Vir Brianvds oor mane en swaartekrag

  • 6

Brian

Ek het weer bietjie gedink oor die saak en die storie pla my nog, of sal ek sê pla my weer.

Vir ons maan wat teen hoogte h bokant, en omwentelingspoed (tangensiale spoed) v om, die aarde wentel, moet hy teen hoogte h' om Jupiter beweeg om dieselfde omwentelingspoed te handhaaf as om die aarde, of teen omwentelingspoed v' om Jupiter om die selfde hoogte h te handhaaf bokant die aarde, waar h' en v' natuurlik > h en v resp.  Eintlik, streng gesproke, in plaas van hoogte, lees liewer afstand tussen die massamiddelpunte van die aarde/Jupiter en dié van die maan.

Dus, of die maan nou om die aarde of om Jupiter beweeg, dia kragte op elke partikel, van die een by die massamiddelpunt tot die een op die hoogste piek van die maan, is presies dieselfde.  Hulle is almal gewigloos ten opsigte van die planeet waarom hulle beweeg.

Of hoe?

Groetnis

Jan Rap

  • 6

Kommentaar

  • Jan Rap:

    Ek verstaan nie heeltemal wat jy probeer sê nie, en boonop is ek ook geen sterrekundige nie.

    Jy is reg dat die maan in vry val is rondom die aarde (of dan rondom die gesamentlike aarde-maan gravitasiemiddelpunt). Maar nou sou ek dink ’n deeltjie van die maan nader aan die aarde is in ’n laer baan en val vinniger as ’n deeltjie van die "agterkant" van die maan. Daarom dan dat die maan effens "gerek" word. 

    Of om dit anders te stel: gestel ons het twee satelliete wat rondom die aarde wentel, en die een se baan is drieduisend kilometer nader aan die aarde as die ander een s’n. In so situasie sal die binneste satelliet vinniger wentel as die buitenste. Maak hulle nou aan mekaar vas met ’n nylontou, en daardie tou sal uitgerek word. Die maan is (ongeveer) drieduisend kilometer in deursnee, en in plaas van ’n nylontou het ons die maan self as verbinding tussen die naaste en verste deel van die maan.

    Weet nie of dit sin maak nie, en ook nie of ’n fisikus selfs naastenby sou saamstem nie. Dis hoekom ek eerder biologie gestudeer het: my kop is te plat vir fisika. 🙂

  • Beste Jan Rap en Brianvds,

    As ek deur my teleskoop na die maan kyk, sien ek soms meer as net die een kant. Dis asof ek met tye so ’n stukkie van die ander kant ook sien. Julle sterrekundiges sal my miskien kan help. Of dalk moet ons vir Panda vra.

    Groete

    Angus

  • Jan, Brianvds en Angus:

    Aanvanklik – en dan praat ek nou van miljoene jare gelede en nie van die vierde dag van die skepping volgens die Bybelverhaal nie – het die maan net soos die aarde in ’n relatiewe kort periode om sy as roteer en was daar nie soos tans die geval is, ’n agterkant en ’n voorkant nie. Die aarde se swaartekrag het egter met verloop van tyd die maan se rotasie sodanig gerem dat dit tans byna 100% gelyk is aan die periode van een omwenteling om die aarde. Die afwyking wat daar nog is, is die "libration" wat Brian  meld. Ek het na die video op Wiki gekyk – dankie Brian.

    Maar die maan rem ook die aarde se rotasie en Sterrekundiges beweer dat oor honderde  miljoene jare – lank na die era van lewe op aarde – sal die aarde ook soos vanaf die maan waargeneem, net ’n agterkant en ’n voorkant vertoon met ’n daglengte van meer as 672 uur.

    Die enigste persoon hier op die Sê wat ek vermoed miskien vir Jan met sy som sal kan help, is dalk Kobus de Klerk. Ek sien net hy raak bietjie deurmekaar met die terme roteer en wentel en hy praat van die aarde wat om sy as wentel. Koes manne  – tki tkô ká ?

    Panda

  • Brianvds, Dankie vir die skakel.

    Panda, ek dink ook die aarde wentel om sy as; dis nie net Kobus nie. Jy sal my moet reghelp. Soos dit vir my lyk is roteer en wentel sinonieme, behalwe dat roteer nog so ’n ekstra moment bykry. Ek kan dus sê "die wiel roteer", maar ek kan ook sê "die voorsitterskap moet elke jaar roteer".

    Groete

  • Panda:

    Ek sien in ’n woordeboek die Afrikaans vir "libration" is librasie. 

    Maar ek dink jy verstaan dit verkeerd. Die maan se rotasie om sy eie as neem presies so lank soos een omwenteling. Daarom dan dat die maan gemiddeld die hele tyd presies dieselfde kant na die aarde gedraai hou.

    Die maan se baan is egter nie ’n perfekte sirkel nie maar ’n ellips, en die snelheid waarteen hy wentel bly nie konstant nie. Wanneer die maan nader aan die aarde is beweeg hy vinniger, en dan raak sy rotasie om sy as "agter" m.b.t. sy omwenteling. Verder van die aarde af gebeur weer die teenoorgestelde. Dit is om hierdie rede dat mens om die beurt so effens rondom eers die een kant en dan die ander kant kan sien.

    Soos die Wikipedia-artikel aantoon is daar ook ander vorme van librasie ter sprake. 

    Die interessante ding heirvan is dat die aarde, soos gesien vanaf die maan, in min of meer dieselfde posisie bly hang. Maar nie presies dieselfde posisie nie. Oor ’n tydperk van ’n maand sou ’n maanbewoner die aarde effens heen en weer sien wieg in die hemel.

     Librasie en sy oorsake is nogal ’n moeilike ding om te visualiseer en mens moet maar ’n skets daarvan maak. Dan bevind jy jouself in die geselskap van Einstein, as hierdie apokriewe staaltjie geglo kan word:

    Einstein en sy vrou besoek eenmaal ’n splinternuwe teleskoop. Sy vrou is diep beïndruk deur die reusagtige instrument. 

    "Waarvoor gebruik julle dit?" vra sy die sterrekundiges.

    "Hiermee, mevrou Einstein, los ons die diepste geheime van die heelal op," seg ’n sterrekundige heel trots.

    "O?" antwoord sy. "Dit doen my man sommer op die agterkant van ’n ou koevert." 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top