Vervaldatum-kompetisie: Om te soen of nie te soen nie

  • 0

Toe Katharina veertien geword het, het haar ma, Christa, haar ’n ernstige en wat sy tot nou geglo het, goeie lewensles geleer.

“Katharina, moet nooit sommer deur enige ou seuntjie aan jou laat soen of vrypostig word nie.”

Katharina het toe al geweet vrypostig beteken in haar ma se woordeboek “vry” – sonder die “postig”. Sy het aandagtig geluister, want sy het vreemde roeringe in haar gedagtes en belangstellings begin opmerk. Veral wat seuns aanbetref. En veral Jacques, die kaptein van die eerste rugbyspan, met sy blonde kuif en sterk, bruin, gespierde lyf. Wel, al die meisies het behoorlik geswymel oor hom. Ongelukkig was hy ’n verwaande vent wat daarop aanspraak gemaak het dat hy enige meisie wat hy wou, kon kry. En gespog het wat hy met hulle doen agter die tennishuisie. Net daarom het sy hom vermy. Haar ma het haar totaal oortuig dat sy nie die bespreking en onderwerp van grappe en spogstories in die seuns se aantrekkamers wil wees nie. Sy moet ’n trotse meisie wees wat sal wag vir die ou wat haar werd is voor sy aan haar laat soen. En dit sal wees as sy dertig is, het haar ma kamstig ernstig bygevoeg.

Wel, dink Katharina. Hier is ek nou regtig dertig en van die paar soene wat ek al gekry het, was party van ’n verwaande vent met ’n rookasem,  ’n Adonis wat nie geweet het hoe en wanneer en hoe hard nie en wou hê sy moet hom soen, en ook nie op sy mond nie. Droom voort, het sy dadelik besluit en hom summier die trekpas gegee. En wie nog? probeer sy onthou. O ja, die ou aan wie haar vriendin Amelia haar vir weke aan wou voorstel en toe sy uiteindelik instem, is hy so skaam dat hy stotter en sukkel om ’n woord uit te kry, en in elk geval was sy handdruk soos ’n slap vis. Jik.

Wat moet ’n meisie doen om daardie regte man te ontmoet, wonder sy. Sy het haar hoek in al wat ’n dam is, gegooi, maar niks wat die moeite werd is, byt ooit nie. Nie by die gym nie, nie by die kerk nie, nie by al haar vrywillige werk by tehuise vir mense sonder heenkome nie, nie by haar skilderklas nie, net eenvoudig nêrens nie. Om nie eens te praat van die drommels wat saam met haar werk as grafiese ontwerpers nie.

Amelia dink natuurlik sy is te vol fieterjasies en sal nooit ’n man kry nie. Wel, wonder sy, miskien was ma Christa totaal verkeerd en moet ’n meisie meer aan haar laat soen, maar sy kry haarself nie daarvan oortuig nie.

Toe sy haar fiets die spesifieke oggend vroeg, na al die gepeins van die vorige aand, by haar meenthuisie se hek uitstoot vir haar gereelde twee kilometer trap teen die steil opdraand wat reg voor haar hek begin, sou sy nie kon droom hoe haar lewe eensklaps kon verander nie.

Sy is amper bo, natgesweet en uitasem, toe sy die motorfiets ekstra hard agter haar hoor brul, en die volgende oomblik tref die man se voet haar pedaal en toe word sy in die hospitaal wakker. Met ’n gebreekte arm, nerf-af bene, en ’n groot knop op haar voorkop.

“Hallo skat, is jy wakker?” vra haar ma Christa skielik hier langs haar en sy is so bly om haar te sien dat sy sommer in trane uitbars.

“Mamma!” snik sy, “waar kom jy vandaan? Hoe lank is ek hier en wat is alles gebreek aan my?” vra sy benoud en grinnik van pyn toe sy haar regterarm wil optel.

Christa troos en verduidelik en toe Katharina hoor dat haar ma vir twee weke by haar gaan kuier, hou sy sommer op huil. Sy kan nie glo dat sy vir meer as drie ure bewusteloos was en haar arm in gips is en daar klaar X-strale van haar kop geneem is nie. En waar die knop op haar kop vandaan kom terwyl sy so ’n duur valhelm aangehad het, dink sy onvergenoeg.

Die man wat skielik in die deur verskyn, is lank en sterk gebou met donkerbruin hare en bruin oë en ’n stetoskoop om sy nek. Hy stel homself voor as dokter De Jager en vra hoe sy voel.

Katharina weet skielik nie wat om te sê nie. Sy kan nie ophou kyk na sy mond nie. Hy het netjiese tande en die mooiste lippe wat sy nog aan ’n man gesien het, en skielik weet sy: die tyd vir soen is hier. Sy hoor skaars toe hy praat.

“Juffrou Van Staden? Hoor jy wat ek vra? Behalwe vir jou gebreekte arm wat ek moes in gips sit en seker pynlik is, hoe voel jy andersins? Jy het ’n harde slag teen jou kop weg, maar dit lyk nie of daar enige skade is nie.”

Katharina kyk verbouereerd na haar ma, wat haar takserend bekyk, en stotter toe effens te vinnig: “Ek ... ek voel goed, dankie. Hoofpyn, maar dis seker te verstane. Wanneer kan ek huis toe gaan?”

Dokter De Jager glimlag en Katharina se hart slaan bollemakiesie in haar borskas. Daardie mond!

“As jy oortuig is jy voel goed, kan jy môre ontslaan word. Jy sal oornag moet bly sodat ons kan seker maak dat alles normaal is. Jou huisdokter sal jou môreoggend graag wil sien. Het jy iets nodig vir die hoofpyn?” vra hy en haal hy sy pen uit sy hempsak, en dis toe dat sy die trouring sien.

Toe die dokter uit die kamer is, haal Christa die klere, slaapklere en toiletware wat sy vir Katharina gebring het uit die tassie en begin entoesiasties gesels oor hoe dankbaar sy is dat Katharina nie ernstig beseer is nie; al die lekker goed wat hulle saam gaan doen; hoe dit met haar pa, Dirk, wat oorsee is, gaan ... en sy kuier en klets tot Katharina aan die slaap raak.

Katharina geniet haar ma se geselskap die volgende twee weke. Hulle doen inkopies en gaan teater toe en eksperimenteer met nuwe geregte in Katharina se mooi kombuis en lag en gesels oor alles en nog wat, maar diep in Katharina se hart is daar ’n seer plekkie.

Kan ’n mens so in jou beenmurg voel dat iemand of iets ’n rol in jou lewe gaan speel, en dan is jy totaal verkeerd? Is dit maar sommer wensdenkery? Wat op aarde sou maak dat sy die dokter met die aantreklike glimlag nie uit haar kop kan kry nie? Die man is getroud, Katrien! Bou ’n brug en kom daaroor. (Nog ’n slim uitdrukking van haar ma, dink sy wrang.) Sy kon dit nog altyd regkry, maar hierdie keer spook daardie glimlag dag en nag by haar. Sy kan nie ophou wonder hoe dit sal voel as daardie lippe ... maar dan maak sy haarself ongeduldig stil.

Toe die ses weke om is en die gips aan Katharina se arm moet afkom, het sy sulke gemengde gevoelens oor die moontlikheid dat sy dokter De Jager weer sal sien, dat sy wil weghardloop, of die gips sommer deur haar buurman Arnold, wat baie handig met sae en dinge is, laat afhaal. Tog is daar ’n deel van haar wat hom so graag weer wil sien.  Sy het al begin vergeet hoe hy eintlik lyk, behalwe vir die mond. Sy wonder hoe sy hande en voete en lyf lyk. En dan begin sy weer met haarself te baklei oor haar stuitigheid.

Op die ou end neem Amelia haar tog terug na die hospitaal waar dokter De Jager se spreekkamer is. My senuwees is gedaan, dink Katharina. Sê nou hy is nie vandag hier nie en dis ’n ander dokter wat die gips afhaal? En dan weer: Hoe gaan ek hom uit my kop kry, veral as hy hier is en ek hom weer sien?

Toe die ontvangsdame haar vra om saam te kom na die verbandkamer, is Katharina se bene so lam en klop haar hart so vinnig dat sy voel of sy nou dadelik ’n papiersak sal moet vra. Sy weet nie of sy wil opgooi of net nodig het om te keer dat sy hiperventileer nie.

Soos die vorige keer groet Philip – sy het gesien op sy deur staan Dr Philip J De Jager, Ortopediese Chirurg  – haar weer vriendelik en vra hoe sy voel, terwyl hy werskaf met die sagie met die ronde lem waarmee hy die gips wil verwyder. Katharina haal diep asem en sê so kalm as wat sy kan dat sy goed voel en dat haar arm glad nie meer seer is nie, net jeuk, en toe bloos sy vir die lamlendige antwoord wat sy gegee het. Asof die man nou belangstel daarin of my arm jeuk!

Hy gee egter ’n klein laggie terwyl hy haar arm op die tafel langs haar regskuif en sê: “Ek weet wat jy bedoel. Ek het my been op twee plekke gebreek ’n paar jaar gelede en ek dink die jeuk was erger as die pyn, maar toemaar, dis amper verby en dan kan jy lekker stort en die arm pamperlang”, en daarmee begin hy met ’n harde gezoei versigtig die gips van haar arm afsny.

Daar gaan rillings deur Katharina se ruggraat toe hy haar arm in albei sy hande neem en dit begin ondersoek. Sy sien dat sy hande net so mooi soos sy glimlag is, behalwe vir die trouring. Groot en sterk met mooigevormde, kort en baie skoon naels. Toe hy opkyk, kyk hy reg in haar groen oë en vir ’n oomblik staar hulle net na mekaar. Sy sien dat sy oë effens vernou, en kyk weg. Ja, ja, ja, hy is getroud, Katharina, kry ’n grip (soos haar broer se seun altyd sê), praat sy weer in haar kop met haarself en begin haar arm saggies vryf terwyl sy opstaan.

“Wel, baie dankie dokter De Jager, vir jou vriendelikheid. My arm voel en lyk piekfyn. Effens styf maar dit sal seker gou beter word.”

Philip de Jager staan ook op en groet haar vriendelik met dieselfde mooi regterhand en kyk vir ’n oomblik weer stip in haar oë. Katharina weet sy moet wegkom, en met ’n senuweeagtige glimlaggie draai sy om en stap by die vertrek uit.

Die volgende twee weke probeer Katharina hard om die man uit haar kop te verban. Sy is dankbaar dat sy terug by die werk is en dat haar gedagtes daardeur besig gehou kan word. Sy ry weer haar fiets, al is sy effens skrikkerig, gaan gimnasium toe, en haar lewe kom stadig weer op koers.

Die volgende Saterdagmiddag, na ’n gewerksaf in haar klein tuintjie, gaan sit Katharina kruisbeen op die gras met ’n koeldrank. Sy voel in haar skik met haarself. Haar tuin het baie verwaarloos terwyl haar arm in gips was, maar sy het dit gou uitgesorteer. Die klein grasperkie is gesny, al die onkruid is uitgetrek en die beddings is skoon en netjies en nat.

Toe die motordeur voor haar hek toeklap, kyk sy op en haar hart gaan staan amper. Sy kan haar oë nie glo nie. Dis Philip de Jager. Hy het ’n ligte denimbroek aan wat sy mooi lyf beklemtoon en ’n wit hemp waarvan die moue tot by sy elmboë opgerol is, en hy is eenvoudig die mooiste, aantreklikste iets wat sy nog ooit gesien het. Hy maak haar hekkie oop en sien haar waar sy onder die boom sit en stap nader.

“Hallo Katharina. Ek het kom kyk of jy gesond is”, en hy steek sy hand na haar uit om haar op te help. Katharina spring egter vinnig op en stotter met blosende wange: “Dis gaaf van jou, Dokter ...”

Maar hy val haar in die rede.

“Is jou arm gesond? Heeltemal gesond?”

“Ja, ek dink so,” sê sy verbaas en vryf oor haar regterarm. “Hoekom vra jy?”

“Want dan hoef ek nie meer jou dokter te wees nie en kan ek jou uitneem vir ete.”

Katharina se blik val onmiddellik na sy linkerhand. Daar is nie meer ’n ring aan nie, dink sy verward.

“En wat sal mevrou De Jager daarvan dink, Dokter?” vra sy effens koud.

Hy lag en antwoord met ’n vonkel in sy oë: “Daar is nie ’n mevrou De Jager nie, Katharina.”

Katharina voel hoe ’n golf van blydskap en dankbaarheid deur haar are bruis, maar sy moet seker maak. “Jy het ’n trouring aangehad toe jy my gips afgehaal het.”

Philip glimlag effens. Ek was getroud, maar my vrou het groener weivelde gevind. Dis maar swaar om ’n dokter se vrou te wees. Die ring? Wel, ek het nog nooit nodig gehad om dit af te haal nie.

“En nou?” en sy kyk na sy kaal linkerhand.

“Die oomblik toe ek jou sien, het ek geweet dat ek nou ’n rede het. Gaan jy my innooi, Katharina?” en daarmee neem hy haar hand in sy groot hand en hulle stap haar huis binne.

In Katharina se siel is daar skielik ’n stilte. Asof sy ’n deel van haar lewe afgesluit het. ’n Nuwe skoon, wit bladsy is oopgeslaan voor haar en sy weet wat sy daarop gaan skryf: baie kruisies en nulletjies, en sy kan nie wag vir daardie eerste soen van daardie ongelooflike mond nie.
 

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top