Vervaldatum-kompetisie: Hoeveel treë neem dit om ’n reis te voltooi?

  • 0

“We do not just go on to go on. Endurance means we are making something substantial.” (Clarissa Pincola Estés: Women Who Run with the Wolves)

Ek haal my oorpluisies uit; dis doodstil. Skimme beweeg geruisloos en doelgerig; juis dít het my wakker gemaak. Nog voor my wekker kon afgaan. Hulle loop heen en weer op sokkies, vou slaapsakke op, trek klere aan, pak rugsakke. Party doen dit buite om nie dié wat nog slaap te steur nie. Ander keer terug van die badkamer op die onderste vlak, wanneer ek die trappe afstap. Die lig op die trap wat heelnag gebrand het, gooi ’n sagtheid in die vertrek.

Ek weet duidelik ek het gedroom, een van daardie drome wat heeldag by my gaan bly.

Honderd en twintig mense het vannag in hierdie enkele klipvertek geslaap, ek tussen twee mans. ’n Smal gangetjie aan die een kant van die stapelbed gee toegang tot my bed; aan die ander kant staan die aangrensende bed styf langsaan, wat dit soos ’n dubbelbed laat lyk. Daarom dat ek my slaapsak omgedraai en met my kop by my buurman, ’n jong slanke fietsryer, se voete geslaap het.

Alles neem lank: tandeborsel en aantrek, oprol van die slaapsak, oorpak van die rugsak, waterbottels vul. Ek ken nog nie die roetine nie. Ons is vier wat saamstap: ’n middeljarige Australiese man, ’n jong Kanadese meisie en ’n pragtige jong Duitse man, en ek. Ek het hulle in St Jean ontmoet. Ons loop agter mekaar. Die pad gaan vir lang ente onder deur bome, met net die volmaan wat wit vlekke op die voetpad gooi. Niemand gebruik ’n koplig nie – wil die atmosfeer bewaar, dit inlê soos vrugte vir oopmaak in die winter om die somer te kan proe. Die berg lê agter ons waar ons die klokke om die nekke van die Franse skape, beeste en perde kon hoor weerklink wanneer hulle vroegoggend en laatmiddag wei.

Nou lê nog ’n moeilike dag voor, heuwel op en heuwel af oor die uitlopers van die Pireneë; die skoonheid van die berg en woud wil my van vreugde laat dans. Opwinding hang in die lug.

Bo-op een van die heuwels stop ons om die Kanadese meisie se blase te dokter – sy loop toe al geruime tyd mank. Ons haal ons pleisters, naalde en alkohol uit en steek en plak haar warm voete, sit ’n rukkie langs die pad en stap dan verder. Dis die dag waarop my eerste blase ook verskyn.

Op Zubiri roep ek halt. Die ander drie stap vyf kilometer verder. Ek slaap in ’n munisipale albergue, dié keer darem so twintig mense in die vertrek. Ek hoor die man in die hoek kom van Ysland, en wonder hoe hy die stomende hitte moet ervaar.

Die volgende oggend vroeg toe ek by die volgende dorpie stop vir koffie, vertrek my drie vriende van die vorige dag. Ek kry hulle weer die volgende oggend toe ons douvoordag uit Pamplona stap. Daarna nie weer nie.

Ek sit op ’n steil wal langs die pad my appel en eet toe Ricardo verbygestap kom. Ek het hom in die tweewatreintjie op pad van Bayonne na St Jean gesien, ’n regte omie, en het gedink hy gaan vir familie op St Jean kuier; was verras om hom tussen die stappers te sien.

Ek sluit by hom aan. Hy kom van Milaan en is Italiaans, Spaans en Frans magtig. Met gebare en in gebroke Engels vertel hy my sy storie. Hy het 30 jaar lank ’n vrou gehad, was nooit getroud nie, maar hy was baie gelukkig. Toe sterf sy en hy bly verslae en alleen agter. Daarna ontmoet hy weer iemand en besluit om te trou – haar idee – maar die huwelik werk nie. Egskeiding is moeilik om in hulle kerk deur te voer; hy moet nog twee jaar wag. Sy hartseer tref my. Ek kyk in sy oë. Die kort skraal man sonder hoed word ’n mens op daardie oomblik. Ek vertel my storie van verlies, en van my kinders en kleinkinders. Hy vra uit en luister. Tot woorde opraak.

Ons stop in ’n dorpie by ’n kroeg. Hy haal sy notaboekie uit en teken elke foto wat hy langs die pad geneem het, aan, die naam van die plek langs die nommer van die foto. Ons eet ’n bocadillo met ham en kaas. Hy drink bier en ek café con leche. Na ’n goeie rus stap ons in die bakkende son drie kilometer verder tot die volgende dorp se dakke reg in die middel van die pad voor ons opdoem. Die kerktoring troon uit die middel van hierdie reuse-molshoop wat met elke tree agter die grondpad en wingerde uitkruip, hoër en hoër. Cirauqui. Hy wil daar oorbly. Ons rus op die dorpspleintjie onder die breë oorhang van die koel klipstoep. Twee, drie kinders, laerskoolgrootte, speel om ons. Ek wil weet, en hy vra, hoekom hulle nie skoolgaan nie. Dis die varkgriep, sê hulle; hulle mag twee weke lank nie skool toe gaan nie.

Sweet drup uit my hare en ek neem die louwarm waterbottel en drink lang teue. Ons sit ’n ruk tot ek opstaan; ek wil aanstap. Hy staan in sy blou jeans en geruite hemp voor my: “A lietel kiss,” sê hy. Ek skrik en sê ek is natgesweet. Nee, sê hy, dit maak nie saak nie, ons is al twee warm gestap. Dit kan nie skade doen nie, dink ek, en gee hom ’n pikkie. “Another one ...?

Die volgende aand sien ek hom nie en slaap op ’n eienaardige plek. Die slaapsaal het ’n kniehoogte-verhogie al om drie mure van die vertrek waarop matrasse ingeryg lê en jy slaap letterlik ’n handbreedte van die persoon langs jou. Geen kussings nie. ’n Onbeskofte hospitalero, ’n vrywilliger wat diens doen in die albergue, is soos ’n sersant-majoor. Sarah van Engeland slaap oorkant my en noem dit ’n cowshed. Twee Spaanse bakvissies wat laataand nog lê en giggel, slaap langs my.

Die volgende dag stap ek saam met ’n ander Sarah - van Wallis - ’n kletsende, kwetterende vrou met twee donkerbruin vlegsels en ’n wit kolletjies-laphoedjie wat haar stapstokke gelyktydig vorentoe swaai soos ’n mens met krukke loop – ’n baie vermoeiende manier van loop, lyk dit my. Sy vertel van Sarah van Engeland wat so gesteld is op haar Queen’s English en van die stande in Engeland waar jy op grond van jou uitspraak beoordeel word en hoe die Queen’s English-sprekendes neersien op ander.

Voor die middel van die dag stap ons by ’n albergue in Los Arcos in. Hy staan in die deur, en sy gesig helder op toe hy my sien: “My South African girlfriend!”

Later sit ek in die sitvertrek en wag vir ’n beurt by die rekenaar om e-posse huis toe te stuur. Ricardo kom sit by my en sê ten aanhore van almal: “You alone, me alone. You come with me to Milan. If you like, you stay. If you do not like, you go back to South Africa.”

’n Duitse meisie wat saam met my en Sarah in ons vierbedkamer slaap, waarsku ons teen Italiaanse mans.

Die volgende dag beland ons op Viana , ’n dorp met ’n persoonlikheid. Daar is ’n fees aan ter ere van ’n heilige. Die kerkklok roep almal na die stadsplein. Dit bewe van die mense – almal in wit met rooi serpe of skoene. Dis twaalfuur en ’n blaasorkes met reuse-tromme kom die straat af en speel oorverdowend wanneer hulle by ons verbystap. Dinge gebeur asof vanself. Musiek kom van ’n verhoog langs die kerk, en twee vroue dans ’n salsa. Nie lank nie of die een gryp my en ons dans op die dorpsplein tussen die malende mense. Ander sit en eet en drink wyn op wit tafeldoeke aan lang tafels wat in ’n smal straatjie af gedek is. Die enorme tafel verdwyn om die draai in die pad. Ek en Ricardo en Sarah sukkel om deur die menigte in ’n oorvol kroeg tapas te bestel, gaan sit op die plein, eet heerlik en bekyk die mense. Later word bulle deur ’n ander straat gejaag.

Daardie aand eet ons drie saam in ’n oorvol restaurant en slaap in Albergueria Andrez Munoz langs die ruïnes van die San Pedroskerk .

Die lekkerste dag van my lewe.

Op die kennisgewingbord van ons albergue staan ’n nota: “Die reis sal jou leer wat jy moet weet.”

Sarah moet ’n bus haal om haar vriend op ’n gegewe tyd verder op die reis te ontmoet en Ricardo keer terug na Milaan; ek is weer alleen. Maar nooit alleen nie, daar is altyd mense.

Mike uit Kanada, ’n jolige afgetrede skoolhoof, stap ’n paar dae lank saam, meestal op die Maseta. As jong man het hy in Swaziland met bouwerk gehelp en praat met romantiese verlange oor Suider-Afrika. Toe ek die oggend in Carrion de los Condes uit die kamer van die klooster waar ons daardie nag geslaap het, kom, is my linkeroog toegeswel. Sy kwinkslag laat my dadelik beter voel: “You are not looking for a man, are you?” En ’n rukkie later: “As you know, our daily lives teach us to be thankful for everything. You can be grateful it isn’t both eyes.”

Eenkeer hoor ek Queen’s English Sarah aan Mike sê dat sy nie kan verstaan hoekom die mense in Afrika nie ’n behoorlike Engelse uitspraak leer nie. Ek het haar nie weer na daardie aand gesien nie.

Die omgewing gly elke dag soos in stadige kamera-aksie by my verby. Hoe langer ek stap, hoe meer ervaar ek die oomblikke van vergetelheid wanneer dit voorkom of my bene asof vanself vorentoe swaai* en my arms outomaties die stapstokke ritmies koördineer. Dan volg die steiltes en die inspanning en die pyn. En die stilstaan op die heuweltoppe, die terugkyk, die ongeloof dat jy daarvandaan kom, en die ontdekking van wat aan die anderkant van die heuwel of berg lê. ’n Verrassing om elke draai.

’n Nuwe oorblyplek en ’n ander bed wag elke aand; so ook ander storte en wasgeriewe, nuwe eetplekke en vreemde anderste kos. Wie sou dink dat ’n houertjie ongegeurde joghurt nagereg kan wees, of dat jy koek vir ontbyt kan eet, of koffie uit ’n glas drink?

Laat in September ontmoet ek hulle die eerste keer in die omgewing van Hontanas, die ses vroue uit Noorweë wat elke jaar die tog in sarsies aflê. Ek leer van die woude en natuurskoon, die staproetes en die fjords, en hulle vra uit oor Suid-Afrika. Een het André Brink se Bidsprinkaan in Noorweegs gelees. Ons slaap feitlik elke aand op dieselfde plekke, begin in die donker stap en wanneer die son opkom, gaan hulle staan, draai om na die ooste, en sing ’n oggendlied in Noorweegs. En ek staan beteuterd eenkant en hou my hand oor die plek op my maag waar dit onbedaarlik aan die ruk gaan.

Musikale mense . Een middag sit hulle in die banke van ’n eenvoudige klein kerkie en sing “Dona Nobis Pacem” en Noorweegse gesange. Hul harmonieë styg in die koepel op, ’n direkte stroom na God, so weet ek op daardie oomblik.

Op Sahagun maak ons planne: hulle moet ’n rusdag inwerk en ek moet vinniger beweeg om betyds vir my terugvlug te wees. Ons neem ’n trein tot op León en bly in privaatkamers van ’n luukse klooster.

Ek stap ure lank alleen deur die stad se strate, sien bruide wat op koetse en voor mooi geboue afgeneem word, trougaste in die mooiste uitrustings loop met die straat af. Ek kyk na die winkelvensters en is bly ek kan niks koop nie – het net plek vir een vrug en ’n broodjie in my rugsak. Bo ’n winkelvenster met ’n uitstalling van vroue-onderklere staan op ’n uithangbord en in goue letters teen die muur: Casa Jesús. Huis Jesus.

Daardie aand woon ons ’n orrelkonsert in die allerpragtigste katedraal by en ek weet ek het my hart in hierdie stad verloor.

Hier rond het ek die tweede droom gehad.

By die eerste koffiedrinkplek die volgende oggend ontmoet ons vir Païvi waar sy alleen op die sypaadjie by ’n wit plastiektafeltjie haar koffie drink en koek eet. Ek hou onmiddellik van haar. Sy is ’n onderwyseres van Finland, goed onderleg in die Engelse taal, en lees en praat ook Spaans. Ek hoor die volgende dae van Finland se koue en temperature waarvan ons net in vrieskaste weet, van Lapland en ’n wêreld wat soos storieboeke klink. Sy nooi my om te gaan kuier.

Nuwe mense kruis my pad daagliks, mense van oor die wêreld, en ek knoop geselsies aan met elkeen wat enigsins ietwat Engels magtig is. Selfs met Jan en Jean van Nederland werk Afrikaans nie vir lank nie. Sommiges loop ek weer en weer raak, ander sien ek nooit weer nie. Egpare stap saam; een egpaar uit Duitsland stap al vyf maande lank nadat hulle hul huis se voordeur agter hul toegetrek en begin stap het. Pa’s en seuns, ma’s en dogters, selfs ’n vrou wat pyp rook en haar skoonseun. Ou mense en jong mense, baie Spanjaarde, min swart mense, honderde van oor die wêreld is hier om hul eie redes.

Vreemdelinge sit in gemeensaamheid saam aan etenstafels, staan langs jou en tande borsel of wasgoed ophang. En ek verlang vandag skaamteloos na hulle.

Ek ruik die grond, die plante, die diere, merk die kleinste blou koringblommetjies. Die vrugte oorweldig my, veral in die begin van die reis, waar dit in oorvloed is, die heerlikste wit vlesige perkes, druiwe, klein vytjies aantreklik uitgestal in winkelvensters. Geroosterde rooi soetrissies is op straat op gasbraaie te koop. Olyfboorde en wingerde herinner aan die Boland. Lang rooi soetrissies hang in lande waar jong mans soggens, wanneer die dou nat lê, hul dagtaak begin, voor die siësta aanbreek en almal agter toe luike verdwyn.

Siësta. Moenie dat jy daardie ure op ’n dorp aankom nie, dan kry jy nie ’n apteek of supermercado oop nie. Jy is gelukkig as jy iets te drinke kry.

Dis die naaste wat ek aan ’n land was, met die stof saans wit op my skoene en sokkies. Die opstaan in reën, heeldag stap in gietende reën en die slof deur modder sorg dat my spoor vir ewig daar bly. Oor hoë en steil berge, deur woude, dwarsoor die massiewe stuk dorre plat aarde - die graanskuur van hierdie groot land - met sy stoppellande en soms die onaardse reuke van bemesting wat uitgestrooi of in hope lê, ander reeds ingeploeg, wat jou wil laat verstik, loop ek weke aanmekaar. Daar waar die warm son genadeloos op die grondpad brand sonder ’n koelteboom in sig, wanneer die praat opdroog, wanneer jy smag na die volgende dorp, na ’n holte vir die voet en ’n rusplek vir die nag. En jy stap sonder ’n enkele gedagte, net bewus van die hitte en die pyn in jou bene.

Iewers het iemand ’n handgeskrewe bordjie in Duits en Spaans opgesit: “Die volgende tree is al wat tel.”

En jy leer om niks te verwag nie, nie ’n kroeg langs die pad, ’n ysdrankie of ’n koel windjie nie. En die grenslose vreugde wanneer jy dit ontvang.

En ek onthou vir Ron van Ierland, ’n afgetrede dosent (hy kon ’n professor gewees het, nie dat dit hoegenaamd saak maak nie) wat nie kon ophou praat oor sy Middeleeuse geskiedenis en die Wikings nie. Sy ego groei tot ’n helm met allemintige horings wat jou van hom wegstoot.

Alle soorte was daar, maar deurgaans was almal tegemoetkomend en elkeen besig met dieselfde uitdaging, in dieselfde rigting op pad. Almal aan dieselfde roetine onderwerp van soggens opstaan, oppak en stap, rus wanneer nodig, slaapplek soek, stort, klere was, aandete koop, dagjoernaal skryf, voete versorg, vroeg gaan slaap.

Dag vir dag, week vir week.

Eenvoudig. Basies.

Later gaan ek woud- en bergwêreld binne met lae wolke, mis en dikwels reën, daar waar die veld anders ruik, waar die pienk seekat en kastaiings as lekkernye aangebied word, waar jy vir seker weet dis beeswêreld en waar ’n ander dialek van die lispeltaal in jou ore weerklink. Eeue oue klipdorpies getuig van ontvolking en dit lyk of net ou vroue met min tande, lang swart rokke en tjalies oorgebly het.Vroue wat hard werk.

Op ’n dag besef ek hierdie reis is vir my bekend. Ek het dit by die huis gestap, elke dag.

Veral na my man se dood twaalf jaar tevore.

Dis die tweede laaste dag. Ek steier die Saterdagmiddag die trappies van ’n kroeg uit ná 28 kilometer se stap, kry slaapplek op die boonste verdieping in die netjiese gebou in ’n privaatkamer, eet heerlike vis vir aandete wat die gasheer self voorberei. Daardie nag raak ek wakker van maagpyn. Die volgende oggend druk ek my wekker dood, kan om de dood nie wakker word nie. Halftien skakel ek die wekker af en besluit om te slaap tot ek beter voel.

Daars ’n klop aan die deur. Hy staan voor my. My hand gaan na my mond en ek tree agteruit. Dis onmoontlik. Nog ’n paar tree agteruit die gang af, oorstelp, verdwaas. Dit kan nie wees nie. En hy bly staan op die stoep. Nie arms wat oopgaan nie. Nie ’n naderkom en vasdruk nie. Nie die bekendheid van sy lippe op myne nie. Hy staan net daar.

Ek nooi hom binne.

“Jy is dan dood,” sê ek.

“Nee,” sê hy.

Daardie nag slaap hy langs my, en die volgende nag. Sonder ’n woord. Sonder ’n sweem van aanraking, sonder ’n hart-tot-hart-ervaring.

Tot ek nie meer kan nie.

“Ons moet praat. Wat is dit?” vra ek.

“Ek is 27 jaar gelede hier weg, want ek moes. Ek het iemand anders liefgekry. Al die jare het ek saam met haar gewoon en ek is baie lief vir haar. Ek moes vir jou kom sê.”

Twee-uur daardie middag kom die gasvrou die kamers skoonmaak en kry my steeds bewusteloos. Ek verduidelik van die vis wat my maag omgekrap het. Sy sê in gebroke Engels hulle ontvang nie gaste op Sondagnagte nie, ek kan maar die nag ook oorbly, en sy dra vrugte en vrugtesap aan. Ek slaap die hele dag en die volgende nag en val Maandagoggend in die pad.

Dis net 14 kilometer tot in Santiago; ek is beswaarlik bewus van die omgewing om my en gebruik heelpad my sakdoek. Twaalfuur staan ek voor die katedraal, net betyds vir die pelgrimsmis. Die antieke gebou loop oor van mense. Ek kry staanplek in die gang, sit later op die voetstuk van ’n pilaar en luister na die eenvoudige voorsang van die non, verstaan nie ’n woord van die preek nie. Ek kyk op in die koepel en in my geestesoog sien ek hulle, derduisende wat die afgelope duisend jaar hul reis hier voltooi het.
My liggaam begin ruk.

Dan kyk ek op in die stralende gesig van die meisie van Suid-Korea wat agt honderd kilometer gelede saam begin stap het. Sy druk my vas en vra: “You OK?”                  

*Na aanleiding van Leo Tolstoi

 

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top