Eerstens, lá fhéile Pádraig sona dhuit!
Wat ek vir jou gesê het oor linguistiek en grammatika staan steeds; niks in jou lesing negeer enigiets van wat ek gesê het nie. Wat Chomsky betref, hy’s vandag se kind, nog nie eers 90 jaar oud nie en daar is baie in linguistiek die afgelope twee- tot driehonderd jaar gedoen. Hy kan ook nie die ‘vader’ van die moderne grammatika wees nie want op elke stadium van ’n taal se bestaan is die grammatika ‘modern’. Engelse grammatika, byvoorbeeld, gaan oor 10 jaar modern wees, net soos dit in Shakespeare se tyd modern was – anders miskien, maar kontemporêr vir daardie tyd, dus modern.
Jy vra hoekom ek beweer jy verwar grammatika met grammatikaterme. Eenvoudig; jy’t al male sonder tal vir my gesê mense kan ’n taal praat sonder dat hulle die grammatika ken, selfs julle huishulp aangehaal wat ek-weet-nie-hoeveel tale kan praat nie maar niks van grammatika weet nie. Ek het jou geantwoord en gesê julle huishulp, indien sy al daardie tale korrek praat, kan dit slegs doen as sy die grammatika korrek gebruik. Sy weet nie eers sy gebruik nou ’n byvoeglike bysin of ’n selfstandige naamwoord of nominatief of genitief of so iets nie maar sy span die grammatika reg in om die taal te praat. Om ’n taal te kan praat moet jy die grammatika en die woordeskat ken.
Jy’t steeds nie verstaan nie en ek het die voorbeeld van die Engelse seuntjie gegee (nav jou stelling dat klein kinders redelik goed praat) wat sê ‘I am’ en nie ‘I is’ of ‘I are’ nie; hy praat reg maar kennelik weet hy nie hy gebruik nou die eerstepersoonsuitgang van die werkwoord ‘to be’ nie – hy praat dus grammatikaal korrek maar hy ken nie die grammatikaterme nie, hy ken wel die grammatika.
Jy’t daarna byna woordeliks herhaal wat ek vir jou gesê het en gesê wat ek beweer, is dat die kind móét weet hy gebruik nou die nominatief van die eerstepersoon ens ens. Jy het weer verkeerd gelees; ek beweer juis hy hoef nie die grammatikaterme te ken om die korrekte grammatika te kan gebruik nie, net soos jy nie ‘n kennis van fisiologienomenklatuur nodig het om tot spierkoördinasie in staat te wees nie.
So, ek sê weer, jy kan nie ’n taal goed praat as jy nie sy woordeskat en sy grammatika onder die knie het nie, jy het egter nie nodig om die grammatikaterme te ken nie.
Jy het ook telkens beweer iemand skryf vir ’n taal ’n grammatika; dié iemand gaan bestudeer die taal en skryf dan die grammatika. Ek het dan elke keer vir jou gesê hy stel slegs die BESTAANDE grammatika ten boek. Hoe anders? Die mense praat daardie taal en om die taal te kan praat span hulle die woorde reg in wat betref naamval, verbuiging, sintaksis ens. Met ander woorde, hulle span die woorde in soos deur die grammatika voorgeskryf – hulle het ’n taal en die taal bestaan uit ’n woordeskat plus ’n grammatika wat voorskryf hoe die woorde ingespan moet word om sin te maak - hulle hoef nie te wag dat iemand dit vir hulle kom ‘skryf’ nie.
Jy skryf jy “ ... het al herhaalde kere aan [my] verduidelik dat die kennis van grammatika, of grammatikaterme is nie nodig om ʼn taal te kan praat of om dit aan te leer nie.” Halleluja! Dis wat ek heeltyd vir jou probeer sê. Alhoewel, jy’s net halfpad daar want jy het nie die kennis van grammatikaterme nodig nie soos jy hierbo sê nie (en ek nog heeltyd vir jou vertel) maar jy het wel die kennis van die grammatika nodig anders kan jy die taal nie praat nie. Die oomblik wat jy sê ‘Ihr seid’ gebruik jy die grammatika korrek alhoewel jy nie noodwendig weet ‘Ihr’ is tweedepersoonmeervoud en ‘seid’ is tweedpersoonuitgang van die infinitief ‘sein’ nie. Jy hoef nie die nomenklatuur te ken nie maar die grammatika moet jy ken anders het jy gesê ‘Ihr bin’ of ‘Ihr bist’ of so iets.
Jy stem saam dat Engelse woorde Afrikaanse woorde verdring maar reken daar is niks wat ons daaraan kan doen nie. Hoekom kan ons nie iets daaraan doen nie? ‘n Engelse woord is nie ’n entiteit met ’n eie wil nie; hy kom wurm homself nie goedsmoeds in Afrikaans in sonder dat jy dit agterkom nie – hy word gebruik willens en wetens deur die spreker en, om daarvan af weg te kom, moet die spreker bloot daardie woord nie gebruik nie. Nou laat ek nou weer vir jou sê – Engelse woorde verdring die Afrikaanses omdat ons toelaat dat Engels in ons kele afgedruk word deur die media (veral RSG en KykNET), die regering, lektore en professore, ‘n groot gros onderwysers en ’n klomp predikante.
Jy sê jy hou nie van Engelse woorde in Afrikaans nie, dis vir jou ‘afskuwelik lelik’, jou presiese woorde. In dieselfde asem sê jy egter dit is nou maar wat gebeur in Afrikaans en jy kan nie jou kop soos die spreekwoordelike volstruis in die sand druk nie. Dit is JUIS wat jy doen met jou défaitistiese houding: skouers ophaal en kop in die sand druk, gods water oor gods akker laat dawer. Buitendien, hoe kan iets wat afskuwelik lelik is nou Afrikaans verryk? Jy het reg oor die afskuwelik en dan boonop verskraal dit nog Afrikaans deur die Afrikaanse woorde te verdring.
Afrikaans is net so min, of net so veel, vervalle Nederlands as wat Nederlands vervalle Nederfrankies (oud-Nederlands) is, of Italiaans vervalle Latyn is, of Engels vervalle Engels is van die Engels wat in Chaucer se tyd gepraat was. Afrikaans en Nederlands het in die 17de eeu geskei en vandag is Afrikaans ’n volwaardige taal met sy eie woordeboeke, letterkunde ens. Die ‘afskuwelike’ mengsel wat in die sepies gepraat word is bloot mengeltaal – swak Afrikaans dus en nié die geboorte van ’n nuwe taal nie. So ’n Engfrikaanse woordeboek, byvoorbeeld, sal ’n Afrikaanse en Engelse woordeboek aanmekaargeplak wees; duidelik ’n aanduiding dat dit bloot maar ’n mengsel van Afrikaans en Engels is.
Jou beskouing dat Afrikaans nie sonder Engels kan klaarkom nie omdat laasgenoemde nou kwansuis die wetenskaptaal is, is ’n mite. Enige taal is die wetenskaptaal van daardie sprekers. ‘Naklankduur’ is net so ’n goeie woord vir ‘reverberation duration’ byvoorbeeld, indien nie beter nie. Een taal hoef nie in kontak met ’n ander een te wees om tegniese en wetenskaplike ontdekkings en ontwikkeling te doen en name daarvoor te gee nie. Hoe dink jy het die vresens tegniese terme vir, sê hulle vlieënde pierings, ontwikkel? Ek het nog niks Engels of Russies of Duits op enige vlieënde piering gesien nie en ek het met my eie oë al foto’s van baie vlieënde pierings gesien.
Maar laat ek opsom. Ons is waar ons begin het, Afrikaans word verwaarloos deur Afrikaanssprekendes, luister maar na die radio en kyk na die sepies. Wie se skuld is dit? Net ons s’n; ons sluk die twak wat sommige dominees, ’n klomp politici en kamtig verligte professore en lektore vir ons opdis hoek lyn en sinker soos soetkoek.
Terloops, met jou verwysing na teorie in die ‘wetenskaplike sin’ en ‘algemene sin’ dink ek jy verwar wat die Engelse ‘theory’ en ‘theorem’ noem, ‘teorie’ en ‘stelling (teorema)’ in Afrikaans.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Angus,
Hoe lui die ou, ou gesegde? Niemand is so doof soos Jan wat nie wil hoor nie ...
So terloops, ek sien RSG en KykNET is nie meer die groot sondebokke nie, nee dis nou die dominees en die politici en die professore. Ek wonder wie's volgende op Jan se lys.
Miskien moet jy maar Jan se siening oor grammatika en linguistiek met die spreekwoordelike (groot) knippie sout neem. Hy het dan met sy eie oë al foto’s van baie vlieënde pierings gesien. Kan jy nou meer!
Jan sluk wragtig die vlieënde piering verskynsel "hoek, lyn en sinker", soos hy sê. Die Engelse lag seker hardop vir sy anglisistiese idioom, en Raed-na-Gael vee sy trane af vir dié vernieling van "suiwer" Afrikaans.
Groete
Dirk
Ag ou Dirk, jy gryp ook na elke strooihalm. Die uitdrukking wat ek gebruik het was 'hoek lyn en sinker sluk soos soetkoek', op sigself nie eers 'n idioom in enige taal nie. Buitendien, veral in Amerikaanse Engels is daar uitdrukkings PRESIES soos in Afrikaans wat in beide ons volke se taalskat via Hollands en Duits ingevoer is - ons het grootliks dieselfde voorouers. Ook is daar idiome wat eintlik geen verwysing na Afrika-toestande het nie maar wat oorgedra is van ons Europese herkoms. Ek is seker jy sal op talle afkom as jy bietjie soek.
En vir jou inligting - RSG en KykNET was nog nooit volgens my die sondebokke nie; hulle is die belhamels, die voorbokke. Die sondebokke in hierdie debat is die behoudendes want hulle is nou volgens julle die ouens wat vasklou aan die verlede, die ouens wat Afrikaans ontoeganklik vir die massas maak, die ouens wat nie besef dis 2017 en dat sogenaamde inklusiwiteit nou die maatstaf vir taalgebruik is nie.
Wat grammatika en taalgebruik betref - glo jy nou werklik Angus se storie dat iemand eers vir 'n taal 'n grammatika moet skryf voor daardie taal 'n grammatika het? Ek dog jy swyg maar daaroor omdat jy en Angus, kan mens maar sê, in dieselfde kampie is maar nou blyk dit dat jy net so dwaal soos hy.
Wat die vlieënde pierings betref . . . wel, soos ek sê, jy gryp na elke denkbare strooi. Ek het op 'n stadium gesê dat, in die vorige bedeling was tot die townships netjieser as in die NSA want ek het dit met my eie oë in die fliek 'Cry The Beloved Country' gesien. As jy daardie brief gesien het sou jou kommentaar sweerlik gewees het "Kan jy nou meer; Jan Rap glo wat hy in flieks sien!" Terloops, daar is wel ruimtetuie vanuit ander oorde, ek het egter self nog nooit een gesien nie.
Hierdie dominee stem heelhartig met Jan Rap saam. Deur op te hou dink wat ons sê verval ons in 'n geradbraakte "Afrikaans", deurspek met betekenislose woorde. Sprekers moet dink alvorens hulle 'n woord gebruik. Dink en besluit of dit die korrekte en gepaste woord is.
Andersinds getuig dit van luiheid wat uiteindelik die luisteraar irriteer en verveel.
Bravo Dominee! Jy's nog van die ware herders.
Beste ds Louis Breedt,
Dis goed om ook van ʼn dominee te hoor, maar Dominee, het Dominee al ook goed nagedink oor taal? Dis nogal belangrik dat ʼn dominee goed nadink oor taal ook, want taal is ʼn belangrike kommunikasiemiddel. Kan Dominee asseblief vir my sê hoe op aarde kan “betekenislose woorde” (sic) Afrikaans of enige ander taal “deurspek”?
Dominee, en dan moet Dominee ook let op spelling. Die woord is andersins.
Groete,
Angus
Beste Dirk Rigter,
Die volgende wat erg gaan deurloop by Jan is natuurlik al daardie Afrikaanssprekendes in dorpies en gehuggies regoor die land. Elsi, my huishulp, wat nooit skoolgegaan het nie, sal ook sleg deurloop omdat sy nie suiwer Afrikaans praat nie. Juis vanoggend nog laat sy my onomwonde weet dat sy nie hou van die dishwasher wat ek gekoop het nie. Sy wil graag die dishes self was, sê sy. Ek het haar al die woord ‘skottelgoed’ geleer, maar sy sê in hierdie huis is daar geen skottel nie. Sy weet egter nie van die twee wat op die dak is nie.
Groete,
Angus
Beste Angus
Tweede- en derdetaalsprekers, oor die algemeen, praat hulle tweede en derde tale selde vlot. So hoekom sal ek nou Elsi laat deurloop? Haar Afrikaans en Engels sal in elk geval strate beter wees as die bietjie Zoeloe wat ek ken. Ek haal my hoed af vir haar.
En hoekom sal die mense in die gehuggies in die land nou deurloop? Om die waarheid te sê, hulle sal juis nie deurloop nie omdat hulle kontak met Engels sodanig is dat hulle nie hulle Afrikaans met Engels besmet nie (soos gebeur in die sepies byvoorbeeld).
Ek sê weer vir jou, ek het niks teen Engels nie; ek het dit teen Afrikaanssprekendes se apatiese houding teenoor Afrikaans.
Groetnis
Jan Rap