Vir Angus oor sy verdere linguistiek- en grammatikales aan my op 23 Maart

  • 2

Beste Angus

Jy reken jy het lank terug aan my verduidelik dat ‘Logika’ en ‘Grammatika’ verwant is aan mekaar.  Ek kan dit nie onthou nie, maar indien jy het, het ek vergeet hoe jy die verwantskap verduidelik het so ek sal dit waardeer as jy weer verduidelik.

Jy skryf die twee begrippe met hoofletters, so al asof hulle vakrigtings is.  Logika is miskien ’n vakrigting (Logika 101?).  Ek weet egter nie van Grammatika nie tensy jy Linguistiek bedoel het, dalk ’n vingerfoutjie begaan en per ongeluk ‘Grammatika’ geskryf.

Hoe dit ook al sy, die beoefening van logika vind neerslag oral in die lewe, soos ook in alle vakrigtings - in wiskunde, in loodgietery, in filosofie, in messel- en skrynwerk, oral.  Jou stelling is bloot die konstatering van die vanselfsprekende, oorbodig dus. 

Jy sê dat ek “... onkundig is oor wat Linguistiek, Grammatika, Grammatikaterme, taalonderrig, taalontwikkeling en teorie is.”  Mag so wees maar ek het vir jou ’n uiteensetting gegee van hoe ek linguistiek en grammatika sien so jy moet my vertel waar ek dwaal – mens is nooit te oud om te leer nie.

Jy sê die outjie wat grammatikaal korrek praat weet niks van grammatika nie.  Dis ’n teenstrydigheid – ek het al male sonder tal vir jou gesê jy kan nie ’n taal praat as jy nie die grammatika ken nie.  Jy hoef nie die TERME van grammatika te ken nie (hoeveel van ons ken dit in elk geval?) maar as jy nie die grammatika self onder die knie het nie, kan jy nie die taal praat nie.  Die blote feit dat die outjie sê ‘ich bin’ in plaas van ‘ich bist/ist/sind/seid’ is ’n bewys dat hy die grammatika ken; hy praat korrek.  Ek het hierdie al jare terug aan jou verduidelik toe jy julle huishulp as voorbeeld aangehaal het.  Ek sê wéér vir jou, die woordeskat plus die grammatika IS die taal.  So, niemand kom en SKRYF vir ’n taal ’n grammatika soos jy beweer nie – hy kom net en stel die BESTAANDE grammatika ten boek.

Wat jy oor Chomsky sê is baie interessant.  Ek sal graag meer wil weet; vertel my van hierdie nuwe ding van hom betreffende die linguistiek.  Persoonlik dink ek Chomsky is bietjie hoog aangeslaan; dalk ’n goeie pers gehad of so iets, om een of ander rede baie populêr onder sy portuurgroep.  Maar jy sal my seker kan inlig oor die ware toedrag van sake.

Wat die Engelse woorde betref wat volgens jou op so ’n ‘heel natuurlike wyse’ wyse in Afrikaans voorkom; dit is NIE heel natuurlik nie.  Jy MOET Engels by die belastingkantoor praat, jy MOET Engels by die polisie-aanklagkantoor praat, jy MOET Engels by jou werk praat en jy MOET Engels met jou mediese fonds praat (myne sê “press 1 for English, 2 for Xhosa and 3 for Zulu” en daar hou dit op). Selfde geld vir die universiteite, kafees, restourante, ander staatsdepartemente en munisipaliteite. So, Engels word in ons kele afgedruk en as jy apaties teenoor Afrikaans is dan sal jy daardie geradbraakte slordige taal praat soos in die sepies.

Jy sê vir jou ‘taalgevoel is dit lelik om so te praat’, so met die Engels gemeng.  Juistement, dit is lelik omdat dit gewoon verkeerd is, want dit is slordige mengeltaal.  As jy “... as linguis ...  objektief teenoor die saak staan” sal jy dit juis veroordeel.  Die enigste rede hoekom jy dit vergoeilik is weens die politieke klimaat; bang jy trap op iemand se tone, want suiwer Afrikaans sou mos nou kamtig ‘bagasie’ hê.  Wat jy ten opsigte van die linguis doen, of nie doen nie, het ek nie ’n saak mee nie (jy sê mos jy kan hom nie voorskryf nie) maar jy kan wel vir die slordige spreker op sy dwaling wys (net soos tov slordige kleredrag, of sang, of skrynwerk, of verf).  Om die waarheid te sê, dis eintlik jou plig (veral as jy ’n linguis is).

Jy sê aan die rigting wat taal inslaan kan niemand iets doen nie.  Miskien nie aan die groei of ontwikkeling van die taal nie, dit hang seker van die tydvak en die omgewing af maar dit is ’n ander debat.  Waaraan wel iets gedoen kan word is wanneer die taal verkeerd gepraat word weens luiheid of slordigheid; daar is  seker min taalgemeenskappe wat nie een of ander taal-akademie het wat ’n ogie oor die handhaaf (en uitbou) van die taal hou nie.  Om die agteruitgang van Afrikaans gelate te aanvaar as sou dit nou maar ’n rigting wees wat die taal inslaan is verkeerd, défaitisties om die waarheid te sê.  Ek stel dit kategories (soos Koornhof of was dit nou Heunis altoos gesê het) aan jou dat die mengeltaal van die sepies bloot slordige en kwynende Afrikaans is, dit is deurspek met Engelse woorde en dus ’n mengelmoes, NIE die begin van ’n nuwe taal nie.  En sou dit die begin van ’n nuwe taal wees soos jy klaarblyklik glo is dit in elk geval die begin van die dood van Afrikaans soos ons hom ken.

Net laastens ietsie oor ‘teorie’ wat jy gesê het daar is ’n ‘wetenskaplike’ begrip (die hoogste vorm van wetenskaplike kennis of iets het jy beweer) en ’n ‘algemene’ begrip (wat ek sê het min of meer die betekenis van ’n spesmaas’):  Jy was heel waarskynlik deurmekaar met ‘teorie’ as ’n verkeerde vertaling ‘theorem’ (stelling) en ‘teorie’ as ’n vertaling van ‘theory’.

Ten slotte, verstaan mooi ek het niks teen die Kaapse variant of aksent nie – die manier van dinge sê, die toonval, die Arabies of Maleis tussenin, alles, is mooi en uniek.  Netso met Namakwalands of watter variant ook al – dit verryk Afrikaans.  Daar moet net nie Engels lukraak ingegooi word nie; dit verskraal Afrikaans en is ’n teken van agteruitgang.  En dis nie net die Kapenaars (soos in die sepies) wat die oortreders is nie, dis ons almal (gelukkig darem nie in der mate wat dit in die sepies voorkom nie).  Ons sal moet vingertrek – daar’s werk.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 2

Kommentaar

  • Julle laat my dink aan die proffie wat op 'n vliegtuig langs 'n dogtertjie gesit het en haar gevra het oor fisika ... Waar sy toe eers die proffie uitvra oor verskillende diere se eet en hoe dit hulle mis (drolletjies) beïnvloed.

  • Beste Jan,
    Toe jy beweer Chomsky word te hoog "aangeslaan" het ek gedink die Jan het waarlik Chomsky tot in die diepte bestudeer, en daarby nog die werke van ander linguiste ook. Net daarna sak my moed in my skoene toe jy wil weet van "hierdie nuwe ding van hom betreffende die linguistiek." Ek kan jou verseker hierdie "ding" is 'n "helse ding". Hy het taalstudie in 'n heel ander rigting gestuur. Ek kan nie alles aan jou verduidelik nie, omdat dit 'n hele verhandeling sal wees, en ek nie die tyd of die spasie het, en selfs ook nie die kennis het nie. Dis ook so tegnies van aard en betrek oa ook die Sielkunde.
    Hy het bv behaviourisme wat in die linguistiek ingekruip het, totaal vernietig, en het 'n hele revolusie in die Sielkunde veroorsaak wat die kognitiewe psigologie betref.
    Van hom het ons geleer dat taal universeel is, daarom is dit redelik maklik om 'n ander taal as moedertaal aan te leer. Van hom het ons geleer dat taal 'n dieptestruktuur het, wat die oppervlaktesktruktuur beheer, en van sy generatiewe grammatika het ons geleer dat taalstruktuur die vermoë het om taal te genereer. Gaan lees maar wat jy hierbo geskryf het en jy sal agterkom dat jy self al daardie sinne gegenereer her uit jou taalvermoë. Niemand het jou daardie sinne geleer nie.
    Linguistiek was voor Chomsky merendeels die studie van taal soos dit oor die jare verander het, en 'n beskrywing van taalstrukture wat dan gelei het tot die skryf van 'n taal se grammatika. Daar was nog nie juis 'n doelbewuste poging om iets te verstaan nie. Alles was nog maar deskriptief. Chomsky het die mens laat dink oor sy taal, om begrip daarvoor te verkry, om taalverskynsels en taalaspekte te verklaar.
    Grammatika is die beskrywing van 'n taal se innerlike werking nadat dit deeglik deur taalkundiges bestudeer is. Afrikaans se grammatika is nog nie volledig beskryf nie.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top