Vir Angus oor sy kommentaar onderaan my brief van 7 deser

  • 3

Beste Angus

Ek wil jou nie in ’n hoek dryf soos jy beweer nie. Inteendeel,  ek probeer verhoed dat jy jouself in ’n hoekie toeverf deur allerhande wilde stellings te maak, soos dat Standaardafrikaans oud-Afrikaans is (oukei jy’t nou erken dit was ‘n glips) of dat ’n taal eers ’n grammatika kry as ’n grammatikus dit beskryf het.  Ek reken terselfdertyd het jy min of meer dieselfde idee ten opsigte van my – wys my waar ek wilde stellings maak – en op hierdie wyse verbreed ons inderdaad mekaar se kennis soos jy sê.

So nee, ek wil nie wys “hoe slim en geleerd [ek] is  . . .  en dat [ek] verskriklik baie navorsing gedoen het wat taal betref  ...” nie want ek is nie slim en geleerd nie en het ook geen navorsing wat taal betref gedoen nie. Jy het tog al verskeie male gesê dat ek gereeld wys dat ek min of niks van taal weet nie.  Ek vertel maar net vir jou wat vir my sin maak en as dit onsin is kan jy (wat soos ek verstaan tersiêre opleiding tov taal het) my mos daarop wys en ek leer weer iets (mits, natuurlik, wat jy my sê sin maak).

Iets wat byvoorbeeld nie sin maak nie is jou stelling dat Afrikaans Kaaps-Hollands is wat gesuiwer is van anglisismes.  Waar sou die anglisismes vandaan kom?  Buitendien, ‘anglisisme’ beteken Engelse spreekwyse eerder as die lukrake ingooi van Engelse woorde. Die bewering dat Standaardafrikaans ontstaan het deur anglisismes uit te sif is gewoon onwaar.  Ook heeltemal onlogies; dit sal baie snaaks wees as daar ‘n taal bestaan wat deur ‘n reduksiemetode ontstaan het.  Jou stelling dat Afrikaans  “ ... Kaaps-Hollands [is] wat gesuiwer is van anglisismes en veronderstelde verkeerde grammatika” is nie waar nie.  Die hedendaagse ‘Kaaps-Hollands’, lyk dit my, is hoofsaaklik gewone Afrikaans deurspek met Engelse woorde wat eers later bygevoeg is (en steeds al hoe meer bygevoeg word).

Jy vra hoeveel die voorreg het om in ’n klas te sit en, wat neerkom op grammatika, te leer.  Gaan alle kinders nie deesdae skool nie?  Dié wat nie skoolgaan nie is by verre ’n minderheid en dit is nie hulle wat die taal ‘stuur’ nie, kan jy maar sê.  Buitendien, taal leer op skool bepaal nie die taal nie; die grammatika is reeds daar, die onnies dink niks uit nie, wat hulle die kinders (of vreemdelinge) leer bestaan reeds.  Dit kan wees dat mense wat verkeerd aan moedersknie geleer word reggehelp word (vgl Pygmalion) maar taal leer op skool is meer die inskerp van bedrewenheid, soos maar met alles gebeur.  Kyk byvoorbeeld na sport; almal kan hardloop en spring maar, as jy ’n rugbyspeler of gimnas wil word, is om gebrei en afgerig te word noodsaaklik.

Jy sê as Afrikaans nie gedurig verander nie word dit ’n dooie taal.  Streng gesproke is alle tale ‘dood’. ’n Taal kan nie rondloop of fietsry nie; dit is ’n abstrakte ding.  ‘Dooie taal’ is maar ’n spreekwyse om na ’n taal te verwys waarvan die sprekers dood of weg is.   Jy verwar oorsaaklik en gevolg;  dit is nie gebrek aan verandering wat veroorsaak dat na ’n taal as ‘dood’ verwys word nie, maar gebrek aan sprekers (wat dan , logieserwys, tot gevolg het dat die taal nie verander nie).

Wat Afrikaans op die oomblik bedreig is die verdwyning van sy sprekers.  Al hoe meer slaan oor Engels toe en ’n groot gedeelte van die sprekers wat nog nie Engels omhels het nie praat die taal al hoe swakker (soos jy saamstem) totdat hy nie meer gepraat word nie; jy ken mos die trappe van vergelyking van swak: swak, swakker, glad nie.  Veral die Afrikaans op baie van die sepies is kensketsend van die swak Afrikaans waarvan jy praat en dus ’n teken van die agteruitgang.  Jy is dus nie besig om die geboorte van ‘n nuwe taal te aanskou nie, want dit is bloot, noem dit maar onbedrewe, taalgebruik.  Jy kan mos nou vir jouself dink man, as jy ’n Engelse woordeboek nodig het om dit in, sê Hongaars, te vertaal kan dit nie Afrikaans wees nie.

Jy sê die sin ‘usually as ek vir myself goals geset het achieve ek hulle’ moet taal wees so asof ek sou beweer dit is nie.  Natuurlik is dit taal, wat anders kan dit wees?  Wat ek gesê het is dat dit nie Afrikaans is nie (want ’n Afrikaanse woordeboek alleen kan nie gebruik word om dit te vertaal nie). Dit is ook kennelik nie ’n nuwe taal nie; dis ’n mengsel van twee bestaande tale.  Wat jou opmerking oor die vis en skyfies betref; niemand sal sigarette in plaas van skyfies koop nie; die verkleinwoordjie van ‘skyf’, ‘n sigaret, bestaan nie (miskien ‘stompie’) want daar is nie miniatuur sigaretjies nie.

Op ’n punt van orde, jy sê ek praat van ‘gemorstaal’.  Ek kan nie dink dat ek ooit so ’n wood gebruik het nie; ek het telkens van geradbraakte taal gepraat, ‘gemors’ het ’n baie meer negatiewe konnotasie en dit sal taktloos wees om van gemorstaal te praat.  Indien ek het, vra ek om verskoning.

Groetnis

Jan Rap

 

 

 

  • 3

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Dis ʼn ou laai van jou om eers ʼn paar dae te wag voor jy antwoord. Dan kan jy mos lekker verdraai sodat dit jou pas.
    Ek het nie gesê jy wil my in ʼn hoek dryf nie. Hier is my presiese woorde: “Ek is eintlik bly dat ek die glipsie gemaak het, want nou weet ek dat jy my graag in ʼn hoek geverf wil sien sit.”
    Verder stel ek voor dat jy moet begin navorsing doen oor ʼn saak, en nie sommer skryf soos jy dink dit moet wees nie. Doen navorsing oor die ontstaan van Afrikaans. Moenie sommer net skryf oor hoe jy dink dit moes wees nie. Ek het die raamwerk daarvan al male sonder tal aan jou gegee, maar jy vee jou daaraan af. Tog sal ek maar weer probeer.
    Jan van Riebeeck land aan die Kaap in 1652 met die doel om ʼn verversingspos vir skepe te stig. Spoedig word grond toegeken aan Vryburgers en so vroeg as 1657 kom die Nederlands wat hulle praat in aanraking met Maleis-Portugees, die taal van die slawe. Agv verskeie faktore versleg die Nederlands wat aan die Kaap gepraat word, en mettertyd verskil dit so dat van Kaaps of Kaaps-Hollands gepraat kan word. Die Franse Hugenote kom in 1688 hier aan, kan nie Hollands of hierdie vreemde dialek van Hollands verstaan nie. (In 1752 kon niemand meer Frans praat nie.) In 1700 neem Engeland die Kaap oor en Kaaps kom sterk onder die invloed van Engels. Die jaar 1700 is, soos ek dit sien, ook waar daar ʼn duidelike skeiding tussen Nederlands en die nuwe taal, Afrikaans gekom het. Dit is veral vanaf 1875 wat voorstanders van Afrikaans na vore getree het, en dit verdedig het teenoor vernederende aantygings. Na die Engelse oorlog (1899-1902) het ʼn verset ingetree teen alles wat Engels-Engels is. Selfs die taal het deurgeloop en alle anglisismes moes uitgeroei word. Vertalings, neologismes en nuutskeppinge het die plek moes inneem waar Engels uitgeroei is. So het ʼn gestandaardiseerde Afrikaans of AB-Afrikaans ontstaan wat in 1925 een van ons amptelike tale geword het.
    Die sprekers van Kaaps was nie so patrioties teenoor hulle taal nie, en het baie Engels opgeslurp, en niks uitgeroei nie. Hierdie Kaaps, wat die moedertaal van baie is, moet nie verwar word met die Afrikaans wat ons vandag praat en opnuut deur Engels beïnvloed word nie. Die Afrikaner praat deur die bank uiters swak Afrikaans, net soos die Nederlanders destyds hier aan die Kaap uiters swak Hollands begin praat het.
    Engels het dus twee aanslae (as ʼn mens dit so kan noem) op ons taal gemaak: vanaf 1700 toe die Kaap deur Engeland oorgeneem is, en Kaaps deurspek geraak het van Engels, en in ons tyd waar “suiwer” Afrikaans nou so bedreig word, dat dit swak Afrikaans word.
    Ek weet dit is moeilik om te sluk, maar suiwer Afrikaans of Standaard Afrikaans of AB-Afrikaans, wat jy dit ook al wil noem, het nie uit die lug geval nie. Daar was ʼn tyd toe Afrikaanssprekendes van ʼn juts, gepraat het, van ʼn saaidbord, en ʼn baaisiekel en vis en tjips, ens. Onderwysers en taalkundiges het dit uitgeroei met regter, buffet, fiets, vis en aartappelskyfies.
    Hierdie tweede aanslag op Afrikaans, sal blywend wees. Niemand gaan meer Anglisismes uitroei nie. Ek en jy sal nog sê ‘verbasend’ of ‘wonderlik’, maar ons verdwyn spoedig, en die nageslag ken net ‘amazing’.
    Net soos swak Hollands Afrikaans geword het, sal swak Afrikaans een of ander taal word. Dis maar die beloop van taalwees. Agteruitgang van ʼn taal beteken nie dat mense mekaar naderhand glad nie kan verstaan nie. Die teendeel is waar: hulle verstaan mekaar beter. Of dink jy miskien ons wat Afrikaans praat, verstaan mekaar slegter so met hierdie agteruitgang van Hollands?
    Groete
    Angus

  • Beste Jan,
    Nog so 'n klompie waarby ek nie uitgekom het nie. Die term dooie taal word gebruik vir tale wat nie meer gepraat word nie, maar geskryf word, soos Latyn. Dit verloor nie woordeskat nie en kry ook niks by nie. Latyn kry wel woordeskat by soos by die benoeming van nuwe plante en plantvariasies. Ook op mediese gebied is die navorsers heel produktief.

    Ek twyfel of daar nog so streng "opgetree" word teen anglisismes, soos in die ou dae. Taalboeke het bladsye en bladsye beslaan oor hoe Afrikaans teenoor Engels is. Onthou jy nie? My promise still stands x My belofte bly nog van krag (verkeerd is: my belofte staan nog.)Take your time x Moenie haas nie (verkeerd is: Vat jou tyd.) Time will tell X Die tyd sal ons leer. (Jeremy Fredericks van krieketkommentaarfaam se "tyd sal tel' is kostelik.) Groot anglisismes is ook: Daar is 'n klop aan die deur. Jy moet wegdoen met jou fiets. Moenie die speler afsit nie. Jy vat 'n kans. Ek het hier opgegroei. En nog 'n mag der menigte, en almal moet uitgeroei word ter wille van 'n AB-taal.
    Ek twyfel of daar Afrikaansonderwysers is wat enigeen van bogenoemde anglisismes of ander sal herken, en die outjie wat dit gebruik ses van die bestes sal gee. My taalonnie was kapabel en gee jou 'n klap as jy sê: die tyd is op. Min mense weet deesdae dat jy moet sê: die tyd is verstreke, as jy suiwer Afrikaans wil besig.
    Dan betwyfel ek dit dat as iemand vir sy pêl sê: " ‘usually as ek vir myself goals geset het achieve ek hulle" dat iemand juis na 'n woordeboek sal gryp. Jy sê self dis nie Afrikaans nie. Ek kan jou verseker dis nie Engels nie. Jy stem saam dat dit nog taal is. Nou wat sal ons hierdie taal noem? Ons kan dit beslis nie 'n "Mengsel van twee tale" noem nie. Dit is sintakties baie duidelik Afrikaans. Kom ons noem dit Afrisies. O, ekskuus! Jy beweer mos dat nuwe tale nie so begin nie. Dis nou vir jou 'n tameletjie!

    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    Jou skrywe verskaf my soveel plesier dat ek dit weer gelees het. Sê my, Jan, hoe weet jy dat Afrikaans 'n grammatika het?
    Graag wil ek ook by jou weet hoe jy dink waar kom die sogenaamde Standaardafrikaans vandaan? Het dit sommer so gestandaardiseerd uit die lug geval, en toe ons ons kom kry, praat ons dit?
    Sien uit na jou antwoord so oor 'n paar maande.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top