jy is vir my
’n marmermens.
ek sien ’n massa van diversiteit en pyn
en heling en eiesoortigheid –
hoe veranderlik en essensieel onbetroubaar
is jy nie – ’n algehele goddelike mag.
om jou in die oë te kyk
is soos om oor die see heen te staar,
wonderend oor die gevoel van die horison.
só word ek bang vir alles … vir jou.
my gedagtes ontspoor deur my penpunt
maar my sinne van nature meer konkreet,
nog meer rampspoedig, kom tot end.
jy, enigmaties, onbestuurlik en onvergeeflik
is deur die enigmatiese, onbestuurlike
onvergeeflike see
gesluk.
in my persoonlike hiernamaals
is jy steeds verewig in steen,
my passievolle oddussees
oor verhoudingsgrense geen gaan
onverpoosd voort, maar steeds voel ek my
meer tuis in vers as in rots,
as in water.
ek verdraai my liggaamsdele een vir een
en een elke uur
in ’n onnatuurlike rigting (inversie)
en ek bestaan omdat ek kan
in twee rigtings.
uiteindelik het ons salige samesyn
my beangs en waansinnig gelaat.

