Beste Angus
Jy’s al weer besig met systap en pypkan. Eers sê jy, onder andere, ten opsigte van wat jy ‘Oud-Afrikaans’ noem “ ... ons lees dit net in boeke en wanneer iemand tyd het om te wik en te weeg sodat hy foutloos en anglisismeloos kan skrywe.” Dit is dus duidelik dat jy verwys na Standaardafrikaans, jy het tog ook teenoor Johannes opgemerk dat dit die skryftaal is.
Nou skielik, nadat ek vir jou gesê het dit is nie Oud-Afrikaans nie, dis gewone Afrikaans, kom jy met Klaas Waarzegger en Pannevis en dié mense. Met hierdie redenasie van jou moet ek aanvaar jy dink dit is hierdie mense se Afrikaans wat ons gebruik as ons skryf. Dis mos onsin; jy’t dus maar net uit die hoek probeer kom waarin jy jouself toegeverf het.
Jy gee te kenne dat, eers as mens Afrikaans-Nederlands III agter jou naam kan skryf en gespesialiseer het in Linguistiek, kan jy ‘spog’; die “... ander miljoene Afrikaanssprekendes wat nou nie so bevoorreg is nie, moet maar met mekaar kommunikeer met die taal aan moedersknie geleer...” Nou wonder ek, glo jy dieselfde ten opsigte van Duits of Engels? Moet Duitsers en Engelse eers resp Duits III en Engels III agter hulle name kan skryf voor hulle ordentlike Duits of Engels kan praat, en die ander miljoene Duitsers en Engelse moet maar oor die weg kom met geradbraakte Engels en Duits (aan moedersknie geleer)? Of was dit maar net weer ’n systappie om uit jou toegeverfde hoekie te kom? Ek vermoed sterk dis laasgenoemde.
Jy sien Angus, dis wat gebeur as jy die absurde probeer verdedig; jy moet al hoe meer versin en die gevolg is jy verf jou net dieper in die hoekie toe. Afrikaans word al hoe swakker gepraat, al hoe meer besmet met Engelse woorde en jy probeer dit verdedig (nugter weet waarom) deur allerhande lawwe aansprake soos “dit is die begin van ’n nuwe taal” en “dit is maar hoe taal verander” ens ens. Twak man, dis bloot swak Afrikaans.
Jou sinnetjies vir FC Boot om nou kamtig te illustreer wat die beste kommunikeer is ook ’n gepypkan. Jy gee “Ek ry gou met my bike om vis en tjips by die keffie te koop” as effektiewe kommunikasie. Hoekom is dit nou beter as “Ek ry gou met my fiets om vis en skyfies by die kafee te koop”?
Jou “Ek ry gou met my fiets om vis en aartappelskyfies by die vis-en-aartappelskyfiewinkel te koop” is ’n Angusisme, ’n fabrisering om ’n kaartehuis staande te probeer hou. Terloops, Standaardafrikaans” is een woord.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap, kyk asb na dié video van Churchill Naude. Daar is meer mense wat hiérdie variant van Afrikaans praat as wat daar sg standaardafrikaans-sprekers is. Dis die mense se moedertaal. Dis die variant van Afrikaans wat hulle aan moedersknie geleer het. Hulle val ook binne RSG se bedieningsgebied. Haal af jou oogklappe en kyk na die video by die skakel hiernaas:
https://www.youtube.com/watch?v=KHIbsdte6vU
Dirk
Ek het na die video gekyk. Dis mooi en roerend en polsend en lewendig. Of daar nou meer of minder mense hierdie manier van praat praat is immaterieel; al het net 10 so gepraat is dit nog steeds Afrikaans. En hoekom sou dit nou nie standaardafrikaans wees nie?
Want NIE Afrikaans is nie is die volgende: "Usually as ek vir my goals geset het achieve ek hulle."
Beste Jan,
Dit gebeur selde dat ek iets skryf sonder om dit weer deur te lees. Hierdie keer het dit wel gebeur, maar jy was tog slim genoeg om korrek tussen die lyne te lees.
Wat ek wou geskryf het, is die volgende: Oud-Afrikaans word nie meer gepraat nie. Ons lees dit net in boeke. Standaardafrikaans is besig om ook slegs in ʼn skryftaal te ontwikkel, want wanneer ʼn mens skryf, het jy tyd om te wik en weeg wat korrekte taal is en wat ʼn anglisisme is.
Ek is eintlik bly dat ek die glipsie gemaak het, want nou weet ek dat jy my graag in ʼn hoek geverf wil sien sit. Jy wil seker daarmee bewys hoe slim, geleerd Jan Rap is, en dat hy verskriklik baie navorsing gedoen het wat taal betref, en hoe onnosel die arme Angus is, wat absoluut niks van taal af weet nie. Ek het nog altyd gedink in ons gesprekke oor taal verbreed ons mekaar se kennis. Nou goed, ek sal maar voortgaan om taal te bespreek, terwyl jy gedurig op die uitkyk is om my in ʼn hoek te dryf.
Om Standaardafrikaans te verstaan, moet ʼn mens kyk waar dit vandaan kom. Dit is Kaaps-Hollands wat gesuiwer is van Anglisismes en veronderstelde verkeerde grammatika. Baie Engelse woorde is vertaal, of nuutskeppinge is doelbewus gemaak, en waar dit nie anders kon nie, is ontlening toegelaat. Daarom verkies ek die term Gestandaardiseerde Afrikaans, of Algemeen-Beskaafde Afrikaans. Die gebruik van hierdie taal verg ʼn sekere mate van geskooldheid.
In Suid-Afrika is daar miljoene mense wat Afrikaans as moedertaal het. Dit is hulle omgangstaal, hulle kommunikeer daarmee. Hoeveel van hierdie miljoene Afrikaanssprekendes het egter die voorreg om in ʼn klas te sit waar die onderwyser hulle wys op anglisismes, en waar hulle werk met neologismes, ontlening en dies meer? En nou moet jy in jou agterkop onthou, een van die redes vir die ontstaan van Afrikaans is juis gebrek aan onderwys en die onderrig in Nederlands.
Jy hou Engels en Duits voor as voorbeelde van tale wat hou by hulle standaardvorm. Ek kan jou verseker hierdie tale verander ook by die dag. Ek het onlangs vergelykende studies tussen Amerikaanse Engels en Engels onder oë gehad. Wat my verbaas het, is dat baie van Amerikaanse Engels eintlik oorspronklike Engels is, soos gepraat toe Amerika gekoloniseer is, en dat dit juis die Engels, soos gepraat in Engeland, wat verander het. Noudat Engels die hele wêreld oor gepraat word, suig dit nuwe woordeskat, aksent en uitdrukkings soos ʼn spons op. Dan moet jy ook nie dink dat die Duits wat op skool geleer word, die Duits is wat die Duitsers praat nie. Ons het huisvriende gehad, oom Erich (ʼn Berlyner) getroud met tannie Gerda, (ʼn Amsterdammer). Hulle huistaal is Duits, en dit is ook die taal wat hulle kinders praat. Hulle het ʼn Afrikaanse skool bygewoon, en toe hulle in st. sewe kom, het hulle oa Duits as vak gekies. Hulle het natuurlik goed presteer, maar was verbaas hoe dit van hulle moedertaal verskil het.
Ek stem saam: Afrikaans word al hoe swakker gepraat, maar dit beteken nie dat die mense mekaar naderhand nie meer sal kan verstaan nie. Daar bestaan talle moontlikhede waarheen Afrikaans gaan, maar staties kan dit nie bly nie. As Afrikaans nie gedurig verander nie, word dit ʼn dooie taal. Die taal wat jy gemorstaal noem, sal όf nog Afrikaans genoem word, όf dit sal ʼn nuwe naam kry, want dit is ʼn nuwe taal. Dit is presies hoe alle tale begin het, en om dit absurd te noem, is absurd. Dit wys jou jy het geen kennis van die ontstaan van tale nie. Afrikaans het so ontstaan, Engels het so ontstaan, Duits het so ontstaan, Spaans het so ontstaan, ens.
Wat die sinne wat ek aan FC Boot voorgehou het, betref: dit hang af wie praat, en veral met wie gepraat word. Hedendaagse Afrikaanssprekendes ken “vis en tjips” en “keffie”. As jy van ʼn kafee praat, sal hulle miskien sê: “O, ʼn keffie!” Stuur jy hulle om vis en skyfies te koop, sal hulle heel waarskynlik met vis en sigarette aankom. In een of ander Vrystaatse dorpie het ek gesien daar is ʼn keffie wat fis en flenters verkoop.
Jan, jy moet verstaan: taal kan jy nie begrens nie. Alle tale is verwant aan mekaar, en loop oor en weer.
Ek is bly jy het vir jou ʼn Woordelys en Spelreëls aangeskaf. Daarin word Standaardafrikaans gegee. In die spelreëls (wat jy nog moet bestudeer) kan afgelei word dat Standaard Afrikaans en Standaard-Afrikaans ook moontlik is. Ek verkies laasgenoemde, want ek hou nie daarvan om Afrikaans met ʼn kleinletter te spel nie.
Groete,
Angus
Beste Jan,
"Usually as ek vir my goals geset het achieve ek hulle," moet taal wees, want dit kommunikeer.
Volgens jou is dit nie Afrikaans nie. In 'n vorige asem het jy beweer: "Twak man, dis bloot swak Afrikaans."
Jy moet nou besluit of jou sin Afrikaans is of nie. As dit nie Afrikaans is nie, maar swak Afrikaans, dan is dit mos 'n nuwe taal, maar volgens jou is dit "absurd", want nuwe tale ontstaan glo nie so nie.
Groete,
Angus