Beste Angus
Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 5 deser.
Jammer oor die skrik wat ek jou op die lyf gelaai het met ‘deser’. Ek het die brief geplaas einde April en een of ander elektroniese drukkersduiwel het dit so bewimpel dat net die eerste paragraaf toe gestuur is. Gelukkig het webvoet besef daar’s fout en my laat weet waarop ek toe die brief hersend het maar teen daardie tyd was dit al Mei (ek was die naweek uitstedig).
Die ander ding waaroor ek jammer is, is dat jy ‘verkeerd’ as ’n vuisbal-rooigesig-gebaar sien; dit is nie die bedoeling nie. In die vervolg sal ek maar die sinsnede ‘myns insiens’ of ‘dis nie soos ek dit sien nie’ gebruik so soek en vervang al die ‘verkeerde' van die verlede met bogenoemde.
Daar is ’n heksejag op Afrikaans en die redes daarvoor is gesetel in die politiek. Daar word deur die inkwisisie aangevoer dat dit die taal van die vorige onderdrukker was, dat Afrikaans voorheen in ’n bevoorregte posisie was, dat Afrikaans gebruik word om andertaliges uit te sluit, dat amptelike gebruik van Afrikaans onekonomies gaan wees want dan moet nege ander tale ook akkommodeer word ens ens.
As gevolg van hierdie heksejag is Afrikaans van sy hoër funksies gestroop en die gevolg daarvan is ’n definitiewe agteruitgang in die vaardigheid van taalgebruik. Natuurlik logies; indien ’n sekere vaardigheid nie meer aangewend word nie verval daardie vaardigheid. Dit is maar wat betref die hoër funksies; met die ‘laer’ funksies gaan dit net so beroerd, luister maar na omroepers, inbellers, akteurs, aktrises ens. Kyk na die spelling van mense op forums waar plasings nie geredigeer word nie, dis om van te ween.
So, mens kan nie óf deur ’n politieke bril óf deur ’n linguistiese bril kyk nie; politiek beïnvloed alles, taal (dink aan 1066 in Engeland), tegnologie (dink aan die neweprodukte van wapenontwikkeling) ens ens.
Jy sê as “ … ʼn Engelse woord in Afrikaans gebruik word deur iemand, moet daar ʼn rede voor wees.” Jy’s reg, en die rede is dat hierdie iemand nie die Afrikaanse woord ken nie en hy ken nie die Afrikaanse woord nie omdat hy Afrikaans nie goed praat nie. Presies die rede hoekom mense met Engels as eerste taal Engelse woorde ingooi as hulle Afrikaans probeer praat, hulle ken nie die Afrikaanse woorde en uitdrukkings nie.
Oor die kwessie dat Engelse woorde Afrikaans verryk het ons al gepraat. Ek sê weer, as Engelse woorde Afrikaanse woorde vervang kan Afrikaans godsonmoontlik verryk word – dit impliseer hoe meer woorde vervang word hoe ryker word Afrikaans tot AL die Afrikaanse woorde vervang is en dan is dit Engels; dan is Afrikaans nie meer daar nie dus, reductio ad absurdum.
Vervanging is dus nie ’n linguistiese beginsel wat taalverryking betref nie maar wel wat taalondergang betref.
Ek kan nie onthou dat ek jou daarvan beskuldig het dat jy taalvermenging voorskryf nie. Wat ek wel te kenne gegee het is dat jy taalvermenging duld of vergoeilik wat natuurlik waar is (vgl jou kommentaar ten opsigte van die sin “usually as ek my goals geset het achieve ek hulle”). Weer eens, mengeltaal (sê taal X en Y word vermeng) kan slegs verstaan word as jy ’n kennis van X en Y het, die mengeltaal is dus per definisie nie taal X en ook nie taal Y nie.
Vrydagoggend, net voor die nuus om 8, het iemand nuus oor die Kaapse vlakte aangebied en iemand wat nie Engels magtig is nie sou definitief nie daardie ou kon verstaan nie. Dit was taalvermenging in ’n erge graad, die ou het beslis nie Afrikaans gepraat nie, gaan luister maar op potgooi (RSG).
Jou voorstel dat, indien ons die gesprek wil voorsit, ons sal moet besluit op watter grond dit moet plaasvind (polities of linguisties) is ongeldig want, soos ek hierbo aangedui het, politiek is ’n agtergrond waarteen alles plaasvind.
Buitendien, hoe sou mens nou ‘polities’ na ’n taal kyk? As ek beweer Afrikaans gaan agteruit en ek gee bewyse daarvoor en jy stem nie saam nie kan jy my bewyse as onsin afmaak (en natuurlik jou redes gee); dis van geen betekenis of dit nou deur ’n politiese of linguistiese bril is nie.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Wat jy as “verkeerd” afmaak, is juis as gevolg van die “myns insiens” en “dis nie hoe ek dit sien nie”. Dit is ʼn subjektiewe beoordeling, en dit kan nie gaan as ons taal taalwetenskaplik beskou nie. Polities, ja, ek wil geen verdomde Engelse woord in Afrikaans sien nie; liewer dan maar ʼn Franse of Duitse woord, dit kan nog gaan, maar nie Engels nie. My Afrikaanse onderwyser was ʼn Ier, en ek dink hy het die Engelse en Engels gehaat. Woorde soos “hotel” en “hostel” is, volgens hom, aan Frans ontleen. Hy het woedend kwaad geword toe my vriend, Johnnie, opmerk dat dit maar via Engels in Afrikaans gekom het.
Jy beweer dat politiek taal beïnvloed. Dit is so, maar jy kan nie politieke norme op taal gaan toepas om dit te beskrywe, en nog erger, te beoordeel nie. Dit is ʼn linguistiese feit dat waar tale naas mekaar bestaan, hulle ʼn invloed op mekaar gaan hê. Linguisties is daar geen reël of wet of regulasie wat dit verbied nie. Daar is geen reël wat enige spreker van enige taal verbied om ʼn woord te gebruik wat hy as geskik ag nie. Daar is geen linguistiese beginsel agter opmerkings soos “Sies, hy is slapgattig dat hy nie korrekte Afrikaanse woord gebruik nie”, of “dit klink platvloers”, nie.
Daar moet darem die ooreenkoms tussen spreker en hoorder wees, dat hulle dieselfde taal verstaan en praat, anders is daar nie kommunikasie nie. As iemand jou sogenaamde mengeltaal praat en ʼn Afrikaanssprekende verstaan hom nie, dan is daar nie die ooreenkoms nie; dieselfde gebeur as iemand Russies praat en die hoorder verstaan hom nie.
Dis nie my taak om enige vorm van taal te vergoelik of te duld of nie te duld nie. Dit hinder my as mense nie wharrie nie. My gevoel is egter net subjektief en ek kan nie daarvolgens sulke taalgebruik as verkeerd afmaak nie. Daar moet ʼn rede wees waarom iemand so praat. Miskien ken hy nie die woord bekommer nie, of miskien het wharrie ʼn sterker gevoelswaarde as bekommer. Miskien is die wederkerende vorm te lomp? Miskien is hy 'n Engelssprekende wat Afrikaans praat. Miskien het die persoon nooit skoolgegaan nie, want Afrikaans is nie net vir sprekers wat ʼn meestersgraad in Afrikaans op universiteit behaal het nie. Dieselfde geld ook vir die spreker van jou gewraakte “usually, as ek my goals geset het, achieve ek hulle.” Sintakties is laasgenoemde sin Afrikaans. Engelse sintaksis sou iets soos “usually, as ek geset het my goals, ek achieve hulle,” gewees het. Ek wag nog dat jy vir my hierdie sin in “suiwer Afrikaans” moet skryf, sê bv hoe iemand wat nie skoolgegaan het nie, dit sou sê op "suiwer" Afrikaans.
Dit is so dat Afrikaans vertrap word in Suid-Afrika, maar taalkundig kan ons niks daaraan doen nie; die saak moet by die stembus uitgespook word. Dan moet elke Afrikaanssprekende ʼn kampvegter vir die behoud van sy taal word. Die tyd is egter verby dat ons Afrikaans moet “suiwer” van Engelse invloed. Dit was eens nodig toe Afrikaans nog op kinderbene geloop het om Anglisismes en ander -ismes uit te roei, maar nou het Afrikaans al ʼn man geword. ʼn Engelse woord binne Afrikaanse konteks kan nie meer skade aanrig nie, trouens dit kan Afrikaans net versterk en help om by allerhande omstandighede aan te pas. Miskien is hier ʼn magtige wêreldtaal in wording? Wat sal ons dit noem? Miskien dalk nog Engfrikaans.
Groete
Angus
Presies.
Beste Angus
Met Afrikaans is dit 'n geval van onbekend maak onbemind. Die vraag wat elke Afrikaanssprekende moet vra is wat is die kans op oorlewing van Afrikaans as toegelaat word dat Engelse woorde en uitdrukkings soos onkruid die taal binnedring.
Afrikaans is maar vir my soos blomme in my tuin - kort-kort is daar onkruid wat die vermoë het om amper soos die blomme te lyk die blommetuin binnedring.
Ek leer dus die tuinjong wat my soms help om die verskil tussen die twee te leer anders verdwyn blom en onkruid ewe vinnig.
Engels is 'n wêreld- en besigheidtaal en dit is makliker vir die taal om sekere vreemde woorde te absorbeer sonder om sy Engelse karakter en wortels te verloor.
Afrikaans is 'n jong taal en as 'n mens dit nie oppas en vertroetel nie sal dit soos die blomme in my blomtuin deur die onkruid oorweldig word en saam uitgetrek en op die vullishoop beland.
C.P. Hoogenhout skryf soos volg - oor die verengelsing na die Tweede Anglo-Boereoorlog, in Die Afrikaanse Patriot, 1880
"Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor;
In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor."
Lyk my ons deur ons eie toedoen is terug in 'n soortgelyke stryd.
Laat dit met jou goedgaan.
Ns wens dat was 'n wysigknoppie wat ek kon gebruik as ek die finale produk sien
en regstel waar nodig, nadat dit versend is.
Beste FC Boot,
Net soos 'n mens nie die politiek kan gebruik om vir die linguistiek voor te skryf nie, net so kan tuinboureëls ook nie geld nie. 'n Engelse woord, of enige taal se woorde is nie onkruid nie. 'n Woord dra swaar aan betekenis in enige taal, en indien 'n Engelse woord in Afrikaans gebruik word, bring dit betekenis in.
Let op na die datum toe CP Hoogenhout Afrikaans vertroetel het. Soos ek vantevore gesê het, teen die tyd is Afrikaans nou al so 'n sterk taal dat vertroeteling nie meer nodig is nie.
Die Engelse invloed op Afrikaans kan ons nie keer nie; dit is die natuurlike beloop van elke taal. Dit is ook nie waar die gevaar lê nie; die gevaar vir Afrikaans is polities van aard.
Groete.
Angus
Beste Angus
Dis nes jy daar sê, dis persoonlike opinie. My mening is 'n funksie van hoe ek sekere verskynsels vertolk en dis nou waar ons bespreking inkom - jy vertolk dieselfde verskynsels om tot 'n ander gevolgtrekking te kom wat dalk 'n beter model is van hoe dinge verloop, in hierdie geval taalontwikkeling/-stagnering.
Dus, hier gaat ons weer:
* Dis my mening dat taal X met taal Y gemeng word as slegs 'n tweetalige persoon (X en Y magtig) dit kan verstaan. In ons bespreking is dit Afrikaans wat met Engels vermeng word.
* Dit is my mening dat hierdie vermenging plaasvind weens 1) die feit dat Engels in Afrikaanssprekendes se kele afgedruk word en 2) dat Afrikaanssprekendes as gevolg hiervan hulle eie taal al hoe minder kan aanwend.
* Dit is my mening dat, indien jy 'n vaardigheid verwaarloos, taalvaardigheid in ons geval, daardie vaardigheid mettertyd verdwyn (soos duidelik gesien kan word aan hoe Afrikaans agteruitgaan, luister maar na oa die radio).
* Dit is my mening dat, wanneer Afrikaanse woorde met Engelse woorde vervang word, die Afrikaanse woordeskat verarm. Logies, want die Engelse woord WORD nie nou 'n Afrikaanse woord nie, hy vervang net die Afrikaanse word en die taal word dus geensins verryk nie.
* Dit is my mening dat leenwoorde geen verduideliking of regverdiging vir mengeltaal is nie - leenwoorde kom in alle tale voor en beskryf begrippe waarvan die woorde nie in die betrokke taal voorgekom het nie. Leenwoorde, oor die algemeen, is dus 'n toevoeging tot die woordeskat en verryk die taal.
* Dit is my mening dat mengeltaal 'n traak-my-niks-houding weerspieël en dus 'n slordige indruk gee, selfs 'n platvloerse indruk.
Kom ons beskou bietjie jou menings in die brief hierbo. Jy sê “ ... jy kan nie politieke norme op taal gaan toepas om dit te beskrywe, en nog erger, te beoordeel nie.” Ek weet nie hoe sou mens so iets doen nie, miskien verstaan ek nie mooi wat jy bedoel nie. Hoe dit ook al sy, my mening is dat jy taal aan die hand van grammatikareëls oordeel. As mens byvoorbeeld sê in Engels “I are going to bed now” is dit gewoon verkeerd; dit is nie volgens Engelse grammatikareëls nie.
Jy beweer daar “ ... is geen reël wat enige spreker van enige taal verbied om ʼn woord te gebruik wat hy as geskik ag nie.” Daar is, en dit is nie eers my mening nie; dis ’n feit. Soos ek jou hierbo gewys het, die reël is die werkwoord “to be” in die eerste persoon is “am” (nie “are” nie). So, of jy Afrikaans, Russies of Engels of watter taal ook al praat, daar is reëls. Soos ek jou reeds gesê het, grammatikareëls is nie statutêr nie maar dis jou saak as jy jou taal wil verkrag (net soos sosiale reëls jou verbied om met plakkies, ’n onderhemp en kortbroek opera toe te gaan – jy KAN dit doen maar jy gaan nie).
Jy sê mense moet dieselfde taal verstaan en praat vir kommunikasie. Natuurlik, dis logies. As iemand byvoorbeeld Afrikaans, Duits en Engels verstaan kan jy daardie 3 tale meng en hy sal dit verstaan. Dit bly egter ’n mengsel, dus mengeltaal. As iemand eentalig Afrikaans, Duits of Engels is, sal hy daardie mengsel nie verstaan nie.
Jy sê dit is “... nie my [Angus se] taak om enige vorm van taal te vergoelik of te duld of nie te duld nie.” Ek weet nou nie van ‘taak’ nie maar dit is beslis binne jou vermoë om ’n mengelmoes uit te ken en jou mening daaroor uit te spreek. Indien dit oulik vind, so sy dit. Ek weer vind dit geensins oulik nie maar ek en jy kan nie anders as om saam te stem dat dit nie volgens die reëls van daardie taal se grammatika, en dus verkeerd, is nie.
Jy beweer Afrikaans is nie net vir sprekers wat ’n meestersgraad in Afrikaans behaal het nie. Natuurlik nie, jy’s reg, net soos Engels ook nie net vir sprekers is wat ’n meestersgraad in Engels behaal het nie. Dit beteken egter nie dat Engelssprekendes hulle moet afvee aan die reëls van die grammatika nie en dieselfde geld vir ons ten opsigte van Afrikaans (logies, ek weet nie hoekom jy dit eers noem nie).
Jy reken “daar moet ’n rede wees waarom iemand so praat” en ek neem aan met ‘so’ bedoel jy mengeltaal. Daar is beslis ’n rede en jy noem onder andere die redes wat ek ook sou aanvoer naamlik 1) miskien ken hy nie die regte woord nie, 2) miskien is hy ’n Engelssprekende en 3) miskien het hy nooit skoolgegaan nie. Presies, dit is juis die redes hoekom die ou nie korrek praat nie; gebrekkige kennis van Afrikaans om die voorafgaande redes (net soos jy byvoorbeeld nie ’n ou se somme almal kan regmerk net omdat hy nooit wiskunde gehad het nie).
Jy het gelyk as jy sê sintakties is daar gewraakte sin Afrikaans. Hierdie een is sintakties Engels “gewoonlik, if I have stelled myself some doelwitte, I’ll bereik them” maar hy is so min Engels as wat die ander sin Afrikaans is. Terloops, ek het al die sin vir jou in Afrikaans vertaal maar miskien het jy dan nie daardie brief gelees nie. Hier’s hy in elk geval weer: Gewoonlik bereik ek die doelwitte wat ek vir myself gestel het.
Jy sê dat dit so is dat “Afrikaans vertrap word in Suid-Afrika, maar taalkundig kan ons niks daaraan doen nie; die saak moet by die stembus uitgespook word.” My mening is dat, wat ons daaraan kan doen, juis taalkundig is; wat anders? Ons moet Afrikaans reg praat, eenvoudig. Wat moet ons by die stembus volgens jou doen?
Ek verstaan nie wat jy bedoel met “Dan moet elke Afrikaanssprekende ʼn kampvegter vir die behoud van sy taal word” nie. Wanneer is 'dan'? Moet elke Afrikaanssprekende eers ’n kampvegter vir sy taal word na dinge “by die stembus uitgespook is”? En as die probleem van Afrikaans wat nou so vertrap word by die stembus uitgespook is, dan is die implikasie dat hy nie meer vertrap word nie so hoekom dan eers ’n kampvegter word. Maak dit nie sin om ’n kampvegter NOU te wees juis omdat die taal NOU vertrap word nie. Hierdie storie van jou is onduidelik.
Tale kom en gaan; baie ou, ou tale het al verdwyn. Dus, na my mening, kan die tyd nie ‘verby’ wees om kampvegter te wees nie, veral omdat, volgens jou ook, die taal vertrap word. ’n Engelse woord binne Afrikaanse konteks is net so onwelkom as ’n Afrikaanse woord binne Engelse konteks, of ’n Russiese woord binne Finse konteks. Dit verteenwoordig agteruitgang. As daar eendag ’n taal soos Engfrikaans is beteken dit bloot Afrikaans bestaan nie meer nie en dis juis waaroor ons nou praat, die agteruitgang en uiteindelike verdwyning van Afrikaans.
Groetnis
Jan Rap
NS Lees gerus weer FC Boot se brief hierbo; hy praat sin en stel dit mooi kort en bondig.
Beste Jan,
Dis goed om ʼn eie mening te hê, solank dit net nie as die wet van die Mede en die Perse beskou word, en op ander afgedwing word nie. ʼn Mening is egter op sy beste maar ʼn raaiskoot, en nie gegrond op navorsing en feite soos die gevolgtrekking nie.
Dis jou mening dat slegs wanneer iemand twee tale magtig is, dan vermeng hy die twee tale.
Hier by ons in die Hoërhof is daar tolke wat drie tale, Zulu, Engels en Afrikaans magtig is, en dit is verbasend hoe hulle die drie uitmekaar hou. Die regters wat Engels en Afrikaans magtig is, hou hulle uitmekaar. Onderwysers op skole wat twee talle magtig is, hou hulle uitmekaar. Kinders, wie se ouers Engels en Afrikaans is, hou die tale uitmekaar. My twee kinders is drietalig, en hou die drie uitmekaar. Ons dominee preek vir ʼn Engelse en ʼn Afrikaanse gemeente, en hy meng nie die tale nie. Hier in Natal is alle Afrikaanssprekendes volkome vertroud met Engels, en ons meng nie die tale nie. Die Vrystaters is bekend daarvoor dat hulle baie Engelse woorde gebruik, en ek weet vir ʼn feit, Vrystaatse Afrikaanssprekendes se Engels is maar oor die algemeen beroerd. Daar onder in die Kaap, waar die mense Kaaps praat, en dit goed praat, is ek seker van is hulle nie Engels of Afrikaans “magtig” nie, in elk geval nie die “Queen’s English” en “suiwer Afrikaans” wat jy in gedagte het nie.
Dis ʼn saak wat egter ondersoek sal moet word; ʼn mens kan nie sommer sê SLEGS mense wat Engels en Afrikaans MAGTIG is, vermeng die tale nie.
Dis ʼn gevaarlike ding om ʼn taal in ʼn volk se keel af te druk. Was dit nie dat Engels in die Afrikaanssprekende se keel afgedruk was nie, was Afrikaans nie die taal wat dit vandag is nie. Mense rebelleer teen sulke wandade en dan is die gort gaar. Taalvaardigheid is iets heel anders. Dit is ingebore by die mens en hy kan dit nie verloor nie. Hy mag miskien die vermoë om Afrikaans te kan praat verloor, maar taalvaardigheid sal hy nooit verloor nie.
Engelse woorde vervang nie sommer net ʼn Afrikaanse woord nie, daar moet ʼn rede voor wees. Die Afrikaanse woord sê nie presies wat die spreker bedoel nie, of dit het nie dieselfde gevoelswaarde nie is maar twee van die redes waarom dit gebeur. Dit verryk die taal, want nou is daar twee in plek van een. Sou jy sê dat Kaaps gepraat word omdat die mense platvloers en traak-my-niet-agtig is? Onthou, dis hulle moedertaal wat jy beledig, net soos Afrikaans beledig is in sy beginjare.
Dit is so dat daar geen reël is wat enige woord van enige taal verbied om in ʼn ander taal gebruik te word nie. Jy weet baie goed dis wat ek bedoel, want dis wat ons bespreek; jou “to be” storie is sommer net weer ʼn strooipop.
Geen spreker “vee hom af” aan enigiets wat sy taal betref nie. Grammatikale afwykings vind wel dikwels plaas, en as dit posvat, dan moet grammatici maar weer die grammatika oorskryf. Jy is goed bekend met die gebruik van “ons” in Afrikaans en die verdwyning van die wij/we-vorm. Sprekers is min gepla oor grammatikareëls wat gevolg moet word as hulle praat. Dit is hulle taalgevoel wat spruit uit die onderbou van taal wat hulle “korrek” laat praat. Ek het al in die verlede die onderbou en bobou van taal na aanleiding van Chomsky aan jou verduidelik. Miskien moet jy so ʼn paar van sy boeke kry en bestudeer; ek het nie die ruimte om dit vir jou hier te doen nie.
“Gewoonlik bereik ek die doelwitte wat ek vir myself gestel het.”
Baie mooi gesê, Dominee, maar wat sal die een visserman nou vir die ander visserman sê, as hulle so oor die lewe besin, en dink aan uitbreiding van hulle bedryf? “Gewoonlik bereik ek die doelwitte wat ek vir myself gestel het”?
Ek sien jy het probleme met die woord “dan”. Gaan kyk in die woordeboek en jy sal sien dat hy verskillende betekenismomente het. ʼn Goeie begryper het ook ʼn halwe woord nodig. Indien jy ʼn goeie begryper sou gewees het, sou jy verstaan het dat ek nie volgorde bedoel nie.
Dit is so dat ʼn vreemde woord binne ʼn ander taal onwelkom is, en weerstand kry. Dit gebeur in alle tale, nie net in Afrikaans en Engels nie. Mettertyd word dit verwelkom, veral as dit nuwe gevoelswaarde en betekenis bybring. As Fins of Russies een van die tale was naas Afrikaans, sou daar ook woordeskat oor en weer ontleen word. Jy moet hoor hoe klink die Duits wat hier in Natal gepraat word. Iemand wat Engels “magtig” is, kan dit ook amper verstaan.
Ons mag miskien dink Afrikaans is heilig, en moet in ʼn glaskas, onbesmet en onaangetas vertroetel en bewaar word. Afrikaans is ʼn lewende taal, en as ons dit doen, sal hy beslis vrek.
Geen taal op hierdie aarde is heilig nie. Dit is ʼn stelsel waarvolgens die mens kommunikeer, dit is absoluut noodsaaklik vir die voortbestaan van die mens (soos ons hom ken.)
Groete,
Angus
Beste Jan Rap
Jy mag dalk belangstel in 'n artikel te lees by by http://www.juig.co.za/article.php?id=319 onder die opskrif "Die Pad Van Ons Taal."
My persoonlike opinie is dat mense wat maklik 'n ander taal se woorde gebruik dit doen omdat of hul Afrikaanse woordeskat beperk is, mense veral kinders lees eenvoudig nie meer goeie AFrikaanse boeke nie of is bloot lui en gemaksugtig en probeer nie 'n unieke Afrikaanse woord skep nie wat presies dieselfde trefkrag en betekenis het as die woord van die ander taal.
Mag dit met jou goed gaan.