Vir Angus en Dirk oor hulle kommentaar onderaan my brief van 6 deser

  • 2

Dagsê menere

Subliminaal, letterlik uit die Latyn, beteken ‘onder die drumpel’ (sub-onder + limen-drumpel).  Subliminale boodskappe is die oordra van boodskappe onder die drumpel van bewustelike gewaarwording.  Die rede vir die subliminale oordra van ’n boodskap is seker maar hoofsaaklik omdat die boodskap met weerstand begroet sou word as dit direk gekommunikeer word.

Subliminale kommunikasie is nie noodwendig negatief nie – Magdaleen Krüger het op ’n stadium in ‘n onderhoud gesê om vooroordele en stereotipes hok te slaan, sal sy byvoorbeeld ’n bruin vroulike gas kry om, sê een of ander wetenskaplike, onderwerp toe te lig.  Die nuusbrokkie oor die wetenskaplike onderwerp is vir die luisteraars interessant maar die versteekte boodskap is dat nie net wit mans die kundiges is nie.  Niks fout daarmee nie want dit is die waarheid en daar is min dinge so afstootlik soos vooroordeel en stereotipering.

Die boodskap wat RSG en KykNET ‘onder die drumpel’ deurgee is dat Afrikaans ondergeskik is – Éngels is die taal en almal moet Engels goed kan praat.  Nou die dag, die twee of drie keer wat ek by die radio verbygestap het het ek net Engels gehoor en dit op ’n Afrikaanse sender kan jy glo.  ‘Suiwer Afrikaans’ is ‘n vloekwoord en die wat dit praat klou kwansuis vas aan die verlede; korrekte Afrikaans sou bagasie hê waarvan ontslae geraak moet word. 

Omroepers, oor die algemeen, praat swak Afrikaans – die klem is op die verkeerde lettergrepe, sintaksis is baie maal soos in Engels en dit wemel van die anglisismes.  Maar dis in die haak, dit word goedgepraat deur RSG (laas Sondag se ‘Tale Wat Ons Praat’).  Alles is nou maar reg, jy kan praat soos jy wil (solank dit nie Standaardafrikaans is nie lyk dit my). 

Terloops, in die program daarna, ‘Hoe Verklaar Jy Dit’, verwys Dave Pepler na Trump as ‘daardie aaklige man.’ Wie de moer dink Dave Pepler is hy om sommer sy persoonlike mening op ’n wetenskapprogram uit te basuin?  ’n Tyd gelede het Dave Pepler gesê hy vind spinnekoppe afstootlik en prof Geertsema se kommentaar daarop was, op sy kenmerkende stadige afgemete manier, “het jy al daardie dier gevra wat hy van jóú dink?”  Nou ja net so wonder ek wat Trump van Dave sal dink.

Hierdie subliminale propaganda werk goed, veral as mens na julle twee kyk.  Dirk is al sodanig beïnvloed hy dink jy beledig ’n Afrikaanssprekende as jy beweer hy kan nie Engels praat nie; volgens Dirk is Engels so belangrik hy stel dit pertinent dat ALMAL wat Afrikaans is Engels kan praat.  Dirk is ook nie gepla deur die verdringing van Afrikaans deur Engels nie; dit is, per slot van rekening, darem al 2017 en Afrikaans het sy beurt gehad.  Angus is net so beïnvloed, hy reken Afrikaans het maar ’n gebrekkige woordeskat en jy kan sommer enige Engelse woord enige tyd ingooi, dit maak ‘Afrikaans actually meer streamlined’ (sy woorde).

Interessant vir my is julle twee se bohaai oor die woordjie ‘subliminaal’; nie veel oor my stellings oor swak en kwynende Afrikaans nie maar ’n groot storie oor ‘subliminaal’. En ja Dirk, ek het al gehoor van die agterstevoorspelery van plate maar die boodskap was glo ‘Bovril is beter as Marmite’.

Angus, wat laat jou dink ‘subliminale’ is ’n verwerkte Engelse woord?  Is die woorde ‘pen, water, hand, ink, my, spoor, apartheid, voetstoots, in en kloof’ ook Engels omdat jy hierdie woorde al in Engels gesien het?  Moenie jou nou laf hou nie man.

Groetnis

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Ek het absoluut niks teen subliminaal nie, behalwe dat dit vir my persoonlik 'n lelike woord is, en 'n Afrikaanse woord, onderbewus(te), (onderbewussyn), verdring. Ek het dit maar net uitgewys en gedink dat dit ook teen jou taalbeginsels indruis om so 'n woord te gebruik. Die oorsprong daarvan is wel Latyn, maar Afrikaans het dit gekry via Engels. Niemand hier in Suid-Afrika praat Latyn dat ons dit direk van Latyn af kon kry nie.
    Pen, water, hand, ink, spoor, voetstoots, in en kloof is deel van ons erfgoed. Ons het dit geërf want Afrikaans is 'n Germaanse taal, net soos Engels dit ook geërf het, want Engels is ook basies 'n Germaanse taal. Engels het ook Romaanse woorde (subliminal) eens op 'n tyd verengels, en was dus oorspronklik neologismes. Vir Afrikaans is subliminaal 'n ontlening uit Engels. Apartheid is 'n Engelse woord wat verafrikaans is, en wat die Germaanse afsonderlikheid verdring het.
    Afrikaans het heelwat woorde van Latynse afkoms, maar sommige woorde is erfgoed, bv leeu. Ander het Afrikaans ontleen uit Engels, bv sublimineer. Die enigste Latynse woorde in Afrikaans wat direk van Latyn af kom, is wetenskaplike en regsterme. Die rede daarvoor is dat Latyn eens op 'n tyd die wetenskaplike taal van die wêreld was. Engels is deesdae die wetenskaptaal. Die regsterme kom van die Romeins-Hollandse en Romeins-Engelse regstelsels.
    Nêrens het ek gesê jy kan maar enige Engelse woord ingooi in Afrikaans nie. Dis nie wat 'jy' kan doen of nie mag doen nie. Geen een persoon het beheer oor watter woorde uit Engels ontleen gaan word nie. Wie is bv verantwoordelik vir amazing, actually, band, stage, streamlined, apartheid, bloekomboom, sideboard, hello, goedbaai en Raed-na-Gael se cheers?
    Groete,
    Angus
    Moet my asseblief nie laf noem nie; ek is ernstig oor taal, en buitendien toon dit net jou onkunde.
    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    Ek weet jy vergeet wat ek geskryf het, daarom herhaal ek so baie, soos 'n goeie skoolmeester om begrippe by jou in te skerp. (Dis nou die taal van die pedagogie, net soos byvoeglike naamwoord en bywoord die taal is van die Afrikaanse grammatika.)
    Wat ek eintlik wou sê, is dat ek my nie weerspreek as ek sê dat Engelse woorde vir my lelik is in Afrikaans nie. Dis my eie persoonlike smaak, en dit mag nie my bevindinge ivm taal beïnvloed nie. Engelse woorde word gebruik wanneer mense Afrikaans praat, of jy dit nou wil hê of nie. Ek soek redes daarvoor. Jy beskou Afrikaans deur slegs 'n patriotiese bril. Vir jou is Afrikaanssprekendes slapgattig teenoor hule taal, maak nie saak of hulle in die woestyn of Kaapstad of Johannesburg woon nie, en wat hulle peil van opvoeding is nie. Soos FC Boot, meen jy dat as hulle nie Engels verstaan nie, verstaan hulle ook nie wat hulle sê met die Engelse woorde tussenin nie en is Afrikaans dus geradbraak. Vir my is dit 'n verryking van Afrikaans se woordeskat. 'n Mens hoef nie noodwendig Engels te kan praat en verstaan om Engelse woorde te gebruik nie. As my buurman praat van sy hacienda, weet ek wat hy bedoel, en ek verstaan nie Spaans nie. Hier by ons beteken dit maar 'n huis wat in die Spaanse styl gebou is. In Spanje het dit seker 'n effens anderse betekenis. Dit verryk egter Afrikaans se seggingskrag. (Ek dink amper jy sal met my saamstem, want dis nie 'n Engelse woord nie. Jy sal egter nie so sê nie. Jou verweer sal wees dit verdring nie 'n Afrikaanse woord nie.) So terloops, hier in Suid-Afrika word nie juis Spaans gepraat nie, sodat ons nie die woord hacienda direk van Spaans gekry het nie. Ons het dit via Engels gekry deur middel van bouterminologie. Ek probeer vasstel waarom sê selfs geleerde mense iets is amazing as hulle Afrikaans praat. (Dis maar een voorbeeld. Daar is duisende ander woorde ook.) Hoe meer ek delf, hoe komplekser sien ek die situasie. Het amazing bv presies dieselfde betekenis en gevoelswaarde as verbasend of wonderlik? As jy jong kinders bv vra of hulle die woord verbasend ken, sal hulle heel waarskynlik nie die woord ken nie, terwyl almal die woord amazing ken.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top