Vervaldatum-kompetisie: My engel

  • 1

Die gange is koud. Soos gange in ’n malhuis moet wees. Willem Bosman ril. Die plek gee hom die creeps. Hy gewaar dadelik die luik in die dak. Willem vat die papiertjie wat die jong doktertjie hom gegee het. “Ablusieblok C,” kondig die netjiese bordjie bo die deur aan. Hy is op die regte plek. Hy wil net gou kyk wat gaan met die warm water aan, dit gou regmaak, sodat hy kan flippen wegkom hier. Hy skuif die leer reg, en druk dit teen die luik. Dit gee mee binne toe. Hy verleng die leer, maak seker dit staan vas, dan klim hy op.

Hy skakel die koplamp in sy helm aan. Die rye geysers staan netjies ingebou bokant die blok. Willem loop gebukkend nader. Hy voel-voel aan elke toevoerpyp. Nommer ses. Nommer ses is louwarm. Daar gaan geen koue water hier deur nie. Hy voel aan die afvoerpyp. Dit is yskoud. Hy toets met ’n multimeter die kragtoevoer en die weerstand. Die geyser het die kragtoevoer uitgeskop. Hy kry die rooi herstelknoppie en wanneer hy dit druk, voel hy die diep hummmm wat deur die ingewande van die toestel gaan. Hy sit dit weer af. Goed, die geyser makeer niks. Daar is net nie kouewatertoevoer nie. Hy kyk na nommer ses se pyp. Dit loop oor die gang weg van hom af. Hy volg dit. Dit gaan oor ’n kamer na die buitemuur toe. Hy trap versigtig, en later kan hy nie meer regop loop nie. Hy sak af en kruip op sy hande en knieë nader. Dit is sy linkerknieg wat die balk mis, en hy verloor effens sy balans. Hy keer met sy hand, en hy voel hoe die plafon meegee. Hy druk sy arm dwarsdeur tot teen die oksel. Hy vloek binnesmonds. Dan hoor hy die klokhelder stem.

“Kan ek help?”

Willem ruk sy arm terug. Verdomp! Hy laat sak sy kop, en loer deur die gat. Sy asem verlaat hom.

Sy staan daar. In die middel van die vloer. Haar hande op haar heupe. Die pikswart hare golwend tot in die middel van haar rug ... as hy moet skat van hierdie hoek af. Die helderste blou oë kyk in sy grein in. ’n Skalkse glimlag op haar gesig.

“Jammer, ummm, regtig, ek is ’n poephol, ummm, sorrie ... ek is lomp. Verdomp!” mompel hy.

Sy lag.

“Wat maak jy?”

“Ek ... ek moet die geyser kom regmaak. Ek is jammer. Ek sal laat my mense jou dak kom regmaak. Ek i– ...”

“Jy is geselskap. Weet jy wanneer laas het ek geselskap gehad, meneer loodgieter?”

“Ummmm, my naam is Willem.”

“My naam is Desiree ... dink ek. Ek kan nie lekker onthou nie!” Sy lag weer.

Sy is beeldskoon, dink Willem. Hy kyk bokant die plafon rond. Haar luik sit minder as twee meter van hom af. Hy kruip versigtig oor die balke en skuif die luik oop. Sy giggel as sy hom sien.

“Jy’t ’n streep oor jou wang.”

Hy vee haastig met sy mou oor sy gesig, en dan bars sy uitbundig uit van die lag.

“Nou oor jou voorkop ook.”

Willem begin ook lag. Eers gedwee en dan lag hulle beide uit volle bors.

“Wat maak jy hier. In hierdie plek?” vra hy skielik.

Daar kom ’n wolk oor haar gesig.

“Hulle sê dit is veiliger so ...”

Willem verstaan nie, en hy wil verder uitvra, maar dan skuif ’n luik in die dik staaldeur voor haar kamer oop, ’n koppie tee en koekies word vinnig deurgeskuif, en dan klap die luik weer toe met ’n luide KLANG.

“Teetyd!” giggel sy. “Ek gaan ongeskik wees, Willem. Ek is mal oor koekies. Jammer jy is so hoog, ek kan nie aanbied nie.”

“Ek moet werk. Ek sal kom koebaai sê as ek klaar is ... Desiree.”

“Des.” Sy bly ’n oomblik stil. Asof sy nadink. “Dis reg ja ... Mense wat my geken het, het my Des genoem.”

“Ek sal kom groet, Des.” Willem Bosman skeur homself weg van die luik af. Moer weet, dit is die mooiste vrou wat hy in sy lewe nog gesien het.

Hy kry die kraan in die pyp. Hy voel die koue druppels water voor die kraan. Na dit ... niks. Hier lê die probleem. Hy sit ’n blok in die pyp en begin die kraan losdraai.

Dan vul haar stem die spasie om hom. Volkome ... soos suurstof. Elke noot perfek.

“Wow, I’m sick of doubt
Live in the light of certain South
Cruel bindings
The servants have the power
Dog men and their mean women
Pulling poor blankets over our sailors
I’m sick of dour faces
Staring at me from the TV tower
I want roses in my garden bower; dig?
Royal babies, rubies
Must now replace aborted
Strangers in the mud
These mutants, blood meal
for the plant that’s plowed.”

Hy sit met sy oë geslote … laat haar toe om hom te bekoor. Hy ken daardie song. Jim Morrison. Hy skuifel terug na die luik. Sy sit plat op ’n reuse-kussing op die vloer. Die sonlig wat deur die spleet in die gordyne val, verlig haar soos ’n engel. Willem sluk aan die knop in sy keel. Daai kraan se moer. Hy sal ’n plan maak om dit môre te kom regmaak. Hy sal ’n stront-storie uitdink vir die doktertjie. Hy moet haar net weer sien.

“Ek is klaar vir vandag, Des.”

Haar kop ruk om, asof sy vergeet het van hom. Dan glimlag sy.

“Tot volgende keer dan, Willem.”

Sy onthou sy naam! juig dit deur hom.

Willem wriemel uit die plafon uit. Hy ry huis toe, na sy vrou en kinders toe, maar sy kop is in die malhuis.

“Wow … I’m sick of doubt ...” begin hy sing.

Willem slaap sleg. Sy nag is gevul met die engel in die streep sonlig. Hy ignoreer vroulief se vraende kyk. Sy is nie eers in dieselfde liga as die engel nie. Sy hoef niks te weet nie.

 

Hy ry ’n draai. Hy soek ’n straatsmous en koop vyf rooi rose. Dan ry hy hardewarewinkel toe en koop ’n kraan. Hy wikkel die blomme in dieselfde plastieksak toe. Hy hoop sy hou daarvan.

Sy sit op haar bed, met haar bene gekruis, en sy staar net in die niet.

“Hallo Des.”

“Willem! Ek het al begin verlang. Ek het gehoop jy is al vroeër hier.” Sy kreukel haar perfekte wipneusie vir hom en glimlag. Hy haal versigtig die blomme uit die sak en gooi hulle deur die luik.

“Oeeee!!!” kraai sy, en sy breek een se stokkie net duskant die dorings af, en skuif dit agter haar oor in. Die ander vier pak sy in ’n duidelike W op haar bed. Willem se hart slaan teen sy ribbes. Wat ’n vrou ... Wat ’n engel ... Sy engel.

Hy peuter met die kraan.

“You know that it would be untrue
You know that I would be a liar
If I was to say to you
Girl we coudn't get much higher.
Come on babe light my fire
Come on babe light my fire
Try to set the night on fire.”

Hy sing uit volle bors saam. Sy lag en dans. Hy kan haar hoor hier onder hom.

Skielik, ver agter hom, skyn die lig in die gang in sy privaatspasie in. Die doktertjie se kop verskyn in die opening.

“Waarmee sukkel jy so? En jy moet sagter sing. Hier is pasiënte hier!” Die mannetjie se stem is befoeterd en meewarig. Willem hoor iets uit die kamer onder hom. Amper ’n grom. Soos ’n dier. Dalk was dit maar net die water in die pyp.

“Ek is amper klaar. Alles is vreeslik geroes. Die kraan is reg, ek sal net môre ’n nuwe stukkie pyp hier insit, dan is alles piekfyn.”

“Jy beter klaarmaak môre!” Dan is die kop weg.

Willem skuifel oor die plafon en loer af in die engel se luik. Sy kyk op na hom. Daar is fyn speekselmerkies in haar mondhoeke, en die helder blou oë is donker swart poele.

“Jy beter klaarmaak môre!” koggel sy. Haar stem is plat en hard en lelik. Sy gooi haar hare vooroor, en sy staan ’n oomblik gebukkend. Wanneer sy regop kom, is sy weer sy engel. Die son vloei weer terug in die poele.

“Dan sien ek jou seker eers weer môre, Willem?”

“Ek sal vir jou iets lekker bring.”

Sy kraai van die lag, en Willem se hart jubel huis toe.

Hy koop ’n groot blok Top Deck-sjokolade. Die job is klaar. Daar kort g’n niks pyp nie. Hy loop in die lang koue gang op. Sy voetval weergalm van die roomkleurige mure af. Hy skuif die leer reg. Sy oog val op die luik in die staaldeur van haar kamer. Sy hartklop versnel. Miskien kan hy aan haar raak. Hy sit die leer plat teen die muur neer. Hy trek die luik oop.

“Des?”

“Willem!” Sy gee ’n opgewonde gilletjie. Willem vat die blok sjokolade en skuif dit met beide hande deur die luik. Hy voel hoe dit saggies uit sy greep gevat word. Hy wens hy kan haar sien.

“Oeeee, Willem.”

Sy pols versnel as sy haar sysagte koel hande oor syne sit. Sy verstrengel haar fyn vingers in syne, haar duime streel oor die binnekant van sy handpalms.

“Willem,” fluister sy, en die emosie in haar stem wil hom hierdie staaldeur met sy kaal hande laat afbreek.

Dan klap iets in die gang. ’n Sagte, nat kraak, dan tref die pyn hom. Sy breek beide sy hande, en dan is die grom daar. Soos ’n dier. Dit was nie die water in die pype nie. Sy vergruis beide sy hande in ’n oogwink met die krag van ’n mal mens. Dan ruk sy hom aan die pappery waarmee hy sy brood verdien het. Sy gesig tref die deur en sy neus breek ’n sekonde voor sy kakebeen. In die vyf sekondes voor sy skedel bars, hoor hy sy engel se stem …

“This is the end, beautiful friend
This is the end, my only friend
The end of our elaborate plans
The end of ev'rything that stands
The end

No safety or surprise
The end
I'll never look into your eyes again

Can you picture what will be
So limitless and free
Desperately in need of
some stranger’s hand
In a desperate land.”

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie   

  • 1

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Hierdie was my heelgunsteling storie en ek is verheug omdat dit gewen het!  Doet so voort, my vriend.

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top