Vervaldatum-kompetisie: Die tiekiedraai

  • 4

Die manne sit in die boskroegie langs die koöperasie voor die TV en wag vir die rugbywedstryd om te begin toe ek daar opdaag. Ek bestel ’n yskoue bier, groet die manne en maak myself gemaklik op ’n hoë stoeltjie.

Na middagete op ’n Saterdag is die gemoedere maar effens, en die manne gesels maar lusteloos. Op die gedempte skerm is een van daai skaatskompetisies aan die gang. ’n Mooi jong man met ’n mooi lyf is besig om ’n vietse meisie aan haar arms in die rondte te swaai. ’n Rilling gaan deur my liggaam. “Dis soos volkspele,” sê ek.

Die manne kyk na die bier wat ek vashou, of ek dalk te veel in het, en toe dit nie ’n oplossing bied vir my uitspraak nie, na my voorkop, of ek dalk koors het. Na ’n rukkie kan Kleinkoos dit nie hanteer nie en beveel toe: “Hoekom sê jy so, Arnold?”

Ek kyk lank na my skuimkop, en hulle kan die pyngedagte oor my gesig sien flits. Vinnig kyk hulle na mekaar en hou hulle asems op. Toe, terwyl die jonkman met die meisie oor die ys sweef, begin ek. “Nee kyk, in standerd 4 was ek mos in die Voortrekkers, en ’n voorslag was ek. Toe sê die kommandant: ‘Elke man in die Voortrekkers moet ook aan die volkspele deelneem.’”

Die emosie druk my keel momenteel toe, maar na ’n stewige sluk koue vog gaan ek dapper voort. “Ek meld toe grootpouse by die saal aan. Ons afrigter was juffrou Vogt, ’n stewige dame. Daar was so twee ander Voortrekkers Gert Hanekam, ’n kêrel met ’n lang krom neus soos Jasser Arafat, en ’n klomp giggelende meisietjies.” Ek sug weer swaar as ek die diep-verborge herinneringe oopkrap. “Juffrou Vogt deel ons toe in pare in, blykbaar volgens lengte.”

Weer die swanger stilte, net ’n paar skril sonbesies buite in die doringbome wat tevergeefs na die reën roep.

“Nou ja”, en ek hyg amper, “hier kom staan my maat voor my – Gertruida van Rhyn, een van die … uh … frisser meisies in ons plaasskooltjie.”

Die manne sien hoe ek rondkyk, asof ek van die beelde wil ontsnap, en hulle kyk af na die kroegtoonbank.

“Manne, julle moet my nie nou beoordeel nie, want in standerd 4 was ek, hoewel lank, maar ’n knap knapie. Getruida was, soos die meeste meisies van my destydse ouderdom, so dubbel my fisiese omvang”, en ek beduie met my hande so ver van mekaar af. “Die oefeninge was heel skaflik met Getruida saam. Juffrou Vogt het gesê ons moet glimlag vir die mense soos ons dans, en Getruida het ’n goeie klomp voortande gehad waarmee sy vir die denkbeeldige mense in die saal gelag het.”

Die manne loer nou vlugtig vir my asof hulle geestelike ondersteuning vir my wil aanstuur. Ek kan dit aanvoel en gaan toe manmoedig voort. “Ons het ‘Afrikaners is plesierig’ geleer. Jy stap en vleg so bymekaar verby met jou arms in die lug en swaai soos ’n plaaswindmeul, en wanneer die liedjie kom by ‘eers draai die ou vroutjie en dan draai haar ou man’, dan moet jy voor jou maat wees en dan tiekiedraai jy en sy”, en met my wikkelende hande en swaaiende arms herhaal ek hier voor my die pyngedagtes van toeka.

Onwillekeurig stop ek weer. “Getruida het nou nie juis ’n ‘lyfie’ gehad nie, en ’n paar keer met die tiekiedraai het sy óf op my enkels getrap óf my ampers laat val soos ’n sak sout. Maar”, en ek hou ’n waarskuwende voorvinger op, “ek was ’n kranige Voortrekker en na vele oefeninge kon ek en sy soos twee stoeiers mekaar voel-voel aanvat. Die kleedrepetisie het vir juffrou Vogt in vervoering gehad, maar ek het my bedenkinge gehad, want sien, so na elke tiekiedraai het Getruida gehyg en gebons soos ’n Ford-trekker wat op drie silinders draf.”

Ek vat weer ’n lang teug en sug, maar nou sagter. Die uithaal van die ou koeie uit die sloot van die verlede het blykbaar ’n helende uitwerking op my.

“My ma het vir my ’n grys langbroek gekoop en nuwe swart skoene. Oor ’n wit hemp het ek ’n groen onderbaadjie aangetrek met ’n oranje krawat om my nek. Toe ek aangetrek was, het my ma ’n traantjie weggepink en my pa het trots toegekyk. By die skool het juffrou Vogt ons soos ’n ma-hen gekloek tot op die verhoog. ‘Onthou kinders, lag vir die mense, hoor!’

“Daar op die verhoog het ons groepie stil geword agter die gordyn. In die halfdonker kon ek die skare hoor roesemoes, maar hier langs my het Gertruida se bors gedein, en haar neusvleuels het gesper soos dié van ’n bronstige merrieperd wat ’n hings ruik! Ek het begin bewe.”

Die manne kyk nou reguit na my, maar ek voel asof ek in ’n lugleegte is.

“Die gordyn het opgelig en ons volkspele-groepie het gesamentlik gesug en uitgedraf onder die helder ligte en opgewonde handeklap. Al wat ek kon onthou, was die ander manne en meisies wat begin swaai en lag het. Ons arms was in die lug en ons bene het geskarrel om by te bly. Toe kom die refrein: ‘Eers draai die ou vroutjie’ ...”

Die manne se oë het gerek.

“Toe vat Gertruida mý om mý lyfie – en die hel bars los!”

Kleinkoos leun vorentoe om beter te luister.

“Sy het my aan my arms begin swaai en my swart skoentjies het in die wind gewapper soos ’n flap se stert. Die bloed het my kop verlaat en na my kuite gedros en begin spatare vorm en my krawat het opgeskuif tot teen my neus en toe lyk ek soos ’n kroek in ’n cowboy-fliek. Die saal het om my begin swaai asof ek op ’n merry-go-round was – nee, nee! Ék, wás die merry-go-round, en tussenin het Gertruida se tande geflits soos ’n neonlig daar voor my starende oë!”

Die manne se kneukels is wit om hulle bierbottels, en ek verbeel my ek hoor ’n paar gedempte kragwoorde.

Ek haal diep asem om suurstof in my longe te kry. “Toe Gertruida my neerplof op die saalvloer, toe het die hele gehoor opgestaan soos ’n toetsskare en geapploudiseer asof ons twee so pas elk ’n drie teen die All Blacks gedruk het.”

Niemand wil nou direk in my rigting kyk nie, maar die kranige Kleinkoos kan homself nie bedwing nie. “En toe?”

My bors pomp soos ’n blaasbalk.

“Nee, toe los ek maar die Voortrekkers en sluit aan by die Boy Scouts – immers doen hulle nie tiekiedraai nie!”

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie.     

  • 4

Kommentaar

  • Beste Willem,

    het jou storie baie geniet en die wyse waarop jy taal hanteer:    vars en oorspronklik.  Gaan daar nog uit jou pen/rekenaar verskyn?

    Groete
    Odyssea

  • Sal gaaf wees as ons ouens hier op Litnet so tussendeur nog so 'n proesel kon kry van jou skryfwerk voor die moontllike lang wag op jou roman! Sien egter nuuskierig uit na jou roman - wanneer?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top