Dagsê Dave
Ek herhaal jou navraag hier; daardie kommentaarstring word nou so lank ek weet nie of my antwoord by jou gaan uitkom sou ek jou daar antwoord nie:
Jan, jy maak dit baie duidelik dat jy nie daarvan hou dat daar in geslagsvorm na skepe of motors verwys word nie, maar intussen het jy in jou heel laaste sin besluit dat ons moedertaal eintlik manlik is. Verduidelik asseblief wat jou sò laat besluit het.
Ek het nie besluit dat ons moedertaal manlik is nie, hy is onsydig en die onsydige persoonlike en besitlike voornaamwoorde is SOOS die manlike.
Byvoorbeeld: Die hond is op die stoep. Hy is honger, gee hom kos voor hy weer met sy getjank begin. Hier dui die woorde in kursief op die onsydige. In Engels het die onsydige ’n besitlike voornaamwoord, byvoorbeeld "the puppy is happy, it is wagging its tail" maar in Afrikaans waai die hondjie sy stertjie, nie dit se stertjie nie en ook nie dit is tevrede nie maar hy is tevrede.
Maar:
Die reun is op die stoep. Hy is honger, gee hom kos voor hy weer met sy getjank begin.
Die teef is op die stoep. Sy is honger, gee haar kos voor sy weer met haar getjank begin.
Hier dui die woorde in kursief op die manlike in die eerste sin en die vroulike in die tweede sin.
Groetnis
Jan Rap

