Vier Boerepsalms

  • 0

Bakdag op Rust-mijn-ziel

Niks bring jou heiligheid by nie soos brood:
die afknie van deeg, die rys daarvan
tot oor die rand van ’n paraffienblik-pan,
en dan, by die bakoond, die versigtig instoot

in bakbossie-hitte wat sidder en beef.
Met die oonddeur gegrendel, en met mis diggemaak,
begin tergend en spannend ’n Bybelse waak:
wát gebeur in die oond voor die deeg herleef

tot ’n nuwe vorm, uit aarde en koring?
Die brood kom uit, word verlos uit die pan
– o Saron, o Sion, verhef jou horing! –
die brood so volmaak as wat maar kán,

maar iets bring dit tog ná sy vuurdoop terug:
’n grys takkie as, ’n bars op sy rug.

 

Slagdag op Rust-mijn-ziel

Stowe brand: die Dover in die buitekombuis,
die Aga, die Queen, in ons baksteenhuis,
en in ’n seeppot stoom die water,
en ’n misvuur smeul, maar dis vir later,

wanneer ek en my werfmaats vleis mag braai;
maar eers moet gewerk kom, en almal laat waai,
wors word gestop, soos dit lyk by die jaart,
en Vader is gasheer, en oom Rosie die waard,

en jonk en oud kry ’n Bolandse dop,
en Ma en Elsie skep aartappelsop.
Ek swymel van wyn en soetkoljander,
en oom Rosie spiets guitig: “Geluk op elkander!”

Almal is dood, net ek is nog hier,
om ’n plaas en sy vreugdes met woorde te vier.

  

Skeertyd op Rust-mijn-ziel

Jason gooi sy goue vlies
en ek, oorstelp deur wol en spiere,
kyk toe, bra min begaan oor kaalgeskeerde diere
met bloedvlekke op boud of lies.

Kaalvoet kleingoed trap die wol vas,
hul bene blink van lanolien,
en loer afwagtend oor die baalkas:
om elf en vier word iets bedien.

Ek dan weer buig en skeer,
die wol stort om die skeerders neer
soos wolke, en skêre flits en blink;
al swetend word daar nou gedink

aan gasie: ná elke skaap ’n lootjie,
’n uitgeponste blinkleer-lootjie.

 

Ma se resepteboek

Resepte – handgeskrewe – hoort in ’n kluis,
dis familiegeheime, “van kelder tot kombuis”:
hoe jy poedings moet stoom, in ’n doek, in ’n pot,
en kolwyntjies moet maak, en snysels: de lot.

Ma se mooi handskrif vul blad na blad,
en af en toe myne, as besoekers dikteer;
die boek is beduimeld, van baie vat,
en skud jy dit effens sif iets melerigs neer.

Vlekke is daar ook, soms vet, soms asyn
wat letters laat vloei; of wie weet,
’n moeder se trane, of sommer net sweet:
’n kosboek is dagboek, dit weet van pyn.

Die beste wat jy aan ander kan laat,
is die troos van resepte: o, anys en muskaat.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top