Wat ’n laggertjie dat ek nou ’n ‘verbete stryd’ teen jou voer. Ek konstateer ’n eenvoudige feit naamlik dat wat ‘Kaaps’ genoem word is bloot swak Afrikaans want dit is deurspek met Engelse woorde. Jy voer ’n verbete stryd om sogenaamde Kaaps te vergoeilik, gaan selfs so ver as om dit ’n variant van Afrikaans te noem.
Wat die tangensiaal betref, ek het dit doelbewus gedoen. Ek wou in die slot dit stel dat Angus nou nie moet fokus op waar ek nie korrekte Afrikaans gebruik nie (spesifiek daardie sinsnede) maar om te hou by die argument. Ek het egter vergeet en die brief gepos sonder om dit te noem. Ook maar goed want het ek nie vergeet nie het jy nie ’n aha-oomblik gehad en dus ’n onderwerp vir jou brief nie.
Maar of jy nou hierdie verduideliking glo of nie (om eerlik te wees, ek sou nie as ek jy was nie); om die boodskapper te skiet versterk nie jou argument nie. Ek sê wat julle ‘Kaaps’ noem is nie goeie taalgebruik nie en jy wys my daarop dat my taalgebruik ook nie goed is nie dus, is die implikasie, Kaaps is goed want ek het mos nou my ‘argument aan flarde geskiet.’ Dis mos absurd.
Jy hou aan met die storie dat ek ’n “voorstander van korrekte Afrikaans en korrekte grammatika” is. Is dit ’n fout; is jy nie ook nie? Ek is in dermate ’n voorstander van korrekte Afrikaans as wat ’n Duitser ten opsigte van korrekte Duits en ’n Engelsman van korrekte Engels is en ek is seker dieselfde geld vir jou en Angus. Ek het al baie gesê ek is nie ’n taalpuris nie; ek is teen die agteruitgaan van Afrikaans, net soos ek teen die uitroei van inheemse bos is ten spyte van die feit dat ek nie ’n ekoloog is nie.
Maar as ek nou die taalpuris is soos jy beweer behoort die feit dat jy my uitgevang het die stand van Afrikaans jou ook tot kommer te stem; Engels sypel al selfs in Jan Rap se Afrikaans in! En, soos jy sê, jy was ook onkant gevang want “ … byna glip die ironie by [jou] verby.”
So van die os op die minorablade en nou dat ek daaraan dink: Enige student in Toegepaste Wiskunde of Fisika het al die eksperiment gedoen van wat met ’n voorwerp gebeur wat skielik van ’n roterende skyf ontkoppel word – hy skiet tangensiaal van die skyf af. Dit is ’n gebeurtenis wat in enige taal beskryf word en sou mens dit figuurlik, met ander woorde ten opsigte van redevoering, toepas, is dit noodwendig ’n Anglisisme? Hoekom? Oor mens dink die Engelse het dit eerste so gebruik? As ek sê “my oom drink” is dit ’n Anglisisme omdat die Engels “my uncle drinks” is?
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap,
Ek het jou uitgevang met jou "tangensiaal". Niemand gaan jou verskoning glo nie. Jy het dit doelbewus gedoen en toe "vergeet" jy om jou swak Afrikaans te verduidelik. Jy is onder die invloed ... van Engels my brother ... Sies vir jou.
Beste Jan,
Afrikaans is weer swak Nederlands, want dis deurspek met Maleis-Portugese, Engelse, Franse, Duitse, Zulu, Hottentotse en Portugese woorde. Buitendien verontagsaam dit die grammatika- en spelreëls.
Groete,
Angus
Dirk
Ek neem jou nie kwalik dat jy my nie glo nie; ek sou ook nie as ek jy was nie. Die feit bly egter bestaan dat geradbraakte Afrikaans nie regverdigbaar is omdat Jan Rap nie ordentlike Afrikaans kan praat nie. Wys jou nou net die invloed van Engels en hoekom ons moet walgooi.
Angus
Jy's verkeerd; Afrikaans is nie deurspek met Maleis-Portugese, Engelse, Duitse, Hottentotse en Portugese woorde nie. Die taalgebruik wat julle 'Kaaps' noem is wel deurspek met Engelse woorde en daarom is dit swak en slordige Afrikaans.
Groete
Jan Rap