Vir Angus oor sy kommentaar van 11 deser

  • 0

Dagsê Angus

Ek verwys na jou kommentaar na aanleiding van F Marx (Willie) se stuk drekafrikaans; dit voel asof, sou daar net een Engelse woord meer was, dit eintlik Engels kon wees met 'n paar Afrikaanse woorde tussenin.

Jy sê volgens " ... Jan Rap se "taalteorie" het Nederlands in Suid-Afrika verdwyn omdat Afrikaans dit oorgeneem het." Jy moet nou nie begin slu raak nie; ek het nooit so-iets gesê nie en sal ook nooit nie want waar sal ek nou sulke onsin kwytraak. Dit is soos om te sê, nadat 'n vlinder uit 'n papie gekruip het, dat die vlinder die papie oorgeneem het.

Ek sien jy sukkel nog steeds om te onderskei tussen leenwoorde en die gatlekwoorde waarvan F Marx (Willy) se opstelletjie so vol was, dié dat jy die absurde stelling maak dat, wat hy geskryf het, Afrikaans is. 'n Leenwoord vul 'n leemte waar gatlekwoorde 'n kniebuig in die rigting van die populêre kultuur is. Voorbeelde van eersgenoemde is kommin, vaktap, laissez faire en establishment en voorbeelde van laasgenoemde kan jy in F Marx (Willy) se storie kry.

Laat ek jou maar help met 'n analoog: 'n Taal is soos 'n treinspoor; hy maak draaie en styg en daal om aan te pas by die topografie. Hy kan nie anders nie want daar is berge en dale en riviere om oor te steek; hy MOET aanpas by die topografie om die trein, jou gedagtes, te dra na 'n eindbestemming. Maar omdat jy weet dat hy vorentoe gaan kronkel en dat, waar hy vandaan kom dit al kronkelend gebeur het, kan jy nie sommer op grond daarvan allerhande kinkels begin insit nie, die trein sal ontspoor. So werk Afrikaans en Duits en Frans, omtrent al die tale waaraan jy kan dink.

Net 'n wenk: Dit help nie jy noem woorde wat vir jou klink of dit naby aan Engels is nie; daar is ooreenkomste tussen Afrikaans, Nederlands en Duits uit hoofde van die feit dat hulle Germaanse tale is. Leenwoorde, en woorde wat ooreenkomste toon, is geen grond vir die gebruik van gatlekwoorde nie. 'My pen is in my hand, my hand is in water, water is in my pen' ens lees dieselfde in Afrikaans en Engels maar dis nie te sê die een het dit by die ander gekry nie. Dié goed klink/lyk dieselfde weens die Germaanse oorsprong van beide tale.

Terloops, jy (of was dit Wouter) het op 'n stadium spottender verwys na die sin 'hoeveel onse in jou pond' asof dit nou die gemis sou illustreer dat 'ons' as nominatief, datief en akkusatief gebruik word. Dit is nie so nie, die spreekwyse word gebruik wanneer iemand iemand anders wat onwillig is in sy groep/aksie/plan insluit. Buitendien, die Engelse gebruik die datief 'him' of 'her' (oorblyfsel van die Duitse 'ihm' en 'ihr') ook in die nominatief, soos byvoorbeeld 'it was him/her'.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top