Vir Angus oor ‘vervang’ en ‘uitbrei’

  • 1

Beste Angus

Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief ’nuwe definisies en betekenisse’, 23 deser.

Jy sê ek raak ‘ ... aan een van talle maniere waarop 'n lewende taal sy reikwydte vergroot, sy woordeskat uitbrei.’ Verkeerd. Inteendeel, ek wys op een van die talle maniere waarop ’n taal ten gronde gaan, naamlik, in ons geval, vervanging van Afrikaanse woorde deur Engelse woorde. Logieserwys, as woorde vervang word is daar nie sprake van uitbreiding nie; as Engelse woorde naderhand al die Afrikaanse woorde vervang het, het Afrikaans nie uitgebrei nie want die sprekers het bloot Afrikaans vervang met Engels.

Mens hoef nie ’n linguis te wees om die verskil tussen indringing en groei te sien nie. ’n Parasiet wat binne ’n organisme groei verbeter nie die organisme nie; hy maak hom uiteindelik dood.

Hierdie agteruitgang van Afrikaans blyk duidelik uit volgende voorbeelde: Mengeltaal, vgl ‘usually as ek vir my goals geset het achieve ek hulle.’ Swak taalgebruik soos ‘vir dit’, ‘van dit’ ens. Ook ‘mees interessantste’, ‘in terme van’, ‘kyk uit vir’, ‘ek maak hom ’n offer’, ‘hy lyk van’, ‘jy moet daarmee deel’, ‘hulle hardloop uit spasie uit’ of ‘ ’n program hardloop’.

Luister na die resepte op die radio; ‘ghaliek’ in plaas van ‘knoffel’, ‘babawortels’, babaslaaiblare’ ens ens, die voorbeelde is legio. En as iemand toevallig die Afrikaanse woord vir ’n krui of ’n groente gee, bel die mense in en vra wat dit in Engels is.

Die volgende sinsnedes: ‘... die Engelsman sê dit vir my so mooi ....’, ‘die Engelse woord is ...’, ek kan nou nie op die Afrikaans kom nie ...’, in Engels noem hulle dit ...’ ens. Sommige mense gebruik nie eers hierdie sinsnedes nie, hulle gebruik bloot net die Engelse woord.

Afrikaanse predikante wat lang stukke Engels gebruik (dit begin lyk of dit onmoontlik is om die saligheid te beërwe as jy nie Engels ken nie). Engelse liedjies wat in Afrikaanse kerke gesing word. Welsynsorganisasies wat deur Afrikaanse mense gestig en bedryf word maar die naam (en die webwerf) is Engels.

Die glanstydskrif VISIE wat Engels geword het.

Afwesigheid van Afrikaans by SanParke.

Afwesigheid van Afrikaans by staats- en semistaatsinstansies.

Afwesigheid van Afrikaans by restourante, hotelle, kafees, winkels ens.

Afrikaanse universiteite wat verdwyn het en Afrikaanse skole wat besig is om te verdwyn.

Afrikaanse straat-, dorp- en plekname wat verdwyn.

Vyandigheid van die regering jeens Afrikaans; vgl nou weer die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns wat Afrikaans uitgegooi het.

Afrikaanse mense wat Engels as onderrigtaal voorstel (vandag oor die radio gehoor).

Meeste van bogenoemde is natuurlik ons eie toedoen; ons is mos die geduldige, gedienstige en gedweë volkie wat nie golfies maak nie. Kyk nou weer byvoorbeeld hoe buig die nuwe rektor by US agteroor, dit is om van te ween.

Wat jou Newspeak-storie betref: Niemand verbied enigiemand om woorde te gebruik nie behalwe natuurlik die grammatika van die taal. Grammatika is egter nie statutêr nie, dit is jou keuse as jy ’n gemors van jou taal wil maak. Dus kan grammatika, soos Big Brother volgens jou, ook nie bepaal wat jy dink nie, kon ook nog nooit nie. Die Gedanken sind Frei (luister bietjie https://www.youtube.com/watch?v=3TdEtctcY0s)

Groetnis

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jan

    Jy het my vir ʼn oomblik laat skrik; ek dag ek het ʼn maand lank geslaap, (amper soos ʼn Rip van Winkel) toe jy verwys na ʼn brief van 23 deser. Gelukkig het ek die almanak byderhand wat bevestig dat dit vandag 5 Mei 2015 is, en nie dalk 25 of 31 Mei nie.

    Dit help nie dat ek ʼn gesprek met jou voer oor enigiets nie, want jy skiet absoluut alles af wat ek sê met 'verkeerd'.

    Die hele probleem lê by die verskillende benaderings. Jy kyk deur ʼn politieke bril na Afrikaans, en suiwer linguistiese beginsels is dan vir jou onaanvaarbaar. So sterk is jou politieke bril gekleur, dat jy my sommer daarvan beskuldig dat ek vermenging van taal voorskryf.

    Let wel, ek praat niks goed of niks sleg nie, ek beskryf slegs wat ek sien en hoor wat gebeur, en ek probeer vasstel waarom mense praat soos hulle praat. As ʼn Engelse woord in Afrikaans gebruik word deur iemand, moet daar ʼn rede voor wees. Afrikaans is al ʼn sterk taal, en Engels wat ʼn nog groter en sterker taal is, kan hom onmoontlik verarm, eerder verryk. Dit is ʼn linguistiese beginsel wat geld, nie net vir Afrikaans en Engels nie, maar vir alle tale. Dit is hoe Afrikaans self ontstaan het. Selfs al vervang ʼn woord ʼn ander woord met dieselfde betekenis, verryk dit nog ʼn taal. Dit gebeur egter selde, indien ooit, want selfs met sinonieme is daar nie algehele sinonimie nie. Daar is altyd gevoelsverskille.

    “Verkeerd”, skreeu die politikus vanaf sy politieke kateder, met vuiste gebal. So hewig stoot die bloed in sy are op, dat hy ook nou nie meer weet wat hy verdedig en wat hy beveg nie. Watter windmeul sal Don Quijote op sy perd, Rosinante, nou stormloop? Sal hy die swak gebruik van taal, die vertrap van die Afrikaanse grammatika stormloop, of sal hy daardie groter windmeul, die verdringing van Afrikaans uit restourante, staatsinstansies, die onderwys, gaan plat kap met sy swaard?

    As ons hierdie gesprek voortsit, moet ons besluit op watter grond dit moet plaasvind: linguisties of polities. Die een kan nie die ander se waarde met sy eie norme bepaal nie.

    Groete
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top