Vir Angus oor "mens"

  • 1

Dagsê Angus

Jy sê die volgende onderaan my brief aan Magdaleen-hulle:

Maar, nou is dit tyd dat Jan Rap ook geraps word. Hy sê: "Mens moet mos reg praat as mens vir ’n Afrikaanse stasie werk of hoe?"   Dit is ’n Anglisistiese konstruksie na aanleiding van bv. "One should know where one is going."

Die konstruksie van die generiese voornaamwoord is " ’n mens" gevolg deur "jy" en "jou", daarom : " ’n Mens moet mos reg praat as jy vir ’n Afrikaanse stasie werk of hoe?" (Dan moet jy let op jou uitspraak.)

Indien "mens" as naamwoord gebruik word, lyk dit so: "Die mens moet weet wat hy doen."

Ek het dit nooit geweet nie; wys jou, mens, ’skuus, ’n mens, is nooit te oud om te leer nie.  Dankie vir die teregwysing.  Laat my dink aan nou die dag toe een van die gesinslede vir ons Jack Russell betig het.  "Uli", het sy gesê, "mens lek nie so aan mens se piepie in geselskap as mens ’n ordentlike hondjie is nie."  So wat jy sê is die eerste ’mens’ moes ’n onbepaalde lidwoord bygekry het en die tweede moes deur ’jy’ vervang gewees het. 

Ek sal dit onthou, dit is nou as jy heeltemal reg is.  Ek het altyd gereken ’mens’, sonder die onbepaalde lidwoord, is soos die Duitse ’man’, soos byvoorbeeld "man soll nie allein trinken" wat ’n ander betekenis het as "ein Mann soll nie allein trinken".  Die eerste een vertaal as "mens behoort nooit alleen te drink nie" en die tweede as "’n man behoort nooit alleen te drink nie".  As mens sê " ’n mens ...." sal dit dan nie vertaal word met "ein Mensch ..." nie? 

Die Engelse "man" is dalk "die mens".  Byvoorbeeld, "man has been trying to fly for ages" vertaal as  "DIE mens probeer al vir eeue vlieg".  Die Engelse "one" kan vertaal word met "mens" of, soos jy sê, " ’n mens" of met "jy" en "jou".  Trouens, die Engelse gebruik ook "you" in plaas van "one".  "One should always remember to wear one’s hat" is ekwivalent aan " you should always remember to wear your hat ".  Nooit, egter, sover ek weet, " One should always remember to wear your hat" nie en dit klink vir my net so verkeerd as " ’n mens (of ’mens’) moet altyd onthou om sy hoed te dra" (ek moet sê, vir my klink dit nie eintlik of daar ’n verskil tussen ’mens’ en ’ ’n mens’ is nie).

Jammer Jelleke skryf nie meer hier nie; sy sou die storie kon verduidelik.

Groetnis

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jan,

    Dit is so dat die Duitse man vertaal in Afrikaans 'n mens of iemand is. Daarmee stry ek nie. 
    As ek jou nou reg verstaan, wil jy hê dat ons Duitse en Engelse konstruksies op Afrikaans van toepassing moet maak, en dit kan mos nie wees nie? Die eerstepersoonsvoornaamwoord in Duits is wir, in Engels is dit we, en in Nederlands is dit wij. In Afrikaans is dit ons. Volgens jou moet ons in Afrikaans dus praat van wy.
    Dit bring my by die volgende: indien Afrikaanssprekendes mens i.p.v. 'n mens gebruik, sal dit die taalreel word. Netso sal taalvermenging ook  Afrikaans word as almal so praat, al klink dit gruwelike vrot taal. Dit is maar evolusie se natuurlike seleksie wat aan die werk is, en soos ons almal weet kan natuurlike seleksie verskriklik brou en soms verbrou. Die oppervlaktestruktuur van enige taal is ook gedurig onderhewig aan verandering en aanpassing.
     
    Jy is gekant teen vreemde invloed op Afrikaans, maar aan die anderkant wil jy hê dat dit wat vir ander tale geld, ook  van toepassing gemaak word op Afrikaans. Bring vir my asseblief die kloutjie by die oor. 
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top