“Language is a skin. I have fingers at the tip of my words.” – Roland Barthes: A Lover’s Discourse from The Philosophy book DK
Sarah drentel na haar kamer in die Van Zyls se agterplaas.
Die radio-omroeper laat haar weer vanaand glimlag. Hy lees vir haar die dag se nuus en speel selfs musiek vir haar. Vir jare al is dit net hy en sy, elke aand. Sy is al so gewoond aan hom. Sy gaan hom baie mis.
Presies om nege-uur, net soos elke ander aand, weergalm die alarm deur die dorp.
Voor sy die kers doodblaas, reik haar hand na die radio om dit af te skakel. Het sy haar verbeel of was daar ’n klop?
Sy gaan staan nader aan die deur en vra: “Wie is daar?”
“Dis ek, Joseph.”
Vir Joseph ken sy ook maar nie só goed nie. Hy werk in die bure se tuin. Hulle twee gesels gereeld met mekaar by die heining, sommer oor die weer en so aan. Sy weet ook hy bly by sy ma net ’n blok of twee van háár ma se huis af. Maar sy is verbaas dat hy ...
Sy maak die deur vinnig oop en pluk hom aan sy hempsmou na binne. “Wat soek jy hier? Die alarm het al afgegaan. As die oubaas jou hier kry, verloor ek en jy al twee ons werk.” Sy’s effe uitasem.
Hy antwoord nie, kyk net na haar.
“Joseph, as iemand jou hier vang, slaap jy vanaand in die tronk, hoor jy ooit wat ek sê?”
Sy probeer hard om die glimlag wat kepe langs sy mondhoeke indwing, te ignoreer.
“Vir jou sal ek groter kanse as dit vat,” is al wat hy sê.
Dis al wat nodig was vir hom om te sê. Geen man het haar al ooit in sy arms opgetel nie en hy doen dit so moeiteloos asof sy ’n fynvroutjie is.
As sy wil, kan sy nou begin gil. Sy’t gesien die Van Zyls se ligte brand nog, maar sy wil nie gil nie.
Sy redeneer eerder met haarself: “Vir te lank al is ek iemand se ma; iemand se bediende; iemand wat vir iemand wag; het ek vergeet van die iemand hier binne?”
Hy lê haar sorgsaam op die bed neer.
Die onverwagte vlam wat tussen hulle ontstaan het, is soos een wat deur ’n stormwind aangeblaas word. Dit brand byna buite beheer, verteer alle skanse. Voer hulle mee oor heuwels en deur klowe, lê hulle bloot aan mekaar.
As die wind stil word, hou die warm nog aan met smeul in hulle skoongebrande wêreld vol nuwe hoop.
’n Donderslag ruk vir Sarah uit die slaap. Sy voel Joseph se reëlmatige asemhaling hier teen haar.
Dis gitnagdonker. ’n Bliksemstraal en sy kyk vas in Naledi se tandlose glimlaggie. Die ander foto teen die muur is ook van Naledi, toe sy drie was.
“Sy lyk elke dag meer en meer na haar pa.” Dis ’n skuldgevoel wat met haar praat en sy antwoord: “Dis al ses jaar en daar was nooit ’n sent nie, nie eers ’n woord nie, hy het lankal daardie belofte vergeet.”
Die wind ruk aan die vensters asof dit wil inkom en dit klink asof iemand aan die deur klop. Die reën word emmersvol oor die dak uitgegiet.
Sy begin saggies bid: “Jesu, dankie dat Ma daar is om na Naledi te kyk. Laat die wind asseblief tog net nie die kaia se dak afwaai nie en vergewe my maar – my geduld was al hoeka op.”
Dis nog donker toe Joseph wakker word. Hy voel na sy klere sonder om haar te steur. Huiwer ’n oomblik voor hy haar liggies op die voorkop soen. Dan sluip hy versigtig uit by die deur en om die hoek van die kamer tot by haar toilet. Hy gaan in.
Hulle kyk ewe geskok in mekaar se oë vas, hy en die onbekende man wat op die vloer sit en slaap het. Die man staan flink op. Trek sy klere reg. Stop sy hoed en ’n plastieksak in sy een hand. Steek die ander hand na Joseph uit en verduidelik: “Ek was vasgekeer in die nagstraat, jy weet mos - die alarm, toe kom die storm en hierdie was die eerste skuilplek wat ek kon kry. Ons gaan nie die vrou van die kamer onnodig bang maak om vir haar hiervan te sê nie, stem jy saam?”
Joseph bied nie sy hand vir die vreemdeling aan toe hy antwoord nie: “Ek stem saam, maar ek moet jou waarsku as ek jou wéér hier vang, gaan jy jammer wees, want die vrou van die kamer is my vrou.”
Sarah maak die Van Zyls se voorhek oop.
Joseph is langsaan besig om die laaste tak weg te sleep. Hy roep na haar: “Waarheen is jy op pad?”
“Ek gaan huis toe om te gaan kyk of daar skade was. Ek sal sommer daar slaap vannag.”
Wag vir my, ek tjaila ook nou, dan stap ek saam.”
“Lyk my jy het darem daardie hengse tak wat afgewaai het, gewen.”
“Ja, maar dit was ’n hele dag se gespook.”
Hulle stap ’n goeie ent in stilte voordat Joseph sy woorde versigtig kies: “Ek is jammer oor gisteraand. Ek weet jy wag vir Themba en ek weet ook dié dat ek net in ’n tuin werk maak die kans.”
Sy maak hom stil. “Moenie om verskoning vra nie, Joseph. Themba se woord is ’n dooie een wat ek al té lank vir Naledi aan die lewe probeer hou het. Nou gee ek vir ons twee ’n kans.”
Die breë glimlag bewys dit is presies wat hy wou weet. Hy vat met nuwe selfvertroue haar hand asof dit iets baie kosbaar is en hou dit heelpad vas tot waar sy afdraai na haar ma se huis toe.
Sy is al ’n paar treë weg van hom af toe hy na haar roep, en as sy omkyk, druk hy teatraal ’n soen in sy palm en gooi dit vir haar.
Sy voel lus om vir almal wat verby haar loop te vertel hoekom sy vandag so gelukkig is, dat daardie man ...
Naledi spring op in Sarah se arms en Sarah se ma lyk besonder opgewonde om haar te sien. “Sarah, waar is hy?”
“Waar is wie ma?”
“Themba. Hy was gisteraand hier en hy het jou seker al vertel van die lobola-geld wat hy toe uiteindelik bymekaar gekry het, elke sent!” Haar ma babbel voort: “My kind, jou geloof was groot; ek moet erken dat ek ’n paar jaar gelede al hoop opgegee het dat hy sy belofte sou nakom.”
Sarah staan net daar, ’n soutpilaar. Haar stem is swak. “Ek het hom nie gesien nie ma. Hoe laat was hy hier?”
“Dit was na die alarm afgegaan het, net voor die storm. Jirre, ek hoop nie die polisie het hom gevang nie!”
Sarah moet twee keer haar keel skoonmaak. “Ek is bly om te sien hier was toe nie te veel skade nie, Ma.” Sy klink soos een van daardie poppe wat praat as mens dit opwen. “Dan gaan ek maar liewer nou weer terug dorp toe, Ma, ek sal sommer by die polisiestasie langs gaan.”
Sy druk Naledi teen haar vas en gesels ’n paar woorde met haar voordat sy omdraai en vinnig teen die stroom pendelaars wat huiswaarts keer, instap.
’n Polisievoertuig dreun verby haar en draai in Joseph se straat af. Sy stap deur die stof tot by die hoek en gaan staan om te sien waarna al die mense so staar.
Twee polisiemanne is besig om dose by Joseph se voordeur af te lewer.
Sarah frons. Joseph se stem klink onwerklik, amper soos een uit ’n droom, toe hy vir die polisiemanne begin skree: “Nee, julle maak ’n groot fout, vat terug hierdie kos, dis die verkeerde adres!”
Die omstanders kyk betekenisvol na mekaar.
Die voertuig vorm ’n vars stofstreep soos dit wegry in die straat. Joseph hardloop met een van die dose in sy arms agterna.
’n Massa mense drom in ’n blits saam. Sarah hardloop verwilderd weg. Terug, dorp se kant toe.
“Nee, daar is geen Themba Nyeki in aanhouding nie, maar hoekom klink die naam vir my so bekend?”
“Johnny!” roep ’n stem vanuit ’n half-oop kantoordeur in die hoek van die vertrek. “Dis daai ou wat vanoggend hier was oor die een van vanaand. Pasop wat jy sê.”
Terug in haar kamer skakel Sarah onmiddellik die radio aan. Hy is besig om die nuus te lees, vir oulaas: “’n Woedende skare het die man, glo ’n tuinier van die nabygeleë dorp, met die halssnoermetode tereggestel. Hy was na bewering ’n polisie-informant. En daarmee die einde van vandag se nuus en moet ek dan ook hiermee vanaand totsiens sê aan al my getroue luisteraars van die afgelope sewe jaar.”
’n Snik. ’n Bewende vinger wat soek na die knoppie om die radio stil te maak.
’n Gesig gedruk in ’n geborduurde psalm op ’n wit kussingsloop. ’n Klop aan die deur. Sy kom moeisaam orent: “Wie is daar?”
“Jammer om jou teleur te stel, Sarah. Dis ek, Themba.”

