Hallo Angus
Ek reageer op jou brief van 5 deser aan my.
Eers 'n regstelling: Jy sê ek " ... beskou Afrikaans vanuit ’n kultuuroogpunt; soos dit geërf is van ons voorvaders, so moet dit behoue bly, en vreemde invloede moet ten alle koste afgeweer en uitgeroei word." Verkeerd; ek het al by herhaling gesê Afrikaans is, soos Russies, Frans, Duits ens 'n lewende taal en dat, soos Afrikaans nie meer dieselfde is wat in 1857 (datum oorspronklik deur jou of Wouter genoem) gepraat is nie, so is Duits, Frans, Russies, Engels ens ook nie meer dieselfde as wat in 1857 gepraat was nie.
Waar ons wel ooglopend verskil is wat taalvermenging behels. Jy, uit 'n sogenaamd linguistiese oogpunt, beskou vermenging as deel van die taal se 'lewe' (ek vermy nou maar 'groei') waar ek dit as verarming, en dus noodwendig die kwyn van 'n taal beskou. Wat jy as 'leengoed' beskou is woorde vanuit ander tale wat dinge en begrippe beskryf waarvoor daar, hoofsaaklik, nie gepaste woorde in die, noem dit maar ontvangstaal, bestaan nie. Leenwoorde en mengeltaal is verskillende goed.
Woorde soos trek, veld, vlei, braai en voetstoots is enkele voorbeelde van aanvaarde woorde vanuit Afrikaans in Engels en kom heel waarskynlik in hulle woordeboeke voor. Russies het byvoorbeeld baie Hollandse woorde in soos onder andere kompas en stuurman en Engels het ook heelparty woorde van Hollandse oorsprong soos onder andere yacht en steak. Woorde soos piering, baie, kierie, kabeljou, maaifoedie ens is weer voorbeelde van woorde wat vanuit ander tale in Afrikaans opgeneem is en kom heel waarskynlik in ons woordeboeke voor (en natuurlik sal daar 'n paar wees wat ook van Engels afkomstig is).
Daarmee sê ek nie in enige taal mag mens slegs woorde gebruik wat in 'n woordeboek voorkom nie want soos tegnologie, wetenskap en geesteswetenskap ontwikkel sal die woordeskat toeneem en woordeboeke sal later opvang. Mens hoef egter nie eers 'n fyn aanvoeling vir taal te hê om te besef dat "ons is nie ge-involve nie cause why ons was nog nooit ge-introduce nie" slordige spraak is teenoor " ons was nie betrek nie omdat ons nog nooit voorgestel was nie." Nie een van daardie 'leenwoorde' vervang 'n woord wat nie in Afrikaans bestaan nie (en dis buitendien nie eers in die woordeboek nie).
Jy sê alle tale is mengeltale. Hang af wat jy met 'mengeltale' bedoel. As jy daarmee bedoel dat almal omtrent elke derde of vierde woord met dié van 'n vreemde taal vervang word is jy verkeerd, dit is slang. As jy bedoel alle tale is onderling deur ander tale beïnvloed dan is jy reg maar hulle gaan voort as 'n aparte 'lyn', kan jy sê (soos in evolusie; as die mens en die gorilla dieselfde voorouer het beteken dit nie die mens en die gorilla is gemeng nie) en gemengde taal, soos die voorbeeld hierbo, staan dan uit soos 'n ryp puisie op jou bolip.
Jy sê "In par. 2 gee jy toe dat so een of twee woorde Afrikaans as jy Duits praat nie saak maak nie." Jy lees nie mooi nie; ek het nooit so-iets gesê nie, jy verdraai my woorde. Ek het gesê as ek Duits probeer praat en gooi hier en daar 'n Afrikaanse woord in wanneer ek vashaak gaan geen Duitser dink ek bou aan hulle taal nie. Indien, uiteindelik, 'n paar tipies Afrikaanse woorde in Duits opgeneem word dan is dit nou maar so maar geen Duitser gaan Afrikaanse woorde vir begrippe gebruik waarvoor daar Duitse woorde bestaan nie.
En sou hulle ook, as 'n soort van 'n modegier, oral Afrikaanse woorde indruk is Afrikaans nie 'n bedreiging vir Duits omdat die televisie, die koerante, die spyskaarte, die belastingvorms, die aanwysings op gereedskap en implemente, die vakansiebrosjures en die selfone aldaar in nie Afrikaans is nie. Hier is al daardie goed in Engels en op die manier is dit dan wel 'n bedreiging vir Afrikaans soos ons reeds kan sien aan die manier waarop mense Afrikaans praat.
Jy is reg waar jy impliseer Afrikaans het juis ontstaan deur die gebrekkige praat van Hollands (gebrek aan woordeboeke, grammatikaboeke ens). Soos dinge ontwikkel het, het hulle toe wel woordeboeke en grammatikaboeke daargestel, hulle het as't ware hergroepeer en weer voortgegaan (soos ek vermoed met alle tale gebeur het want op 'n stadium het geen van vandag se tale nie bestaan nie).
Jy reken ek verdraai jou woorde deur te beweer jy's besig met 'n sirkelargument. Onwaar; ek het dit juis teen die oorname van Engels wat jy op jou beurt weer as aanpassing beskou en jy't gesê as Afrikaans nie aanpas nie gaan hy deur Engels oorgeneem word. Dus: Afrikaans moet verlief neem om deur Engels oorgeneem te word anders gaan hy deur Engels oorgeneem word.
Jy sê jy staan nog en dink aan grammatika dan het die Kaapse outjie jou al sleggesê. Hoekom moet jy nog dink voor jy praat? Kan jy nie jou eie taal praat nie? En hoekom het die Kaapse outjie nie nodig gehad om te dink nie? Is dit omdat hy nie die Afrikaanse woorde ken nie maar wel die Engelse woorde? Daardie stelling van jou maak nie sin nie.
Terloops, wat jou voorbeelde van leenwoorde uit Engels betref: die Engels vir 'brutaal' is nie 'brutal' nie, net soos die Engels vir 'braaf' nie 'brave' is nie en vir 'dapper' nie 'dapper' is nie. Ek weet ook nie hoekom jy 'angstig' aanhaal nie; van watter Engelse woord sou dit kom?
So, om op te som: Weens druk van amper allesoorheersende Engels (die media, reklamewese, vermaaklikheidswêreld, vyandigheid van die regering en algemene traak-my-nie-agtigheid en gedienstigheid van die Afrikaanssprekende) is Afrikaans besig om te verarm en dus agteruit te gaan. Hierdie agteruitgang manifesteer in slordige mengeltaal, iets wat nie in ander tale tot so 'n groot mate voorkom nie. Mengeltaal is bloot slordigheid en verteenwoordig nie aanpassing, uitbreiding of groei nie maar wel gestadigde dood. Opneem van Engelse woorde is dus vanweë dwang en dit dui nie op natuurlike aanpassing nie maar versmoring.
'n Paar Puntjies van orde: Natuurlike seleksie en lukrake mutasie werk juis so dat die foute uitgegooi word. As 'n ding sodanig muteer dat hy nie aangepas is nie sterf hy uit. Ook, natuurlike seleksie werk juis so dat die mees aangepaste oorleef. Dus, per definisie, is evolusie die proses van ontslae raak van foute.
Die ander ding is die verwantskap tussen Skots, Engels en Gaelic of dan Gallies:
Hier is die Galliese klassifikasie:
Indo-Europees
Kelties (6 tale)
Geïsoleerd (Insulêr)
Britonies (3)
Breton (Frankryk)
Cornies (VK)
Wallies (VK)
Giodelies (3)
Skotse Gallies (VK)
Iers (Ierland)
Manx (Eiland Man)
Hier is waar Engels voorkom:
Indo-Europees
Germaans (48 tale)
Wes-Germaans (41 tale)
Engels (2 tale)
Engels (VK)
Skots (VK)
Vir interessantheid, hier is Afrikaans se klassifikasie:
Indo-Europees
Germaans (48)
Laersaksies-LaerFrankonies (15 tale)
Laerfrankonies (4 tale)
Afrikaans (SA)
Nederlands (Nederland)
Vlaams (België)
Zeeuws (Nederland)
Bron: Ethnologue of World Languages
Dus, Skots is 'n soort van Engels maar Skotse Gallies, die taal wat hulle oorspronklik gepraat het, is nie eers 'n Germaanse taal nie maar 'n Keltiese taal).
Nou-ja, tot hiertoe dan
Jan Rap
Kommentaar