Verteerbare patriargie? Angus Buchan, die Mighty Men en manlikheid

  • 4


We have to be very afraid of Angus Buchan and his mighty men (Nader 2009:559). Reg of verkeerd?

Opsomming

Angus Buchan as charismatiese herlewingsevangelis en sy Mighty Men-beweging oefen sedert 2004 ’n beduidende invloed uit op die Suid-Afrikaanse godsdienstoneel en spesifiek op konserwatiewe sienings van manlikheid onder blanke Suid-Afrikaners. Buchan verkondig die herstel van manlike hoofskap in gesinne as die redmiddel om die samelewing reg te ruk. In hierdie artikel word Buchan se idees oor manlikheid en die rol van mans, asook die reaksie en kritiek op die Buchan-verskynsel, bespreek, ontleed en beoordeel. Die belangrikste teoretiese vraag is of die feministiese kritiek teen Buchan geregverdig is, naamlik dat sy soort “sagte patriargie” gevaarlik is omdat dit ’n subtiele manier is om patriargale magsverhoudings in die samelewing in stand te hou, wat huishoudelike geweld eerder sal bevorder as verminder. Die bevinding is dat dié monolitiese beskouing van patriargie die feministiese kritiek op Buchan eensydig maak en dit kortwiek, aangesien so ’n siening geen krediet gee aan “sagte patriargie”-bewegings vir die aanduibare positiewe invloed wat hulle op mans se gedrag uitoefen nie. Daar bestaan geen getuienis dat Buchan se weergawe van manlike hoofskap die potensiaal vir huishoudelike geweld onder blanke Suid-Afrikaners verhoog nie. Hierdie opinie-artikel is gebaseer op ’n literatuurstudie. Verdere empiriese navorsing word benodig om die bevindings te bevestig.

Trefwoorde: Angus Buchan, Mighty Men, evangeliese beweging, manlikheid, patriargie, “sagte patriargie”, manlike hoofskap, huishoudelike geweld


Abstract

Palatable patriarchy? Angus Buchan, the "Mighty Men" and masculinity

Angus Buchan as charismatic revival evangelist and his Mighty Men movement have, since 2004, been influential in South African religious circles and particularly in shaping conservative views of masculinity among white South Africans. Buchan preaches the revival of male headship in households as a key to solving societal troubles. In this article Buchan’s ideas on masculinity and the role of men, as well as responses to and critiques of the Buchan phenomenon, are discussed, analysed and assessed.

Buchan’s position in the evangelical movement and the “men’s movement” is contextualised. His strategy as a charismatic leader of identifying problems facing men in the contemporary world and of exploiting the disillusionment of white men with the situation in South Africa to build a following for his conservative male headship concept, as well as his ideas about complementary roles for men and women in the household, the church and society, based on simple and old-fashioned “Biblical values”, is outlined. Links between other conservative movements, such as Robert Bly’s mythopoetic movement, the Promise Keepers and John Eldredge’s ministry, and the Mighty Men movement are indicated. It is shown how Buchan has created his own “trade mark” by projecting himself as a simple farmer, an ambassador of God and “Uncle Angus”, the family man. In this way he has succeeded in getting the “man in the street” to identify with him as a role model of conservative masculinity and his “back to basics” message.

The crucial theoretical question is whether the feminist critique of Buchan’s type of “soft patriarchy” is justified. Feminists argue that this form of patriarchy is very dangerous, because it is a subtle method of upholding patriarchal power relations in society, which may heighten the potential for domestic violence. In order to reconcile male headship with attempts to reduce domestic violence, evangelical movements have devised different strategies. In his preaching Buchan combines the Promise Keepers’ strategy of responsibility with Eldredge’s strategy of adventure and proposes a tough but tender approach for men’s behaviour at home.

The conclusion is reached that the monolithic approach to patriarchy among feminists has resulted in one-sided and alarmist criticism of Buchan, which leaves no scope for giving credit to a “soft patriarchy” movement such as the Mighty Men movement for the demonstrable positive influence it has had on the behaviour of men. No evidence exists to suggest that Buchan’s version of male headship has actually heightened the potential for domestic violence among white South Africans.

This is an opinion article based on a literature study. Further empirical research is needed to confirm the accuracy of the findings.

Keywords: Angus Buchan, Mighty Men, evangelical movement, masculinity, patriarchy, “soft patriarchy”, male headship, domestic violence

 

1. Inleiding

Angus Buchan het met die eerste Mighty Men-konferensie in 2004 en die uitreiking van die film Faith like potatoes twee jaar later met ’n knal op die toneel verskyn. Dit het gelyk of hy die regte man met die regte boodskap op die regte tyd was om belangstelling onder veral charismaties-georiënteerde Christene in Suid-Afrika gaande te maak.

Sedertdien het Buchan die bekendste herlewingsevangelis onder die blanke bevolking in Suid-Afrika geword. Sy Mighty Men-beweging het posgevat en soos ’n veldbrand versprei. Binne enkele jare het die jaarlikse byeenkomste op sy plaas naby Greytown in KwaZulu-Natal tienduisende en selfs honderdduisende mans op ’n slag gelok (Buchan 2012:12−55).1 Hy bly steeds ’n gewilde spreker by massabyeenkomste. Sy Shalom Ministries het ’n bedryf van Christelike lektuur en films opgebou. Boeke2 wat hy geskryf het, asook CD’s, DVD’s,3 TV-programme4 en films5 wat deur hom of oor hom en sy beweging gemaak is, is baie populêr onder ’n sekere deel van die bevolking. Die Buchan-boodskap is behendig verpak en word suksesvol bemark aan ’n gehoor wat weens die omstandighede van die tyd uitgehonger is vir hierdie soort boodskap. Sy sienings oefen onteenseglik ’n beduidende invloed op ’n bepaalde deel van die godsdienstoneel in die land uit.

Tipies van dié deel van die evangeliese beweging in die Christendom wat na die fundamentalisme oorleun, is Buchan iemand wat nie van grys areas hou nie. Hy is baie uitgesproke, veral wat betref sy siening oor die rol van mans in die gesin, die samelewing en die kerk. Weens sy uitgesprokenheid is hy ’n omstrede figuur. Binne konserwatiewe kringe word hy lof toegesing vir sy behoudende oortuigings oor Bybelsgefundeerde gesinsverhoudings wat sal help om stabiliteit, dissipline en orde in die samelewing te herstel (Hough-Coetzee 2009:16–17; Buchan 2012:254–61, 272–3). In liberale en feministiese kringe word hy egter veroordeel vir sy fundamentalisme wat die soort patriargie in stand wil hou wat geweld teen vroue in die samelewing bestendig (Nader 2009).

In hierdie artikel word ’n voorlopige ontleding en beoordeling van Buchan se idees oor manlikheid en die rol van mans gedoen. Buchan se bediening het nie uit die niet of in 'n lugleegte ontstaan nie. Om die sukses daarvan, en die kritiek wat dit uitlok, te verstaan, is dit nodig om die Buchan-verskynsel te kontekstualiseer. Dit word daarom in hierdie artikel belig binne die internasionale en nasionale omgewing waarin dit opereer. Daar word aangedui dat Buchan deel is van ’n breër evangeliese beweging in die Christelike godsdiens, met ’n eie diskoers oor manlikheid, en dat hy in die Suid-Afrikaanse konteks soortgelyke idees oor manlikheid as oorsese herlewingsevangeliste aanwend. Teen die agtergrond van ’n wêreldwye persepsie van ’n “krisis van manlikheid” benut Buchan veral blanke mans in Suid-Afrika se ontnugtering met die sosiale en politieke situasie in die land om sy visie van manlike hoofskap te propageer.

Ook die reaksie en kritiek op Buchan word in hierdie artikel bespreek en geëvalueer. Oor die konsep manlike hoofskap bestaan daar teenstellende en onversoenbare ideologiese en teoretiese uitgangspunte. Teoreties fokus die artikel daarop om te bepaal hoe die Buchan-verskynsel in terme van die konsep van patriargie in die genderteorie beoordeel kan word. In ontledings van soortgelyke evangeliese bewegings aan die Mighty Men-beweging is aan die een kant aangevoer dat die “sagte patriargie” wat hierdie bewegings propageer, slegs ’n subtiele manier is om patriargale magsverhoudings in die samelewing in stand te hou. Aan die ander kant word pleidooie gelewer dat die monolitiese beskouing van patriargie meer buigsaam gemaak moet word, sodat hierdie soort bewegings krediet kan kry vir die positiewe invloed wat hulle wel op mans se gedrag uitoefen. ’n Sentrale vraagstuk, wat ook gebruik kan word as toetssteen vir die beoordeling van Buchan se betekenis, is: Wat is die implikasie van die konserwatiewe beskouing oor manlike hoofskap in die huisgesin vir die verskynsel van huislike geweld? Kortom: Verhoog of verlaag “sagte patriargie” die potensiaal vir huislike geweld?

Aangesien hierdie artikel opinie-gebaseer is op ’n literatuurstudie van die Buchan-fenomeen, is geen nuwe empiriese navorsing in die vorm van onderhoude of vraelyste vooraf gedoen nie. Dus is die bevindings voorlopig, hoofsaaklik gebaseer op stellings deur Buchan self, sy ondersteuners en sy kritici, asook afleidings uit studies oor ander soortgelyke bewegings. Verdere empiriese navorsing is nodig om die gevolgtrekkings wetenskaplik te bevestig.

 

2. Teenstellende uitgangspunte in manlikheidsbeskouings

Opponerende en klaarblyklik onversoenbare uitgangspunte lê aan die wortel van die meningsverskille oor Buchan se vertolking van mans se rol in die gesin en samelewing.

Samelopend met, en dikwels in reaksie op, die tweede golf van feminisme sedert die laat 1960’s het ’n diverse mannebeweging (“men’s movement”) ontstaan wat wissel van konserwatiewe tot liberale en progressiewe groepe (Flood 2007). Messner (1998) argumenteer dat daar weens die uiters diverse aard daarvan kwalik van een mannebeweging gepraat kan word. Aan die een kant van die spektrum is daar die konserwatiewe siening dat patriargale oorheersing van mans oor vroue normaal is en dat mans weens hul natuurlike meerderwaardigheid daarvoor bestem is om oor vroue te heers. Aan die ander kant het die liberale beskouing dat alle mense, ongeag hul geslag, in wese gelyk is, veld gewen (MacInnes 1998:11).

Sedert die 1970’s het manlikheid ’n fokus van akademiese ondersoek binne die raamwerk van genderstudies geword, en het manlikheidstudies (“masculinity studies”) wat ’n progressiewe profeministiese uitgangspunt verteenwoordig, as navorsingsterrein ontwikkel (Beasley 2010:177-83). Hierdie artikel fokus nie op die profeministiese deel van die mannebeweging nie, maar kennis moet geneem word van aspekte van hul konseptuele raamwerk om die liberale en feministiese kritiek op Buchan beter te verstaan.

In feministiese en profeministiese teorie bly patriargie6'n sleutelkonsep. Met die opkoms in die 1960’s van die tweede golf van feminisme, wat vroueregte en geslagsgelykheid energiek bevorder het, het die kollig soos nooit tevore nie op alle manifestasies van manlikheid geval, veral ook op die redes vir mans se oorheersende posisie in die samelewing. In feministiese teorie is die begrip patriargie gebruik om die sosiale stelsel te beskryf waardeur mans vroue beide in die georganiseerde samelewing en in individuele verhoudings oorheers, onderdruk en uitbuit. Feministiese aanhangers van die sosialekonstruk-teorie glo dat gender (manlikheid en vroulikheid) deur die samelewing gekonstrueer word (Lorber en Farrell 1990; Young en Collin 2004). Patriargie sluit alle meganismes in, dus ook die godsdienstige konsep van manlike hoofskap, wat mans se oorheersing van vroue verseker en reproduseer deur dit van geslag tot geslag oor te dra. Feministe tipeer patriargie as ’n inherent bose en onbillike stelsel, waarvan alle verskyningsvorme uitgeroei moet word alvorens geslagsgelykheid bewerkstellig kan word (Goldberg 1973; Lerner 1986; Bornemann 1991; Ferguson 1999:1048; Meagher 2011:441–2). Vir die meeste feministe is die noodsaak om patriargie te verwyder ononderhandelbaar (Hooks s.j., bl. 6). Omdat patriargie ’n sosiale konstruk is, kan dit volgens feministe te bowe gekom word slegs deur dit in al sy manifestasies te ontmasker en krities te ontleed (Pateman 1988:207; Tickner 2001; Bennett 2006:9, 60; Gardiner 2007; Napikosi 2013).

Soos feministiese studies wil ook manlikheidstudies die rol van manlikheid in geslagsongelykheid krities ontleed deur manlikheid, manlike identiteit en geslagsrolle te dekonstrueer (Beasley 2010:177, 183, 184).

’n Ander begrip wat met patriargie geassosieer word en dikwels in feministiese en profeministiese geskrifte opduik, is maskulisme of maskulinisme.7 Buchan is ook al van maskulinisme beskuldig (Nader 2009:555–9). Dit is ’n problematiese begrip, omdat dit soms met konserwatiewe beskouings (Blais en Dupuis-Déri 2012) en ander kere weer met liberale of selfs progressiewe beskouings van manlikheid verbind word. In woordeboeke word dit enersyds omskryf as antifeminisme, die bepleiting van manlike meerderwaardigheid en oorheersing of machismo – die praktyk om macho of hipermanlik te wees (Merriam-Webster Dictionary 2011; Oxford English Dictionary 2010), maar andersyds ook as die bepleiting van die regte van mans of die navolging of bevordering van opinies en waardes wat as tipies van mans beskou kan word (Oxford English Dictionary 2010). Maskulinisme is al geassosieer met die manneregtebeweging, ’n sosiale beweging wat handel met gelykheid en geregtigheid vir mans, vaders en seuns, en met die mannebevrydingsbeweging. Farrell en Kammer (aangehaal in Young 1994) definieer maskulinisme as die oortuiging dat gelykheid tussen die geslagte die erkenning en regstelling vereis van vooroordele en diskriminasie teen sowel mans as vroue. Die enigste minder konserwatiewe deel van die mannebeweging waarmee Buchan raakpunte het, is die voorstanders van mannebevryding (“men's liberation”). Hul veronderstelling is dat tradisionele manlike geslagsrolle nie net vir vroue nie, maar ook vir mans self, beperkend en skadelik is, omdat dit nie koesterende verhoudings, veral tussen pa en seun, bevorder nie. Daarom redeneer hulle dat in die samelewing nie net vroue nie, maar ook mans (deur hul verslawing aan patriargie) onderdruk word en van dié onderdrukking bevry moet word (Beasley 2010:177, 183, 184).

Die meeste navorsers op die terrein van manlikheidstudies onderskryf, soos die feministe, die sosialekonstruk-teorie.8 Hoewel hulle nie noodwendig die biologiese verskille tussen die liggame van mans en vroue probeer ontken nie, beskou hulle die sosiale konstruksie van geslagsrolle, waardeur binne kulture sekere eienskappe aan mans en vroue gekoppel word, as belangriker in die ontwikkeling van geslagsongelykheid in samelewings. Hulle redeneer dat navorsingsresultate daarop dui dat maatskaplike invloede die primêre oorsprong van geslagsdifferensiasie is. Reeds wanneer kinders as manlik of vroulik geïdentifiseer word, word hulle verplig om voorafbepaalde rolle in te neem in die oorheersend patriargale stelsel (Encyclopedia69.com 2009).9

Lynreg teenoor die sosialekonstruk-teorie staan die opvatting (wat hoofsaaklik in konserwatiewe kringe gesteun word) dat gedifferensieerde geslagsrolle biologies gedetermineerd en dus natuurlik is. Biologiese determinisme is gebaseer op biologisme, wat menslike gedrag in terme van fisiologiese prosesse verklaar, en skryf die oorsprong van verskille tussen mans en vroue toe aan fisiologiese verskille tussen die twee geslagte. Biologiese determinisme of essensialisme is die opvatting dat ’n persoon se gender inherent en biologies bepaal is deur sy of haar genetiese samestelling. Dit kom neer op 'n fundamentalistiese beskouing dat mans en vroue sekere onveranderlike gedrags- en karaktereienskappe het wat inherent verskillend is (Connell 1995:46–8; Kahn en Fingerhut 2011).

Sosialekonstruksioniste maak kapsie teen die aanvaarding van biologiese determinisme, omdat dit patriargie ondersteun deur geslagsverskille as “natuurlik” te beskou. Die geloof in inherente geslagsverskille lei tot ongelykheid en ook daartoe dat mans as die oorheersende groep hul mag handhaaf deur middel van veronderstelde verskille. In die sosialekonstruk-teorie speel gendervorming en -verteenwoordiging, en nie biologiese verskille nie, die sleutelrol in die konstruksie van geslagsverskille (Encyclopedia69.com 2009).

Buchan posisioneer hom ondubbelsinnig aan die kant van konserwatiefgesindes en lynreg in opposisie met die liberale of progressiewe benadering van die feministe en profeministe met hul sosialekonstruk-benadering. Later in die artikel word aangedui hoe sy Mighty Men-beweging beïnvloed is deur konserwatiewe beskouings oor manlikheid van groepe wat die aanspraak betwis dat mans in ’n bevoorregte posisie in die samelewing verkeer, en hulle daarvoor beywer om die bedreigings teen die bestaande status van mans in die samelewing teen te werk en die “regte” van mans te verdedig en te handhaaf.

 

3. Buchan en die “krisis van (wit) manlikheid” in Suid-Afrika

Sedert die 1980's word 'n lewendige diskoers in die media en onder akademici gevoer oor die vraag of daar ’n “krisis van manlikheid” in die hedendaagse samelewing bestaan en, indien wel, wat dit presies behels (Payne 1985; Horrocks 1994; Clare 2000:3; Robinson 2000; Beynon 2002:75–97; Forth 2008:3–5). In ’n sosiologiehandboek word die “krisis van manlikheid” gedefinieer as die oortuiging, wat in sommige kringe gehandhaaf word, dat tradisionele vorme van manlikheid ondermyn word deur 'n kombinasie van eietydse invloede en ’n kritieke fase veroorsaak waarin mans onseker voel oor hulself en hul rol in die samelewing (Giddens 2012). Twyfel het by mans ingetree oor hul status en rol in die samelewing en oor wat manlikheid presies behels (Payne 2008:9), weens faktore soos die opkoms van feminisme, wat geslagsgelykheid bevorder deur manlike oorheersing uit te daag en die meganismes wat dit in stand hou te bevraagteken, en veranderende geslagsrolle, veral die toetrede van vroue tot beroepe in die arbeidsmark wat tradisioneel deur mans beoefen is.

In Suid-Afrika, spesifiek ook onder blanke mans, kom die persepsie van ’n “krisis van manlikheid” algemeen voor, veral ná die politieke oorgang van 1994 toe blanke mans hul politieke oorheersing prysgegee het. Tydens die apartheidsbedeling, tussen 1948 en 1994, was die Christelik-Nasionale opvatting van manlikheid, onderskryf deur die regerende Afrikaner-elite, waarna ek in vroeëre navorsing (Du Pisani 2001) verwys het as ’n Puriteinse manlikheidsideaal, die hegemoniese vorm van manlikheid in die Suid-Afrikaanse staat. Middeljarige wit Afrikaanssprekende mans wat lidmate van een van die drie Afrikaanse susterkerke was, wat ’n vrou, kinders en ’n vaste betrekking gehad het en by voorkeur met Afrikaanse ondernemings sake gedoen het, was in beheer van die samelewing. Toe die Afrikaanse regerende klas in 1994 van sy politieke mag afstand gedoen het, het nasionale Afrikaner-manlikheid ook die status van hegemoniese manlikheid kwytgeraak. Groot aanpassings vir wit mans was voor die deur. Waar Afrikanermans voorheen die mees bevoorregte groep in die samelewing was, is die rolle in die “nuwe” Suid-Afrika omgekeer. Deur wetgewing is swartes, vroue en gestremdes ten koste van wit mans ingesluit by die aangewese groepe wat by regstellende aksie baat moes vind. Wit Afrikaanse mans in hoë staatsdiensposte is gemarginaliseer of uit diens gestel. Deur regstellende aksie is jong wit mans oënskynlik onregmatig benadeel wat hul toegang tot studie- en werkgeleenthede betref. Swart bemagtiging is bevorder.

Hierdie radikale sosiopolitieke verandering was weliswaar nie die enkele oorsaak van die “krisis van manlikheid” ná 1994 in Suid-Afrika nie. Die groter internasionale konteks van toenemende druk op patriargale magsverhoudings moet in gedagte gehou word, omdat dit ook, al voor 1994, die diskoers van manlikheid in Suid-Afrika beïnvloed het.

Ontnugtering met die nuwe bedeling het by ’n deel van die Afrikanersamelewing ingetree. Antiregeringskritiek is in konserwatiefgesinde Afrikaanse kringe en in ’n invloedryke deel van die Afrikaanse media uitgespreek. ’n Gevoel van die onbillike verontregting van die blanke Afrikaner, en veral mans, is daardeur gestimuleer. Daar is nog nie uitgebreide empiriese navorsing oor die stand van manlikheid in die Afrikanersamelewing sedert 1994 gepubliseer waaruit wetenskaplik verantwoordbare afleidings gemaak kan word nie. Daarom het ons slegs ’n gebrekkige historiese perspektief op die waarneembare persepsie van verontregting.

Wat hier ter sake is, is dat Angus Buchan op ’n meesterlike wyse daarin geslaag het om die persepsie van ’n “krisis van manlikheid” – wat in Suid-Afrika nog verder aangevuur is deur ontnugtering met die ontmagtiging van blanke mans in die samelewing – te benut om sy eie Mighty Men-bediening uit te bou. Omdat ontnugtering met die hede gewoonlik tot ’n romantisering van die verlede lei, is dit nie verbasend nie dat ook ’n terughunkering na die herstel van tradisionele “Bybelse waardes”, daardie waardes wat Buchan in sy bediening vooropstel, onder ’n aansienlike deel van die wit manlike bevolking inslag vind. Buchan het dit reggekry om sy boodskap te laat aanklank vind by die diepste behoeftes van ’n betreklik groot deel van die konserwatiefgesinde blanke manlike bevolking. Dit is duidelik uit die massiewe skares wat in toenemende getalle na die Mighty Men-byeenkomste gestroom het. Malan (2010) het dié verskynsel vertolk as ’n behoefte aan sterk godsdienstige en politieke leierskap onder die “Boere”, en Van Aarde (2009:3) sien dit as ’n versugting na ’n “populistiese redder” met ’n simplisties fundamentalistiese boodskap.

Buchan het op die toneel verskyn op ’n tydstip toe internasionale tendense in Christelike kerke, sowel as die transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing, die blanke hoofstroomkerke in Suid-Afrika onder druk geplaas het. Verdelings tussen konserwatiewe en liberale standpunte binne die Afrikaanse susterkerke, wat reeds in die 1980’s opgeduik het, is sedert die 1990’s op die spits gedryf. In die briewerubrieke van die Afrikaanse koerante het kritiek op die kerke begin neerreën en moes kerkleiers bontstaan om die kerke teen allerlei beskuldigings te verdedig. Meer liberale Afrikaanse teoloë het vrymoediger geword om alternatiewe menings te laat hoor oor die gesag van die Bybel, oor morele kwessies soos homoseksualiteit, en selfs oor kernelemente van die evangelie, soos die maagdelike geboorte en die opstanding van Jesus.10 Dit het ’n vervreemdende effek op konserwatiefgesindes gehad. Statistiek wys dat daar ’n vloei van Afrikaanse gesinne weg van die gereformeerde kerke na die evangeliesgesinde charismatiese kerke plaasgevind het (Kerksake-verslaggewer 1994; Lombaard 2005; Gaum 2012; Oosthuizen 2013; Jackson 2013; Niemandt 2013). Christina Landman (aangehaal in Gaum 2012) skryf dit toe aan ’n neiging tot fundamentalisme en irrasionalisme in onseker tye: “Baie gelowiges in Suid-Afrika het die laaste tien jaar ‘revivalisties’ gereageer op die angs wat die tye meebring. Hulle gaan na saamtrekke waar hulle dans, lofprys en ’n ander wêreld skep waarin hulle kan oorleef.” Dreyer (2009:1) verwys na die “toenemende ontnugtering met die kerk as instituut”. Te midde van die stygende onvergenoegdheid onder kerklidmate het Buchan daarin geslaag om sy gehore uit die hoofstroom gereformeerde kerke, uit die charismatiese kerke en selfs ook van buite die kerke te trek.

Buchan het homself as ’n charismatiese leier bewys. Conger (1989:26, 30) onderskei die verskillende stappe in die ontplooiing van charismatiese leierskap. Die eerste stap is om in die samelewing “gebreke” wat reggestel moet word, te identifiseer. Buchan wei dikwels uit oor die verval van moraliteit en integriteit in die samelewing. Hy verklaar: “God het ons geroep om magtige manne vir Jesus te wees … in ’n era waarin alles uitmekaarval, waar daar geen sekerhede is nie” (Buchan 2012:11, 18). Hy het vir hom ’n geleentheid geskep deur gebreke in die samelewing uit te wys. In sy oë is die grootste gebrek die feit dat mans oor die wêreld heen nie meer weet hoe om leiers in hul eie huishouding te wees nie. Hy berig dat hy tydens sy prediking in Eerstewêreldlande gesien het “hoe jong manne die stadium in hul lewe bereik het waar hulle nie weet wat hulle as manne veronderstel is om te doen nie. Die samelewing het die man so afgebreek dat hy nie meer seker is hoe ver hy mag gaan en wat hy moet doen om sy huisgesin te lei nie” (Buchan 2012:17–18). Vir Buchan was die eerste stap in die van stapel stuur van sy charismatiese bediening dus die identifisering van dit wat hy as ’n kernprobleem van ’n disintegrerende samelewing uitgewys het, naamlik mans se versuim of onvermoë om hul Godgegewe leiersposisie in te neem.

 

4. Evangeliese Christenbewegings en konserwatiewe manlikheid

Buchan opereer binne ’n gevestigde tradisie van konserwatiewe Christelike herlewingsevangelisme.11 Binne die spektrum van die evangeliese beweging bevind Buchan hom regs van die sentrum. Soos wat uit die ontleding van sy beskouings later in hierdie artikel sal blyk, is hy ’n konserwatiewe herlewingsevangelis wat uitgesproke antiliberale standpunte inneem. Hy distansieer hom van rasionalisme en intellektualisme en leun oor na emosionalisme. Hy neig ook na fundamentalisme in die opsig dat hy godsdienstige waardes onderskryf wat op letterlike lesings van die Bybel gegrond is.

Die Engelse ekwivalent van die term evangeliese Christen, met verwysing na iemand wat in die evangelie (goeie boodskap) van Jesus Christus glo, al in die 16de eeu deur onder meer William Tyndale en Thomas More gebruik (Johnson 2009). Vanaf die 17de en 18de eeue het evangelisme ’n georganiseerde beweging binne die Protestantisme geword onder die Metodiste in Engeland en ’n deel van die Lutherane in Duitsland. Maar dit was in die VSA, ná ’n reeks groot herlewings (“Great Awakenings”) in die 18de en 19de eeue, dat hierdie beweging die sterkste inslag gevind het (Noll 2004; Kidd 2007). Sedert die 20ste eeu het dit ook in die ontwikkelende wêreld begin posvat.

Teen die agtergrond van die verdelings tussen liberale en fundamentalistiese vertolkings van die Skrif in die Christendom as geheel het daar in die 20ste eeu meningsverskille binne die evangeliese beweging opgeduik. Graadverskille van fundamentalisme is in die beweging te bespeur. Dit is dus nie vreemd dat die evangeliese beweging in die VSA soms as ’n derde groepering in die Amerikaanse Protestantisme gesien word nie – naamlik tussen die teologiese liberalisme in die hoofstroomkerke en die separatistiese neigings van die fundamentalisme (Mead 2006). Crouch (2004) verwys na tendense in die nuwe millennium as “postmoderne evangelisme”. Binne die evangeliese beweging word subgroeperings van tradisionalisme, sentrisme en modernisme onderskei (Luo 2006).

Sekere onderskeidende kenmerke van die evangeliese beweging as geheel kan duidelik geïdentifiseer word. Evangelisme beklemtoon die vroomheid van die individu, wat sterk verbind word aan bekering, die sentraliteit van die kruisboodskap en die gesag van die Bybel. Bebbington (1989:3) identifiseer bekering (“conversion”, die idee van “to be born again”), biblisisme, kruisgesentreerdheid en aktivisme as die kernelemente van hedendaagse evangelisme.

Sedert die 1980's het die mitopoëtiese beweging (sien volgende paragraaf), die Promise Keepers en John Eldredge in die VSA sterk invloed op konserwatiewe manlikheidsbeskouings in evangeliese kringe uitgeoefen. Buchan beroep hom in sy bediening uitsluitlik op die Bybel as sy “handboek” en verwys selde na ander eksterne invloede op sy denke. Daarom kan hier geen historiese argument vir die invloed van die drie bewegings op Buchan aangebied word nie. Die analogie tussen sy standpunte en hul standpunte is egter duidelik, en in sekere gevalle is daar woordelikse ooreenkomste tussen wat hulle gesê het en wat hy gesê het. Gevolglik kan die invloed van hierdie drie bewegings maklik in sekere van Buchan se standpunte bespeur word.

4.1 Die mitopoëtiese beweging

Die mitopoëtiese12 standpunt is dat sekere eienskappe, rolle, verantwoordelikhede en voorregte kenmerkend van mans en inherent aan manlikheid is. Robert Bly het in die 1980's en 1990's ’n beduidende invloed op konserwatiewe beskouings van manlikheid in die VSA uitgeoefen en word as 'n grondlegger van die mitopoëtiese beweging beskou. In sy 1990-trefferboek Iron John: a book about men het Bly beklemtoon dat jong mans deur ouer mans geleer moet word wat dit beteken om ’n man te wees en aangetoon hoe belangrik mites, legendes en oorgangsrites in die oordrag van idees oor manlikheid van een geslag na die ander is.13 Bly het besondere betekenis geheg aan manlike argetipes, wat aan Jung se analitiese sielkunde ontleen is, insluitende die Koning, Kryger, Towenaar en Minnaar. Hy het veral die argetipe van die Wilde Man, wat aanpasbaar is by die moderne beskawing, maar hom nie daardeur laat bind nie, geïdealiseer en wou sien dat die Wilde Man binne elke man vrygelaat word (Bly 1990a:8; Messner 2000:17–23). Hierdie idee sou later deur John Eldredge verder gevoer word.

Bly en ander mitopoëte, soos Robert A. Johnson en Joseph Campbell, argumenteer dat mans se emosionele bande met die geestelike belewing van wat dit werklik beteken om 'n man te wees in die hedendaagse samelewing verbreek is deur oordrewe klem op rasionalisme, mededinging in die werkplek wat verhoed dat mans kamerade is wat hul manlikheid saam vier, die feit dat mans die meeste van hul tyd tuis saam met vroue deurbring en nie met mans nie, die toenemende afwesigheid van vaders van die huis en die verswelging van die manlike stem deur die voorkeur aan die vroulike stem. Hulle lewer kritiek op die “sagte” mans wat die produk is van feminisme of die grootmaak deur 'n enkelouer-ma en wat deur die media bevorder word. Die mitopoëte wys daarop dat dit vir vandag se mans al hoe moeiliker word om verantwoordelike leiers, versorgers en vaders te wees (Bly 1990a). Omdat mans van hul ware manlikheid vervreem is, het hulle óf verwyfd geraak óf ontaard in destruktiewe hipermanlike chauviniste (Messner 2000:17–23). Bly (1990b) het ’n positiewe alternatief van manlikheid voorgehou en die begrip Zeus-energie gebruik as uitdrukking van die idee dat manlike gesag tot voordeel van die gemeenskap uitgeoefen moet word.

Bly het verwys na die “vaderwond” wat by jong mans veroorsaak word deur die fisieke of emosionele skeiding tussen seuns en hul vaders. Evangeliese geestelikes het ’n godsdienstige konnotasie aan Bly se “vaderwond”-idee gegee met die redenasie dat dié wond alleenlik deur ’n intieme verhouding met God as ware en volmaakte Vader genees kan word (vgl. o.m. Dalbey 1998; Longenecker 2013). In sy bediening sou John Eldredge hierop voortbou.

Deur psigologiese selfhelpsessies by kampe wat hoofsaaklik deur wit, middeljarige, heteroseksuele mans uit die professionele klas bygewoon is, wou die mitopoëte mans bevry van die beperkings wat hulle verhinder om in aanraking te bly met hulle ware manlike natuur en help om hul “diep” manlikheid te herontdek. By die byeenkomste is rituele uitgevoer wat dié van stamme nageboots het wat seuns inisieer in ’n essensialistiese “natuurlike manlikheid”. Mans is aangemoedig om hul emosies te wys en ondersteuningsgroepe is gevorm (Barton 2000).

Feministe en profeministe maak die mitopoëtiese beweging om verstaanbare redes as seksisties, essensialisties en anti-intellektueel af en stel hul eksentrieke rituele as bespotlik voor (Messner 2000:17–24; Ferber 2000; Gavanas 2004:12–3; Gremillion 2011).

4.2 Promise Keepers

In sekere opsigte is Buchan se Mighty Men-beweging, bewustelik of onbewustelik, op die Promise Keepers gemodelleer. Die Promise Keepers is in 1990 deur Bill McCartney, 'n voetbal-afrigter by die Universiteit van Colorado (hy verwys na homself as Coach) gestig met die doel om ’n herlewing onder Christelike mans te bewerkstellig (Promise Keepers 2008). Soos die Mighty Men-bediening is dit ’n niewinsgewende Christelike mannebediening wat nie aan ’n spesifieke kerkdenominasie gekoppel is nie (Promise Keepers 2013b).

Vanaf 1991 het die Promise Keepers massabyeenkomste vir mans by sportstadions in Amerikaanse stede gehou, waarmee die Mighty Men-saamtrekke merkwaardige ooreenkomste vertoon. Dié emosioneel suiwerende geleenthede is deur ’n joernalis beskryf as “a cross between an old-fashioned revival meeting and a gigantic therapy session” (Wente 1997). Bywoningsgetalle het fenomenaal gegroei tot ’n hoogtepunt van byna ’n miljoen mense by die “Stand in the gap”-saamtrek in Washington, DC in Oktober 1997. Die Promise Keepers het nasionale radio- en TV-dekking in die VSA gekry en op groot skaal hulpbronne in die vorm van gedrukte en oudiovisuele materiaal vir mannebediening ontwikkel, waardeur miljoene mans bereik is. Promise Keeper-saamtrekke en -organisasies het tot buite die VSA uitgebrei. Vanaf 1998 het die Promise Keepers probleme begin ondervind en die bywoning van massabyeenkomste het gedaal, maar die beweging bly aktief (Promise Keepers 2008).

Integriteit en dissipline word hoog geag in die Promise Keepers (Promise Keepers 2008; Robinson 1998), maar hul kernwaarde kan getipeer word as verantwoordelikheid. Vir die Promise Keepers is die kern van hul saak ’n persoonlike verbintenis tot Christelike verantwoordelikheid. ’n Ondersteuner van die Promise Keepers verbind hom tot sewe beloftes, naamlik geloof, inskakeling by ondersteunersgroepe, reinheid, gesinsbou, kerklike betrokkenheid, Christelike eenheid en evangelisasie (Promise Keepers s.j.). Om ’n Promise Keeper te help om sy beloftes na te kom, kan hy saam met ’n paar ander mans inskakel by ’n verantwoordingsgroep wat weekliks bymekaarkom. Duisende sulke groepe het tot stand gekom. Persone word gereken as Promise Keepers “to the degree that they individually live out their testimonies among those who know them” (Promise Keepers 2008).

“Mans wat die wêreld transformeer” is die visie van die Promise Keepers. Die verwesenliking van dié visie is veronderstel om in die huisgesin te begin en van daar na die kerk, gemeenskap en verder uit te kring (Promise Keepers 2013a). In die vierde belofte verbind ’n Promise Keeper hom daartoe om ’n sterk huwelik en gesin op te bou deur liefde, beskerming en Bybelse waardes. ’n Sterk boodskap by byeenkomste van die Promise Keepers is dat mans hul regmatige plek as hoof van die huisgesin moet herwin (Promise Keepers s.j.; Robinson 1998), dieselfde visie wat deur Buchan die kern van die Mighty Men gemaak is.

Omdat die Promise Keepers ’n fenomenale impak op die Amerikaanse godsdienstoneel gemaak het, het omvangryke literatuur oor dié beweging die lig gesien (vgl. o.m. Abraham 1997; Arms 1997; Brickner 1999; Hardisty 1999; Claussen 1999 en 2000; Novosad 2000; Williams 2001; Bartkowski 2004). Weens hul ondubbelsinnige en onversetlike konserwatiewe standpunt was die Promise Keepers uit die staanspoor omstrede. Steun vir die Promise Keepers het hoofsaaklik van konserwatiefgesindes gekom, wat die beweging aangeprys het omdat hulle mans aan hul Godgegewe verantwoordelikhede herinner het. Daar is geredeneer dat hulle ’n oorwegend goeie invloed op huishoudings en die samelewing uitoefen (Batz 1997; Robinson 1998).

Uit feministiese en liberale kringe is ernstige kritiek teen die Promise Keepers se idees oor mans se rol as leiers in die huisgesin, kerk en samelewing uitgespreek. Die beweging is beskou as ’n bedreiging vir vroueregte, wat ongelykheid in huwelike aanmoedig en ’n leerstelling van manlike meerderwaardigheid aanhang, wat as God se wil verkondig word. Feministe vertolk die vierde belofte van die Promise Keepers as ’n verbintenis van mans daartoe om weer hul leierskaprol in die gesin op te eis, teen vroue se weerstand in; om 'n outoritêre gesinstruktuur te herstel, en om die deel van gesag tussen mans en vroue in die gesin te opponeer (National Organization of Women 1997; Robinson 1998). Die Promise Keepers word daarvan beskuldig dat hulle ’n politieke instrument van die “Religious Right” is (Conason, Ross en Cokorinos 1996; Ross en Cokorinos 1997; Everton 2001).

Amy Schindler (1998) tipeer die Promise Keepers se politieke agenda so: “Any masculinity project aimed at restoring or reclaiming a ‘traditional’ male role for privileged white, heterosexual males has a political impact within the tapestry of class, race, and gender power.’

4.3 John Eldredge

Toe die glans van die Promise Keeper-beweging rondom die millenniumwending begin verdof, het 'n nuwe charismatiese evangelistiese leier in die VSA op die horison verrys. Hy was John Eldredge. Sy boek Wild at heart, wat in 2001 verskyn het, het spoedig trefferstatus bereik.

Eldredge se benadering tot man-word en man-wees vorm ’n teenstelling met dié van die Promise Keepers. Hy kritiseer die Promise Keepers se “nice guy”-benadering, wat na sy mening nie die ware aard van ’n man in ag neem nie (Eldredge 2010:7). Daarteenoor verklaar hy: "There is something wild in the heart of every man" (Eldredge 2010:14). Sy simplistiese, romantiese, antirasionalistiese siening word so saamgevat: “In the heart of every man is a desperate desire for a battle to fight, an adventure to live, and a beauty to rescue” (Eldredge 2010:9–10).

Daar is dus volgens Eldredge iets wilds in elke man, iets wat hunker na avontuur en uitdagings (Eldredge 2006:94). Hierdie “wildheid”, sê hy, kom van God af, wat self “wild, dangerous, unfettered and free” is (Eldredge 2010:13).

Skerp kritiek op sy opvatting van God se “wildheid” is in teologiese kringe uitgespreek (Etheridge 2004). Eldredge (2010:5) beklemtoon egter dat avontuur, met die inherente gevare en wildheid daaraan verbonde, ’n diep spirituele hunkering binne ’n man bevredig: “The tests and challenges, the joys and adventures are all designed to awaken a man’s soul, draw him into contact with the masculine in himself, in other men, in the world, and in God as Father” (Eldredge 2006:287).

Eldredge (2010:9) onderskryf die essensialistiese opvatting van geslagsrolle en neig in die rigting van biologiese determinisme, naamlik dat mans nou maar eenmaal testosteroon-gedrewe en dus van nature avontuurlik, mededingend en aggressief is, en dat dit nie in die uitlewing van hul Christenskap en manlikheid kunsmatig onderdruk behoort te word nie.

Eldredge verklaar dat die reis na ware manlikheid die sentrale missie van ’n man se hele lewe is (Eldredge 2006:301) en verskaf dan ’n “kaart” vir die pad na manlikheid. Volgens hom is daar duidelik onderskeibare fases op hierdie pad, en hy koppel dit aan ’n reeks manlike argetipes: Seun, Cowboy, Kryger, Minnaar, Koning, Wyse Man (Eldredge 2006:11). Hy bou voort op Robert Bly se idees oor die rol van argetipes in die oordrag van manlikheid en neem ook Bly se opvattings oor die oordrag van manlikheid van een geslag na die volgende onveranderd oor. Hy beklemtoon dat ’n seun net deur sy vader en ander ouer mans, nie deur vroue nie, ingelyf kan word in wat dit beteken om ’n man te wees. Volgens hom leer seuns wat manlikheid is hoofsaaklik deur ondervinding, met ander woorde deur self dinge te doen (Eldredge 2010:64, 68, 239; Eldredge 2006: 83, 107).

Eldredge wei ook uit oor ’n man se romantiese verowering van ’n vrou. Wanneer ’n jong man begin grootword, skryf hy, kyk hy met ander oë na meisies. Oor mans se natuurlike aangetrokkenheid tot die vroulike geslag skryf Eldredge: “A man wants to be a hero to the beauty" (Eldredge 2010:15). Om ’n vrou lief te hê, is ’n avontuur vir ’n man. Vroue speel saam in dié liefdespel, want “every woman yearns to be fought for … She wants to be wanted ... And her childhood dreams of a knight in shining armor coming to rescue her are not girlish fantasies, they are the core of the feminine heart and the life she knows she was made for” (Eldredge 2010:16).

Vroue, sê hy, wil die avontuur van ’n romantiese verhouding met ’n man deel, want “every woman wants to have a beauty to unveil” (Eldredge 2010:17). Oor hierdie aspek skryf Buchan in feitlik identiese terme.

Eldredge verbind manlike hoofskap aan die Koning-argetipe. Na sy mening word ’n man gebore om ’n koning te wees en te heers. Dit is in sy manlike aard om mag te wil uitoefen, invloed te hê en eiendom te besit. Wanneer ’n man egter nie geskik is vir sy rol as koning nie, kan sy heerskappy katastrofiese gevolge hê. Daarom moet die vermoë om as konings te heers, by mans herstel word (Eldredge 2006:219–20).

Volgens Eldredge is die beste terapie vir die genesing van ’n man se “vaderwond” (Eldredge 2010:143, 216) om ’n voortgaande intieme verhouding met God te hê. Deur sy Ransomed Heart-bediening, gebaseer in Colorado Springs, reël hy afsonderingsgeleenthede vir groepe mans, asook Wild at Heart-opleidingskursusse en

-ondersteuningsgroepe (LeBlanc 2004).

Baie lesers het Wild at Heart aangeprys as ’n voortreflike boek wat hulle nuwe insig in manlikheid gegee het (vgl. Camery-Hoggatt en Munn 2005:24). Omdat die boek egter aansprake bevat wat nie Bybels gefundeerd is nie en op vooroordeel en verkeerde aannames berus, het dit ook ernstige kritiek uit kerklike kringe uitgelok (Borger 2002). Eldredge se outydse genderstereotipes en sy “clichéd Hollywood portrayals of masculinity” is afgewys (Camery-Hoggatt en Munn 2005:24).

In hul vergelyking tussen die Promise Keepers en Eldredge kom Gallagher en Wood (2005:35) tot die volgende gevolgtrekking:

Overall, Eldredge's “slightly dangerous” masculinity represents a re-articulation of the nineteenth century myth of the “self-made man” and is both a reaction against the rationalized nature of paid employment, as well as the responsible and “feminized” expectations of the Promise Keepers' ideal of servant leadership and involved fatherhood.

 

5. Buchan se visie: herstel van manlike hoofskap

Die tweede stap in die ontplooiing van charismatiese leierskap is volgens Conger (1989:29, 31) om, nadat gebreke in die samelewing geïdentifiseer is, ’n visie te ontwikkel van hoe om daardie gebreke reg te stel.

Angus Buchan se visie wentel in hierdie verband rondom manlike hoofskap, wat hy as ’n Bybelse opdrag sien. Die sentrale boodskap van sy Mighty Men Conferences (MMC’s) was dat mans weer hul regmatige plek as hoof van die huishouding in hul gesinne moet inneem, waar hulle deur hul voorbeeld die leiding moet neem (Phillips 2008:38; Swart 2008:17; Van Rooyen 2009:6).

In die Bybel word ’n aantal kere deur Paulus en Petrus na manlike hoofskap of onderwerping van ’n vrou aan haar man verwys.14 Die mees aangehaalde teksvers in hierdie verband is Efesiërs 5:23: “Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is” (Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983:255).

Manlike hoofskap is ’n uiters omstrede konsep, waaroor daar uitgebreide literatuur bestaan. In Blankenhorn, Browning en Van Leeuwen (2004) word die argumente vir en teen manlike hoofskap teen mekaar opgeweeg. Manlike hoofskap, veral wanneer dit vertolk word as die leierskap van mans in die samelewing, word ernstig bevraagteken deur feministe en voorstanders van geslagsgelykheid. Feministiese teoloë verkies 'n alternatiewe vertolking van Bybelverse wat na manlike hoofskap verwys (Miller-McLemore 2004).

In evangeliese kringe is daar wye steun vir manlike hoofskap, gegrond op die letterlike vertolking van Bybelverse daaroor. Dit word beskou as “God’s original design” en so gedefinieer: “In the home, Biblical headship is the husband’s divine calling to take primary responsibility for Christlike leadership, protection, and provision“ (Piper en Grudem 1991b:56).

Gewoonlik word dan beklemtoon dat manlike hoofskap nie manlike oorheersing impliseer nie (Ortlund 1991:86). Bilezikian (2012) stel dit soos volg:

I believe in male headship unabashedly and unreservedly. I cannot evade the issue or rationalize my way around it. The headship of husbands is clearly and unassailably taught in the New Testament … It is an absolute mandate that requires the same level of adherence as any of its commandments.

Dié konsep word hewig gedebatteer en verskillende vertolkings word daaraan geheg, sodat daar sprake is van ’n impasse tussen voorstanders van die verskillende standpunte hieroor in evangeliese geledere (Trainor 2008).

Daar is twee uitgangspunte: die egalitariese standpunt en die komplementêre standpunt.

Die egalitariese standpunt onderskryf gelykheid tussen mans en vroue in die huisgesin en in die kerk, sodat albei geslagte leierskapsposisies kan inneem. Scholer (2005) druk dit so uit:

I am fully convinced that the Bible does not institute, undergird, or teach male headship and female submission, in either traditionalist or complementarian forms of evangelical thought, which exclude women from equal participation in authority with men within the body of Christ, whether in ministry or marriage or any other dimension of life. Rather, the Bible affirms, supports, and teaches by precept and example a mutuality or equality in Christ for women and men, both in ministry and in marriage.

Evangeliese feministe ondersteun hierdie standpunt en redeneer dat die wesenlike gelykheid tussen mans en vroue voor God bevestig moet word. Daarom moet manlike hoofskap nie gelykgestel word aan manlike leierskap in die kerk, by die huis en in ander sfere van die samelewing nie, en nie gebruik word om voortgesette manlike oorheersing in die wêreld te regverdig nie. Die klem moet op Christus se voorbeeld in hierdie opsig val, 'n voorbeeld van diensbaarheid en opoffering, eerder as oorheersing (vgl. o.m. Collins 2001; Mickelsen 2005; Rosser 2010; Quiring 2010; Mowczko 2011).

Die komplementêre standpunt is dat hoewel mans en vroue voor God gelyk is, hulle van mekaar verskil en komplementêre rolle in die gesin en kerk vervul. Manlike hoofskap in die gesin en die kerk word ondersteun (Feeney 2008). Pleidooie is al gelewer vir 'n niehiërargiese komplementêre beskouing, waar die idee van onderwerping (“submission”) nie slegs tot vroue beperk word nie, maar ook mans insluit in ’n konsep van gemeenskaplike onderwerping (Johnson 2003).

Angus Buchan spreek hom baie sterk ten gunste van manlike hoofskap uit. Hy glo dat herlewing en versoening in Suid-Afrika by die huisgesin moet begin (Swart 2008:17; Van Rooyen 2009:6). Volgens hom het God dit bedoel dat ’n man die hoof van sy huishouding moet wees en as profeet, priester en koning by die huis moet optree (Buchan 2012:180, 187). Hy moet deur sy voorbeeld die leiding neem (Buchan 2012:144). In sy rol as hoof van die huishouding moet ’n man egter nie arrogant wees nie, maar nederig (Buchan 2012:147). In sy boek Die Mighty Men-verhaal verduidelik Buchan in besonderhede hoe hy die ideaal van manlikheid sien en bespreek hy die verskillende aspekte van manlike hoofskap. Buchan se standpunte stem ooreen met die komplementêre beskouing, wat die verskille tussen die rolle van mans en vroue in die huis, kerk en samelewing beklemtoon.

Buchan se standpunt is dat die man moet lei in die neem van besluite in die huishouding. Hieroor skryf hy:

Vroue het 'n sterk man in hul huis nodig, een wat sagmoedig is met sy vrou en kinders. Wanneer dit by besluitneming kom, moet hy die een wees wat die finale besluit neem … ’n Man wat nie bereid is om beheer te neem en besluite te neem nie, is 'n lafaard. Sy vrou en kinders respekteer hom nie en God ondersteun hom nie. (Buchan 2012:203)

Volgens Buchan se essensialistiese beskouing het ’n vrou dit nodig om deur haar man gelei te word: “’n Vrou het die behoefte daaraan om gerig te word, soos kinders en veral tieners ook. Hulle vind daarin geborgenheid, want hulle weet waarheen hulle gaan, ken die spelplan en weet wat die toekoms vir hulle inhou” (Buchan 2012:203).

Die ongelukkigste vroue is, volgens Buchan, dié wie se mans daarvan wegskram om die leierskap in die huis op hulle te neem en besluite te neem.

 

6. Rolmodelle en Buchan se “handelsmerk”

Nadat 'n leier gebreke in die samelewing geïdentifiseer en ’n duidelike visie geartikuleer het van hoe daardie gebreke aangepak en opgelos kan word, is die derde stap in die ontplooiing van charismatiese leierskap volgens Conger (1989:32–3) om daardie visie aan sy volgelinge te kommunikeer en vertroue daarin te bou. Daar moet ’n begeerte by die volgelinge gewek word om self ook die doelstellings wat die leier vooropstel, na te streef. Conger verduidelik dat ’n charismatiese leier deur drie elemente daarin slaag om 'n rolmodel vir sy volgelinge te word, naamlik deur die neem van persoonlike risiko’s, deur onkonvensionele kundigheid en deur selfopoffering. Dit is presies hierdie elemente wat Buchan ingebou het in die uitbouing van die Mighty Men-beweging.

Die eerste daarvan, persoonlike risiko, maak die kern uit van die boodskap van die trefferrolprent Faith like potatoes, wat Buchan in die vroeë fase van sy bediening onder die aandag van 'n groter gehoor gebring het. Dit vertel die verhaal van hoe Buchan en sy gesin hulle op 'n plaas in KwaZulu-Natal gevestig het, hoe hulle met feitlik niks begin het nie en hard gewerk het om die boerdery te vestig; hoe hy sy hart opnuut vir die Here gegee het en hoe sy Christelike bediening as lekeprediker klein begin en gegroei het. Die sleutel-episode in die film is waar Buchan, skynbaar teen gesonde verstand en wyse raad in, besluit dat die Here hom lei om die risiko te neem om aartappels in die middel van 'n droogte te plant. Uiteindelik slaag die waagstuk, want hy samel ’n rekordoes in. Die boodskap is dat vir God alles moontlik is. Geloof is ’n sprong in die duister en wanneer 'n mens jouself sonder voorbehoud aan God oorgee, gebeur wonderwerke. Buchan daag sy volgelinge uit om dieselfde risiko as hy te neem deur onvoorwaardelik te glo.

Onkonvensionele kundigheid, die tweede eienskap van charismatiese leierskap, hou in Buchan as herlewingsevangelis se geval verband met sy aanspraak dat hy as God se ambassadeur (Buchan 2012:126) sy opdragte en boodskap direk van God ontvang (Buchan 2012:127). Op feitlik elke foto van Buchan wat preek staan hy met Bybel in die hand. Hy hou dwarsdeur sy byeenkomste die Bybel vas en verwys daarna as sy handboek. 'n Mens sou kon sê dat die Bybel 'n kultiese objek in sy bediening is. Omdat die Bybel deur alle Christelike kerke onderskryf word as die gesaghebbende Woord van God, maak Buchan dus met sy vashou daaraan daarop aanspraak dat hy ’n man van God is, ’n man van die Bybel, ’n profeet wat God se boodskap aan sy gehoor oordra.

Ook die derde vereiste vir 'n charismatiese leier, bereidheid tot selfopoffering, figureer by Buchan. Hy vertel hoe hy sy geliefde boerdery aan sy seuns oorgelaat het toe hy tot voltydse Christelike bediening geroepe gevoel het. Hy beskryf hoe hy hom voor ’n groot saamtrek afsonder in gebed en oopstel vir die leiding van die Heilige Gees (Buchan 2012:126–7).

Buchan onderstreep ook die belangrikheid van identifikasie met rolmodelle (2012:136). Hy beskou Jesus uiteraard as die perfekte rolmodel vir Christene: “Ons dank God vir 'n rolmodel wat ons kan naboots. Sy Naam is Jesus Christus, die Seun van die lewende God” (Buchan 2012:103).

In sy films, dokumentêre DVD’s, boeke en advertensieveldtogte in die media projekteer Buchan homself as ’n rolmodel van die konserwatiewe evangeliese ideaal van manlikheid. Hy maak gebruik van argetipiese manlikheidsbeelde om sy eie “handelsmerk” te skep en nouer identifikasie met sy volgelinge te bevorder. Hierdie handelsmerk sluit veral in die argetipes van die Boer, die Oom en die Gesinsman.

In die promosiemateriaal van die Mighty Men-veldtogte is die oorheersende beeld wat Buchan van homself skep, dié van ’n boer, ’n hardwerkende man van die grond. Hy word dikwels gefotografeer met landelike tonele as agtergrond (kyk die foto’s in Buchan 2012:115, 116, 224, 225; Swart 2008:16, 17). Sy kenmerkende styl is dié van 'n boer met die soort klere wat boere dra. Hy stel hom aan die gehoor bekend as ’n eenvoudige boer en verwys na die Bybel as sy boerderyhandboek.

Buchan het geen formele teologiese opleiding ontvang nie. Die beeld van hom as 'n eenvoudige man van die grond, iemand wat nie ’n spoggerige pak klere en das dra nie, kan geassosieer word met die tipiese anti-intellektualisme van die evangeliese beweging. In ’n onderhoud het Buchan gesê: “Ek is nie eintlik 'n baie slim man nie. Ek was nooit na ’n Bybelskool toe nie, maar ek was in die skool van die lewe, en dit het my baie geleer” (Swart 2008:16).

Buchan maak daarop aanspraak dat al die woordvoerders vir God in die geskiedenis “gewone mense was wat ’n bonatuurlike God dien” (2012:108). Hy verklaar dat mans na die Mighty Men-konferensies kom om “goddelike kameraadskap” te soek, nie “teologiese diskoers” nie (Buchan 2012:108, 110). Hy bring sy boodskap op ’n eenvoudige en ondubbelsinnige wyse, sodat al die aanwesiges kan verstaan (Buchan 2012:107).

Dit is vir Buchan belangrik dat die mans wat sy saamtrekke bywoon, die “gemiddelde man op straat”, hulle met hom en die boodskap wat hy bring, sal vereenselwig (Buchan 2012:106–7). Hierdie identifikasie bewerkstellig hy deur homself as ’n gewone man tussen gewone mense te projekteer. Hy hou gevolglik daarvan om “oom Angus” genoem te word, omdat dit wys dat mense gemaklik en gemoedelik met hom kan identifiseer: “Oom Angus is die naam waaronder ek bekend geword het, en my handelsmerk waarop ek baie trots is” (Buchan 2012:108).

Dreyer (2009:1) bevestig dat Buchan baie suksesvol is om identifikasie met sy gehoor te bewerkstellig:

Buchan is nie ’n opgeleide teoloog of ’n geordende predikant nie, maar ’n boer. Daarom assosieer gewone mense met hom. Hy praat hulle taal op ’n manier wat hulle verstaan. Hy beklemtoon God se mag, outydse moraliteit en gesinswaardes, die leiding van die Heilige Gees en fundamentalistiese Skrifgebruik. Daar is by hom geen twyfel oor basiese geloofswaarhede en geen kritiese vrae oor die Bybel nie.

In ’n soortgelyke trant vertolk Gaum (2012) die sukses van Buchan se “back to basics”-prediking:

By hom is daar nie plek vir teologiese vrae oor ’n “relasionele waarheidsbegrip” of die historiese Jesus nie. Sy evangelie is die “ou, ou tyding”, fundamentalisties en charismaties … vir baie lê die bekoring juis in die eenvoud, direktheid en emosionele impak daarvan.

Met trots hou Buchan (2012:185) homself voor as ’n ware gesinsman: die eggenoot vir sy vrou, vader vir sy kinders en oupa vir sy kleinkinders. Hy glo dat herlewing tuis begin en verbind hom tot die kernfamilie as die ideale bousteen van ’n stabiele samelewing (Buchan 2012:187). Buchan huldig stereotiepe opvattings oor geslagsrolle en wil sien dat die wesenlike biologiese en maatskaplike verskille tussen mans en vroue in stand gehou word. Die ideale situasie, so glo hy, is dat vroue hul huislike rol voltyds moet vervul. Hy hou sy vrou voor as die perfekte voorbeeld van vroulikheid: “Jill is 'n vroulike dame, ’n uitstekende kok, ’n wonderlike huisvrou, moeder en ouma” (Buchan 2012:213). Die metafoor van die gesinsman hang natuurlik ten nouste saam met Buchan se konsep van manlike hoofskap, wat reeds bespreek is.

 

7. Die vraagstuk van huislike geweld

Geweld van mans teen vroue, kinders en ander mans was nog altyd ’n sosiale probleem wat reaksie uitgelok het.

Biologiese deterministe voer aan dat mans se gewelddadigheid testosteroon-gedrewe is. Geweld van mans teen vroue word toegeskryf aan die biologiese verskille tussen die twee geslagte en voorgehou as ’n natuurlike en universele uitvloeisel van hierdie verskille. Volgens ou teorieë, wat telkens weer opgediep word, veroorsaak mans se groter fisieke krag en die stimulering van manlike hormone dat hulle geneig is om in beheer te wil wees en om gewelddadig op te tree (O’Toole en Schiffman 1997:3). Op die keper beskou, het navorsing egter nog geen oortuigende getuienis opgelewer dat geweld deur mans direk aan biologiese faktore toegeskryf kan word nie. Daar is nie ’n geen gevind wat met manlike geweld verbind kan word nie. Dit is ook nog nie bewys dat hoër testosteroonvlakke noodwendig met geweld geassosieer kan word nie (Orian 2013).

Dit lyk of psigoanalitiese teorieë op sekere punte by die deterministiese siening aansluit. Vir Freud spruit aggressie en geweld uit ’n instinktiewe drang wat nodig is vir mense om te oorleef en om mededingend en suksesvol te wees. Hierdie instink is die dryfkrag agter mense se kreatiewe en vernietigingsdrange en hulle het nodig om op die een of ander wyse daaraan uiting te gee, aangesien onderdrukking daarvan tot selfvernietiging of depressie kan lei. Psigoanaliste het bevind dat seuns wat volwasse word, hulle van hul moeder en vroulike dinge distansieer, hulle met hul vader vereenselwig, gevoelens soos meegevoel, koestering, kwesbaarheid en afhanklikheid onderdruk, hul emosies leer beheer en weier om kwesbaarheid te wys. Indien dié neiging tot aggressie nie reg bestuur word nie, kan jong mans gewelddadig teenoor vroue en gay mans begin reageer (Kimmel 2004: 244-6; Kimmel 2008).

Sosialekonstruksioniste, soos Kimmel (2004), argumenteer weer dat mans nie gewelddadig is weens hul genetiese samestelling nie, maar omdat die samelewing hulle geleer het om gewelddadig te wees. Toe Kimmel mans gevra het wat dit beteken om ’n man te wees, het hulle gesê ’n man wys nooit sy gevoelens nie, vra nooit padaanwysings nie, gee nooit moed op nie, gee nooit in nie, is sterk, is aggressief, wys geen vrees nie, wys geen genade nie, wil ryk word, en wil wen (Kimmel 2008:44). Geslagsgebaseerde geweld moet volgens hierdie vertolking gedenaturaliseer word, deur te bewys dat dit nie die onvermydelike resultaat van biologiese eienskappe is nie, maar die uitvloeisel van die sosiaalgekonstrueerde verskynsel van patriargie. Dus kan en moet dit as ’n maatskaplike probleem gehanteer word. Dit is dus ’n probleem wat opgelos kan word (O’Toole en Schiffman 1997:3). Connell (1995:83) verduidelik dat mans geweld gebruik om hul oorheersing oor vroue te behou of om hul manlikheid aan ander mans te bewys.

Oor een ding stem die psigoanaliste en sosialekonstruksioniste saam: mans verkeer onder druk om aan die samelewing se ideaal van manlikheid te voldoen, en hul persepsie van hul onvermoë om dit reg te kry, laat hulle onseker en magteloos voel. Daarom reageer hulle dikwels met geweld ten einde hul manlikheid te probeer demonstreer (Clare 2000; Fitzsimons en Lennon 2002; Kimmel 2008).

Sedert die fokus in die afgelope paar dekades op “die krisis van manlikheid” begin val het, het die kwessie van geweld, veral huislike geweld, weer sterk op die voorgrond getree en lyk dit soms na ’n probleem wat in die hedendaagse samelewing buite beheer raak. Niemand wat oor manlikheid dink en skryf, kan dié vraagstuk omseil nie.

In Suid-Afrika, ’n buitengewoon gewelddadige land met hoë vlakke van aggressie, is die potensiaal vir huislike geweld groot. Jordaan (2013) toon aan dat Suid-Afrikaanse mans se “kryger-psige” hul optrede beïnvloed. In die samelewing bestaan daar volgens dié navorsing ’n “streslas van algemene ongelukkigheid” en ’n “lewenswoede wat na binne gekeer word”. Ontnugtering met die omstandighede in die land dra hiertoe by:

Baie soorte samelewingstres verswaar dié lewenswoede – byvoorbeeld die belewenis van politieke onmag, hoë en stygende lewenskoste, armoede, werkloosheid, regstellende aksie, gevoelens van onveiligheid weens misdaad, ’n algemene lewensgejaagdheid en ’n somber toekomsvisie. (Jordaan 2013)

Kan die konsep van manlike hoofskap aan huislike geweld verbind word?

Evangeliese herlewingspredikers, insluitende Angus Buchan, is vanweë hul propagering van manlike hoofskap ’n spesifieke teiken van feministiese kritiek. Ondanks die kritiek wat ingebring word teen die gebruik van die konsep van patriargie om geweld teen vroue te verklaar, lê feministe en profeministe ’n direkte verband tussen patriargie en geweld (Hunnicutt 2009). Hulle argumenteer dat die patriargale hiërargie omstandighede daarstel waarin geweld kan gedy. Vir hulle is die konsep van manlike hoofskap, wat in evangeliese kringe voorgestaan word as in lyn met Bybelse voorskrifte soos hier bo verduidelik, ’n verwerplike patriargale konsep wat huislike geweld eerder sal bevorder as bekamp.

Feministies-gesinde kritici wys daarop dat die bepleiting van manlike hoofskap op die oog af skadeloos mag lyk, maar dat dit in werklikheid die onderdrukking van vroue vergoeilik as sou dit in ooreenstemming wees met die Christelike leer. Uit die volgende twee aanhalings kan dié lyn van feministiese redenasie afgelei word. Harry Walls, pastoor van die Christian Fellowship Baptist Church in Wellston, waarsku: “The message of male leadership has been oppressive … And if I sit ten men down and say, ‘You are the leader of the house and here’s what that means’, some will leave with only one message: ‘I’m the leader.’” (Aangehaal in Robinson 1998.)

Karen Grasse van die Universiteit van Pennsilvanië voer die argument verder:

I know many men who have taken “Christian” teachings and used them as their God-given authority to “keep a woman in her place” and to maintain their male-leadership role. They refuse to let their wives get a job, to go to college, have her own friends, dress the way she wants to, etc. They want to control a person in order to be the “leader”. And guess what a lot of Christian men do when their wives won’t do what they tell them to – a little verbal hollering, a few slaps, a little hitting, to show them who’s in charge because God said so in the Bible. (Aangehaal in Robinson 1998)

Volgens hierdie siening redeneer mans dus dat, indien hul vroue nie hul Godgegewe hoofskap wil aanvaar nie, hulle die reg het om dit met geweld af te dwing.

Uit ’n Christelike perspektief gesien, wil die evangeliese beweging uiteraard nie huislike geweld doelbewus aanmoedig nie, maar dit konstruktief bestry. Strategieë is gevolglik ontwikkel om manlike hoofskap te handhaaf sonder om huislike geweld te stimuleer.

Die Promise Keepers het ’n strategie van verantwoordelikheid ontwikkel. Soos reeds verduidelik, het hierdie beweging die visie om die wêreld te transformeer deur die agentskap van mans van integriteit wat hulself deur sewe beloftes kontraktueel daartoe verbind om verantwoordelik op te tree en mekaar in verantwoordingsgroepe te ondersteun om dié beloftes te bly nakom. Die transformasie begin by die huishouding, waar die man sy Bybelse opdrag van hoofskap uitleef. Hierdie hoofskap word spesifiek geassosieer met “liefde” en “beskerming” binne die huisgesin, met die implisiete hoop dat dit geweld sal uitskakel (Promise Keepers s.j.).

Feministiese kritici betwyfel dit egter of geweld voorkom kan word in die soort patriargale bedeling met manlike hoofskap in die huisgesin wat die Promise Keepers wil bestendig. Van Leeuwen (1997) het die begrip sagte patriargie die eerste keer gebruik in haar feministiese ontleding van die Promise Keepers in die 1990’s. Dit kom daarop neer dat patriargale magsverhoudings in die samelewing, met ander woorde mans se oorheersing en vroue se onderwerping, in stand gehou maar versag word deur die klem te laat val op die gedagte dat mans verantwoordelikheid moet aanvaar. Oor die Promise Keepers kom Donovan (1998:837,839) tot dié gevolgtrekking:

The outward styles of masculinity may appear to be more enlightened and egalitarian while the underlying basis of male privilege and power remains fundamentally unquestioned, reminding us that “softer” forms of masculinity are not inherently emancipatory for women and can, in fact, mask usurpation of women's rights … Their politics are immanent in their cultural production, in their strategies aimed to change the perceptions, motives, and practices of men in ways that potentially reproduce heterosexist privilege.

Die feministiese argument is dus dat, solank patriargale magsverhoudings bly voortbestaan, daar geen waarborg is dat huislike geweld sal verminder nie.

Eldredge het ’n strategie van avontuurlikheid voorgestel. Hy meen dat manlike aggressie nie ontken kan word nie: "Aggression is part of the masculine design, we are hardwired for it … God is a warrior, man is a warrior" (Eldredge 2010:10–11).

Hy bring hierdie aggressie in verband met die man se voorheen genoemde "vaderwond", waarop mans op een van twee maniere kan reageer indien dit nie genees word nie: “Men either overcompensate for their wound and become driven (violent men), or they shrink back and go passive (retreating men)” (Eldredge 2010:75). Hy sê wel dat hy nie flagrante onverantwoordelikheid by mans propageer nie (Eldredge 2010:215). Volgens hom beteken sy aandrang dat mans nie die “wildheid” van hul hart moet onderdruk nie, nié dat hy ’n macho-mentaliteit aanhits nie, maar eintlik daarop neerkom dat indien 'n man op die regte manier vrye teuels aan sy avontuurlus gee, dit ’n gesonde uitlaatklep vir sy natuurlike aggressie kan wees.

 

8. Buchan se ideaal: avontuurlikheid met verantwoordelikheid

Beide die Promise Keepers en John Eldredge het aantoonbare invloed op Buchan se sienings en styl uitgeoefen en talle konsepte en motiewe van die twee Amerikaanse herlewingsbewegings vir mans kan in Die Mighty Men-verhaal teruggevind word.

Uit Buchan se prediking en geskrifte is dit duidelik dat hy enersyds, soos die Promise Keepers, godsdienstige dissipline en verantwoordelike gedrag volgens Bybelse norme vooropstel. Hoewel daar geen formele Mighty Men-belofte bestaan nie, stem Buchan saam met die idee dat mans minstens in gebed vaste verbintenisse oor hul toekomstige optrede moet maak (Buchan 2012:280). Die volgende elemente van Buchan se boodskap sluit aan by die Promise Keeper-denkrigtings:

  • Verantwoordelikheid: Mans moet hul Godgegewe verantwoordelikheid aanvaar om as profete, priesters en konings in hul huishoudings op te tree (Buchan 2012:180). Een van die verantwoordelikhede van ’n vader is, volgens Buchan (2012:143, 180, 181), om sy kinders te dissiplineer, selfs met lyfstraf wanneer dit nodig is.
  • Werksetiek en die goeie-voorsiener-rol: 'n Man behoort hard te werk en dit as ’n eer te beskou om in die behoeftes van sy gesin te voorsien (Buchan 2012:212–13).
  • Selfrespek: Deur die verantwoordelikhede van manlike hoofskap by die huis te aanvaar, kan mans hul selfrespek en gevoel van eiewaarde herwin (Buchan 2012:166).

Buchan spreek hom uit teen onverantwoordelike gedrag, byvoorbeeld drinkery tydens aande of naweke uit saam met die manne (Buchan 2012:143).

Nog iets wat die Promise Keepers, Eldredge en Buchan gemeen het, is dat groepe mans mekaar moet ondersteun. Buchan bevorder die gedagte van kameraadskap (“fellowship”), omdat hy besef dat mans kameraadskap en vriendskap nodig het. Die MMC’s is so ontwerp dat mans bymekaar kan kom en dinge kan bespreek wat vir mans belangrik is. By die MMC’s kan mans hul maskers laat sak, na mekaar uitreik, in mekaar se arms huil, meelewing wys, en hul kamerade ondersteun (Buchan 2012:142, 158, 164, 165, 184, 186; Phillips 2008:40).

Andersyds bevat Buchan se boodskap oor mans se rol ook elemente van Eldredge se idees rondom die avontuurlike uitlewing van manlikheid, hoewel hy nie na die inherente “wildheid” van mans verwys nie. Buchan projekteer homself egter as ’n “man’s man”. Hy beskou dit as ’n goeie ding dat mans uitdagings in die lewe soek om te bewys dat hulle hul spiere kan bult (Buchan 2012:146). Hy skryf: “’n Man wil gemeet word teen iemand wat, indien nodig, kan rof speel, bergklim, deur riviere swem, boks, stoei, wilde perde ry, wilde diere mak maak, op ekspedisies gaan en homself toets” (Buchan 2012:136).

Hy gebruik die patriarge in die Bybel as voorbeelde van ware manne. Hy skryf dat daar niks vrouliks of swak omtrent hulle was nie. “Die grootste voorbeeld van almal,” vervolg Buchan dan, “is niemand anders nie as ons Here Jesus Christus … Daar was niks swak of verwyfd aan Hom nie. Hy was ’n ware man" (Buchan 2012:164).

Effens anders as Eldredge, hou Buchan vol dat mans taai maar teer kan wees. Dit is vir hom belangrik dat mans hul emosies moet wys. Hy skryf dat dit aanvaarbaar is vir mans om te huil: “Jesus was ’n man wat gewoond was aan trane … Waar daar geen passie is nie, is daar geen God nie” (Buchan 2012:79, 94). Vir Buchan is ‘n ware man taai, maar nederigheid en ’n besef dat sy krag in swakheid lê, tipeer so ’n man (Buchan 2012:147, 149).

Buchan spreek hom uit teen onnodige aggressie by mans (2012:114). Hy redeneer dat aggressie uit vrees eerder as dapperheid of trots spruit. Mans moet nie deur geweld nie, maar deur hul voorbeeld lei (Buchan 2012:144). Na sy mening moet ’n jong man weet “dat 'n taai man so sag soos ’n duif kan wees” (Buchan 2012:136). Oor Jesus skryf hy: “Hy moet sterk, growwe hande gehad het; tog was Hy saggeaard … Hy het nooit sy krag misbruik om mense rond te stoot nie” (Buchan, 2012:136, 138). Buchan is ook oortuig daarvan dat wanneer mans Jesus as hul Verlosser ontmoet, hulle houding versag, omdat die Heilige Gees hulle harte versag.

Een aspek waaroor Buchan feitlik woordeliks met Eldredge saamstem, is die betoning van galantheid deur ’n man teenoor sy geliefde vrou. Goeie maniere en optrede soos ’n ware heer is vir hom belangrik (Buchan 2012:212). Hy skryf:

Ons moet terugkeer na die konsep van ’n ridder op ’n wit perd, want elke meisie is ’n prinses wat uitsien na daardie spesiale man wat haar voete onder haar sal uitslaan … As God se magtige manne word daar van ons verwag om moedig te wees, om hoë standaarde en morele waardes te hê, om manne te wees wat deur vroue vertrou kan word. Omdat ons as God se manne bekend staan, behoort geen dame ooit onseker te voel by ons nie. Sy behoort te weet dat ons haar met ons lewe sal beskerm indien nodig. (Buchan 2012:215, 218)

Volgens Buchan sal vroue, indien mans volgens sy ideaal van manlikheid leef, hulle met graagte aan hul mans onderwerp.

Buchan formuleer sy droom van die ideale man soos volg: “Dié manne verstaan … hoe om die hoof te wees, hul vroue te beskerm, vroeg op te staan om tyd as priester te bestee, en dan hard te gaan werk om kos en klere aan hul gesinne te verskaf. Hulle neem hul gesinne uit om pret te hê” (Buchan 2012:143).

Hieruit blyk duidelik dat sy perspektief op manlikheid romanties, idealisties en ouderwets is. Toe ek Die Mighty Men-verhaal gelees het, was my indruk dat Buchan se siening van manlikheid en geslagsverhoudings in die huisgesin die soort beskouing is wat vyftig jaar gelede in konserwatiewe Afrikaanse huishoudings gegeld het.

Samevattend kan gesê word dat Buchan die elemente van avontuurlikheid en verantwoordelikheid in sy bediening met sy “taai maar teer”-siening probeer kombineer. Hy is oortuig dat ’n man die uitdagings in die lewe van ’n ware man kan aanpak sonder om onverantwoordelik of gewelddadig op te tree.

 

9. Lei Buchan se “sagte patriargie” noodwendig tot maskulinisme en geweld?

Van Leeuwen (1997) se tipering van die Promise Keepers se manlikheidsbeskouing as “sagte patriargie” is ook op Buchan van toepassing. Daar is geen twyfel dat Buchan ook patriargale magsverhoudings in die samelewing – dus mans se oorheersing en vroue se onderwerping – in stand wil hou nie, maar hy wil dit versag deur die klem daarop te laat val dat mans met verantwoordelikheid en teerheid moet optree.

Feministe beskou Buchan se oproep dat manlike hoofskap in die huisgesin herstel moet word, as totaal onaanvaarbaar. Hulle meen dat sy beskouings ’n bedreiging inhou vir vroueregte, ongelykhede in huwelike bevorder, en neerkom op ’n leerstelling van manlike meerderwaardigheid.

Yolanda Dreyer (2013), ’n gereformeerde teoloog, kritiseer mans soos Buchan (al noem sy hom nie by die naam nie) wat hulle beroep op “Bybelse waardes en norme” om patriargie te verdedig en dit in vandag se samelewing te bevorder. Sy meen dat hulle godsdiens en kultuur vermeng deur dit wat in hul vertolking van kultuur as goed, reg en ordentlik beskou word, te koppel aan dit wat in die Bybel geskryf is. So skep hulle die soort “burgerlike godsdiens” wat deur die godsdienssosioloog Peter Gerger as “bad faith” getipeer word.

'n Wes-Kaapse sielkundige, Elize Morkel, het ook bedenkings uitgespreek oor die boodskap van manlike hoofskap by die Mighty Men-saamtrekke en dit in verband gebring met patriargie wat vroue as objekte en mans se besittings beskou. Sy het patriargale denke uitgesonder as ’n faktor wat tot huishoudelike geweld bydra. Sy sê godsdiensgroepe soos die Mighty Men-beweging meen dat die enigste manier om die verbrokkeling van huishoudings te keer, is om manlike hoofskap soos God dit bedoel het, te herstel, die man weer as hoof van die huis te bevestig, en die vrou op haar “plek” te sit. Daarteenoor staan sy gelykheid in die huwelik voor, waar die man en die vrou vennote is, mekaar respekteer, vertrou en ondersteun, verantwoordelikhede deel en saam besluite neem (Jackson 2012).

In reaksie hierop het Buchan gesê dat hy nie glo en preek dat mans vroue se meerdere is nie, maar dat mans en vroue spesifieke rolle het om in die huwelik te speel. Hy het onomwonde verklaar dat daar nooit regverdiging daarvoor is dat ’n man verbaal of fisiek met geweld teenoor vroue optree nie (Jackson 2012b)

Die skerpste kritiek op Buchan vanuit ’n feministiese perspektief het gekom van Sarojini Nader, die direkteur van die gender-en-godsdiens-program aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Nader (2009:554) meen dat Buchan die “sluwe” mite aanwend dat dit nodig is vir mans as die “sterkere vat” om die swakkeres te beskerm en hul vroue te koester. Sy argumenteer dat mense hulle nie moet laat mislei deur hierdie “verteerbare patriargie” wat voorgee om manlikheid te wil herstel nie, want die doel daarvan is steeds om mans se mag oor vroue te handhaaf.

Nader (2009:55) beskou Buchan se MMC’s as ’n stap in die rigting van maskulinisme, of destruktiewe manlike mag, omdat dit die sogenaamd inherent meerderwaardige posisie van mans beklemtoon en probeer om die onderwerping van vroue te regverdig. Sy dui aan dat Buchan se uitgangspunte geassosieer kan word met die maniere waarop manlike mag in stand gehou word, naamlik deur fisieke geweld, deur oortuigings wat die patriargale hiërargieë in stand hou (insluitende die konsep van manlike hoofskap) en deur diskoerse van mag wat ’n beroep doen op ’n hoër gesag (in Buchan se geval God) om hul aansprake te legitimeer.

Verder meen Nader (2009:556) dat daar ’n wesenlike gevaar bestaan dat huislike geweld bevorder kan word deur die MMC’s se bepleiting van manlike hoofskap. Sy argumenteer dat wanneer ’n vrou weier om haar aan manlike hoofskap te onderwerp, gewelddadige afdwinging van sy gesag deur haar man nie uitgeslote is nie. Hoewel die voorstanders van manlike hoofskap hierdie soort geweld as ’n mistasting afmaak, dui empiriese navorsing volgens Nader daarop dat dit wel gebeur. Daarom verwerp sy Buchan se oproep tot manlike hoofskap in die gesin en redeneer dat dit die probleem van huislike geweld sal vererger. Sy is oortuig dat manlike hoofskap direk met geslagsgeweld geassosieer kan word en dat die propagering van die behoud van manlike gesag maar net nóg ’n manier is om verskillende soorte geweld teen vroue aan te stig. Nader sê ondanks Buchan se “sagte” stellings oor mans se patriargale rol, propageer hy mag vir mans in verhoudings, en wanneer dit tot uiterstes gevoer word, kan dit lei tot, en lei dit inderdaad tot, geweld teen vroue.

Nader (2009:559) se gevolgtrekking is:

We have to be very afraid of Angus Buchan and his Mighty Men. Who should be afraid? Women, men and women of differing sexual orientations, children (he subscribes to the “spare the rod – spoil the child” philosophy) and even the earth, because patriarchy and domination of the earth go together – we should all be afraid.

Hierdie alarmistiese beskouing van Buchan is eensydig, omdat dit – in Van Klinken (2011:104) se woorde – gebaseer is op ’n “monolithic concept of patriarchy that hinders a nuanced analysis of the meaning and function of male headship”. Buchan self het hom sterk teen huislike geweld uitgespreek, en daar is geen getuienis wat gevalle van huislike geweld direk aan die MMC’s verbind nie. Dit lyk of Buchan se boodskap dat mans hul vroue met respek en liefde moet behandel, inslag vind onder verreweg die meeste MMC-gangers. Daar is volgens berigte konsensus onder hulle dat ’n man die geestelike leier in sy huis moet wees, maar nie die baas wat met ’n sweep regeer nie (Jackson 2013b).

 

10. Dra Buchan by tot die skep van 'n nuwe hegemoniese manlikheid?

Nader verwys na my hoofstuk in Rob Morrell se boek van 2001, waar ek aangevoer het dat ’n duidelik identifiseerbare hegemoniese manlikheid onder Afrikaners nie ná 1994 onderskei kon word nie, maar dit in die vooruitsig gestel het dat so ’n hegemoniese manlikheid mettertyd weer kon vorm aanneem. Sy argumenteer dat deelnemers aan Buchan se MMC’s daardie nuwe opkomende Afrikaanse hegemoniese manlikheid is.

Haar siening kom neer op ’n oorskatting van Buchan se invloed in die Afrikanersamelewing. Hy trek groot skares, maar hy vind in werklikheid net aanklank by persone wat sy lewensuitkyk deel. Dit is duidelik dat hy daarin slaag om die hartsnare te roer van ’n spesifieke soort wit man in die hedendaagse Suid-Afrika, naamlik dié wat beskryf kan word as “defeated and downtrodden Afrikaner men”, dus mense wat ontnugter is met hul politieke ontmagtiging en vervreemding binne die getransformeerde samelewing. Dit is hoofsaaklik hierdie soort mans wat na Buchan se konferensies gelok word, want hulle beleef die samelewing in ’n post-1994-Suid-Afrika as vervreemdend, vyandig of bedreigend. Dit maak hulle vatbaar vir sy boodskap van ’n samelewing waarin dinge skeefgeloop het en wat die soort herlewing nodig het waarvan mans wat tot hul regmatige plek herstel is, die agente kan wees.

Buchan se boodskap pas die behoeftes van mans wat só dink, soos ’n handskoen. Hy bied aan hulle godsdienstige herlewing, die ervaring van die werklikheid van God, geloof in ’n magtige God vir wie niks onmoontlik is nie, en wonderwerke. Dit pas hulle om te hoor dat oplossings nie van die regering se kant verwag moet word nie, maar binne gesinne sal moet plaasvind. Buchan beklemtoon die moraliteit en gesinswaardes van die “goeie ou dae”. Sy fundamentalistiese vertolking van die Skrif sluit enige twyfel oor geloofsake en kritiese vrae oor die Bybel uit. Dit is duidelik die soort sekerheid wat sy gehore gerusstel.

Hoe volhoubaar is die MMC-beweging? Buchan het gekom om minstens nog ’n hele ruk te bly. Hy tree nog gereeld op by Mighty Men-byeenkomste regoor Suid-Afrika, en selfs in die buiteland (Jackson 2013b). So lank as wat mans voel dat hulle onder druk verkeer of geviktimiseer word in ’n veranderende en skynbaar onstuimige samelewing vol onsekerhede, sal daar vrugbare grond wees vir die saad van Buchan se boodskap.

Indien omstandighede verander, mag Buchan se suksesstorie moontlik ten einde loop. Die volhoubaarheid van hierdie soort emosionele massabeweging hang van baie faktore af. In die vroeë 1940’s het die Ossewabrandwag onder destydse charismatiese leierskap ook geesdriftige massas Afrikaners aangevuur. Ons weet wat met daardie beweging gebeur het toe omstandighede verander en die OB sy relevansie verloor het.

Die argument dat ’n nuwe, konserwatiewe en hegemoniese Afrikanermanlikheid vorm aanneem, klink nie baie oortuigend nie. Die omstandighede vir Afrikaners om weer in ’n konserwatiewe laer saam te trek, is nie gunstig nie.

 

11. Kan die MMC's manlike optrede positief beïnvloed?

Feministe glo dat die dekonstruksie, nie die rekonstruksie nie, van manlike hoofskap nodig is. Daar is egter ook alternatiewe menings hieroor.

Van Klinken (2011:112-8) ontleed die gevallestudie van ’n biskop van die Pinksterbeweging in Zambië, Joshua Banda, om aan te toon dat die wantroue teen godsdienstige ideologieë wat manlike hoofskap bevorder, nie altyd geregverdig is nie. Banda se boodskap toon merkwaardige ooreenkomste met dié van Angus Buchan. Van Klinken wys hoe Banda probeer het om ’n teenvoeter te vind vir onverantwoordelike manlike gedrag deur die ideaal van konstruktiewe Bybelse manlikheid voor te hou, naamlik waar mans die verantwoordelikhede wat in manlike hoofskap opgesluit lê, nakom.

Van Klinken (2011:119-22) se mening is dat manlike hoofskap nie net ’n enkele struktuur van manlike oorheersing in die oog het nie. Hy voer aan dat dit moontlik is om die konsep van manlike hoofskap te onderskei van manlike oorheersing; om dit in terme van “liefde” en “opoffering” te herdefinieer, om dit aan te wend om oorheersende, onderdrukkende en gewelddadige praktyke van manlikheid te kritiseer en dit te versag deur waardes soos seksuele onthouding, huwelikstrou en betrokkenheid by die gesin. In hierdie vorm kan manlike hoofskap verbind word aan die idee van geslagsgelykheid, kan mans gemobiliseer word om hul gedrag te verander en sodoende bydra tot die transformasie van manlikheid.

Van Klinken (2011:122-4) wys op hoe Banda 'n nuwe diskoers oor manlikheid geïnisieer en mans daaraan herinner het dat hulle die keuse het om volgens 'n alternatiewe ideaal van manlikheid te lewe. Hy het ’n ruimte geskep waar mans se geslagsidentiteit in nuwe vorms gegiet kan word.

Heath (2003:441) maan egter in haar empiriese studie oor die Promise Keepers teen onrealistiese verwagtings van ’n radikale verandering wat deur so ’n mannebeweging bewerkstellig kan word. Haar gevolgtrekking is dat hoewel die meeste Promise Keepers bereid is om betekenisvolle positiewe veranderings in hul persoonlike en gesinslewe te maak, hulle nie so ver gaan as om die uitgangspunte van die bestaande patriargale hegemoniese manlikheid uit te daag nie.

Die vraag is: Het Angus Buchan se vertolking van manlike hoofskap agentskap-as-oorheersing vervang met agentskap-as-die-opneem-van-verantwoordelikheid? Kan dit tot konstruktiewe verandering in mans se gedrag en optrede lei? Dit lyk of dit presies is wat Buchan beoog. Sou dit gerealiseer kon word, sou Nader se vrese oor Buchan ongegrond wees.

In sy boek haal Buchan (2012:268-9) die volgende getuienis aan van iemand na wie hy verwys as ’n “dankbare vrou" wie se man 'n MMC bygewoon het:

My lewe het soos handomkeer verander vandat my man die MMC hierdie jaar bygewoon het ... God het nie net vir hom geseën (en gered) nie, maar Hy het my en my kinders ook geseën met die wonderlikste eggenoot en pa waarvoor enigiemand kon vra.

Verskeie ander soortgelyke getuienisse word in die boek (Buchan 2012:251, 266, 279) en in berigte oor die MMC’s (Jackson 2013b) aangehaal. Op grond van die beskikbare getuienis wil dit voorkom of daar meer gunstige as ongunstige terugvoering is oor die impak van die MMC’s op mans se gedrag by die huis.

My gevolgtrekking is tweeledig en mag dalk ironies of selfs paradoksaal klink:

  • Aan die een kant kan die feministiese kritiek dat Buchan se idees oor manlike hoofskap ’n patriargale bestel onderskraag wat die moontlikheid van huishoudelike geweld inhou, nie sonder meer weggeredeneer word nie. Selfs niefeministiese akademici en intellektuele vind dit moeilik om saam te stem met Buchan se oudmodiese, anti-intellektuele en antiliberale opvatting van manlikheid. Vir feministe hou Buchan se ideologie die daadwerklike bedreiging in dat dit sowel mans as vroue stereotipeer. Hul grootste beswaar is dat Buchan deur middel van sy beskouing oor manlike hoofskap alle mans oor dieselfde kam skeer, asof alle mans noodwendig natuurlike leiers en goeie besluitnemers moet wees. Buchan (2012:203) maak die gevaarlike, miskien onverantwoordelike, stelling dat ’n man wat nie bereid is om besluite te neem nie, 'n lafaard is wat nie deur sy gesin gerespekteer en deur God ondersteun sal word nie. So ’n siening plaas geweldige druk op die “Mighty Men” om aan die verwagting te voldoen dat hulle bekwame hoofde van hul huishoudings sal wees. Indien hulle nie daartoe in staat is nie, kan hulle verneder voel en ervaar dat hulle as mans misluk het. Hierdie gevoel van ontoereikendheid kan aanleiding gee tot aggressie en geweld en veroorsaak dat mans hulle eie wil op hul gesinne probeer afdwing. Die teenpool is dat Buchan se konsep van manlike hoofskap die vrou ook stereotipeer en haar verhoed om as leier en besluitnemer in die gesin op te tree. Dit kan meebring dat sy as “kind” beskou en behandel word.15 Dus dwing manlike hoofskap mans en vroue in rolle wat in sekere huishoudings tot onhoudbare situasies, frustrasie en selfs geweld kan lei. Alberts (2012) se standpunt dat die leierskap in ’n huwelik nie eens en vir altyd aan 'n man toegeken behoort te word nie, is sinvol. Die moontlikheid van huishoudelike geweld is dus implisiet in Buchan se visie van manlike hoofskap. Daar bestaan egter nie empiriese getuienis dat hierdie moontlikheid 'n werklikheid geword het in huishoudings waar die man ’n MMC bygewoon het of 'n volgeling van Buchan is nie.
     
  • Aan die ander kant is daar wel getuienis van die werklikheid dat Buchan se bediening positiewe verandering in die gedrag van MMC-gangers en in verhoudings binne gesinne bewerkstellig het. Verder het empiriese navorsing oor die Promise Keepers, wat ’n soortgelyke boodskap oor manlike hoofskap as Buchan uitdra, bevind dat “sagte patriargie”-opvattings en ’n verbintenis tot verantwoordelikheid, soos wat Buchan ook voorstaan, daadwerklik bygedra het tot betekenisvolle positiewe veranderings in mans se persoonlike en gesinslewe (Heath 2003:441). Deug die monolitiese beskouing van patriargie in feministiese kringe nog in die lig van dié werklikhede in die samelewing? Behoort ’n onversetlike ideologiese standpuntinname nie plek te maak vir ’n meer pragmatiese en genuanseerde beskouing nie? In die lig van die feit dat navorsing onlangs vasgestel het dat 73% van alle Christene in Suid-Afrika glo dat die Bybel die letterlike Woord van God is (Pew Forum on Religion and Public Life 2010, aangehaal in Cilliers 2012), sal die “Bybelse” konsep van manlike hoofskap sekerlik nie spoedig deur die kerke verwerp word nie en sal patriargie nie sonder meer uit Christelike kringe in die land verdwyn nie. Buchan se gehoor bestaan hoofsaaklik uit konserwatiewe blanke mans wat in elk geval die idee van manlike hoofskap onderskryf. Indien daar aantoonbare positiewe verandering in hul gedrag is as gevolg van Buchan se bediening, moet dit nie as ’n klein treetjie in die regte rigting verwelkom word omdat dit patriargie tog effens meer verteerbaar maak nie? Dit lyk of die positiewe uitkomste van die MMC’s ten opsigte van manlike gedrag in hierdie stadium moontlik swaarder weeg as die potensieel negatiewe uitkomste daarvan.

 

 

Bibliografie

Abraham, K. 1997. Who are the Promise Keepers? Understanding the Christian Men’s Movement. New York: Double Day.

Alberts, A. 2012. Leierskap in huwelike kan, mag wissel. (Brief.) Beeld, 17 Oktober.

Arms, P. 1997. Promise Keepers: another Trojan Horse. Houston, TX: Shiloh Publishers.

Bartkowski, J.P. 2004. The Promise Keepers: servants, soldiers, and godly men. Piscataway, NJ: Rutgers University Press.

Barton, E.R. (red.). 2000. Mythopoetic perspectives of men's healing work: An anthology for therapists and others. Westport, CT: Bergin & Garvey.

Batz, J. 1997. The Promise Keepers are either the hope of this nation or the fascists who will destroy it, depending who you talk to … and what you already believe. The Riverfront Times, 23–9 Julie, ble. 25-9.

Beasley, C. 2010. Gender and sexuality: critical theories, critical thinkers. Herdruk. Londen: Sage.

Bebbington, D.W. 1989. Evangelicals in modern Britain: a history from the 1730s to the 1980s. Londen: Unwin.

Bennett, J.M. 2006, History matters: patriarchy and the challenge of feminism. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.

Beynon, J. 2002. Masculinities and culture. Philadelphia: Open University Press.

Bilezikian, G. 2012. I believe in male headship. Christians for Biblical equality (CBE). http://www.cbeinternational.org/?q=content/i-believe-male-headship (15 November 2012 geraadpleeg).

Blais, M. en F. Dupuis-Déri. 2012. Masculinism and the antifeminist countermovement. Social Movement Studies: Journal of Social, Cultural and Political Protest, 11(1):21-39.

Blankenhorn, D., D.S. Browning en M. Stewart Van Leeuwen (reds.). 2004. Does Christianity teach male headship? The equal-regard marriage and its critics. Grand Rapids, MI: Wm. B. Eerdmanns Publishing Company.

Bly, R. 1990a. Iron John: a book about men. Cambridge, MA: Da Capo Press.

—. 1990b. Robert Bly, Poet, About Zeus Energy, Fatherhood and manhood. Interview with Bill Moyers. YouTube. http://www.youtube.com/watch?v=3f5t4CjjCGY (12 Maart 2013 geraadpleeg).

Borger, B. 2002. John Eldredge's Wild at heart: A Critique. http://www.heartsandmindsbooks.com/reviews/john_eldredges_wild_at_heart_a (13 November 2012 geraadpleeg).

Bornemann, E. 1991.Das Patriarchat – Ursprung und Zukunft unseres Gesellschaftssystems. Frankfurt am Main: Fischer.

Brickner, B.W. 1999. The Promise Keepers: politics and promises. Lanham, MD: Lexington Books.

Buchan, A. 2012. Die Mighty Men-verhaal. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Bybelgenootskap van Suid-Afrika. 1983. Die Bybel (Nuwe Testament). Kaapstad.

Camery-Hoggatt, B. en N. Munn. 2005. Wild at heart: essential reading or “Junk food of the soul”? Priscilla Papers, 19(4):24-6.

Cilliers, P. 2012. En as dit “Slegs blankes” gesê het? By, 6 Oktober.

Clare, A. 2000. On men: masculinity in crisis. Londen: Chatto & Windus.

Claussen, D.S. 1999. Standing on the promises: The Promise Keepers and the revival of manhood. Cleveland, OH: The Pilgrim Press.

Claussen, D.S. (red.). 2000. The Promise Keepers: Essays on masculinity and Christianity. Jefferson, NC: McFarland & Co.

Collins, B. 2001. What’s the real truth about submission? God’s Word to Women Newsletter, 2(2). http://godswordtowomen.org/winter2001.htm (15 November 2012 geraadpleeg).

Conason, J., A. Ross en L. Cokorinos. 1996. The Promise Keepers are coming: the third wave of the Religious Right. The Nation, 263:11-19.

Conger, J.A. 1989. The charismatic leader. Behind the mystique of exceptional leadership. San Francisco: Jossey-Bass Publishers.

Connell, R.W. 1995. Masculinities. Cambridge: Polity Press.

Crouch, A. 2004. The emergent mystique. Christianity Today. 48(11). http://www.christianitytoday.com/ct/2004/november/12.36.html?start=2 (4 Maart 2013 geraadpleeg).

Dalbey, G. 1998. Healing the father-wound: the ultimate men’s movement. Fuller Theological Seminary Magazine 3/98. http://www.abbafather.com/article_hfw.pdf (2 April 2013 geraadpleeg).

Donovan, B. 1998. Political consequences of private authority: Promise Keepers and the transformation of hegemonic masculinity. Theory and Society, 27(6):817–43.

Dreyer, Y. 2013. “Bybelwaardes” ‘n vroom refrein. Beeld. 4 Februarie.

Dreyer, W. 2009. Angus Buchan as verskynsel van ons tyd. Die Hervormer, Junie, bl. 1.

Du Pisani, K. 2001. Puritanism transformed: Afrikaner masculinities in the apartheid and post-apartheid period. In Morrell (red.) 2001.

Eldredge, J. 2006. The way of the wild heart: a map for the masculine journey. Nashville, TN: Nelson Books.

—. 2010. Wild at heart: discovering the secret of a man’s soul. Hersiene en uitgebreide uitgawe. Nashville, TN: Thomas Nelson.

Encyclopedia69.com. 2009. Biologism and biological determinism. http://www.encyclopedia69.com/eng/d/biologism-and-biological-determinism/biologism-and-biological-determinism.htm (11 Maart 2013 geraadpleeg).

Etheridge, Rut III. 2004. God in man’s image. http://www.freerepublic.com/focus/f-religion/1179716/posts (20 Maart 2013 geraadpleeg).

Everton, S. 2001. Religious revival or third wave of the Religious Right? Review of Religious Research, 43(1):51–69.

Feeney, J. 2008. Should men be “the head” of the home and the church? Pentecostal sermons and Bible studies. http://www.jimfeeney.org/male-leadership-church-home.htm (15 Maart 2013 geraadpleeg).

Ferber, A.L. 2000. Racial warriors and weekend warriors: the construction of masculinity in mythopoetic and white supremacist discourse. Men and Masculinities, 3(1):30–56.

Ferguson, K.E. 1999. Patriarchy. In Tierney 1999.

Fitzsimons, A. en K. Lennon. 2002. Theorising gender. Cambridge, UK: Polity Press.

Flood, M. 2007. Men’s movement. In Flood e.a. (reds.) 2007.

Flood, M., J. Kegan Gardiner, B. Pease en K. Pringle (reds.). 2007. International Encyclopedia of men and masculinities. Londen, New York: Routledge.

Forth, C.E. 2008. Masculinity in the modern West: gender, civilization and the body. Houndmills: Palgrave Macmillan.

Gallagher, S.K. en S.L. Wood. 2005. Godly manhood going wild? Transformations in conservative Protestant masculinity. Sociology of Religion, 66(2):135–60.

Gardiner, A.B. 2007. Feminist literary criticism: from anti-patriarchy to the celebration of decadence. Modern Age, 49(4). http://www.firstprinciplesjournal.com/articles.aspx?article=454& (10 Maart 2013 geraadpleeg).

Gaum, F. 2012. Vier strominge in kerk. Die Burger, 19 Desember.

Gavanas, A. 2004. Fatherhood politics in the United States: Masculinity, sexuality, race, and marriage. University of Illinois Press.

Giddens, A. 2012. Sociology. Sixth edition companion website, students’ resources, glossary. http://www.polity.co.uk/giddens5/students/glossary/#c (5 Maart 2013 geraadpleeg).

Goldberg, S. 1973. The inevitability of patriarchy. New York: William Morrow.

Gremillion, H. 2011. Feminism and the mythopoetic men’s movement: Some shared concepts of gender. Women’s Studies Journal, 25(2):43-55.

Hardisty, J.V. 1999. Mobilizing resentment: Conservative resurgence from the John Birch Society to the Promise Keepers. Boston: Beacon Press.

Heath, M.A. 2003. Soft-boiled masculinity: renegotiating gender and racial ideologies in the Promise Keepers movement. Gender and Society, 17(3):423–44.

Hooks, B. s.j. Understanding patriarchy. http://imaginenoborders.org/pdf/zines/UnderstandingPatriarchy.pdf (10 Maart 2013 geraadpleeg).

Horrocks, R. 1994. Masculinities in crisis: myths, fantasies, and realities. New York: St. Martin’s Press.

Hough-Coetzee, J. 2009. Wonder: Oom Angus leef! Die Huisgenoot, 7 Mei, bl. 14-17.

Hunnicutt, G. 2009. Varieties of patriarchy and violence against women: resurrecting “patriarchy” as a theoretical tool. Violence Against Women, 15(5):553–73. http://vaw.sagepub.com/content/15/5/553.short (3 April 2013 geraadpleeg).

Jackson, N. 2012a. Mighty Men “dra by tot geweld in die huis”. Beeld, 28 September.

—. 2012b. Angus sê oor mishandeling, huweliksrolle. Beeld, 29 September.

—. 2013a. Die getal lidmate wys nie kerk se welstand. Beeld, 17 Januarie.

—. 2013b. G’n keer aan Buchan. Rapport Weekliks, 31 Maart.

Johnson, A. 2003. A Christian understanding of submission: a nonhierarchical-complementarian viewpoint. Priscilla Papers, 17(4):11-20.

Johnson, P. 2009. The history of evangelicalism. Deel 1. http://gospelliving.blogspot.com/2009/03/reprise-phil-johnson-on.html (4 Maart 2013 geraadpleeg).

Jordaan, W. 2013. Krygerpsige reis saam in meneer se kar. Beeld, 13 Maart.

Kahn, K. en A. Fingerhut. 2011. Essentialist beliefs and sexual prejudice against gay men: divergence at the levels of categories versus traits. Psychology and Sexuality, 2(2):137–46. http://www.tandfonline.com/doi/full/10.1080/19419899.2010.536562 (11 Maart 2013 geraadpleeg).

Kerksake-verslaggewer. 1994. Charismatiese kerke groei. Die Burger, 14 Maart.

Kidd, T.S. 2007. The Great Awakening: the roots of evangelical Christianity in colonial America. New Haven: Yale University Press.

Kimmel, M.S. 2004. The gendered society. 2de uitgawe. New York: Oxford University Press.

—. 2008. Guyland: The perilous world where boys become men/Understanding the critical years between 16 and 26. New York: Harper Collins.

LeBlanc, D. 2004. Wildheart. Christianity Today, 48(8). http://www.christianitytoday.com/ct/2004/august/14.30.html?start=2 (13 Maart 2013 geraadpleeg).

Lerner, G. 1986. The creation of patriarchy. New York: Oxford University Press.

Lombaard, C. 2005. Die charismatiserende Afrikaanse kerke – enkele gedagtes. 1 Januarie. http://www.teo.co.za/wmview.php?ArtID=213 (15 Maart 2013 geraadpleeg).

Longecker, D. 2013. Healing the father-wound. Patheos-blog, 26 Januarie. http://www.patheos.com/blogs/standingonmyhead/2013/01/healing-the-father-wound.html (2 April 2013 geraadpleeg).

Lorber, J. en S.A. Farrell (reds.). 1990. The social construction of gender. Thousand Oaks, CA: Sage.

Luo, M. 2006. Evangelicals debate the meaning of “evangelical”. New York Times, 16 April. http://www.nytimes.com/2006/04/16/weekinreview/16luo.html?pagewanted=all&_r=0 (4 Maart 2013 geraadpleeg).

MacInnes, J. 1998. The end of masculinity: the confusion of sexual genesis and sexual difference in modern society. Philadelphia: Open University Press.

Malan, J. 2010. Spiritual deception, revival and Angus Buchan (South Africa’s Charismatic “Hajj”). http://fortheloveofhistruth.com/2011/11/11/spiritual-deception-revival-and-angus-buchan-south-africas-charismatic-hajj/#more-3481 (13 November 2012 geraadpleeg).

Mead, W.R. 2006. God's country? Foreign Affairs, September/Oktober. http://www.foreignaffairs.com/61914/walter-russell-mead/gods-country (4 Maart 2013 geraadpleeg).

Meagher, M. 2011. Patriarchy. In Ritzer en Ryan 2011.

Merriam-Webster Dictionary. 2011. Masculinist. http://www.merriam-webster.com/dictionary/masculinist (10 Maart 2013 geraadpleeg).

Messner, M.A. 1998. The limits of the “male sex role”: an analysis of the Men’s Liberation and Men’s Rights Movement discourse. Gender & Society, 12(3):255-76.

—. 2000. Politics of masculinities: men in movements. Lanham, ML: Alta Mira Press.

Mickelsen, B. en A. Mickelsen. 2005. The head of the epistles. God’s Word to Women Newsletter. http://godswordtowomen.org/head.htm (15 November 2012 geraadpleeg).

Miller-McLemore, B. 2004. A feminist Christian theologian looks (askance) at headship. In Blankenhorn e.a. (reds.) 2004.

Morrell, Robert (red.). 2001. Changing men in Southern Africa. Pietermaritzburg: University of Natal Press.

Mowczko, M. 2011. Kephal? and “male headship” in Paul’s letters: the metaphorical meaning of “head” in Paul’s letters. Deel 1. http://newlife.id.au/equality-and-gender-issues/kephale-and-male-headship-in-pauls-letters (15 November 2012 geraadpleeg).

Nader, S. 2009. Palatable patriarchy and violence against women in South Africa – Angus Buchan’s Mighty Men’s Conference as a case study of masculinism. Scriptura, 102:551–61.

Napikosi, L. 2013. Feminism definition: patriarchal society. http://womenshistory.about.com/od/feminism/a/patriarchal.htm (10 Maart 2013 geraadpleeg).

National Organization of Women. 1997. Viewpoint: Promise Keepers pose a real threat. National NOW Times, Oktober. http://www.now.org/nnt/10-97/viewpoint.html (13 Maart 2013 geraadpleeg).

Niemandt, N. 2013. Die NG Kerk krimp: Waar moet ons die redes soek? Kerkbode aanlyn, 30 Januarie. http://kerkbode.co.za/?p=2526 (15 Maart 2013 geraadpleeg).

Noll, M.A. 2004. The rise of evangelicalism: the age of Edwards, Whitefield and the Wesleys. Downer’s Grove, IL: Inter-Varsity Press.

Novosad, N. 2000. Promise Keepers: playing God. Amherst, NY: Prometheus Books.

Oosthuizen, J. 2013. Krimpende kerk nie net sleg. Kerkbode aanlyn, 16 Januarie. http://kerkbode.co.za/?p=2488 (15 Maart 2013 geraadpleeg).

Orian, C. 2013. Against all evidence. http://awreathonhergrave.wordpress.com/category/biological-determinism (11 Maart 2013 geraadpleeg).

Ortlund, R.C. 1991. Male-female equality and male headship. In Piper en Grudem (reds.) 1991.

O’Toole, L. en J.R. Schiffman. 1997. Gender violence: interdisciplinary perspectives. New York: New York University Press.

Oxford English Dictionary. 2010. Masculinism. http://public.oed.com (10 Maart 2013 geraadpleeg).

Pateman, C. 1988. The sexual contract. Stanford: Stanford University Press.

Payne, L. 1985. Crisis in masculinity. Wheaton, IL: Crossway Books.

Payne, L. 2008. Crisis in masculinity. 10de druk van Hamewith-uitgawe van 1995. Grand Rapids, MI: Hamewith Books.

Phillips, L. 2008. Angus Buchan’s Mighty Men Conference 2008 – faith for farmers in turmoil. Farmer’s Weekly, 16 Mei, ble. 38–41.

Piper, J. en W. Grudem. 1991. An overview of central concerns: questions and answers. In Piper en Grudem (reds.) 1991.

Piper, J. en W. Grudem (reds.). 1991. Recovering biblical manhood and womanhood. Wheaton, IL: Crossway Books.

Promise Keepers. s.j. Seven promises. http://www.promisekeepers.org/about/7-promises (13 Maart 2013 geraadpleeg).

—. 2008. PK history. http://www.promisekeepers.org/about/pk-history (13 Maart 2013 geraadpleeg).

—. 2013a. Core values. http://www.promisekeepers.org/about/core-values (13 Maart 2013 geraadpleeg).

—. 2013b. Statement of faith. http://www.promisekeepers.org/about/statement-of-faith (13 Maart 2013 geraadpleeg).

Quiring, K. 2010. Male headship and female submission. Deel 1. The Bible. Project M, 7 Junie. http://projectmonline.com/2010/06/07/male-headship-and-female-submission-part-one-the-bible (15 November 2012 geraadpleeg).

Ritzer, George en J. Michael Ryan. 2011. The Concise Encyclopedia of Sociology. Hoboken, New Jersey: John Wiley & Sons.

Robinson, B.A. 1998. Promise Keepers (PK), Pro and Con. Deel 1. Religious tolerance. Ontario. http://www.religioustolerance.org/chr_pk.htm (12 Maart 2013 geraadpleeg).

Robinson, S. 2000. Marked men: white masculinity in crisis. New York: Columbia University Press.

Ross, A. en L. Cokorinos, 1997. Promise keepers: a real challenge from the Right. New York: Center for Democracy Studies. http://www.now.org/nnt/05-97/pk.html (6 Maart 2013 geraadpleeg).

Rosser, K. 2010. NLQ FAQ: The Bible and male headship. Deel 1. No longer quivering –

Blog. http://www.patheos.com/blogs/nolongerquivering/2010/10/nlq-faq-the-bible-and-male-headship (15 November 2012 geraadpleeg).

Schindler, A. 1998. Power, patriarchy, and the Promise Keepers: the pleasure of religious ecstasy. Paper, annual meeting of the American Sociological Association, Toronto.

Scholer, D.H. 2005. The evangelical debate over Biblical “headship”. God’s Word to Women Newsletter. http://godswordtowomen.org/scholer.htm (15 November 2012 geraadpleeg).

Swart, L. 2008. 60 000 mans geoes. Die Huisgenoot, 15 Mei, ble. 16-7.

Tickner, A.J. 2001. Patriarchy. Routledge Encyclopedia of International Political Economy: Entries P-Z. Londen, New York: Routledge (Taylor & Francis), 1197–8.

Tierney, Helen. 1999. Women's studies encyclopedia. Deel 2. Westport, CT: Greenwood Publishing.

Trainor, B.T. 2008. The Trinity and male headship of the family. Oorgedruk in The Heythrop Journal, 52(5):724-38.

Van Aarde, A. 2009. Angus Buchan – “Boereprofeet”. Die Hervormer, Junie, bl. 3.

Van Klinken, A.S. 2011. Male headship as male agency: an alternative understanding of a “patriarchal” African pentecostal discourse on masculinity. Religion and Gender, 1(1):104–24.

Van Leeuwen, M. Stewart. 1997. Servanthood or soft patriarchy? A Christian feminist looks at the Promise Keepers movement. The Journal of Men’s Studies, 5(3). https://www.galaxie.com/article/pp11-2-08 (7 Maart 2013 geraadpleeg)

Van Rooyen, C. 2009. Afrikanerboer se gesinsbande sy sterkpunt. Landbouweekblad, 24 April, ble. 4–6.

Wente, M. 1997. Onward Promise Keepers? Globe and Mail (Toronto), 4 Oktober, bl. D7.

Williams, R.H. 2001. Promise Keepers and the new masculinity: private lives and public morality. Lanham, MD: Lexington Books.

Young, C. 1994. Man troubles: making sense of the men’s movement. Reason, 26(3). Julie. http://law-journals-books.vlex.com/vid/man-troubles-making-sense-men-movement-53432494 (10 Maart 2013 geraadpleeg).

Young, R. en A. Collin. 2004. Introduction: Constructivism and social constructivism in the career field. Journal of Vocational Behaviour, 64(3):373–88 http://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0001879104000065 (11 Maart 2013 geraadpleeg).

 

 

Eindnotas

1 In Die Mighty Men-verhaal verskaf Buchan self die volgende geraamde bywoningsyfers van die Mighty Men-konferensies: 2004 – 240; 2005 – 600; 2006 – 1 060; 2007 – 7 500; 2008 – 60 000; 2009 – 200 000; 2010 – 400 000.

2 Onder Buchan se naam het die volgende boeke verskyn: Hard-core Christianity (Shalom Ministries); A farmer’s year, 2007 (Monarch Books); Aartappelgeloof vir elke dag (Maranatha Christian Publishing); Daaglikse geloof, 2008 (Pearson Education); A people saturated with God, 2009 (Shalom Ministries); Jan Alleman (Maranatha Record Company); Come of age: The road to spiritual maturity, 2011 (Monarch Books); A mustard seed, 2012 (Monarch Books); Blessings for you, Dad, 2012 (Christian Art Publishers); Daily light for your daily path, 2012 (Christian Art Publishers); Die Mighty Men-verhaal, 2012 (Christian Art Publishers); The Mighty Men Journey, 2012 (Christian Art Publishers); Die Bybel in 366 dae vir manne van geloof, 2012 (Christian Art Publishers); The Bible in 366 days for men of faith, 2012 (Christian Art Publishers).

3 Die volgende CD’s en DVD’s handel oor aspekte van Buchan en die Mighty Men-konferensies: Hoop vir ‘n nasie (CD/DVD) (Maranatha Record Company); Angus Buchan on following Jesus (DVD) (Greytown: J.A. Buchan); A rushing mighty wind (DVD), 2013 (Vereeniging: Christian Art Publishers).

4 Buchan het twee TV-programme, Family time with Angus Buchan en Grassroots wat daagliks op TV-stasies soos ASTV, Rhema, BayTV, TBN, God TV en e.tv uitgesaai word.

5 Die volgende vollengte-speelfilms handel oor Buchan en die Mighty Men-konferensies: Faith like potatoes, 2006 (Global Creative Studios); Angus Buchan’s ordinary people, 2012 (Christian Art Media).

6 Die woord patriargie is aan die Grieks ontleen en beteken letterlik “regering deur die vader”.

7 Die feministiese nuutskepping masculinism is nog nie in woordeboeke opgeneem nie en by gebrek aan ’n Afrikaanse woord daarvoor gebruik ek hier my selfgeskepte maskulinisme daarvoor.

8 Vir standaardwerke oor die sosialekonstruk-teorie kyk o.m. P.L. Berger en T. Luckmann (1967), The social construction of reality: a treatise in the sociology of knowledge (Anchor); V. Burr (1995), An introduction to social constructionism (Londen: Routledge); I. Hacking (1999), The social construction of what? (Harvard University Press).

9 Binne die groter debat oor oorerwing teenoor opvoeding (“nature vs nurture”) word die sosialekonstruk-teorie gekritiseer omdat dit na bewering nie reg laat geskied aan die komplekse wisselwerking tussen biologiese en kulturele faktore in die bepaling van menslike gedrag nie. Kyk o.m. A. Sokal en J. Bricmont (1999), Fashionable nonsense: postmodern intellectuals' abuse of science (New York: Picador); P. Boghossian (2006), Fear of knowledge: against relativism and constructivism (Oxford: Oxford University Press).

10 Ek het hierdie gesprek oor en binne die Afrikaanse kerke hoofsaaklik in Beeld en Kerkbode gevolg, maar dit figureer in al die Afrikaanse media.

11 In hierdie artikel word evangelicalism in Afrikaans met evangelisme vertaal, hoewel in sommige woordeboeke voorkeur aan evangeliesgesindheid verleen word om dit duidelik te onderskei van evangelisasie of evangelieprediking. Evangelical word ter wille van konsekwentheid deurgaans met evangelies vertaal, hoewel ander wisselvorme soos evangelisties of selfs 'n nuutskepping soos evangelikalisties gebruik sou kon word.

12 Mitopoëties is 'n woord wat saamgestel is uit mite en poëties en dui op die belangrikheid vir hierdie beweging van die oordrag van opvattings oor manlikheid van geslag tot geslag deur middel van mites in ’n digterlike vorm.

13 Die idee dat manlikheid herontdek moet word deur mitiese en rituele viering, is die teenpool van ’n ouer beweging onder feministe om vroulikheid deur so ’n belewing van veral die moedergodin te herontdek.

14 Behalwe in Efesiërs 5:23, word daar na die man as die hoof van sy vrou en die vrou se onderwerping aan haar man verwys in Titus 2:4–5; 1 Petrus 3:1; 1 Petrus 3:5–6a; Kolossense 3:18; Efesiërs 5:22, 24, 32b; 1 Korintiërs 11:3, 8–9. Teoloë doen ook eksegese van verse in Genesis 1 wat verband hou met manlike hoofskap.

15 Hiermee my dank aan die keurders van die eerste weergawe van hierdie artikel, wie se name nie aan my bekend is nie, vir hulle konstruktiewe kommentaar wat ek hier en op ander plekke in die hersiene weergawe van die artikel ingewerk het.

 
 



  • 4

Kommentaar

  • Neels Jackson

    Dit lyk my na 'n goeie ontleding. Dit klop met die prentjie van Buchan soos ek hom leer ken het.

     
  • In jou artikel haal jy Gilbert Bilezikian ("I believe in male headship") buite konteks aan. Om presies te wees, in dieselfde stuk wat met daardie woorde, begin, waarsku hy om nie sy geloof in manlike hoofskap buite konteks aan te haal nie. Hier is wat Bilezikian oor hoofskap vertel, en dit verduidelik dan ook die algemene egalitariese standpunt:

    ...head, biblically defined, means exactly the opposite of what it means in the English language. Head is never given the meaning of authority, boss or leader. It describes the servant function of provider of life, growth and development. This function is not one of top-down oversight but of bottom-up support and nurture.

    Met ander woorde, daar is groot groepe in die kerk, waarvan ek een is, wat uit 'n studie van die oorspronklike Grieks en die konteks glo (anders as sekulere feministe) dat die Bybel reg is: Die Bybel vertel die man is die hoof (dis nie 'n opdrag dat hy iets moet doen nie, maar 'n stelling) - MAAR die letterlike Griekse woord vir kop, wat gebruik word in "the man is head of the woman," het in Bybeltaal ander simboliese betekenisse as leier.

    En waar Buchan nie geweld verkondig nie, is 'n sg. "sense of entitlement" 'n vername oorsaak van vrouemishandeling. Buchan ken nie die harte van al die mans voor hom nie, en enkeles van hulle kan 'n "sense of entitlement" kry uit wat hy preek. Ek het al een getuienis gehoor van die vrou van 'n man wat tirannies en bombasties (nie fisieke geweld nie, maar verbaal) teruggekeer het van 'n MMC. Ek glo nie Angus Buchan het al ooit gelees, en kon dus nie vir die mans leer, dat die Bybelwoord wat met hoof vertaal is selde of ooit met leierskap te doen gehad het in daardie samelewing nie.

  • Nog iets, oor hoe verteerbaar Buchan se patriargie is: Jy moet verstaan alle geweld is nie fisies nie. Verbeel jou 'n konferensie waar vroue geleer word hulle is baas, hulle moet al die besluite neem en mans moet onderdanig wees. Al neem hulle goeie en mooi besluite, sou dit 'n onreg - en disrespekvol - wees om hulle mans uit die proses uit te laat en alleen finale besluite te neem. 'n Man sal minder soos 'n volwasse mens voel as alle besluite bo-oor sy kop geneem word. Dieselfde geld vir vroue - as mans baas is, ontken jy vroue se gelyke geleenthede tot beskikking oor hulle lewens, en word die vrou maar net 'n passasier in haar eie lewe.

  • So, so ontsettend bly dat mans weer aangemoedig word om hul plek in te neem as hoof van die huis. Satan het ons mans se knieë lam gemaak!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top