Vir Angus oor sy koei van 1 deser

  • 14

Beste Angus

Jy moet nou versigtig wees om verskonings te aanvaar wat ek nie eers gemaak het nie.  Wat die grammatika betref het ek verkeerd gelees – jy het gesê kunsmatige tale se grammatika is op bestaande tale se grammatika baseer en ek het gedink jy sê dit is NIE op bestaande tale s’n baseer nie. Ons eintlike bespreking wat grammatika betref gaan oor my siening dat grammatika eintlik die taal is terwyl jy volhou dat iemand die grammatika vir die taal skryf.  Dis onsin; dié iemand stel net die bestaande grammatika ten boek.  Geen taal is sonder grammatika nie; saam met die woordeskat ís dit die taal.

Die ander verskoning was dat, volgens my, jy reken die Kapenaars in die sepies praat Kaaps – daardie soort wat hulle Engelse woorde lukraak invoeg soos “jy’t gemention dat ons nie ‘n future saam het nie.”  As jy sê dis nie Kaaps nie aanvaar ek jou woord daarvoor maar ek moet sê, soos jy daardie praatstyl verdedig het terwyl ons konstant Kaaps onder bespreking gehad het kon ek nie anders as om te dink jy’s van mening dat daardie sepietaal Kaaps is nie.

Ek wou nooit by jou weet waar die Engels vandaan kom wat in Afrikaans te vinde is nie (en jý is die ou wat kla oor verdraaiing).  Ek het van die begin af vir jou gesê waar dit vandaan kom – dit is ‘n manifestasie van die agteruitgang en verskraling van Afrikaans; die verdringing van Afrikaans deur Engels.  Ek het jou nog van die redes hiervoor ook gegee naamlik die feit dat ons verplig is om heeldag en aldag Engels te praat en ook, onder andere, die slapgatgeit van ons Afrikaanssprekendes wat taalhandhawing betref. 

Daar is wel Engelse woorde in Afrikaans opgeneem soos daar ook woorde uit Khoi, Italiaans, Portugees, Maleis, Frans en miskien nog ’n ander paar tale opgeneem is.  Dit is maar die geval met alle tale.  Die Kapenaars in die sepies egter gebruik Engelse woorde op ’n lukraak manier, hulle VERVANG Afrikaanse woorde met Engelse woorde onnodiglik, praat slordig met ander woorde. Hulle is nie die enigstes wat skuldig aan hierdie slordige mengtaal is nie, ons almal doen dit in ’n mindere of meerdere mate maar die Kapenaars, soos byverbeeld in die sepies, skyn hulle daarin te verlustig.

Jy verdedig hierdie Sepiekaaps op grond van jou waninterpretasie van die geskiedenis; gaan sover as om te sê dis die ou Afrikaans, die nuwe Standaardafrikaans is maar net daardie Engfrikaans waarvan die Engelse woorde uitgehaal is (hieruit kan mens aflei jy reken daardie sepietaal is Kaaps maar as jy sê dit is nie jou mening nie dan is dit seker so).  Jy beweer ook dat dit (Kapenaars se sepietaal) die begin van ’n nuwe taal is.  Tot nou nog snap jy nie die teenstrydigheid van jou stellings nie – sepietaal is die begin van ’n nuwe taal en terselfdertyd is dit oud-Afrikaans wat nog nie van die Engelse woorde gesuiwer is nie.  Jy haal kort-kort die geskiedenis aan om hierdie stellings van jou te staaf maar, soos ek jou al gesê het, dit hou nie water nie.

Jy vra my of ek nie weet van die uitroei van anglisismes nie, so al asof die uitroei van anglisismes nou sou bevestig dat oud-Afrikaans half Engels was.  Natuurlik weet ek van die uitroei van anglisismes maar dit bewys niks van jou teorieë nie.  Anglisismes is indringers in Afrikaans en word uitgeweer om die agteruitgang en verskraling van Afrikaans te verhoed.  Hier’s vir jou ’n analoog om die begrip makliker verstaanbaar vir jou te maak:  Die uitroei van indringerplante is nie ’n bewys dat die land uit indringerplante bestaan het nie – die goed word uitgeroei omdat hulle ’n bedreiging vir die inheemse plante is. 

En nee, ek dink nie Standaardafrikaans het uit die lug geval nie, hy het net soos Algemeen Beschaafd Nederlands of enige ander taal maar ontwikkel vanuit ’n brontaal.  Afrikaans het uit 17de eeuse Nederlands ontwikkel en daardie Nederlands het self ook sedertdien veranderinge ondergaan.  Dink aan evolusie (as jy nou die teorie aanhang); die mens het nie uit die aap ontwikkel nie, maar volgens die teorie het die hedendaagse aap en hedendaagse mens uit een of ander bronspesie ontwikkel.  Die Engfrikaans deesdae is nie deel van die geskiedenis van die ontwikkeling van Afrikaans nie; dit is bloot ’n vermenging van twee gevestigde tale. Die evolusie-analoog hiervan is as hulle by Onderstepoort twee spesies sou kruis wat miljarde jare gelede uit dieselfde bronspesie ontwikkel het.

Interessant dat jy vir my sê om in die woordeboek te gaan kyk hoeveel Afrikaanse woorde aan Engels ontleen is, jy wat kla dat, as ek die woordeboek as verwysing aanbeveel, ek wil hê die mense moet met ’n woordeboek onder die arm rondloop.  Nou sê ek weer vir jou, leenwoorde kom in die woordeboek voor, dis woorde wat al in Afrikaans ingeburger is. ‘Future’ en ‘mention’ kom nie daar voor nie so die sin “jy’t gemention dat ons nie ’n future saam het nie” het vreemde woorde in en is dus mengeltaal.

Jy verdedig ook hierdie mengeltaal deur te sê Afrikaans is ’n sterk taal wat hierdie Engelse woorde kan absorbeer.  Mag so wees maar dit het met die slordige en afstootlike mengeltaal weinig te doen.  Iemand wat taal X met taal Y meng is nie besig om die kragdadigheid van taal X ten toon te stel nie, inteendeel, hy wys maar net hy is ’n swak  spreker van taal X (of dalk ’n bewonderaar van taal Y). 

Die feit dat Nederlands so deurspek is met Engels is maar net weer ’n manifestasie van die onverklaarbare verering wat die Hollanders vir die Engelse en Engels het, niks met die absorberingsvermoë van Nederlands te doen nie.  Buitendien, die taal Nederlands kan dit bekostig want hulle is nie verplig om Engels in die belastingkantoor, aanklagkantoor, die hof, die kafee, staatsdepartemente ens te praat nie. 

Nederlands kan grootliks suiwer bly al word daar ’n klomp Engelse bousteentjies hier en daar ingegooi.  Afrikaans, met die geweldige blootstelling aan Engels en die regering se blatante vyandigheid teenoor Afrikaans, begin ’n Engelse boustyl aanneem, laat staan nog die bousteentjies.

Van ‘absorbering’ gepraat:  Dit is opvallend dat as Engelssprekendes Afrikaanse woorde gebruik, word die uitspraak daarvan verengels om by die ‘sleutel’ van die taal te pas, selfs eiename.  ‘Gert Myburgh’ word byvoorbeeld ‘Ghûd Maaibûgh’, ‘Klerksdorp’ word ‘Klaaksdôp’ maar dis goed, dit klink reg want dit pas by die sleutel van Engels.  Afrikaanssprekendes daarenteen doen hulle bes om die Engelse woorde, wanneer hulle Afrikaans praat, op Engels uit te spreek (veral die ‘r’ en hulle sukkel daarmee) en dit klink nie goed nie, pas nie en klink gedienstig. ‘Allanridge’ word ‘Allenwidge’, ‘Red River Valley’ word ‘Wed Wiwiw Valley’ ens.  Klink boie kok soos Casper de Vries sou sê.

Ek sien jy sukkel nog steeds met die betekenis van die woord ‘feit’.  Feite verander nie; as Everest nie die hoogste berg is nie was dit nooit ’n feit dat hy die hoogste was nie want, die feit is, daar is ’n berg hoër as hy.  Dit is wel ’n feit dat die mense dit verkeerdelik as ’n feit beskou het.  Dis mos eenvoudig, hoe sukkel jy so daarmee?  Terloops, jou uitleg van feit, hipotese, wet en teorie in daardie volgorde van geldigheid klink nie vir my reg nie.  Die juiste woord ‘teorie’ dui daarop dat dit nog nie onteenseglik bewys is nie.  Die WET van Boyle is bevestig ná die TEORIE van Boyle byvoorbeeld.

Verder oor die woordeboek:  Toe jy destyds gesukkel het om tussen ’n leenwoord en ’n vreemde woord te onderskei het ek aanbeveel jy kyk in die woordeboek en as die woord nie in die woordeboek is nie is dit nie ’n leenwoord nie.  Ek het ook gesê dat leenwoorde al so ingeburger is dat mense nie eers weet of hulle besig is om leenwoorde te gebruik nie.  Jou afleiding dat ek wil hê mens moet met ’n woordeboek rondloop om te bepaal of hy nou ’n leenwoord mag gebruik is dus onsinnig want hy weet nie eers hy gebruik ’n leenwoord nie – ek het die woordeboek bygehaal omdat JY gesukkel het om te onderskei tussen leenwoorde en vreemde woorde.

Grammatika sluit sintaksis in, uitspraak ens en die ou wat ’n grammatikaboek skryf dink nie voorskrifte ten opsigte hiervan uit nie; hy teken op wat reeds bestaan.  Geen volk of nasie gaan sit en wag en wonder hoe hulle sintakties woorde gaan las en hoe om dit uit te spreek totdat ’n grammatikus vir hulle ’n grammatika kom skryf soos jy beweer nie.  Dus, ek sê weer vir jou, niemand ‘skryf vir ’n taal ‘n grammatika’ nie; die bestaande grammatika word bloot opgeteken.  Jy wil weet wat mens daardie geskrewe stuk noem – jy noem dit ’n grammatikaboek.  Ek sou dink die Akuntsu in Wes-Brasilië het nie ’n grammatikaboek nie maar, sou daar ’n sendeling opdaag en met groot moeite die taal leer deur tussen hulle te bly, gaan hy dit vir toekomstige sendelinge makliker maak deur die grammatika op te teken (egter onwaarskynlik; daar’s net vier van hulle oor).  Hy kan beslis nie VIR hulle ‘  grammatika skryf nie want dié bestaan reeds.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 14

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Sal jy asseblief skryf wat sin maak? Bostaande is net die een gegorrel op die ander, en dan hou jy aan om dit wat ek sê te verdraai.
    Jy skryf soos volg: "Geen volk of nasie gaan sit en wag en wonder hoe hulle sintakties woorde gaan las en hoe om dit uit te spreek totdat ’n grammatikus vir hulle ’n grammatika kom skryf soos jy beweer nie."

    Ek sou graag wou weet wanneer en waar ek so iets beweer het.

    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Nou laat ek dan maar vir jou opsom:
    Ek wou nooit by jou weet waar die Engels vandaan kom wat in Afrikaans te vinde is nie. Ek sê vir jou die Engels dring in en verskraal Afrikaans maar jy sê dit was altyd daar; Standaardafrikaans is maar oud-Afrikaans (Kaaps?) gesuiwer van die Engels.
    Jy vra of ek dink of Standaardafrikaans uit die lug geval het. Ek sê nee ek dink nie so nie; Afrikaans het in die 17de eeu van Nederlands begin afwyk.
    Jy sê ek moet in die woordeboek gaan kyk hoeveel woorde aan Engels ontleen is. Ek sê nou toe nou komende van jou is dit interessant want ek het lankal vir jou gesê jy moet in die woordeboek gaan kyk as jy sukkel om te onderskei tussen ’n leenwoord en ’n indringerwoord.
    Jy verdedig mengeltaal deur te beweer Afrikaans is ‘sterk’ genoeg om dit te absorbeer. Ek sê mengeltaal is die manifestasie van swak taalgebruik eerder as ’n vertoning van die kragdadigheid van ’n taal.
    Jy sê feite verander. Ek sê ’n feit verander nie. Indien mense verkeerdelik iets as ’n feit aanvaar het was dit nooit ’n feit nie.
    Jy sê die volgorde van kennis se geldigheid is feit, hipotese, wet en teorie. Ek sê dit maak nie sin nie; die, sê maar Wet van Boyle is ’n stap verder as die Teorie van Boyle byvoorbeeld.
    Jy sê iemand, ’n grammatikus, skryf vir ’n taal ’n grammatika. Ek sê ’n grammatikus teken bloot die reeds bestaande grammatika op (en stel dit ten boek in die meeste gevalle).
    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan,
    Jy beantwoord nie my vraag nie. Ek wou weet waar en wanneer het ek beweer dat nasies en volkere sit en wonder en wag dat die grammatikus vir hulle moet voorskryf hoe om woorde sintakties te las en uit te spreek.
    Gaan lees wat ek oor grammatika geskryf het oor taal en grammatika. Van toeka se tyd bestudeer taalkundiges tale se strukture en sisteme, en skryf dan die grammatika van daardie taal.
    Dit is so dat Afrikaans ontstaan het uit 17de eeuse Nederlands, maar jy vergeet gerieflikheidshalwe dat Nederlands in Suid-Afrika eers Kaaps en Kaaps-Hollands geword het, voor dit Afrikaans geword het.
    Wat ontlening betref, jou woordeboekstorie het slegs water gehou tot so 1980 se kant. Deesdae ontleen Afrikaans nie meer nie, dit vat sommer net en maak dit so pens en pootjies 'n Afrikaanse woord. En niemand gaan loer eers in die woordeboek om te sien of hulle die woord mag gebruik of nie. (Jou verduideliking van wat 'n leenwoord is, laat my dink aan George Orwell se Big Brother.)
    As Afrikaans nie sterk genoeg is om Engelse woorde te absorbeer nie, dan is 'n nuwe taal in wording tog maar voor die hand liggend. Dan verander Afrikaans in 'n ander taal, soos Nederlands hier verander het in Afrikaans, met die verdwyning van Nederlands. (Ek beskryf net wat gebeur, ek verdedig niks nie.)
    Feite en kennis raak verouderd en verander. Jou hele lewensbeskouing is konserwatief, en daarmee bedoel ek, jy verpes verandering. Jy sien verandering van taal nie raak nie, jy sien verandering van lewensomstandighede en feite nie raak nie.
    In wetenskaplike taal lê die feit heel onder wat kennis betref, dan volg die hipotese, dan die wet en dan die teorie. Die teorie is 'n volledig uitgewerkte stelsel, wat feite en wette insluit en nog nie deur ander bewysbare teorieë vervang is nie. Die populêre, onwetenskaplike siening van die teorie is dat dit maar net 'n teorie is en nog nie bewys nie. Laasgenoemde beskouing staan ook bekend as die Ronald Reagan-mistasting. Dit staan jou egter vry om die wetenskaplike vertolking van "teorie" te aanvaar, of soos Ronald Reagan ewe hoogdrawend mis te tas.
    Ek sê 'n taalkundige bestudeer tale en taalsisteme vir baie jare voordat hy die kennis en die vaardigheid het om 'n taal grammatikaal te ontleed, en die grammatika daarvan te skryf. 'n Grammatikus moet vir jou dit uitwys dat Duits vier naamvalle het, anders sal niemand dit weet nie. Niemand hoef dit ook te weet nie, dit is slegs van belang vir ander taalkundiges. In die ou dae het onderwysers vir kinders op skool die grammatika van Duits geleer om sodoende vir hulle die taal te leer. Dit staan bekend as die grammatika-vertaalmetode. Deesdae gebruik goeie onderwysers die sogenaamde direkte metode by die aanleer van 'n vreemde taal, en is daar geen sprake van grammatika nie.
    Feite kan op 'n tydlyn geplaas word: heel links die feite wat kort-kort verander en heel regs feite wat nooit verander nie. Heel links sal dan wees bv. aandeelpryse wat by die minuut kan verander, in die middel feite wat oor 'n lang tyd verander en heel regs, feite wat nooit verander nie soos bv dat die son in die ooste opkom en in die weste ondergaan. Selfs laasgenoemde is ek ook nie so seker van nie. Wat gebeur as magnetiese noord en suid so oor 'n miljoen jaar omruil?
    Ek verstaan nie hoe mense "verkeerdelik" feite sal kan aanvaar nie. Sou jy bv. sê as ruolie se prys gister $54.7 per vat was, dat dit 'n "verkeerde feit" was as dit vandag verander het na $55.9 per vat?
    Groete
    Angus

    • André van den Berg

      Ai, kinders - julle moet tog maar mooi speel. Jan, my ouma sê jy moet vir jou 'n groot stuk sjokoladekoek kom haal. En Angus, sy's nie kwaad vir jou nie en jy kan ook 'n stukkie koek kom haal.

  • Beste André,
    My ma kan nie sjokoladekoek bak nie, en my vrou ook nie. Ek het nie meer 'n ouma nie; kan ek joune leen?
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus

    Mev Kate de Villiers se 760 beproefde resepte is dan net die regte boek vir jou.

    Lekker dag

  • Beste FC,
    Dankie vir jou gewaardeerde inligting. Ek verkies darem nog liewer 'n ouma.
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus,

      Saamstem of nie, Jan Rap se skrywe was nie so onduidelik dat dit jou snedige afkraking daarvan regverdig nie. Dit is 'n tendens by jou om jou opponente te verkleineer en te beskuldig van onduidelikheid. Konstant moet jou opponente hulself herhaal, wat aanleiding gee tot onnodig uitgerekte skrywes wat ontaard in moddergooiery.

  • Beste Kuber Koos,
    Stadig met jou rondgooi van woorde! Nêrens is daar snedige afkraking in my skrywes nie. Kwetsende aanmerkings is net nie deel van my taal nie. As jy verkeerd redeneer, sal ek jou daarop wys, maar jou persoonlik aanval sal ek nooit doen nie.
    Jy beskuldig my daarvan dat ek "opponente verkleineer". Wys my asseblief waar ek dit gedoen het, sodat ek of jou daarop kan wys dat jy verkeerd is, of dat ek dit kan regstel. As iemand iets aan my skrywe, en ek sê dat dit onduidelik is, met ander woorde, dat ek nie verstaan wat hy sê nie, is dit beslis nie verkleinering nie.

    Herhaling van begrippe is beslis ook nie moddergooiery nie. Moddergooiery beteken om iemand te belaster, en dit sal ek nooit doen nie, want laster kan tot hofsake lei.
    Kry vir jou 'n goeie Afrikaansverklarende woordeboek.
    Groete,
    Angus

    • Angus
      Ek weet nie waarvoor jy jouself verskonend teenoor Kuber Koos wil regverdig nie. Jy moes hom eerder skerp aangespreek het en tot ’n punt van order gebring het mbt tot die inhoud van Jan se brief.
      SêNet se leuse is: “Sê jou sê op die Sê! LitNet se vuurwarm brieweblad oor alles en nog wat”.
      SêNet het agteruitgegaan, vergeleke met vorige jare juis omrede die VUURWARM in deesdae se briewe ontbreek. Dit was die VUURWARM wat ’n wye spektrum response gelok het, emosies lekker opgejaag en wat SêNet besonders interessant gemaak het. SêNet het nou verval in ’n eentonige (eerder “boring”) akademiese relaas. My benadering tans is ek lees nie meer die briewe nie, eerder die response, en wanneer ’n respons WARM genoeg is, dan lees ek die brief. Ek is seker ander lesers doen dieselfde.
      Indien enigiemand gedurig nie ’n punt wil insien nie, en Jan ek verwys hiermee nie spesifiek na jou nie, het die responsskrywer die volste reg om sodanige persoon aan te vat. Indien hy sy sout werd is hoort hy ewe skerp genoeg te wees om vir die leser te kan bewys hy is tog baas van sy onderwerp.

      ***
      Jaco, die feit dat daar min en (volgens jou) eentonige, vervelige briewe is, is dalk omdat briefskrywers min skryf. Hedendaagse kommunikasietendense werk al hoe meer op die kommentaar-op-kommentaar-konsep – kyk maar na twitter.
      SêNet plaas alle briewe wat geskryf word. Tensy die inhoud lasterlik, vol haatspraak of doodgewoon in onnodige swak smaak of totaal sinneloos is. Maar ja, goeie briewe met goeie skietgoed in is welkom. Ek wag ...
      Groete
      Webvoet

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top