Vir Angus 26 Februarie 2016

  • 8

Beste Angus

Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 16 deser, “Sê nou ...”
Jy kla oor ek nie kla dat Engels die swart tale uitdruk nie. Dit is wel 'n bekommernis maar dis vir die swarttaalsprekers om oor te kla. Ek twyfel egter of hulle sal, hulle verkies Engels bo hul eie tale.

Jou houding oor die moontlike verdwyning van Afrikaans herinner my aan dié van 'n kollega oor die luiperd, uil en renoster. Hy reken ons het foto's van hulle en as iemand wil sien hoe hulle gelyk het kan jy altyd vir hulle die foto's wys. Volgens hom kan die goed maar uitgeroei word indien en wanneer die mens nog grondgebied nodig het.

Die Engelse lees ook nie gereeld Shakespeare nie. Kan sy goed maar verdwyn?

Jou vraag oor hoe goed ons of die Xhosas of die Zoeloes se Nederlands is sou Afrikaans verdwyn, is 'n raaisel; wat het dit met die prys van eiers te doen en hoekom Nederlands uitsonder? Hierdie storie lei jou na die feit toe dat die Nederlanders en Japanners tennistellings in Engels uitroep (hoe jy die kloutjie by die oor bring is weer eens 'n raaisel.

Ewenwel en hoe dit ook al sy, Nederlanders en Japanners hoef nie allergies vir Engels te wees nie want die kans dat Engels daardie tale gaan verdruk is baie skraler as die geval hier. Om die waarheid te sê, hier het Engels al halfpad Afrikaans oorgeneem, luister maar veral na die mense van die Kaap.

Telepatie kan ek nog nie beoefen nie maar my vriend Olof* uit die Pleiades wat so nou en dan kom kuier vertel my dit is hoe hulle kommunikeer. So of ek nou 'n dag gaan stilbly of nie het niks met telepatie te doen nie.

Groetnis

Jan Rap

*Olof is nie sy regte naam nie; ek kan sy naam nie eers (telepaties) uitspreek nie. Ek noem hom maar Olof omdat hy juis kom kuier as ek onder die prieel met 'n botteltjie Olof Bergh kuier; dis sy gunstelingbrandewyn ook.

  • 8

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Met jou skrywe hierbo, verdraai jy die hele gesprek onderaan jou skrywe “Sê nou maar net …” (2016-02-16) Kom ons begin dus weer voor.
    Ek het beweer: “Sê nou maar net… Afrikaans verdwyn. Dan praat ons almal Engels.”
    Jou antwoord: “Jy’s verkeerd wat betref die verdwyn van Afrikaans want daar is nog Tswana, Zoeloe, Sotho, Venda, Sepedi en nog ʼn magdom ander tale ook.”
    Volgens jou antwoord is jy van mening dat as Afrikaans verdwyn, sal ons nie Engels praat nie, maar Tswana, Zoeloe, Venda, ens (ten spyte daarvan dat sprekers van hierdie tale self Engels verkies?).
    Ek beweer: “Sê nou maar net… Engels verdwyn. Dan praat ons met niemand nie.” (Ek het seker maar bedoel dat dit nou gebeur nadat Afrikaans alreeds weg is.)
    Jou antwoord: “Jy’s verkeerd wat die verdwyn van Engels betref. Daar was tale lank voor Engels ontstaan het, soos Nederlands byvoorbeeld.
    Natuurlik is ek verkeerd, want taal is universeel. Ons sal wel oor die weg kom met mekaar deur bv een of ander kreoolse taal of Fanagalô of wat ook al, te ontwerp. Ek betwyfel dit of ons sommer so sal oorslaan na Nederlands.
    As die mens sy taalvermoë moet verloor, dan is dit tiekets met ons. Dit kan egter nie gebeur nie.
    Wat die letterkunde betref, dit sal behoue bly. Daar sal net niks nuuts bykom nie. Latynse letterkunde is hier ʼn goeie voorbeeld. Niemand praat meer Latyn nie, maar ons kan nog die letterkunde lees.
    Ek dink jy hou maar net daarvan om verkeerd, verkeerd te skree op alles wat ek sê.
    Groete,
    Angus

  • Ai boys, kan julle nou so stry oor 'n ding wat nie kan gebeur nie. Afrikaans SAL oor tyd verdwyn weens onbruik ens. Engels sal nie verdwyn nie, nie in baie generasies nie, so hoekom stry julle oor wat gepraat gaan word? Elk geval, in die komende Koningryk van G-d sal almal seker Hebreeus praat.

    Duitswester

  • Beste Duitswester,
    Ek en Jan het so 'n virtuele laboratorium waarin ons alle moontlikhede en onmoontlikhede toets, en dan kou ons aan die bevindinge. Ons stry nie, ons weeg en oorweeg. Die koninkryk waarvan jy praat se tale is eerder Hoog-Galdees en Aramees, want almal moet tweetalig wees.
    Groete,
    Angus

  • Dag Angus, dankie vir die verduideliking.Ek het die ding ook geweeg, toe oorgeweeg, toe oor geweeg en toe gekyk hoe dit beweeg.
    Die antwoord is dat ons teruggaan gebaretaal toe.

    Ek groet met 'n handgebaar.

    Duitswester

  • Beste Duitswester,
    Gebaretaal is ook taal, maar taal moet die mens hê, anders is hy nie mens nie.
    Groete,
    Angus

    • Angus, so op 'n punt van orde - is gebaretaal werklik ook taal? Dit is wel kommunikasie maar nie alle kommunikasie is taal nie. Gebaretaal se tekens verteenwoordig wel woorde soos Morsekode se gebieb-bieb ook woorde verteenwoordig maar kan mens dit taal noem? Ek weet nie; hang seker af van hoe mens taal definieer. Hoe sien jy die storie?

  • Beste Jan,
    Ek het nog nie eintlik 'n studie van gebaretaal gemaak nie, maar ek weet dat William Stokoe die sintaksis en morfologie daarvan uiteengesit het. Van toe af is dit geïdentifiseer as 'n taal. Dis nou die gestrutkureerde gebaretaal waarvan dowes gebruik maak, nie die gebare wat ons sommer maak as ons nie wil hê die kinders moet hoor nie.

    Die moderne linguistiek praat van taal (language) en spraak (speech). Spraak (daardie geluide wat 'n mens maak as hy praat) is die dramiddel (vehicle) van taal. So is daar ook ander dramiddele soos geskrewe taal, gebaretaal, en ek sou sê, Morsekode kan hierby ingesluit word.
    Groete,
    Angus

  • Ai, ek kan nie Webvoet daarvoor blameer nie. Sy help my baie, maar ek haat spelvoute. Dit moet gestruktureerde gebaretaal wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top