Dagsê Angus
Ek het jou al verskoning gevra in die kommentaarhokkie maar ek is nie seker of jy dit gaan raaksien nie; daardie goed is maar moeilik om te kry, half obskuur. Wat ek met 'niksseggend' probeer sê het is dat jou stelling dat taal maar 'suinig' is, dis hoekom hy aan't vereenvoudig is, irrelevant is want ek vra hoekom het taal eers veringewikkeld en toe vereenvoudig. Om te sê taal is suinig en ekonomies spreek dan net die tweede deel van my vraag aan.
Dis juis wat vir my so 'n raaisel is; baie jare, millennia, gelede, was daar nog nie taal nie. As taal evoleer het, moes dit ontwikkel het van 'n primitiewe geblaf en gegrom tot uiteindelik 'n taal met naamvalle, verbuigings en dies meer. Moderne tale gooi nou weer van daardie ingewikkelde grammatika weg. So, as jy 'n kromme van ingewikkeldheid (hoe mens ookal 'ingewikkeldheid' gaan kwantifiseer) teenoor tyd moet trek dan styg die kurwe en daal dan weer.
My vraag is hoekom. As taalevolusie geld, dan moet 'n taal soos Afrikaans of Engels, na die aanvanklike 'geboorte' uit ingewikkelder tale, weer 'n grammatika ontwikkel met naamvalle, verbuigings, geslagte die lot. Ek het nie gestry of 'krummelgat' getrek soos George beweer nie; ek het maar net gewonder.
Jou openbaring dat daar wel 'n plek soos Elandsrug is het ook niks met die prys van eiers te doen nie. Ek het 'n plek gekies waar mense nie kan Engels praat nie – plaas laat ek die plek maar Rasputinlaagte genoem het. Maar laat ek dit dan maar op 'n ander manier aan jou verduidelik: Iemand wat gekontamineerde Afrikaans in, sê Armeens, moet vertaal sal dit nie kan doen as hy nie Engels ook magtig is nie want 'achieve', 'goals set', 'introduce' en 'usually' is bloot nie Afrikaans nie. Om dit eenvoudiger as dít te stel gaan moeilik wees.
Wat die 'verwaarlosing' betref; ek het tog ook duidelik gesê die taal verloor nie sy uitdrukkingsvermoë nie; 'n Engelsman of 'n Afrikaner kan net so goed filosofeer, of gevoelvolle prosa skryf, as 'n Fin of 'n Duitser. Wat verwaarloos was, was die grammatika.
Ten spyte van my verduideliking verwys jy weer na wat ek as die Engelse gevaar beskou en jy vra wat van die Zoeloegevaar. Laat ek weer probeer. Zoeloe hou vir Afrikaans geen kontaminasiegevaar in nie bloot omdat Zoeloeradio en –televisie min deur Afrikaners gekyk of geluister word, omdat Afrikaners nie gedwing word om by die werk, poskantoor, belastingkantoor, munisipaliteit, aanklagkantoor of hospitaal Zoeloe te praat nie. Engels, weer, is 'n gevaar om die omgekeerde redes as hierbo vir Zoeloe aangevoer. Trouens, Engels is besig om Zoeloe EN al die ander tale hier in Suid-Afrika te kontamineer.
Jy hou aan met die storie dat Afrikaans nie kan verengels nie of, sê Catalonies, nie kan verspaans nie ens. Hier het ek nou net weer hierbo gewys dit kan wel; die spesifieke ou wat van sy 'goals' praat het Afrikaans gebruik wat halfpad verengels is. As jy nou wil puntenerig wees, Afrikaans word dan HALFPAD verengels waarna die halfAfrikaans-spreker maar naderhand heeltemal oorslaan Engels toe soos gebeur het met die Iere en die Skotte.
Dan, oor die 'toetsbaarheid' oor die ontstaan van die mens: Is dit toe getoets en wat was die bevinding? Verder, jy sê ek het vasgehaak by 19de eeuse Kreasionisme, verskil 19de eeuse Kreasionisme van 16de eeu s'n, of 12de of 21ste eeu s'n byvoorbeeld? Of is 19de eeuse Kreasionisme aangepas van die vroeëres sodat dit die aankoms van die mens vanaf iewers in die buiteruim insluit? Ek sal nie my kop op 'n blok sit wat dit betref nie maar dis 'n moontlikheid wat ek glad nie uitsluit nie.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,