Vir Angus oor sy kommentaar onderaan my brief van 7 deser

  • 2

Beste Angus

Jy lees weer half; ek het nooit beweer dat jý gesê het dat “nasies en volkere sit en wonder en wag dat die grammatikus vir hulle moet voorskryf hoe om woorde sintakties te las en uit te spreek” nie.  Ék het dit gesê en dit was ter illustrasie van die waansin van jou bewering dat ’n grammatikus die grammatika van ’n taal skryf.  Ek het nou al male sonder tal vir jou gesê ’n grammatikus skryf nie vir ’n taal ’n grammatika nie, hy stel die BESTAANDE grammatika ten boek.  Dit is duidelik dat jy “grammatikaboek” en “grammatika” verwar.  “The Origin of the Species” is teenoor “evolusie” soos “grammatikaboek” teenoor “grammatika”.

Jy stem saam dat Afrikaans uit 17de-eeuse Nederlands ontwikkel het, maar wat jy sê van Kaaps en Kaaps-Hollands is oorbodig; enige taal was anders 100, 200 300 jaar gelede as tans.  Dit het met my bewering dat Afrikaans agteruitgaan en besmet word met Engels (soos duidelik blyk uit oa die sepietaal) niks te doen nie.

Jou bewering dat ontlening opgehou het, dat woorde uit Engels nou sommer “pens en pootjies Afrikaanse woorde gemaak word” is juis wat ek sê – dit is nie ontlening nie, dis lukraak Engelse woorde wat ingegooi word en dit het die verskraling en agteruitgaan van Afrikaans tot gevolg.  Dit begin dus nou tot jou deurdring dat Afrikaans wel deur Engels besmet word, maar jou nuwe taktiek ter verdediging daarvan is dat Afrikaans “sterk” genoeg is om dit te absorbeer.  Dit is soos omte kla dat water nie “sterk genoeg” is nie, want dit kan deur gifstowwe besoedel word.  En, weer eens, die feit dat Afrikaans en Nederlands in die laat 1600’s van mekaar begin skei het, is deel van die geskiedenis en het met die huidige verdringing van Afrikaans deur Engels niks te make nie.

Jy reken ek verpes verandering omdat ek a) die verandering van taal nie raaksien nie en b) die verandering van feite en lewensomstandighede nie raaksien nie.  Jy skiet jouself hier weer in die voet want hoe sou ek nou nie die verandering in lewensomstandighede nie raaksien nie?  Net nou die dag het ek vir my ’n nuwe bandsaag aangeskaf wat hewig bydra tot my lewensgehalte in my werkswinkel. Ek is ook bly dat ’n besoek deesdae aan die tandarts so te sê pynloos is en dat hulle nou die dag my galblaas kon verwyder deur net ’n klein gaatjie in my pens te maak.

En feite verander nie; idees en opvattings mag later blyk verkeerd te gewees het, byvoorbeeld dat berg X die hoogste op aarde is want hy is nie, die feit is berg Y is hoër en was nog altyd hoër.  Jou voorbeeld van veranderende kommoditeitspryse wat daagliks verander is geen bewys dat feite verander nie, dit is bloot pryse wat verander.  Wat wel ’n feit is ten opsigte van pryse is dat, op ’n gegewe datum, was dit ’n feit dat olie $a per vat was en die dag daarna was dit $b per vat – dit is twee feite wat nooit verander nie.

Wat jou siening oor “teorie” betref (naamlik dat teorie op wet volg):  Teorie is ’n veronderstelling, ’n blote mening; dink maar aan die segswyse “teoreties so en so maar prakties . . .”.  Daar is wel goed-ontwikkelde teorieë soos dié van evolusie of relatiwiteit maar hulle word nog aan gewerk, nog lank nie klaar nie.

Ek kan nie verstaan dat jy so sukkel met die begrip “grammatika” nie.  Jy beweer steeds ’n taalkundige skryf die grammatika van ’n taal.  Hy skryf nie die grammatika nie, hy teken die reeds bestaande grammatika op.  Jy sê deesdae gebruik goeie onderwysers die “sogenaamde direkte metode by die aanleer van ’n taal, en daar is geen sprake van grammatika nie”.  Angus, watter metode ook al gebruik word, wat die student leer is juis die grammatika van daardie taal, al is dit die sogenaamde direkte metode (wat dit ook al is).  As jy nie die grammatika van ’n taal ken nie, ken jy nie die taal nie.  Die grammatika PLUS die woordeskat IS die taal.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 2

Kommentaar

  • En dit, dames en here, staan bekend as Jan Rap se taalwet. Sal linguiste asseblief regop sit en aandag gee: Die grammatika PLUS die woordeskat IS die taal.

  • Beste Jan,
    Gaan lees maar in die geskiedenisboeke. Aan die Kaap het die mense anders begin praat as die Nederlanders. Hierdie nuwe taal het die naam Kaaps gekry, of ook Kaaps-Hollands, of Kaaps-Nederlands. In 1875 word hierdie taal Afrikaans veral met die tweede vergadering van die Genootskap van Regte Afrikaanders (25 September 1875.) Een van die bepalings van hierdie vergadering was nog "om op te staan ver ons Taal, ons Nasie en ons Land."

    Ek verstaan nie hoe ek my in die voet kon skiet net omdat ek nie van jou bandsaag, jou tandpyn en jou galblaasontsteking geweet het nie. As ek reg onthou, het ek tereg gesê dat jy nie kan insien dat tale gedurig verander nie.

    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top