Engelse woorde lukraak ingegooi word in Afrikaans?
    Bedoel jy met lukraak sommer enige Engelse woord, maak nie saak of daardie woord se betekenis kontekstueel inpas by die sin of nie?
    Het jy voorbeelde van traak-my-nie-agtige houding by die sprekers van Kaaps teenoor Afrikaans? (Met ander woorde, het jy voorbeelde in jou navorsing gekry waar 'n Afrikaanse woord in Kaaps deur 'n Engelse woord verdring is?)
    Skeer jy die Afrikaanssprekende in Gauteng en die Vrystaat onder dieselfde kam as die spreker van Kaaps? (Met ander woorde, dink jy die mengeltaal wat die Gautengers en die Vrystaters praat, is dieselfde taal as wat die sprekers van Kaaps praat?)
    Het jy bewyse van kleuters wat Kaaps praat, wat eers Engels geleer het en toe Afrikaans geleer het (of andersom) voordat hulle die twee opgemix het en Kaaps begin praat het? (Of stem jy dalk nou saam met my dat dit nie nodig is om Engels en Afrikaans te leer om sodoende Kaaps te verstaan en praat nie?)
    Volgens jou is Kaaps nie kreatief nie. Wat bedoel jy daarmee en wat verstaan jy onder 'n kreatiewe taal?
    Groete
    Angus

  • Dirk
    Eienaardige opmerking van jou hierbo dat ek nou uiteindelik die lig sou sien. Wat ook al jou bedoeling daarmee is, een ding is darem seker; ons is dit eens; jy sien nie dinge anders as ek nie.
    Dus, jy stem saam dat wat hulle 'Kaaps' noem is gebrekkige Afrikaans.
    En dat 'Kaaps' simptomaties van die agteruitgang van Afrikaans is.
    En dat die toekoms van Afrikaans nie lê in die hande van die wat, streng gesproke, nie meer eintlik Afrikaans praat nie, inteendeel.
    En dat 'Kaaps' allesbehalwe 'n variant van Afrikaans is; dit is bloot slordige mengeltaal.
    Aan die anderkant nou weer, die betrokke kommentaar hierbo van jou kan 'n slenter wees; soos 'n bokser wat ooglopend die geveg verloor het maar aan die einde van die geveg sy vuis in die lug druk met die hoop dat die beoordelaars hom as die wenner aanwys.
    Jan Rap

  • Beste Jan
    Jy slaan die spyker op die kop. Kaaps is streng gesproke nie 'n variant van Afrikaans nie. Dis eintlik andersom: Afrikaans is 'n variant van Kaaps.

    Toe Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaap geland het, moes die inheemse volkere, die Boesman en Hottentot eenvoudig Nederlands leer, en dit het veroorsaak dat die taal wat die mense aan die Kaap gepraat het, nie meer geklink het soos die Nederlands wat in Nederland gepraat word nie. Hierdie afwyking (variant) van Nederlands is Kaaps-Hollands genoem. 'n Verdere ontwikkeling hieruit is uiteindelik Afrikaans genoem.

    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top