Vir Angus oor verdraaiing (sy kommentaar onder aan my brief van 3 deser)

  • 1

Beste Angus

Jy’s reg, ek het verkeerd gelees wat jy gesê het oor die grammatika van kunsmatige tale, my fout, jammer.  My opmerking was egter terloops – die sin het begin met ‘terloops’ – en wat jy, of ek, oor die grammatika van kunsmatige tale dink het niks met die bespreking te doen nie.

In my laaste brief sê ek in die laaste sin, en dit nogal tussen hakies, dat volgens jou die taal wat hulle op die sepies praat Kaaps is.  As dit verkeerd is vra ek om verskoning maar, met jou verdediging van daardie sepiespreekwyse en gedurige verwysing na Kaaps kan jy my nie eintlik verkwalik dat ek onder die indruk verkeer dat volgens jou die sepietaal Kaaps is nie.  Jy sê ook pertinent in jou brief op 3 deser “Jy [Jan Rap] verwar die invloed wat Engels vandag het met die Engels wat jy hoor as iemand Kaaps praat.”  So jy weet daar is Engels in Kaaps.

Jy sê jy praat nie met iemand wat jou woorde verdraai nie so op my beurt vra ek jou waar ek jou woorde verdraai het – die stukkie oor die mislees wat betref kunsmatige tale se grammatika?  Die feit dat ek verkeerdelik (volgens jou) dink jy onder die indruk is dat wat hulle op die sepies praat Kaaps is?  Verteenwoordig dit nou verdraaiing van jou woorde? 

Jy het by meer as een geleentheid my daarvan beskuldig dat ek wil hê mense moet met ’n woordeboek onder die arm rondloop en telkens het ek jou daarop gewys dat ek glad nie so iets propageer nie.  Ek het nie my kop in die sand gedruk en gekla dat jy my woorde verdraai nie, want alhoewel dit wel die geval is (verdraaiing) voel ek dit het niks met die bespreking te doen of Engfrikaans bloot swak Afrikaans is of, daarenteen, die geboorte van ’n nuwe taal is nie.

Groetnis

Jan Rap

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Verskoning aanvaar.
    Jou verdere skrywe bewys dat jy nie lees wat ek skryf nie. Ek sal dus my asem mors as ek weer die hele geskiedenis van Afrikaans aan jou verduidelik. Jy sal dit tog nie lees nie.
    Natuurlik is daar baie Engels in Kaaps. Ek het tog al herhaalde kere aan jou verduidelik hoe dit daar gekom het. Kaaps het met Engels in aanraking gekom toe die Engelse die Kaap beset het. Kaaps het onder invloed van Engels gekom deur middel van die Britse Setlaars van 1820. Kaaps is polities onderdruk deur lord Charles Somerset se onderdrukkende taalwette.
    Met die bewuswording van die Afrikaner (ik ben een Afrikaander) is dit hierdie einste Kaaps met sy Engels en al, wat Afrikaans geword het in1875, met sy eie koerant, De Patriot. SJ du Toit (Totius se pa) het nog vir die nuwe taal ʼn grammatika geskryf, Eerste Beginsels van die Afrikaanse Taal.
    Ek het ook al aan jou verduidelik dat ʼn weerstand teen Engels, Engels, alles Engels, begin opbou het, en daar is begin met ʼn suiweringsproses wat uiteindelik gelei het tot Standaardafrikaans.
    Kaaps as taal, met sy Engels daarby, het nog bly voortbestaan veral by die Bruinmense. Daar was nie die taaltrots teenwoordig om te suiwer nie.
    Die Vermenging van Afrikaans en Engels waarteen jy so te velde trek is gewone Afrikaans, Standaardafrikaans, wat Engelse woorde in sy woordeskat opneem, en dit gebeur sommer hier voor ons oë. Dit lyk my die Afrikaanssprekende het moeg geword om gedurig Afrikaanse woorde te skep vir Engelse woorde. Hulle neem dit sommer direk oor, so pens en pootjies. Amazing, is dit nie?
    Afrikaans word vandag polities bedreig, en dit moet ons met alle mag beveg. Afrikaans is in die verlede ook polities bedreig: eers deur Lord Charles Somerset se wette en daarna weer na die Engelse oorlog. Dit het Afrikaans net versterk, en hierdie hedendaagse aanslag sal ons taal ook ten goede wees.
    Jou tweede beswaar, nl die “lukraak” (hoe lekker lag ek nou!) opneem en gebruik van Engelse woorde, het ek geen probleem mee nie. Afrikaans is al sterk genoeg om dit te absorbeer, en te verafrikaans. Dit kan net taalverrykend wees, want Engels is self ʼn kragtige taal en dit sal nie skadelik wees om so bietjie daar te leen nie. Toe ek in Nederland was, was ek verbaas hoe baie Engelse woorde in Nederlands voorkom. My pak klere het ek daar by die Drycleaners laat droogskoonmaak, en dit maak nie eens ʼn ou duikie aan die taal nie.
    Toe jy aan my verduidelik het wat ʼn leenwoord is, het jy gesê dat as die woord nie in die woordeboek opgeneem is nie, is dit nie ʼn leenwoord nie, en dan mag dit nie gebruik word nie. Dit beteken mos dat Afrikaanssprekendes hulle woordeboeke moet saamdra as hulle praat. Hoe sal hulle weet of hulle ʼn woord mag gebruik as die woordeboek by die huis lê?
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top