Vir Angus oor sy kommentaar onderaan my brief van 11 deser

  • 2

Beste Angus

Jy maak ’n groot storie oor mense wat verskillende tale magtig is, hierdie tale nie meng as hulle praat nie. Dit is presies my mening soos jy al moes aflei; ek sê mos juis mengeltaal is ’n onding. So, hoe hierdie waarneming van jou jou vergoeiliking van mengeltaal ondersteun sal ek nie weet nie.

Dit enigste rede, lyk dit my, hoekom jy hierdie verskynsel noem is omdat jy reken ek sê mense wat tweetalig is meng hulle taal. Indien dit die geval is, het jy verkeerd gelees; ek het gesê taal is mengeltaal as die kennis van twee (of meer) tale noodsaaklik is om dit te verstaan. Dus, vir die hoeveelste keer, die sin “usually as ek vir my goals gestel het achieve ek hulle” sal nie deur ’n Afrikaanssprekende verstaan word as hy nie Engels ook ken nie en is dus mengeltaal.

Mense wat ’n tweede of derde taal aanleer doen moeite om daardie taal korrek te praat, dit is tog die hele doel vir die aanleer van ’n taal. Om die vreemde taal met jou eie taal se woorde te vermeng is arrogant en toon disrespek. Om jou éie taal met ’n vreemde taal se woorde te meng is gewoon absurd, dit toon ’n gebrek aan taaltrots en ’n siek kniebuig in die rigting van, en ’n kruiphouding teenoor, die betrokke vreemde taal en/of sy sprekers, in ons geval Afrikaanssprekendes teenoor Engels en Engelssprekendes.

Mengeltaal is nie ’n taal nie; dit is een taal wat swak gepraat word en aangevul word met woorde van ’n ander taal, hetsy uit onkunde, slordigheid, gebrek aan vaardigheid of moedswilligheid, dit is dus niemand se moedertaal nie. As sodanig kan dit ook nie ’n taal verryk nie; as jy die kant van ’n tang gebruik om ’n spyker in te slaan verryk dit nie die hamer nie.

Jy sê al weer dat daar geen reël bestaan wat ‘verbied dat enige woord van enige taal in ’n ander taal gebruik kan word nie.’ Natuurlik is daar so ’n reël, weliswaar ongeskrewe maar wel waaraan gehoor gegee word as jy enige taal praat, noem dit maar konvensie. Jy gaan mos nou nie sê my babuschka bak lekker koekies in plaas van my ouma bak lekker koekies nie. Daar is geen reël wat sê jy moet ’n bierbottel se prop afhaal as jy vir jou ’n bier wil skink nie behalwe jou kennis van die natuurwette, geskrewe of ongeskrewe. Jy gaan egter nie bier in jou glas kry as jy nie die prop afhaal nie, net soos jy nie die taal korrek gaan praat as jy vreemde woorde van enige ander taal wil invoeg nie; logies.

Jy het my gevra om daardie geradbraakte sin oor te sit in gewone Afrikaans wat ek toe (by twee geleenthede) gedoen het. Nou is dit volgens jou kamtig soos ’n dominee sal praat, gewone vissermanne sal dit nou volgens jou nie so sê nie. Wat het jy teen vissermanne, dink jy hulle ken nie hulle eie taal nie? Dis mos gewone Afrikaans, of hoe? Terloops, die “I are” is nie ’n strooipop nie; dit is om jou te wys daar ís so iets soos grammatika en dat mens nie, soos jy beweer, daardie reëls oorboord kan gooi as jy ’n taal wil praat nie.

Die gewone handhawing van standaarde verteenwoordig nie die vertroeteling van Afrikaans in ’n glaskas nie. Die agting wat die Engelse vir Engels het, en die Yslanders vir Yslands, is maar dieselfde as wat ons vir Afrikaans behoort te hê. Openbaar ons egter hierdie houding (van agting hê vir jou taal) van die Engelse of Yslanders, word ons deur ons eie mense uitgekryt as oordrewe bewaarders. Daar kan net een rede vir hierdie onnatuurlike gedrag onder sekeres van ons mense wees; hulle probeer polities korrek wees, hulle is huiwerig om ’n ding kaalkop aan te spreek.

Groetnis
Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Beste Angus,

    Jan Rap sê mengeltaal is 'n onding. Ek wonder hoe dink hy het Afrikaans ontstaan. Eendag lank, lank gelede het 'n klomp wit mense besluit: Vandag los ons Hollands en van vandag af praat ons suiwer Afrikaans ...?

    En dan wonder ek ook of hy al ooit in sy lewe régte deurwinterde vissermanne hoor praat het. Miskien moet hy 'n draai in Kalkbaai of Houtbaai of Paternoster maak as hy weer met vakansie gaan. En op die kaai gaan staan as die skyde inkom. Sy ore sal tuit om nou maar by suiwer Afrikaans te hou.

    O ja, en dan sal die Skot saam met wie ek gereeld gholf speel ook sy ore laat sing. Dis die heeltyd "I says en he says en you says". Sê nou vir hierdie skot hy praat swak Engels ...

  • Beste Jan,
    Aan jou skrywe kan ek agterkom dat jy nog nie baie oor taal gedink het nie. Afrikaans, ja, maar nie oor taal nie.
    Dis jou mening dat iemand slegs ʼn mengeltaal sal verstaan, indien hy taal X en taal Y magtig is. Kom ons beskou hierdie “mening” van jou naderby. Ons noem taal X, Engels, en taal Y, Afrikaans.
    Die taal wat hoofsaaklik deur bruinmense aan die Kaap gepraat word, staan bekend as Kaaps. Jy sal Kaaps as ʼn mengeltaal beskou, want dis struktureel Afrikaans, met Afrikaanse woordeskat, maar dit is ook deurspek met Engels en Engelse woordeskat. (Ons laat ander tale weg, soos “baiing kirislam by die hys se kant”.) Hierdie Kaaps word al geslagte lank gepraat, en is die moedertaal van baie mense.
    Kinders wie se ouers Kaaps praat, leer ook Kaaps verstaan en praat dit vanaf babastadium. Dit is hulle moedertaal waarmee hulle groot word. Hulle hoef nie Engels en Afrikaans “magtig” te wees (soos jy beweer) om hulle eie moedertaal te verstaan nie. Net so is dit ook nie nodig vir ʼn Afrikaanssprekende om Nederlands, Engels, Maleis-Portugees en nog meer “magtig” te wees om Afrikaans te verstaan en te praat nie, want Afrikaans is ook ʼn mengeltaal; trouens, daar is nie ʼn taal ter wêreld wat nie ʼn mengeltaal is nie. Selfs die uitgestorwe Latyn is ook ʼn mengeltaal.
    Jy beweer dat mengeltaal nie ʼn taal is nie. Ek verstaan nie waarom jy so iets kan beweer nie. Jy sal maar aan my moet verduidelik wat jy dan onder die begrip “taal” verstaan.
    Jy wil by my weet wat ek teen vissermanne het, as ek verwys na die taal wat hulle praat. Dit bewys vir my dat jy nie my argument begryp nie. Dan moet ek dit vir jou uitspel.
    Wanneer mense deur middel van taal kommunikeer, moet die situasie en die idiolek in gedagte gehou word. Om ʼn konferensietafel sal mense anders met mekaar praat as wanneer hulle gesels terwyl hulle visvang.
    Ek herhaal: niks verbied ʼn spreker om enige woord van ʼn vreemde taal te gebruik nie. Hierby wil ek darem een “reël” noem wat ek reeds voorheen vermeld het: daar moet ooreenkoms tussen die spreker en die hoorder wees. As babuschka die ooreenkoms is tussen spreker en hoorder vir ouma, is daar geen reël wat sê dat babuschka nie gebruik mag word nie. Dan verstaan die hoorder “my babuschka bak koekies”. Woorde is maar simbole vir dit wat hulle beteken. Die woord huis bestaan uit drie spraakklanke en het niks te make met die gebou waarin mense woon nie. As alle Afrikaanssprekendes ooreen gekom het dat die woord jasmyn moet wees, dan het ek en jy nou in ʼn jasmyn gewoon.
    Met vertroeteling van Afrikaans bedoel ek nie die handhawing van Afrikaans nie. Ek bedoel daarmee die uitroei van alles wat Engels is omdat dit kastig kosbare Afrikaans verdring. ʼn Woord soos “usually” mag miskien ʼn gevaar ingehou het vir Afrikaans so 60 jaar gelede, toe Afrikaans nog sy kinderskoene aangehad het, maar vandag is Afrikaans ʼn gevestigde taal.
    Die enigste vrees is dat Afrikaans polities uitgeroei kan word.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top