Dankie, menere, vir julle kommentaar en antwoorde! Ek vind dit beslis leersaam en gevul met inligting wat ek nog nie gehad het nie.
Ja, Thys, ek het Bill Bryson se A History of Almost Everything gelees. Ek dink hy kan van die saaiste onderwerpe iets interessants maak. Sy skryfstyl is iets besonders; mens sou sê ek het 'n P G Wodehouse gelees soos ek gelag het. Miskien sal ander nie daarvoor lag nie maar sy manier van dinge stel is vir my net te goed. Byvoorbeeld, in die deel oor fossiele reken hy dis raar, nie enige ding word 'n fossiel nie, " ... jy kan nie sommer in die naaste moeras gaan staan en omkap en dink jy gaan 'n fossiel word nie." Oor mosse en ligene maak hy die opmerking " ... as ek my lewe geplak teen 'n klip in wind en weer moet spandeer weet ek nie of ek die moed sal hê om voort te gaan nie". Hierdie is natuurlik vry vertalings, ek kan nie presies onthou hoe hy dit gestel het nie.
Ek het daarna sy Australiese reisverhaal Down Under gelees en dis hilarieus (nog nie in die woordeboek nie). Ek het navraag gedoen oor of hy dalk 'n Suid-Afrikaanse een geskryf het en ek hoor toe hy was van plan maar, met sy aankoms op Johannesburg-lughawe, is al sy goed gesteel en hy is dadelik terug Amerika toe. Wat's nuut.
Brian ja, die goed smokkel met my kop ook. As hierdie ruis van die oerknal oral om ons is, hoekom het dit nog nie verdwyn nie? En as dit saam met ons uitdy, hoekom kan ons nie die rigting bepaal nie? Ek kon ook nog nooit uitvind of agterkom hoekom hulle sê die uitdying (of inflasie?) kwansuis binne 'n miljoenste van 'n miljoenste van 'n miljoenste en so gaan hulle aan vir nog 'n paar miljoenstes van 'n sekonde gebeur het nie. Wat, byvoorbeeld, van die postulaat sal nie werk nie as die tydsbestek langer was?
Jou verduideliking met die ballon teen die muur maak sin ... soort van. Want nog steeds, as jy byvoorbeeld in 'n hysbak is wat val, is jy gewigloos ten opsigte van die hysbak. Sou die hysbak om die, sê son, swiep soos 'n komeet gaan jy dit nie weet nie want elke partikel van jou liggaam, en van die hysbak, is onderwerp aan presies dieselfde kragte – die mure van die hysbak, of jou vel, gaan nie inkrimp en uitdy soos die wande van jou ballon nie. Ek weet nie, sal nog bietjie dink daaroor.
Net so 'n ietsie vir beide van julle oor pseudo- of alternatiewe wetenskap. Mens kry mense met die rang 'wetenskaplike', hulle werk vir die Buro vir Standaarde, die WNNR, die destydse Pelindaba en so aan en hulle dra wit stofjasse. Hulle werk kantoorure en gaan huis toe na 'n dag se harde werk, meestal roetinewerk. Ek het niks teen hulle nie; hulle werk net so hard soos enige ander professionele mens.
Maar dan kry jy die 'mal' wetenskaplikes, ouens wat teen die goeie raad van hulle kollegas 'n ding najaag wat hulle in hulle water voel waar moet wees. Baie keer doen hulle dit op eie koste en werk nagte deur. Tesla was in 'n groot mate so 'n wetenskaplike, so ook die ou wat insulien ontdek (of liewer isoleer) het, die geskiedenis is vol van hulle. Hulle werk baie keer aan goed wat deur die hoofstroomwetenskap as iets soos alchemie beskou word. Dokters het byvoorbeeld op 'n stadium akupunktuur afgelag.
Wat ek sê wees oopkop; moenie iets afskryf wat belaglik of absurd lyk nie. Georg Gamow het 'n oulike boekie daaroor geskryf, kan nie nou die titel onthou nie (hy is hier iewers in my boekrakke maar om hom nou te gaan soek gaan net te veel PT wees).
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap: Wat die oerknal betref het ek nie juis verdere raad nie. Ek is geen fisikus nie, en blykbaar verg dit meer kennis van wiskunde as wat meeste van ons het om werklik die kwessie te verstaan. Ek kon nog nooit ’n populêre wetenskapboek in die hande kry wat dit op so manier verduidelik dat ek enigsins kop of stert daarvan kan uitmaak nie. Ek verstaan dus sommige van die getuienis dat dit plaasgevind het, maar weet van die details van die proses heeltemal niks.
Wat die gety-effek betref: elke partikel in jou liggaam is nie onderwerp aan presies dieselfde kragte nie, want jou kop is effens verder van die aarde as jou voete. Die aarde trek dus effens harder aan jou voete as aan jou kop, en dit veroorsaak dat jy effens langer gerek word. Soos jy jou kan indink is jou liggaam klein genoeg dat die effek min of meer onmeetbaar is. Daarom dan dat gety-effekte in die reël net van toepassing is by groot voorwerpe soos planete en mane.
Dit hang wel ook af van die gravitasie wat betrokke is. Jy sal dalk onthou van die komeet wat so dekade of wat gelede so skouspelagtig met Jupiter gebots het. Hy was in verskeie dele opgebreek, en dit is getykragte wat dit veroorsaak het, gedeeltelik omdat Jupiter ’n baie sterk gravitasieveld het, en gedeeltelik omdat komete uit ys en stof bestaan en dus nie baie sterk is nie sodat hulle relatief maklik uitmekaargetrek word.
Dieselfde verskynsel geld ringe rondom planete: nader as ’n sekere afstand aan ’n planeet word ’n maan deur getykragte uitmekaargetrek, of, as daar deeltjies in omwenteling is, verhoed getykragte dat hulle tot ’n maan kan saamsmelt.
Laastens, dit is wel so dat mens oopkop moet wees, maar jou kop moet ook nie so oop wees dat jou brein uitval nie. Dit is moeilik om ’n balans tussen die twee te handhaaf, en mense sal altyd verskil oor waar die korrekte balans is. As jy te skepties is boet jy in aan kreatiwiteit en word ’n burokraat eerder as ’n wetenskaplike, as jy te oopkop is word jy ’n pseudowetenskaplike wat enige ding sal glo solank dit omstrede is.
Hou egter in gedate dat op die lang termyn net een ding wetenskaplike debatte kan besleg, en dit is waarneembare getuienis. In die aangesig daarvan word selfs die mees toekop-waarnemers op die ou end oortuig (of hulle sterf af en laat die veld oop vir ’n jonger geslag). Dit is hoe die wetenskap tot dusver gewerk het en hoe hy sal aanhou werk.
Richard Feynman het ’n paar interessante idees daaroor gehad, maar ek het nie nou tyd om daarop in te gaan nie. As jy belangstel sal ek dalk later meer daaroor skryf.
Dankie Brianvds, jou verduidelikings maak sin. Ek sal graag hoor van Richard Feynman se interessante idees, hy was werklik een fyne kêrel.
Goeie antwoord, Brian.
Jan Rap: Feynman was bra skepties oor "alternatiewe" wetenskap. Hy het dit eenkeer mooi uiteengesit.
Alle wetenskaplike idees (seg Feynman) word aanvanklik met skeptisisme bejeën. Vandag is ons so gewoond aan idees soos die sferiese aarde wat om die son wentel, of Newton se gravitasieteorie, of atome, dat ons maklik vergeet dat hierdie idees ook aanvanklik afgelag is.
Maar beteken dit noodwendig dat idees wat afgelag is eendag nog as waar aanvaar gaan word? Daar is net een manier om ’n idee in die wetenskap te beoordeel, en dit is om dit aan steeds strenger toetse te onderwerp. Dit weet ons almal (hopelik) maar die ding wat Feynman opgemark het is dit: as die idee meriete het, dan verminder die effek nie hoe strenger en hoe meer gekontroleerd die toetse word nie. Inteendeel, hoe strenger jy die idee toets, en hoe meer maatreëls jy inbou om toeval en bedrog en selfbedrog uit te skakel, hoe sterker en duideliker word die effek.
Neem bv. Einstein se relatiwiteitsteorie. Einstein het ’n Nobelprys gewen, maar nie vir relatiwiteit nie – die Nobelkomitee het dit in daardie dae as te omstrede beskou! Einstein maak toe ’n paar voorstelle oor hoe om die idee te toets. Die idee slaag die toetse, en relatiwistiese effekte word waargeneem, min of meer soos Einstein voorspel het. Maar die toetse is aanvanklik nog bietjie kru. Dalk is die waargenome effekte bloot metingsfoute? Of die teorie is half reg maar sy voorspellings nie baie akkuraat nie? Dus word daar toe steeds meer gesofistikeerde toetse uitgevoer, met steeds meer akkurate apparaat, en steeds meer maatreëls word getref om seker te maak die ding word reg gedoen.
Dit is ’n voorbeeld van wetenskaplike skeptisisme in aksie. En wat was die resultaat? Hoe strenger die toetse, hoe nader is hul resultate aan wat Einstein voorspel.
Hierdie selfde ding sal jy sien met elke toerie in hoofstroomwetenskap, of dit nou relatiwiteit is of atoomteorie of evolusie of kontinentale drywing: die teorie begin aanvanklik as ’n omstrede (of grootliks geïgnoreerde!) hipotese, maar hoe meer hulle hom toets, hoe meer en hoe wyer word hy aanvaar. Strenger en meer skeptiese toetse is nie sy vyand nie maar sy vriend, want hoe strenger en hoe meer skepties jy hom toets, hoe sterker staan hy.
Met pseudowetenskappe gebeur presies die teenoorgestelde: hoe strenger die toetse, hoe meer is die beweerde effek geneig om te verdwyn. Dit is wat gebeur met goed soos astrologie, psigiese verskynsels, spoke, vlieënde pierings ens. En dan ook kwaksalwery soos homeopatie. En, helaas, ook nogal ’n beduidende deel van moderne hoofstroom-mediese navorsing, maar dit is weer ’n ander storie.
Feynman se idee was dus dat een handige manier om na hipoteses te kyk is om bietjie op hul geskiedenis in te gaan. Hoeveel keer is hul al getoets? Wat gebeur wanneer die toetse strenger raak, en meer maatreëls getref word om bedrog, selfbedrog of statistiese uitskieters uit te skakel? Kla die voorstanders van die teorie wanneer strenger toetse gedoen word dat die skeptici nie oopkop genoeg is nie?
Einstein het nie een keer gekla dat hulle sy teorie te streng toets nie. Dit was nie nodig nie. Enige idee wat versigtig teen toetsing beskerm moet word laat my alarmklokkies afgaan.
Feynman sê so, so daar het jy dit. 🙂